Antipas

  • Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size
Home Inleiding Ons Geloofs Hoekpenne

Ons Geloofs Hoekpenne

Ons Geloofshoekpenne

1. SOLI DEO GLORIA - DIE EER VAN GOD ALLEEN

Alles wat God beplan het en in die geskiedenis uitvoer (niks wat is of gebeur, is uitgeslote nie), het een finale doelwit, nl. om Homself te verheerlik. Die najaging van hierdie doel is dan ook elke mens se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, is die wese van sonde

2. SOLUS CHRISTUS - CHRISTUS ALEEN

Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur alle eeue betoon het, was nog altyd volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.

3. SOLA SCRIPTURA -  DIE HELE SKRIF EN NET DIE SKRIF

Die hele Bybel, en net die Bybel, is God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens. Daarom is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.

4. SOLA GRATIA - GENADE ALLEEN

As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel-en-al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.

5. SOLA FIDE - GELOOF ALLEEN

God verklaar enige en elke sondaar regverdig wanneer die vanuit sy of haar geestelike en morele bankrotskap volledig op die middelaarskap van Jesus Christus staat maak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie; trouens, die Woord waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.

Van die befaamde 19de-eeuse prediker in Londen, C.H. Spurgeon, se lidmate het op 'n slag na hom toe gekom met 'n kwelvraag: "Hoe kan ons weet die evangelie wat jý preek is die waarheid - as daar so baie ander predikers in hierdie stad is wat 'n ander boodskap verkondig?" 1Footnote

As dit destyds 'n brandende vraag was, hoeveel te meer nie vandag nie? Ons tyd word gekenmerk deur 'n duisend stemme wat elkeen daarop aanspraak maak dat hý die waarheid beet het. Verwarring en onsekerheid kenmerk die kerk. Sommer nou die dag nog is dinge gepreek wat vandag as kettery beskou word. En ander dinge wat ondenkbaar was, is nou alledaags. Geloofsbakens word soos meubels rondgeskuif, of summier by die agterdeur uitgegooi.

Spurgeon se antwoord, in 'n tyd toe ongeloofsteologie net so aan die orde was, getuig van nugtere wysheid: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op en skud my hand." Toe noem hy 'n rits name van bekende Christene deur die eeue - vanuit talle denominasies - wie se teologie, reputasie en arbeidsvrug vas bly staan het ten spyte van 'n duisternis aanslae.

Spurgeon het hom beroep op die kerk se waarheidskonsensus deur die eeue. Hy het hom beroep op die historiese Christelike geloof! "Meet my aan die geskiedenis," het hy per implikasie gesê, "en kyk of ek iets nuuts verkondig." Hy het nie voorbarig en ambisieus sy eie teologiese wiel probeer ontwikkel nie. Hy was doodtevrede om presies dieselfde evangelie te verkondig as die Puriteine en die Reformatore, die kerkvaders en die martelare, die Apostels en die Here Jesus Christus. Dis waarom Spurgeon ook 'n ander gesegde gehad het: "If it is true, it is not new; if it is new, it is not true!" Wat hy verstaan het, moet ons almal verstaan: al leef ons in 'n wêreld wat gedurig verander, is daar sekere dinge wat nooit verander nie. Sekere waarhede is vaster as die berge. God verander nooit nie, ook nie Sy waarheid nie. Die mens het sedert die sondeval moreel niks gevorder nie. Die afgelope eeu het die bloedigste oorloë van alle tye opgelewer. Dis omdat ons sonde en verlorenheid nie verander het nie. Les bes het God se verlossingsplan en evangelie nie verander nie. En daarom verander die kerk se roeping en boodskap ten diepste ook nie!

'N PAAR PERSPEKTIEWE

□     Daar is sekere absolutes in die Bybel wat ononderhandelbaar is. Dis waarhede waarsonder ware geloof, prediking en kerkwees ondenkbaar is. Terwyl daar duisende dinge in hierdie lewe is wat vir die Christen en sy Bybel om 't ewe is, is daar dus sekere waarhede en norme wat ons kompromieloos moet vashou. Só wesentlik is hierdie waarhede dat jy daarsonder nie 'n Christen of waarlik kerk kan wees nie.

