Vertroosting sonder weerga
Dit bring ons by die onderwerp van God se almag - iets van die allergrootste teologiese en praktiese belang.
Vertroosting sonder weerga
Meeste van ons is seker al gekonfronteer met die vraag of God 'n klip kan maak wat Hy self nie kan optel nie. As vyftienjarige het hierdie stuk filosofiese uitdaging my kop laat draai.
Dit bring ons by die onderwerp van God se almag - iets van die allergrootste teologiese en praktiese belang.GOD SE NAAM
□ Die feit van God se almag word alreeds duidelik in sommige van Sy name gesuggereer. Dit herinner ons dat ons ten volle met Sy mag moet rekening hou as ons Hom enigsins wil ken.
• Die mees basiese Godsnaam is El. Dis afgelei van die stam om sterk te wees, en word 217 keer in die Ou Testament gebruik vir die ware, lewende God. Hoewel dit vertaal word met God, beteken dit eintlik dus die Magtige of die Almagtige.
• Hierdie basiese Godsnaam word dikwels geïntensifeer in name soos El Gibor: Magtige God (Jes 9:5) en El Shaddai: God die almagtige (Gen 17:1).
□ Hierdie Godsname is nie beperk tot die Bybel nie; hulle is algemeen gebruik deur die Semitiese volkere van destyds. Dit onderstreep die feit dat God se almag duidelik waarneembaar is in die algemene openbaring, die skepping. Rom 1:20 stel dit so: "Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is ...".
□ In Mrk 14:62 word gewoon na God verwys met die Griekse woord vir krag (dunamis): "...julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van dunamis (Hy wat magtig is) ...".
'N DEFINISIE
| Die almag van God is daardie vermoë en krag wat Hy het om enigiets te bewerkstellig en te bereik wat Hy ook al wil - wat Sy wysheid mag voorskryf, wat Sy liefde mag begeer, en wat Hy in Sy heiligheid mag nodig ag. |
□ God se krag is onbeperk deur enige mag buite Homself. Alles in die heelal is tot Sy beskikking en Hy kan daarmee doen soos Hy wil. As Skepper van alle ander kragte hou Hy elkeen daarvan in Sy hand, is elkeen daarvan algeheel afhanklik van Hom, en kan geeneen daarvan Hom enigsins bedreig of selfs beperk nie.
GOD SE ALMAG IN DIE SKEPPING
□ In die heel eerste instansie sien ons God se almag in die skepping. Keer op keer verwys die Bybelskrywers hierna as 'n bewys en maatstaf van Sy krag. Neem byvoorbeeld Jes 40:26: "Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie."
□ Die Bybel begin met die woorde: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep." Dis so bekend dat mens geneig is om bo-oor dit te lees en die ontsaglike implikasies daarvan te mis. Maar hierdie paar woorde staan lynreg teenoor al die ongeloof in hierdie wêreld, asook teenoor al die vals godsdienste. Teenoor ongeloof word geproklameer: "God is die oorsprong van alles. Wat ons om ons sien, is nie die gevolg van toeval nie!" En vir die vals godsdienste word gesê: "Die God van die Bybel is die enigste ware God!"
• As ek hierdie paar woorde glo, het dit 'n diepgaande en bepalende impak op hoe ek oor myself en die wêreld om my dink, en hoe ek dus leef. Enersyds het dit 'n verheffende invloed op my: ek is nie bloot die resultaat van toeval nie, maar gewil deur Een wat duiselingwekkend geniaal, wys en magtig is - deel van die kroon van Sy skepping. Andersyds maak dit my nederig: ek is nie een van die fittest wat gesurvive het nie; ek is 'n nietige en afhanklike skepsel - minder as 'n stoffie in God se hand.
• Sonder hierdie Bybelse perspektief, as mens regtig behoorlik nadink oor alles, verloor jy alle sin en koers in die lewe. Dan kan jy, soos Salomo, tot net een slotsom kom: alles, alles is tevergeefs. Dan verdwyn alle morele ankerpenne - ek bedoel díé wat regtig die toets van streng beoordeling kan deurstaan, nie bloot díé wat deur opvoeding in jou in gekondisioneer is nie.
