Psm 65:3 : O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom! (OAV). 1Natuurlik bestaan ons gebede nie net uit versoeke nie. Maar sekerlik is versoeke deel daarvan. En dan ontstaan die vraag: kan mens God 'n hoorder van gebed noem as baie van my gebede nie verhoor word nie? Want onverhoorde gebede is 'n realiteit - ook gebede wat oënskynlik in absolute opregtheid en Bybelgetrouheid gebid word.
Deel 2 : Oor gebedsverhoring al dan nie
Psm 65:3 : O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom! (OAV). 1Natuurlik bestaan ons gebede nie net uit versoeke nie. Maar sekerlik is versoeke deel daarvan. En dan ontstaan die vraag: kan mens God 'n hoorder van gebed noem as baie van my gebede nie verhoor word nie? Want onverhoorde gebede is 'n realiteit - ook gebede wat oënskynlik in absolute opregtheid en Bybelgetrouheid gebid word.
DIKWELS IS ONS KORTSIGTIG EN MIS ONS VERWAGTINGE DIE KOL
- Sekerlik het Josef, toe sy broers hom in die put gegooi het, ernstig om verlossing gebid (Gen 37:18-36). Dit het egter nie gebeur nie. Of het dit dalk? In elk geval is hy nie verhoor soos hy op daardie moment begeer en gebid het nie. Maar jare later kon hy vir sy broers sê: "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het" (Gen 50:20).
- Dawid bid ernstig vir sy en Batseba se baba. Maar die kind sterf. Hy aanvaar onmiddellik God se soewereine wil - en tel nie stryd op oor dinge wat hy weet te hoog is vir hom nie (2Sam 12:20-23).
- Ook Paulus ken sy God. Hy worstel met 'n "doring in die vlees". Hy vra die Here drie maal tevergeefs om hom te verlos. Dis nodig vir sy heiligmaking en God se eer in sy lewe. En daarmee is die saak afgehandel. Paulus weet gebed is nie gegee om die lewe vir hom so gerieflik moontlik te maak nie. En hy aanvaar die Here se antwoord sonder meer: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is." Trouens, hy leer sy les en verlustig hom in God se wysheid (2Kor 12:9-10).
- Selfs die Here Jesus beleef dat die Vader nie vir Hom gee wat Hy vra nie. In Getsemane bid Hy: "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" (Luk 22:42). Ja, Hy vra uitdruklik, maar is algeheel onderdanig aan Sy Vader se wil.
-
- Is dit nie 'n merkwaardige gebed nie? Hy het immers deurgaans geweet dat Sy sending op aarde op Sy soendood moes uitloop; tewens, reeds vir weke weet Hy met sekerheid dat die tyd daarvoor aangebreek het. Tog bid Hy soos Hy bid. Kom ons wees eerlik, baie van ons vrae oor gebed is bloot akademies van aard. Ons wil alles in ons gemoedere netjies in vakkies en hokkies inpak. Maar só werk dit nie altyd in die lewe nie - allermins in die geloofslewe. En nooit word dit duideliker as wanneer ons in 'n krisis verkeer nie. As 'n kind benoud is, roep hy sonder meer na sy pa, maak nie saak wat die omstandighede is nie.
-
- Hoeveel heiliges het nie deur die eeue vanuit tronkselle om verlossing gebid nie? Maar, onbewus daarvan dat ook húlle bloed die saad van die kerk gaan wees, moes hulle maar gedwee die pad na die brandstapel stap. En al hoef ek en jy dalk nie 'n marteldood te sterf nie, God se soewereiniteit sal dikwels ons opregste en regsinnigste gebede oorheers en dinge baie anders laat uitwerk as wat ons vra. En vir die gelowige wat geleer het om in God se alwyse regering te rus, bring dit allermins 'n gevoel van onsekerheid, inteendeel. Want weet ons algoeie God nie die beste nie. Geseënd is hy of sy wat geleer het om die hemelse Vader meer as homself te vertrou!
-
- Beteken dit mens moet dan maar los om te bid? Allermins!
