Deel 2: Goeie werke deur God voorberei
Deel 2: Goeie werke deur God voorberei
- In die voorafgaande verse, van die begin van die brief af, gee die Heilige Gees van die mees verbysterende openbaring in die ganse Bybel. Paulus skryf, soos dalk nêrens anders nie, oor God se alleen-inisiatief in 'n Christen se redding, en oor sy duiselingwekkende erfenis in Christus.
- Dan antisipeer Paulus blykbaar 'n vraag in die gemoedere van sy lesers: 'Goed, ons aanvaar dit. Maar sedert ons wedergebore, herskep is deur die Heilige Gees, is die bal sekerlik in ons baan. Nou is dit vir ons om gehoorsaam te lewe. Sou mens nie kon sê dat dit ons býdrae tot ons redding is nie?'
EFE 2:10 NADER BEKYK
- Sý maaksel is ons, staan daar letterlik. Elke Christen is deur God geskape. Paulus gebruik hierdie twee begrippe, sowel as die beklemtoning, om sy punt tuis te bring. Waarskynlik het hy die tipies Bybelse beeld van die pottebakker en die klei in gedagte. Trouens, die Griekse woord vir 'maaksel' kan dalk selfs met 'kunswerk' vertaal word. In elk geval: net so min as wat 'n erdepot enige eer met sy maker kan deel, net so min het 'n Christen iets om oor te spog.
- Dis 'n skepping 'tot goeie werke'. Die Griekse konstruksie is kategories: dis 'n skepping met die oog op goeie werke, met die doel dat goeie werke sal volg. Soos 'n wingerdstok geskape is om druiwe te dra, en 'n voël om te vlieg, so het God die Christen herskep om goeie werke te doen! Dis sy skeppingsdoel; dis 'n noodwendigheid.
- Dis nie net bepaal dát die gelowige goeie werke sal doen nie, maar (verstommend!), die werke self is vooraf gereed gemaak. Dit is voorberei - die aard en besonderhede daarvan, die wanneer en hoe en wat daarvan.
- Dit is gedoen sodat ons daarin kan wandel. God het 'n baie definitiewe doel met ons herskepping en die voorbereiding van die werke gehad: Sy kinders moes dit tydens hulle lewens op aarde kom doen - en Hom so verheerlik, medewerkers wees in die uitwerk van Sy raadsplan, en die egtheid van hulle redding manifesteer.
-
- Die algemene karakter van hierdie werke is vooraf vasgelê. Inderdaad het dit deur die eeue nooit verander nie. Maar, en dis belangrik, dit is ook verordineer presies hoe dit in elke individu se lewe tot uitdrukking sou kom. Dis nodig om hierdie saak te verindividualiseer - anders hou Paulus se argument nie water nie. Sou dit hier bloot gaan om die algemene bepaling van wat goeie werke is, berus daar nog 'n wêreld se keuses en inisiatiewe by die individu, en sou Paulus se lesers goeie grond hê om sy ontkenning van enige eer vir die Christen te bevraagteken.
-
- Om seker te maak sy lesers verval nie nou in die teenoorgestelde dwaasheid nie, naamlik passiwiteit en verantwoordelikheids-ontduiking, sê die Apostel dis nodig om in hierdie goeie werke te wandel. Die woord beteken gewoon om te stap, te loop, en word in die Nuwe Testament gebruik om op 'n lewenswyse te dui (vgl. 4:17; 5:2, 8, 15). Dit het ten minste twee uiters belangrike praktiese implikasies:
'N ONFEILBARE LAKMOES-TOETS
- In hierdie vers redeneer Paulus so: God se skepping bring 'n maaksel voort; en hierdie maaksel bring goeie werke voort. Ware redding word dus altyd sigbaar in goeie werke! Is dit afwesig, is daar eenvoudig geen redding nie. Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie.
-
- Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese aksioma. Presies dit is wat Jakobus in sy tweede hoofstuk sê: daar is baie soorte geloof, maar net een wat redding bring - die soort wat met goeie werke gepaard gaan.
-
- Dis die begronding vir een van die Reformatore se wekroepe: 'Sola fides justificat, sed non fides sola est!' (Alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).
-
- Kom ons sê dit reguit: hier is 'n onfeilbare lakmoestoets vir ware redding, vir outentieke Christenskap. Laat ons elkeen homself maar weer en weer toets; eerlik, nugter, volwasse (2Kor 13:5).