En, as ek bogenoemde woorde nie glo nie, dan is ek sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld.
Dis omdat God almagtig is dat ons is wat ons is - skaars minder as hemelse wesens, gekroon met aansien en eer, heersers oor die skepping. Was Hy nie almagtig nie, maar steeds baie magtig, was ons dalk wurms of virusse. En was Hy swak - soos ek - dan was ons niks nie.
□ Dikwels is dit al gesê: die diepste en heel eerste filosofiese vraag is, "waarom is daar iets, en nie niks nie?" En die antwoord is: omdat daar 'n lewende God is, en omdat Hy almagtig is. Sonder die bestaan en almag van God kan mens eenvoudig nie die wêreld, die natuur, die kosmos om jou verklaar nie. Want niks kan uit niks ontstaan nie (Latyn: ex nihilo nihil fit). Weier jy om in God die almagtige te glo, moet jy jou wend tot allerlei absurde teorieë oor die ontstaan van alles - maar dis teorieë wat geen denkende en eerlike mens ernstig kan opneem nie. Soos so dikwels al uitgewys is, verg dit baie meer geloof om in ewolusionisme te glo, as in skepping.
DRIE KWALIFIKASIES
□ Sonder om enigsins afbreuk te doen aan God se almag, moet mens in jou verstaan daarvan rekening hou met bepaalde uitsprake, oftewel onderneminge, wat Hy daaroor in Sy Woord aan ons gee. Hierdie kwalifikasies - wat van Hom self af kom - verseker ons dat Sy almag nie onbeheers, impulsief en arbitrêr uitgeoefen sal word nie. Daar sit dus groot troos en sekuriteit in.
1. God se almag word altyd in volle harmonie met Sy ganse Persoon uitgeoefen - in pas met ál Sy ander attribute.
God se optrede en aanwending van Sy almag word nie bepaal deur eksterne omstandighede nie, maar volledig deur Hom self - deur wie en wat Hy in Homself is.
Dit beteken dat God se almag nooit strydig met Sy liefde, heiligheid, wysheid, geregtigheid, of enige ander karaktertrek opereer nie.
• Hier lê die antwoord op die vraag oor die klip. Ons kan onomwonde sê, "Nee, God kan nie so 'n klip maak nie!" Waarom nie? Omdat Sy ander attribute, besonderlik Sy wysheid, Hom daarvan sal weerhou om iets so onsinnigs te doen. Hy sal nooit so iets wil doen nie.
Dit hoef ons nie te kwel as ons sê dat daar dinge is wat God nie kan doen nie. Die Woord maak self sulke uitsprake. 2Tim 2:13 sê "Hy kan Homself nie verloën nie". En Heb 6:18 sê dat dit onmoontlik is vir God om te lieg (OAV). Hierdie dinge - en 'n duisend ander - sou volkome teen die grein van Sy karakter indruis.
2. God se almag word altyd aangewend in volle harmonie met die verbond tussen Hom en Sy kinders.
In die heidennasies se persepsie tree hulle gode onverklaarbaar en onvoorspelbaar op. Hulle leef dus in voortdurende vrees, onseker oor watter irrasionele uitbarstings volgende van hulle iesegrimmige gode te wagte kan wees.
Só is Israel se God nie! Sy verhouding met Sy volk is stabiel en vloei in duidelik uitgespelde kanale. Selfs vir die ongelowiges sê Hy vooraf wat hulle van Hom te wagte kan wees. Niemand sal eendag, as God se almag in toorn teen hierdie wêreld losbars, kan kla dat dit onderduims en onregverdig is nie. Selfs van diegene wat nooit 'n Bybel onder oë gehad het nie, sê die apostel dat hulle genoegsame waarskuwing in die algemene openbaring ontvang het (Rom 1:20vv).