ONS TROOS: GOD REGEER
- Altyd sit daar wonderlike troos in die Skrifbeloftes oor God se soewereine liefdesregering in Sy kinders se lewens. Maar veral geld dit in tye van krisis en nood.
-
- Dink maar aan Rom 8:28-30 - geplaas in die konteks van die Christen se lyding en swaarkry in hierdie lewe - wat ons verseker dat alles in ons lewens heenwerk na die goeie toe. In die Grieks sit daar beweging in hierdie vers. Waarheen? Die Here is met ons onderweg na gelykvormigheid aan Sy Seun se beeld! (v.29).
-
- Dink maar aan 1Pet 5:7: "Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Die opdrag om te "werp" wil hê ek moet my kwellinge sak en pak by die Here aflaai. Dis om doelbewus en eens-en-vir-altyd my pad vorentoe aan Hom toe te vertrou. Psm 37:5 sê iets soortgelyk: "Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg." Letterlik kom die Hebreeus hierop neer: rol die pad wat jy vorentoe sal moet loop vir jou Verbondsgod. En, onthou, 'n mens kan iets nie vir iemand anders rol as jy nog daaraan bly vasklou nie (vgl. ook Psm 55:23).
'N BAIE MOEILIKE, MAAR UITERS NOODSAAKLIKE LES OM TE LEER
- Een van die moeilikste, maar belangrikste lesse wat ons op die geloofspad moet leer, is om op die Here te wag.
-
- Na baie worstelinge in sy nood, roep Dawid uit: "Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!" (Psm 27:14, OAV). En in Psm 38:15-16 skryf hy: "... op U, HERE, wag ek; U sal verhoor ... " (OAV).
Of vat
Psm 130:5-8: "Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre. Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self sal Israel verlos ..." (OAV).
-
- Die Here het Sy tyd. Sy raadsplan het sy verloop. Hoe lank het die Jode nie vir die Messias gewag nie? Hoeveel gebede is nie gebid nie? Hoeveel derduisende het nie gesterf sonder om die antwoord te beleef nie! Beteken dit hulle gebede is nie verhoor nie?
Onthou, slegs 'n handjievol was bevoorreg om die vervulling van God se beloftes te beleef.
Beteken dit die gebede van God se gunsgenote in die Ou Testament was betekenisloos en tevergeefs? Allermins! Elke enkele gebed wat in die geloof gebid is vir die koms van die Messias was nóg 'n klip wat ingedra is in die fondament van 'n gebou wat mettertyd die ganse wêreld sou beheers. Net so, al sal ek hulle nooit ken nie, bid ek gereeld vir my nageslag - dat hulle die Here sal ken en godvrugtig tot Sy eer sal lewe. God is ewig, Sy raadsplan loop ver en wye paaie wat ek nie in my stoutste verwagtinge kan voorsien nie. Maar my werk is om fondament te pak - en daarmee moet ek getrou in die geloof volhard.
-
- Selfs in die hemel moet op die Here gewag word. In Opg 6:9-11 lees ons dat die wat gered is, hard geroep het: "Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?" Daar is vir hulle gesê "om nog ’n klein rukkie te wag, totdat ... hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is."
-
- Om geduldig vir die Here se antwoord op my gebede te wag, toon my erns, my afwagting en my onderwerping aan Sy raadsplan. Natuurlik vind ons soms dat gebede dadelik beantwoord word. Dis wanneer daar nie eers ander dinge in plek hoef te skuif nie.
-
- Selfs al loop my gehoorsame en Bybelgetroue gebedsvolharding op niks uit nie, dien dit steeds 'n tweërlei doel: Die gemeenskap wat ek in die proses met die Here beoefen, is kosbaarder as goud. En deur getrou, lojaal en ter wille van Sy eer te volhard, behaag en verheerlik ek Hom.