So, byvoorbeeld, spel die Skrif nie presies uit hoe die kerk georden en geregeer moet word nie. Maar oor God se verlossingsplan en die hóé van ons redding kan en durf daar nie die minste twyfel of willekeur wees nie. Dit gebeur op één manier, en net so. Wyk net effens daarvan af - en jy tuimel die donker dieptes van verlorenheid in!

Vir baie eeue reeds is daar 'n wonderlike gesegde in die kerk: In necessariis unitas, in nonnecessariis (of dubiis) libertas, in omnibus caritas. Ons kan die Latyn só vertaal: In die noodsaaklike dinge moet daar eenheid wees; in die nie-noodsaaklike of onsekere dinge, vryheid; en in alles liefde.

□     Een van die merkwaardigste eienskappe van die evangelie is sy universele aanpasbaarheid en relevansie. Maak nie saak van watter eeu of kultuur jy is nie - die evangelie is vir jou. In die groeibodem van ryk en arm, geleerd en ongeleerd, oud en jonk, ontkiem en groei die kerk ewe goed. Dis omdat die absolutes van die geloof - die necessarii - universeel en tydloos is. Dit spreek die nood en vrae van álle mense aan.

□     Soos dit met fondamente gaan, lê ook die geloof se absolutes onder die oppervlak. Dis nie altyd voor die hand liggend nie. Veral onvolwasse Christene sukkel daarmee. Tewens, om dit onder die knie te hê, is een van dié merktekens van geestelike volwassenheid.

Christus bou Sy gemeente. En dikwels verheerlik Hy Homself deur 'n uiteenlopende verskeidenheid van mense by mekaar te voeg. Tot die mate wat sulke mense kan onderskei tussen die noodsaaklike en die nie-noodsaaklike, tot daardie mate sal hulle harmonie en gemeenskap bly geniet. As hulle egter die sekondêre só begin opblaas dat dit die noodsaaklike verdring, is dit nag vir so 'n gemeente.

□     Dis nodig dat die hoekpenne van ons geloof presies in plek vasbeton sal wees. Daarsonder weet ons nie hoe om die leringe en praktyke van ons dag te beoordeel nie. Sonder die vaste ankers van universele, absolute en objektiewe waarheid, is ons soos kurkproppe op die see van 'n duisend menslike opinies.

□     Dekades se ryswater-prediking het groot dele van die kerk in Suid-Afrika beswaarlik toegerus om die absolutes van ons geloof te ken en vanuit eerste beginsels te dink en te onderskei. Vaste Bybelse spyse kan selde verteer word. Mense is agterdogtig, selfs vyandiggesind teenoor dogma - omdat hulle onseker is oor wat hulle moet glo en wat nie. In hulle wanhopige soeke lees hulle alles wat voorkom en raak net meer deurmekaar. Helaas is die tipiese Christen vandag allermins voorbereid om die relativisme van hedendaagse postmodernisme die hoof te bied. Dis tragies om te sien hoe gemeentes elke nuwe resep uitprobeer as dalk die allerantwoord op hulle onsekerhede. As jy vir niks staan nie, val jy immers vir alles.

□     Uiteraard is daar nog altyd gepoog om die geloofshoekpenne uit te spel. Die necessarii moes van die nonnecessarii onderskei word. Dit was nodig om te weet wat dwaalleer is en wat nie.

Die neerslag hiervan vind ons in die talle belydenisskrifte wat deur die eeue ontstaan het. Wie hierdie konfessies aandagtig bestudeer, kom elke keer weer onder die indruk van die insig en versigtigheid waarmee hulle verwoord is. Dit was waarlik die vadere se doel om die essensiële van die nie-essensiële te skei, en om eersgenoemde so akkuraat moontlik te definieer.

Natuurlik is die belydenisse menslike geskrifte en as sodanig feilbaar. Die Woord van God bly die enigste norm. Tog is hulle baie nuttig om ons te help om die eerste beginsels onder die knie te kry.

Lê die probleem nie juis hier nie? Is hierdie belydenisskrifte nie so uiteenlopend dat hulle meer bydra tot die verwarring en verskeurdheid in die liggaam van Christus as iets anders nie? Hierdie algemene persepsie is die gevolg van onkunde! Die verskillende protestantse konfessies stem sekerlik 95% ooreen. Dit geld selfs van die wat aan verskillende kante van die spektrum lê - soos die Anglikane se 39 Articles enersyds, en die Baptiste se 1689 Belydenis andersyds. Eintlik loop die paaie net uiteen as dit oor kerkbeskouing en die doop gaan.