- Word die belangrikheid van goeie werke as 'n sine qua non vir redding nie dalk hierbo oordryf nie? Die teendeel is waar! Niks onderstreep die gewigtige belangrikheid en prominente plek daarvan in God se raadsplan beter nie, as die feit dat ons eendag voor die regterstoel daarvolgens geoordeel gaan word. Niemand minder nie as die Here self gaan ons werke gebruik as die maatstaf vir redding al dan nie!
-
- Let op die besondere Skrifbeklemtoning daarvan: Mat 16:27; 24: 45-51; 25: 14-30; 31-46; Jhn 5:28-29; Rom 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pet 1:17; Opg 19:7-8; 20:12-13; 22:12-15. Al die gelykenisse in Mat 24-25 (ook 'Die tien meisies') word beheers deur 24:42-44. Die boodskap van hierdie uiters belangrike rede van die Here Jesus Christus is dit: lewe gehoorsaam en getrou - in die lig van die ewigheid!
-
- Hoe moet ons dit verstaan? Word die gelowige dan nie op grond van Christus se verdienste alleen geregverdig nie? Verseker! Dis die hart van die evangelie! Maar, soos heiligmaking, is ook regverdigmaking een van die onmisbare elemente in die geïntegreerde verlossingsproses (sien AH 2 vir 'n bespreking van hierdie begrippe). Omdat dit waar is, volg dit noodwendig dat regverdigmaking deur heiligmaking (en dus goeie werke) gevolg sal word. Laasgenoemde is dus die bewys dat eersgenoemde inderdaad plaasgevind het. En dis hierdie bewys wat voor die regterstoel gesoek sal word. Só onverbreekbaar is hierdie band, dat die Groot Regter eendag net een saak in ag sal neem wanneer Hy uitspraak moet gee oor iemand se ewige lot: Het hy of sy 'n lewe van heilige gehoorsaamheid en goeie werke gelei? Dit sal die onfeilbare bewys wees van saligmakende geloof, van innerlike herskepping, van eenheid met Christus - en, dus, van regverdigmaking. Goeie werke is die watermerk van egtheid!
-
- Baie mense het die idee dat net die ongelowiges geoordeel gaan word en dat ander standaarde vir gelowiges sal geld. Dis nie wat die Bybel leer nie! Kyk na Rom 2:11 en 1Pet 1:17 in soveel vertalings moontlik. Sonder aanneming van die persoon! Onpartydig! God trek niemand voor nie! 'No favouritism!' Almal op dieselfde manier! Geen witbroodjies nie! Nie dubbele standaarde nie!
-
- Die vraag ontstaan nou: Sit hier nie 'n stuk onregverdigheid in nie? Dat God se uitverkorenes nie eendag voorgetrek sal word nie, maar aan presies dieselfde maatstaf gemeet sal word as alle mense, is een saak; maar is dit regverdig dat die miljoene wat God se Woord en Wet nooit ontvang het nie, wat nie so begenadig is nie, daaraan gemeet sal word?
- 'n Vreeslike verantwoordelikheid rus op elke ouderling en prediker. Die Opperherder van die kudde sal van elkeen verantwoording eis (Han 20:25-28; 1Kor 3:9-15; Heb 13:17; Jak 3:1; 1Pet 5:1-4). Aan die hart van hulle taak lê die opdrag om "... die heilsplan van God in sy volle omvang ... te verkondig ..." (Han 20:27).
Redding is uit genade; op grond van Christus se middelaarswerk alleen; deur geloof; tot en daarom volgens werke.
-
- Enige evangelie wat minder preek as dit, is minder as die volle en dus ware evangelie. Sowel die Vader (uit wie se genade redding vloei), as die Seun (wat die Middelaar is), en die Heilige Gees (wat gelowiges roep, heilig en toerus), se werk is noodsaaklik en moet as sulks geëer word. Verwaarloos hierdie 'volle raad' van God, en die kerk vermank en verword spoedig totaal.
- Twee dwalinge van ons dag, twee noodlottige 'ander evangelies', kan nou maklik ontmasker word.
-
- 'Easy-believism', oftewel 'goedkoop genade', teister die kerk wêreldwyd. Die oorreaksie daarop is radikalistiese (noem dit maar) 'dífficult-believism', oftewel 'duur genade'. Nie een hiervan is Bybels nie; nie naastenby nie. Die eerste een is 'wetteloosheid', wat leer dat selfs geloof sonder werke kan red. Die ander is 'wettisisme', wat aandring op allerlei verpligtinge by Christus se volmaakte werk (sien AH2).