As ek byvoorbeeld in 'n samelewing leef wat deur die Here aan hulle
sonde oorgegee is (
Rom 1:24-32), moet ek steeds bly bid vir genade, bekering en herlewing. Ek moet dus as 't ware teen God se wil in bid - selfs al sou my gebede nooit verhoor word nie. Want my hartstog vir Sy eer en my liefde vir verlorenes om my, is 'n aangename reukoffer voor Sy troon.
DINK JY REGTIG GOD IS ONTROU AS HY NIE JOU GEBEDE STIPTELIK VERHOOR NIE?
- Jy kan God mos nie verwyt as jy nie volgens Sy wil bid nie.
Johannes stel dit so: "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra" (
1Jhn 5:14-15).
-
- Hoe weet ons wat God se wil is wanneer ons bid? Allereers moet ek vra wat die Skrif leer. As 'n saak baie duidelik Bybels is, kan ek met groot vrymoedigheid volhard met my versoeke.
Dis waarom kennis van die Skrif onmisbaar belangrik is vir 'n sinvolle gebedslewe. En dan praat ons nie net van blote feitekennis nie, maar ook van insae in die Woord se groot openbaringstemas en -lyne. Daar is 'n soort kennis waarmee jy Bybelvasvrae wen, maar dan is daar so iets soos die kennis van die Here, van Sy wil en van Sy weë. Kyk hoe haal die vroeë gemeente die Skrif aan as hulle in Han 4 bid (v.25-26). En dis nie maar leë retoriek nie; hulle verstaan die openbaringshistoriese betekenis van Psm 2 - hoe dit op Christus en Sy wêreldwye regering betrekking het.
-
- Daar is egter talle situasies waarin ek nie met sekerheid kan sê wat God se wil is nie.
In sulke gevalle bid mens versigtig - voetjie vir voetjie. Jy vra wysheid, jy wag op die Here, en jy meet biddend elke moontlikheid aan al die Bybelbeginsels wat jy ken. En meer as ooit bid jy in sulke gevalle nederig en in onderdanigheid aan die Here se soewereine wil.
- Jy kan God mos nie verwyt as jy wêreldgelykvormig en selfsugtig bid nie.
Jak 4:3 sê: "Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig."
In die konteks het Jakobus dit teen wêreldgelykvormigheid. Dis om dieselfde waardes en prioriteite as die ongelowige wêreld te hê. En natuurlik sal dit in iemand se gebedslewe uitmasel.
Kan ons die allerhoogste en soewereine God blameer as Hy weier om na ons pype te dans wanneer ons Hom bloot ter wille van onsself wil misbruik? Niks beledig 'n persoon meer as dit nie.
-
- Nee, die gebed wat die Here in die uitwerk van Sy raadsplan gebruik, is deur en deur Godgesentreerd. Dink maar aan Elia se gebed op Karmel. Oor en oor gebruik hy die woordjie "U": "Here, ... laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer" (1Kon 18:36-37).
- Jy kan God mos nie verwyt as Hy nie jou lamlendige en lou gebede verhoor nie.
Gebede wat nie diep uit 'n mens se hart kom nie, is gewoon nie gebed in die ware sin van die woord nie. As ek traak-my-nieagtig is, kan ek mos nie verwag dat die Here my ernstig opneem nie. Laat ons dus onthou, soos die Puriteine gesê het, koue gebede kom nie by die hemel uit nie - hulle vries voor die tyd.
-
- Die Psalms is deurtrek van die gelowiges se hartstog. Trouens, die hele Ou Testament is vol voorbeelde van intense gebede.
Elia bid op Karmel: "Antwoord my, Here, antwoord my tog ..." (1Kon 18:37).
Luister net na Daniël as hy in Dn 9 vir sy volk bid. Só beskryf hy dit: "Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi" (3). En só sluit hy af: "Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep" (19).
So wou die Here dit nog altyd hê: "Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra" (
Jer 29:13).