Wat van die leer oor die laaste dinge? Dis betekenisvol - en onderstreep die vadere se wysheid - dat hulle detail oor die wederkoms as intra-konfessioneel beskou het en dit nie in die belydenisse ingebou het nie. Omdat hulle verstaan het dat Bybelse gegewens oor die laaste tye verskillend vertolk kan word, het hulle gebly by die groot lyne waaroor almal saamstem. Fyner detail is beskou as non-necessarii.

VYF HOEKPENNE WAT AL DIE ANDER BEPAAL

□     Niks is meer fundamenteel en bepalend as die vyf wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie nie. Hierdie vyf solas's is waarlik die benchmarks van die allerheiligste Christelike geloof.

Sola et tota Scriptura (alleen die Skrif, maar die hele Skrif);
Sola gratia (alleen genade);
Solus Christus (alleen Christus);
Sola fide (alleen geloof);
Soli Deo gloria (alleen aan God die eer)

Laat mens hierdie uitgangspunte, hierdie aksiomas van die Christelike geloof los, beland jy op 'n glibberige helling sonder vastrapplek. En as jy konsekwent bly dink, sal dit jou uiteindelik afvoer na 'n bodemlose put van religieuse inspanning, selfs ongeloof - uitsigloos en hopeloos.

DIE VYF SOLA'S IN 'N NEUTEDOP (Sien ook VYF LIGBAKENS VIR ONS TYD)

Tota et sola Scriptura

In die menswording van Sy Seun het God Homself by uitnemendheid aan ons geopenbaar. Maar sedert Sy hemelvaart en die Heilige Gees se inspirasie van die apostels, het net die Skrif vir ons oorgebly.     Daarom glo ons dat die hele Bybel, en net die Bybel, God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens is. As sodanig is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.

Sola gratia

As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel en al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.

Solus Christus

Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur die eeue betoon het, was nog altyd volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.

Sola fide

God verklaar enige en elke sondaar regverdig wanneer dié vanuit sy of haar geestelike bankrotskap volledig op die middelaarskap van Christus staatmaak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie. Galasiërs waarsku dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.

Soli Deo gloria

Alles wat God beplan het en in die geskiedenis doen (niks is uitgesluit nie), het een finale doel: om Homself te verheerlik. Die najaag van hierdie doel is dan ook elke mens en die kerk se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, lê aan die hart van sonde.

ENKELE SLOTGEDAGTES

□     Een van die kosbaarste lesse wat Christene kan leer - ook gemeentes - is om hierdie eenvoudige gesegde uit te leef: Major in God's majors, not in His minors! Tot die mate wat ons besig is met sekondêre sake, tot daardie mate is ons geloof minder as wat dit moet wees en verspil ons tyd en energie op dit wat nie regtig sentraal is in God se waarheid en wil vir ons lewens nie. Dit is een van die groot redes waarom Christene se dienswerk dikwels in vlamme opgaan. En meermale is dit die rede waarom selfs ywerige gelowiges met mekaar twis kry.

□     Veral predikers moet hierdie les ter harte neem. As hulle prediking nie aan hierdie hoekpenne veranker is nie, moet hulle nie verbaas wees as hulle bediening tot niks lei wat werklik standhoudend is nie. Stories mag vermaak, mensgesentreerde sentimentaliteit mag tot trane beweeg, sambokprediking mag mense verskrik - maar niks hiervan bekeer en transformeer regtig nie.

Jan Alleman assosieer die woord "om te preek" met moets en moenies ("Moenie vir my préék nie!"). Hulle dink aan prediking in moralistiese terme. Waarom? Dis hoe daar tipies gepreek word! En dit geld nie net predikante nie, maar ook ouers en onderwysers.

Dis alles behalwe wat die Nuwe Testament met "prediking" bedoel. Nee! Om te preek, is om die groot dade van God te proklameer - veral Sy grootse verlossingswerk in Christus. Sê die apostel nie in 1Kor 2:2 nie: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde"? En die Galasiërs word deur Paulus daaraan herinner dat hy Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder het (OAV), sodat hulle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang (Gal 3:1).