• Die effekte van hierdie kwalifikasie is byvoorbeeld glashelder duidelik in die natuur. Na die sondvloed sluit God 'n verbond met die mens - 'n verbond wat in die besonder ook te doen het met ons woonplek, hierdie aarde (Gen 8:21; 9:9-17). Onder meer hou dit in dat God onderneem: "So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie" (Gen 8:22). Wie kan twyfel dat God se almag agter die voortgaande funksionering van die natuur sit? En wie kan dit bevraagteken dat die kom en gaan van die seisoene 'n wonderlik voorspelbare, stabiele en vrugbare omgewing vir ons skep?
• Die konsekwente orde waarmee God se almag funksioneer, word ewe duidelik in die genadeverbond waargeneem. Wat die Here vir Sy volk wil wees, en wat Hy van hulle verwag, is in besonderhede op skrif. En elke ingeligte sal weet dat die Here tot vandag toe met puntenerige konsekwentheid daarvolgens handel wanneer Hy Sy mense red en hulle daarna verder vat. Dit bly eenvoudig verstommend hoe ons kan identifiseer met die biografieë van gelowiges wat honderde jare gelede geleef het - ongeag hulle kultuur of omstandighede. Feitlik alles wat hulle ervaar het, herken ons dadelik vanuit eie ondervinding. Dis omdat die Here volgens dieselfde beginsels met ons werk.
3. God se almag hef nie ons verantwoordelikheid op nie. En Hy werk nie los van ons besluite nie.
As Skepper is God die oorsprong van alle krag. Daar bestaan dus ook ander kragte - weliswaar deur Hóm voortgebring - wat nie onafhanklik van Hom is nie, maar wel onderskeie van Hom.
In verreweg die meeste dinge wat God in hierdie wêreld doen, werk Hy nie direk nie, maar deur hierdie sekondêre kragte. Hy gebruik dus instrumente; Hy werk, sê ons, middellik. As Hy, byvoorbeeld, 'n aardbewing wil laat plaasvind, skud Hy nie direk die aarde nie. Nee, Hy laat by 'n breuk in die aardkors die twee vlakke net effens teen mekaar skuur - met geweldige trillings tot gevolg.
Hierdie werkswyse van God het veral op ons as mens betrekking. Hy laat Sy onweerstaanbare en onbeperkte invloed so geld dat óns besluite en optrede Sy wil bewerkstellig.
As die Here ons gebruik, doen Hy nie ons natuurlike vryheid en wil geweld aan nie. Nee, Hy hanteer ons steeds as vrye agente. Ons neem vrylik besluite, en ons handel volgens ons wil. Dit beteken egter nie dat God afhanklik van ons is nie. Inteendeel, Hy laat ons só besluit en optree dat dit Sy doel dien.1
'n Miertjie kan vervaard heen en weer hardloop op 'n vel papier wat ek vashou - net soos hy wil. Maar as ek die papier flink en akkuraat genoeg heen en weer sou kon draai, sou ek kon verseker dat die mier in werklikheid met betrekking tot die wêreld om ons deurgaans in 'n pylreguit baan beweeg.2
WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?
1. Die feit van God se almag moet ons nooit tot verkeerde afleidings verlei nie.
Ons moet die derde kwalifikasie hierbo stewig vashou. Té maklik en té dikwels is dit in die kerkgeskiedenis verwaarloos.
□ Al is God onbeskryflik magtig, verdoem Hy nooit mense strydig met hulle keuses en lewenswyse nie. En Hy red nooit iemand teen sy wil nie. Misken dit, en jy beland volledig in 'n onbybelse fatalisme wat die mens se wil en verantwoordelikheid op 'n uiters skadelike wyse verwaarloos.
□ Voorts raak talle Christene te maklik super-geestelik en behep met wonderwerke en die bonatuurlike. Ons is egter steeds onderworpe aan natuurkragte en -wette. Dit verg nog altyd van ons 'n moeisame reis om vanaf Pretoria in die Kaap te kom. En al ry ons nie meer met 'n ossewa nie, word nie 'n enkele natuurwet opgehef as ons supersonies vlieg nie. Ons loop nie links en regs op water nie. En ons kry steeds griep - en sommige van ons kanker.