-
- Ook die Nuwe Testamentiese gelowiges het vurig gebid. In Han 12 bid hulle byvoorbeeld vir Petrus in die dodesel. In v.5 staan daar dat hulle "aanhoudend" vir hom gebid het. Hierdie bywoord beteken letterlik om uit te rek. Dit kan dus op langdurige gebed dui, soos hier vertaal. Maar dit word ook in die Nuwe Testament gebruik om op emosionele intensiteit te wys - op 'n uitrek van jou hart. Petrus gebruik byvoorbeeld die woord as hy sê dat ons mekaar "vurig" moet liefhê (1Pet 1:22).
Presies hierdie bywoord word gebruik om die Here Jesus se gebed in Getsemane te beskryf: "Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val" (
Luk 22:44).
Oor Jesus se gebede in die algemeen, sê Hebreërs: "Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God" (
Heb 5:7).
-
- Opregte intensiteit - want God kyk in ons harte - kan ons nie opwerk nie. Dit moet deur die Heilige Gees gewerk word. Hoe doen Hy dit? Sekerlik is een van Sy belangrikste maniere om ons al hoe meer bewus te maak van die skrikwekkende realiteite van 'n gevalle en verlore wêreld om ons. Leef ons nie in 'n see van nood nie? Skuur ons nie daagliks skouer met dosyne mense wat op die rand van 'n ewige verdoemenis leef nie?
-
- Thomas Watson, die bekende ou Puritein, het dít oor vurige gebed gesê: "How can I know my prayers are prompted by the Spirit? When they are not only vocal, but mental; when they are not only gifts, but groans."
- Jy kan God mos nie verwyt as Hy nie jou trotse en vertonerige gebede verhoor nie.
God is jaloers op Sy eie eer; Hy deel Sy roem met niemand nie. As ons gebede verhoor word, moet en sal Hý alle eer daarvoor kry. En dis noodsaaklik dat ek in my diepste wese dit nie net weet nie, maar my ook daarin verheug.
-
- Jak 4:6 sê: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade" (sien ook 1Pet 5:5). En in 4:10 roep hy ons op: "Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." Ware gebed is dus altyd diep bewus van eie onwaardigheid voor God se heilige majesteit. Niks is meer onvanpas voor God se troon as hooghartigheid nie.
-
- Dis waarom die Here Jesus diegene wat "vir die skyn lang gebede opsê" veroordeel (Luk 20:47; Mat 6:5).
- Jy kan God mos nie verwyt as Hy jou nie verhoor as jy in sonde en ongehoorsaamheid leef nie.
Gebed voorveronderstel 'n oop en versoene verhouding met Hom. En as daar één ding is wat my verhouding met Hom onmiddellik vertroebel - omdat dit die Heilige Gees bedroef - dan is dit sonde van watter aard ook al.
Jesaja gee vir ons die fundamentele beginsel: "... sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie" (Jes 59:1-2). Dis voor die hand liggend dat mense wat nie in Christus met God versoen is nie, nie op gebedsverhoring kan aanspraak maak nie. Maar selfs in die geval van ware gelowiges staan sonde in die weg daarvan.
Psm 66:18: "As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie." En Spreuke: "Die Here is ver van die goddeloses af, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges" (15:29). "As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ’n afsku hê van so ’n man se gebed" (28:9).
Petrus haal aan uit Psm 34: "Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep ..." (
1Pet 3:12). Luister na Johannes: "Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goed vind" (
1Jhn 3:21-22).
-
- Veral twee sondes word in hierdie verband deur die Nuwe Testament beklemtoon: onvergewensgesindheid en huwelikspanning.
Die Skrif voorveronderstel dat iemand wat God se vergiffenis ken, nie wrokke sal dra nie - dat vryspraak 'n spontane deel van jou lewe sal wees (
Mat 6:12,
14-15;
Mrk 11:25-26).
In die verband is
Mat 18:15-35 uiters belangrik. In v.19 is die woord "saamstem"(Gr. sumfoneo) 'n sleutel. Die woord onderstreep die enkelhartige eenheid wat die Here in ons gesamentlike gebede vereis. Duidelik kan mens sien waar die herkoms van ons woord "simfonie" lê, nie waar nie!