Charles Haddon Spurgeon se Christusgesentreerdheid blyk uit die eerste woorde wat hy in die pasgeboude Metropolitan Tabernacle gesê het - die gebou wat die skares moes akkommodeer wat na hom kom luister het: "Mag die tema van die prediking in hierdie gebou altyd die persoon van Jesus Christus wees. Ek is nooit skaam om te sê dat ek 'n Calvinis is nie; ek maak geen geheim daarvan dat ek 'n Baptis is nie; maar as iemand my vra na my diepste geloofsoortuiging, kan ek net één antwoord gee: Jesus Christus, en Hy alleen!"

□     In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer van 'n rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Wanneer dit swaar sneeu, word die rif heeltemal bedek. Die bank sneeu bo-oor is dan ononderbroke en aaneenlopend. Die eenheid daarvan is egter net 'n illusie. Want die skerp rif is 'n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, na die een vallei afloop, en 'n ander deel, in direkte kontak daarmee, na die oorkantse vallei.

Dit is egter nie al nie. Die een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die yskoue water van die Noordsee. Sneeu wat 'n halftree daarvandaan smelt, beland egter in die Geneefse meer en Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See - 'n duisend myl vanaf die Rynmonding.

Dis wat 'n waterskeiding doen - dit sny, dit verdeel, dit lê bestemmings vas. Waterskeidings is lotsbepalend.

Schaeffer gaan dan voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so 'n waterskeiding is. Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit - tot geslagte ná ons. Maar presies dit geld ook van die ander sola's. God se waarheid is 'n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne net 'n fraks - en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings van tallose mense ingrypend raak.

Laat ons nooit vergeet nie: die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm. 'n Enorme roeping rus op ons!

ENKELE VRAE VIR OORDENKING

1.     Vir watter waardes en waarhede is jy bereid om te sterf? Waar trek jy die streep?

2.     Die begrip fundamentalisme het sy oorsprong aan die begin van die 20ste eeu, toe evangeliese kerkleiers en teoloë die fundamentele waarhede van die Christelike geloof in 'n reeks boeke uiteengesit het. Die begrip het egter deur die jare 'n betekenisverskuiwing ondergaan. Wat verstaan jy vandag onder die begrip? Is die prediking in jou gemeente fundamentalisties of nie? Wat dink jy daarvan?

3.     Met sekere mense wat hulleself Christene noem, is dit baie moeilik om gemeenskap te ervaar. Waarom? Wat beskou jy as minimum vereistes vir egte hartsgemeenskap?

4.     Wat weet jy van die Postmodernisme - die lewens- en wêreldbeskouing wat toenemend ons samelewing beheers?
(Sien ook die traktaat oor POSTMODERNISME)

5.     Wat doen jy om jou kinders toe te rus vir die uitdagings van môre? Hoe leer jy hulle die fundamentele waarhede van die Skrif, en om vanuit eerste beginsels te dink?

6.     As ons dan moet oppas dat ons nie deur bloot moralistiese opvoeding van ons kinders klein Fariseërs maak nie, wat moet ons dan wel vir hulle leer


Footnote
Voetnotas
1.  Anders as ander Heroute is hierdie nie 'n stuk Skrifuitleg nie. Die perspektiewe in hiérdie Herout is egter uiters belangrik.

 
roos1a.JPG

Gewilde Artikels / Popular Articles

E0130 Die genade van lyding
Nico van der Walt

JOB 1:20-3:19 [3] MIN DINGE WYS SO DUIDELIK UIT VAN WATTER STOFFASIE IEMAND GEMAAK IS, as óf uitsonderlike voorspoed, óf uitsonderlike teëspoed.
Baie mense kan welvaart nie hanteer nie; dit l [ ... ]


AH0052 Die lyding van Christus
Nico van der Walt

Enkele perspektiewe Wie sal ooit die diepgange van Jesus Christus se lyding kan deurgrond - Sy lyding in die plek van die mense wat deur die Vader aan Hom vir verlossing toevertrou is? Hoe sal ons o [ ... ]


Other Articles

Nuusflits

Newsflash

Although most of the material on this website are in Afrikaans there is several English audio sermons, E-sermons and articles that you can download, just follow the links. You can also get other God centred, Christ focused and scripture based material on www.nunide.org.za


Banner
Banner