-
- Die ware evangelie is 'impossible-believism'. Niemand kan glo as hy nie wederbaar word nie; en selfs sy geloof is 'n gawe (Efe 2:8; Fil 1:29; 2Pet 1:1); trouens, selfs sy gehoorsaamheid wat daarop volg. God se Woord weet niks van goedkoop of duur genade nie; dit dra net een boodskap: 'gratis genade'!
WAT KWALIFISEER DIE GOEIE WERKE WAT DIE REGTERSTOEL SE TOETS SAL SLAAG?
- In enigeen wat hoegenaamd verantwoordelik is, wat hoegenaamd erns maak met sy Christenskap, sal nou 'n vraag brand: Wat is 'n goeie werk?
- Efe 2:10 sê ten minste twee dinge om ons te antwoord:
-
- God self het die werke voorberei. Dit was dus Sy inisiatief, en Hý het die aard daarvan bepaal. Omdat óns dit moet doen (as mense, nie as masjiene nie), moes Hy dit aan ons openbaar - wat Hy inderdaad in Sy Woord gedoen het.
-
- Dis nodig dat 'n mens herskep word, voordat hy so 'n werk kan doen. En wat onderskei 'n wedergeborene van iemand wat nog geestelik dood is?
-
- Hierdie uiteensetting is presies wat Jesus in Jhn 4:19-24 vir die Samaritaanse vrou sê. Die Vader soek aanbidders wat (met hulle hele lewe) Hom aanbid in gees (vanuit hulle harte) en in waarheid (volgens Sy Woord). 1 En die genoemde belydenisskrifte is ook presies in pas hiermee.
-
- Goeie werke, wat eendag sal dien as watermerk van egtheid, is dus iets baie unieks. En dis baie spesifiek gekwalifiseerd.
- Dis nou onmiskenbaar duidelik dat ongelowiges baie goeie dinge kan doen, en ons moet hulle daarvoor respekteer - en die Here dank, want dit geskied in Sy algemene genade. Maar 'n goeie werk, soos ons nou daaroor praat, kan hy nooit doen nie - per definisie nie.
-
- Veel belangriker vir ons egter, is die feit dat 'n Christen oor 'n lang tydperk baie aktief kan wees - in die naam van Christus - sonder om iets te doen wat in terme van Bybelse standaarde voor die regterstoel aanvaarbaar sal wees (vgl. bv. Mat 7:21-23). Hoeveel 'vreemde vuur' het die kerk nie deur die eeue aan die Here gebied nie! Hoeveel offers 'wat Hy nooit beveel het nie', word nie vandag gebring nie! (Lev 10:1-6, OAV). Hoe gereeld word die ark nie op 'n 'nuwe wa' gelaai nie (soos die Filistyne), in plaas daarvan dat 'die Leviete dit met draaghoute dra'! (2Sam 6:1-23; 1Kro 13:1-14; 15:1-16).
-
- Dis ontstellend moontlik dat skrywer en lesers hulle besig kan hou met dinge waarin die 'gees' is, maar wat nie in 'waarheid' geskied nie. Ywer en opregtheid is nie sonder meer genoeg nie; die vraag is of die Woord van God dit beveel. Of ons kan besig wees met dit wat Bybels is, sonder dat dit uit die hart kom. Dooie ortodoksie weeg niks voor die Here nie, inteendeel. Of, nog meer tragies, ons kan onsself afsloof met dit waarin ons harte nie is nie, én wat die Here net so min beveel het.
- Uit bg. volg die sg. Regulatiewe Beginsel, wat die kerk al vir eeue as norm gebruik vir die reëling van veral sy gesamentlike aanbidding. Eenvoudig gestel, sê hierdie beginsel dat slegs dít in die erediens aanvaarbaar is wat God uitdruklik beveel het. Daarenteen is die benadering vandag eerder dat enigiets aanvaarbaar is wat God nie eksplisiet verbied het nie. 'n Oomblik se nadenke moet enigeen oortuig dat dit 'n reuse verskil maak!
- Hoe kan ek ooit sê my werke sal vir God aanvaarbaar wees? Ja, dis Bybels; ja, dit kom uit my hart - maar dis so verskriklik onvolmaak!