In Han 4 lees ons daardie aangrypende gebed van die vroeë gemeente as hulle deur felle vervolging bedreig word. Dit begin só in die OAV: "En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef ..." (24). Die woord "eendragtig" is vol betekenis (Gr. homothumadon). Dis 'n saamgestelde woord wat dui op 'n gesamentlike voortbeur in eenheid - soos, byvoorbeeld, 'n span osse.
Wat die huwelik betref, draai
1Pet 3:7 geen doekies om nie. 'n Man wat nie sy vrou eer en koester nie, se gebede word lamgelê. As die NAV sê dat 'n swak verhouding met jou vrou jou in jou gebede "hinder", bring dit nie die erns van hierdie probleem genoegsaam uit nie. In die Grieks beteken die woord letterlik om af te kap of af te sny - soos mens 'n boom sal afkap. En ken die getroude mans onder ons nie die tevergeefsheid van gebed - hoe dit as 't ware afgesny word - as jou verhouding met jou vrou nie is wat dit moet wees nie. En sekerlik geld dit ook vir vrouens.
- Jy kan God mos nie verwyt as Hy nie jou ongelowige gebede verhoor nie.
Die Here gee die wonderlikste beloftes vir gelowige gebed.
Mat 21:22: "As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra." Só sterk beklemtoon die Nuwe Testament die noodsaak van geloof in ons gebede, dat ons dit as 'n ononderhandelbare voorwaarde vir die verhoring van ons gebede moet aanvaar.
Besonder betekenisvol is
Mrk 11:24: "Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het,
2 en dit sal vir julle so wees." Oënskynlik bedoel die Here hier dat ons verseker kan wees van gebedsverhoring as die Heilige Gees uiteindelik tydens gebed die innerlike sekerheid gee dat ons gehoor en verhoor is. Dit is wat bedoel word as ons sê dat 'n saak "deurgebid" is.
Heb 11:1 stel dit so: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Ware geloof - ook wanneer ons bid - is nie blote wensdenkery nie. Dit is onwankelbare vertroue in 'n Persoon op wie jy weet jy met jou hele lewe kan staat maak. Daarom is dit so belangrik om te weet ek bid in harmonie met God se geopenbaarde Woord.
- Jy kan God mos nie verwyt as Hy Sy eie wysheid gebruik met betrekking tot die tyd en wyse van verhoring nie.
Ons leef in 'n oorhaastige en ongeduldige kultuur. Maar God het Sy eie tempo en skedule. Meer nog, die uitwerk van Sy raadsplan is oneindig gekompliseerd en geïntegreerd. Daar sit planmatigheid, sisteem en orde in. Sekere dinge moet eers in plek skuif voordat ander dinge aan die beurt kan kom. Laat ons vrede maak daarmee: sekere van ons gebede sal eers na ons dood vervul word. Dit beteken nie dat hulle nie verhoor is nie. Verhoring en vervulling is twee verskillende dinge.
In Deu 9 worstel die profeet in gebed. Na verloop van tyd kom die engel Gabriël na hom toe en sê: "Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar ’n antwoord gegee ..." (Deu 9:23). Voorts bid Daniël oor die ballingskap-herstel van sy volk. Hoe lank het dit nie nog geduur nie? Nog meer, die engel se boodskap handel ook oor die sewentig sewetalle en die koms van Christus (Deu 9:24-27). En dit sou eeue duur om vervul te word!
Laat ons nie selfgesentreerd en eng dink wanneer ons bid nie. Altyd moet ons ewigheidsperspektief hê, maar veral wanneer ons bid.
-
- Ook wat die wyse van gebedsverhoring betref, moet ek dit vertrouend in die hande van die Here los. Hy handel met ons as ons algoeie Vader. Nooit sal Hy vir ons gee wat ons sal kwaad doen nie. Tewens, ons kan daarop peil trek dat Hy net "goeie gawes" aan Sy kinders gee (Mat 7:11) - dit wat die Gees van God in harmonie met Sy heiligheid sal aflewer (Luk 11:13).