Sekerlik kan God die natuurwette ophef - en Hy doen dit soms - maar dis die uitsondering.
2. Vir God se kinders sit daar heerlike sekuriteit in Sy almag.
Die Bybel wil hê dat ons groot vreugde in God se almag sal hê.
□ So lank ons God volgens Sy voorskrifte dien, hoef Sy krag nooit vir ons 'n bedreiging te wees nie. Nooit word dit destruktief op Sy geliefdes gerig nie. Nee, ons kan verseker wees dat dit, presies soos Hy belowe het, volgens Sy volmaakte oordeel aangewend sal word in ons belang. Daarom kan niks ons in die absolute sin van die woord bedreig nie. As God vir ons is, wie of wat kan teen ons wees?
Maar laat ons nooit ophou om te beklemtoon nie - dit geld vir diegene in Christus, dus vir ware gelowiges. Dis in Hóm dat God se beloftes ja en amen is (2Kor 1:20).
□ Vir die apostel Paulus was die almag van God een van die wonderlikste dinge - spesifiek omdat die Here oor en oor belowe om dit in belang van ons, Sy kinders, aan te wend. Dikwels het hy seker daaroor gepeins en hom daarin verheug. En altyd het hy daarvolgens gelewe.
• In Efe 1 bid die apostel dat ons sal besef hoe groot God se krag is wat Hy ter wille van Sy kinders aanwend. Dit is dieselfde krag wat Hy reeds in Christus uitgeoefen het toe Hy Hom uit die dood opgewek het (Efe 1:18-21).
Só opgewonde is die apostel oor hierdie krag (Gr. dunamis), dat hy nóg drie verskillende woorde, amper sinonieme, gebruik om dit te beklemtoon: "werking" (Gr. energeia) - aktiwiteit, werking; "krag" (Gr. kratos) - uitgeoefende krag; "sterkte" (Gr. ischus) - groot inherente mag (Efe 1:19b, OAV).
• Luister hoe sluit Paulus sy roerende gebed in Efe 3 af: "En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid ..." (20, OAV).
Kyk mens goed na hierdie lofuiting, sien jy dat die apostel sy beskrywing van God se almag in 7 lae op mekaar stapel.
Dit wat God vir ons wil doen:
1. dit kan Hy (Hy het die mag);
2. daarom kan Hy doen wat ons bid;
3. selfs die dinge wat ons nie moed het om te vra nie, maar net oor dink;
4. Hy kan dit alles doen (Gr. panta);
5. en Hy kan meer as dit doen (Gr. huper);
6. selfs meer oorvloedig (Gr. ekperissos);
7. ver meer oorvloedig (Gr. huperekperissou).3
• Waarlik, ons almagtige God is 'n hoorder van gebed. Geeneen van my versoeke volgens Sy wil is vir Hom te moeilik om te verhoor nie. Geen nood in my lewe is vir Hom te groot om reg te stel nie. Geeneen van my versoekinge is vir Hom te kragtig om te oorkom nie. Geen ellende waarin ek kan beland is vir Hom te diep om my daaruit te verlos nie.
Maar in meer as enigiets anders lê die wonderlikste troos hiérin: die Here my God se almag sal Hom eendag in staat stel om my na Hom toe te neem wanneer die oomblik daarvoor aanbreek. En wanneer dit tyd word vir die opstanding, sal Hy ook my liggaam in heerlikheid opwek, ongeag hoe verniel en vernietig dit tydens en sedert my dood ook al is.
Voetnotas
1. Hierdie is ongelukkig 'n té omvangryke tema om behoorlik inhierdie studiestuk deur te trap.
2. Soos met alle illustrasies, is ook hierdie een beperk. Hiér het die mier die inisiatief, en ek reageer daar op. Maar God behou altyd en in alles die inisiatief.
3. Vir diegene wat nie Grieks lees nie - die New American Standard Bible wend 'n moedige poging aan om die Grieksweer te gee.