HOE WÁNDEL MENS IN GOEIE WERKE?
- Die vraag kan meer of minder ruim vertolk word: Wat is Christene in die algemeen se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle lewe soos God wil? Wat is my persoonlike verantwoordelikheid om te verseker dat ek in die goeie werke wat vir my as individu voorberei is, sal wandel?
Veral laasgenoemde is 'n worstelvraag vir baie - die kwessie van persoonlike leiding ( 'guidance').
- Laat ons die vraag eers algemeen en in die breë benader. Ruimte laat net toe om enkele riglyne aan te sny (die mees basiese, vertrou ek). Daar is uiteraard talle maniere om dit te benader, maar ons hoef nie verder as ons onmiddellike konteks, die brief aan die Efesiërs, te gaan nie.
-
- Die Apostels het feitlik sonder uitsondering hulle briewe op 'n bepaalde manier geskryf. Agter dit sit 'n wesensbelangrike beginsel. Nadat hulle gegroet het, het hulle altyd begin met die Drie-enige God en Sy groot verlossingsdade in Christus. Hierdie gedeeltes stel dus die heilsfeite en is leerstellig ( 'doctrinal') van aard. Die teologie praat daarvan as die 'indikatiewe' gedeeltes.
-
- Die imperatiewe gedeelte van Efesiërs bied insiggewende riglyne, wat die ruimer vraag betref.
-
- Die antwoord op die ruimer vraag is dus voor die hand liggend: Wie volgens die wil van die Here wil leef, moet in die volheid van die Gees gehoorsaam wees aan die morele wet van God - soos dit in die Tien Gebooie in ekstrakvorm beskryf is, en elders in die Skrif, veral in die Nuwe Testament, oopgevou en ontwikkel word.
- Nou die meer persoonlike vraag: Wat is my verantwoordelikheid om seker te maak ek wandel in die goeie werke wat God spesifiek vir mý voorberei het?
- Psalm 1 skets twee paaie: die goddelose pad, oftewel lewenswyse, volgens die waardes van die God-vyandiggesinde wêreld, enersyds; en die pad volgens die Wet van die Here, andersyds. Lg. pad is kennelik die pad wat die Here behaag, want Sy seën rus daarop (die antwoord op die ruimer vraag hierbo). Maar die NAV se v.6 gaan 'n stap verder en werp belangrike lig op ons tweede vraag: die regverdiges (m.a.w. diegene wat die pad van God se Wet bewandel) word dan gelei - sodat hulle húl pad kan vind.
-
- Handelinge is vol gebeure wat hierdie beginsel demonstreer.
-
- Hier is die tweede vraag se antwoord: God se leiding ('guidance') neem gestalte aan in my lewe soos ek lewenslank, biddend Sy Woord bestudeer; deur die implikasies daarvan dink; dit my eie maak; en met beslistheid en volharding my lewe daarvolgens inrig. Dit gaan om beginselvaste gehoorsaamheid; 'n lewe volgens waarheidsoortuigings.
-
- Hierdie beginsel is nie al wat daar oor leiding te sê is nie. Maar dis basies en die belangrikheid daarvan kan nie oorbeklemtoon word nie. Wie dit uitleef, sal 'n duisend slaggate vermy. En dit sal hom neem op 'n waardige pad van beginselvastheid. 'n Innerlike vrede sal in hom vestig, hy sal koersvas volhard, en hy sal God verheerlik - deur te wandel in die goeie werke wat ook vir hom voorberei is!
-
- Die beheptheid om 'God se stem te hoor' en 'Sy wil vir my lewe' buite die geopenbaarde Skrifwaarheid om te soek, neem vandag epidemiese afmetings aan. Dit gee aanleiding tot sieklike subjektivisme, patetiese naïwiteit, pastorale ellendes en God-onterende skandes sonder tal - en dit lei die kerk weg van die Woord en die historiese geloof. Dit doen onbeskryflike skade!
"Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom; en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom ..." (Psm 37:3-7, OAV).
voetnotas
1. So'n vertolking volg vanuit die konteks.'Gees' koppel terug met v.20-21: nie die uiterlike van aanbiddingsplekke nie, maar die innerl ikheid van die menslike gees.'W aarheid' koppel terug met v.22: nie die onkunde van die Samaritane, wat net die eerste 5 bceke van die Ou Testament aanvaar het nie, maar die volle waarheid van God se hele openbaring aan die mens.