Elkeen van ons het die idee dat ons presies weet wat ons nodig het. Dit is nie waar nie. Dink bietjie aan die hartstogtelike gebede wat jy al gebid het, maar wat nooit waar geword het nie. Vandag, terugskouend, is jy intens dankbaar dat jy nie verhoor is nie. Nee, ons hemelse Vader weet die beste.
Dit is goed en reg dat ons spesifiek is in ons gebede. Maar tog, hoe langer mens die gebedspad loop, hoe minder selfversekerd is jy oor jou insig in wat vorentoe in jou lewe moet gebeur.
Laat ons God al hoe beter leer ken - want so sal ons Sy oneindige goedheid en onfeilbare wysheid al hoe meer verstaan, waardeer en vertrou. En tot daardie mate sal Sy onbevraagtekenbare soewereiniteit nie vir ons 'n bedreiging inhou nie, maar die wonderlikste vertroosting en sekuriteit. Hoe meer mens hierin gevestig raak, hoe minder het jy stryd as jou gebede nie altyd verhoor word soos en wanneer jy dink dit moet nie.
Die gesindheid van Daniël se drie vriende by die vuuroond is vir ons tot beskaming. Hulle sê vir die koning: "Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red ... Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie ..." (Deu 3:16-18).
WAT IS GEBEDSVERHORING?
- Gebedsverhoring beteken ten minste twee dinge:
-
- God neem ons gebede aan. As mense tot Hom bid, behaag dit Hom. Hy aanvaar ons offers van lof. Hy neem die eer aan wat ons vir Hom bring. Hy slaan met liefdesempatie ag op ons afhanklikheid.
-
- Hy reageer op ons gebede. Eerstens beleef ons baie dikwels gewoon God se aanraking tydens gebed. Ons staan op met 'n nuwe vrede, of 'n nuwe perspektief op Sy waarheid en wie Hy is. Ons is net anders as toe ons begin het. Ons het die Here ontmoet. Elke Christen ken proefondervindelik dit waarvan Paulus in Fil 4:6-7 praat: "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."
Versoeke vir spesifieke sake of persone is net 'n deel van ons gebede. Dikwels vra ons niks nie. Maar altyd, as ons waarlik bid, beleef ons 'n innerlike aanraking wat ons toerus om die pad vorentoe met meer vrede, geloof, helderheid en daadkrag aan te pak.
Waarlik, elke bidder ken gebed proefondervindelik as een van die belangrikste genademiddele in sy of haar lewe. Nogtans is ons té geneig om hierdie aspek van gebedsverhoring te vergeet.
Tweedens vind ons dat God die dinge doen wat ons van Hom vra. Maar Hy is nie ons lakei nie - dit is Sy prerogatief om as die Alwyse en Soewereine te antwoord soos en wanneer Hy wil. Hieroor is hierbo reeds baie gesê.
WAAROM IS GOD BEREID OM ONS GEBEDE TE BEANTWOORD?
- Eerstens, is God 'n God van oneindige goedheid en genade.
Dit is deel van Sy wese om te gee en te voorsien. Daar is beswaarlik iets waarin Hy meer vreugde het. Soos Jonathan Edwards sê: "Hy is die groot fontein van alles wat goed is. Versorging vloei as 't ware uit Hom uit soos strale vanuit die son."
- Tweedens, het ons 'n wonderlike Middelaar.
Jesus Christus is as 't ware die brug wat die kloof tussen ons as sondaars en die heilige Vader oorspan.
Só stel
Heb 10:19-22 dit: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water."
- Derdens het ons 'n wonderlike Tussenganger.
Die Heilige Gees is ons Helper - ook in gebed. Dit is Hy wat in ons roep, "Abba Vader" (
Gal 4:6). En as ons nie weet hoe en wat om te bid nie, pleit Hy self volgens die wil van God vir ons met versugtinge wat nie met menslike woorde gesê kan word nie (
Rom 8:26-27).
En dit is ook Hy wat al God se goeie gawes in ons lewens kom verwerklik (
Luk 11:13;
Mat 7:11)