Persoonlik, histories, fisies
Persoonlik, histories, fisies
Al vier die Evangelies beskryf dit uitvoerig. In Handelinge is dit reg van die begin af keer op keer aan die hart van die apostels se prediking (vgl. o.a. Han 2:29-32; 3:15; 5:30). Dis geen wonder nie, want hulle het uitdruklik opdrag gehad om daarvan te getuig (Luk 24:46-48) en het dit duidelik as 'n absolute prioriteit verstaan. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys moes word, is sy taak en kwalifikasie in soveel woorde uitgespel: hy moes 'n oog- en oorgetuie van Jesus se lewe en werk wees; en van alles wat hy beleef het, moes hy veral van die opstanding gaan getuig (Han 1:21-22).
In die apostoliese briewe kom die opstanding weer en weer ter sprake en die heilsbetekenis daarvan word puntenerig uitgewerk. Sonder twyfel het die apostels van 'n persoonlike, liggaamlike en historiese opstanding getuig - en dit saam met kruis en Pinkster as die essensie van die evangelie beskou.
MODERNISTIESE BESKOUINGS
Ten spyte van die Nuwe Testament se klinkklare getuienis, herdefinieer talle modernistiese teoloë vandag die opstanding van Christus - alles in 'n poging om van die bonatuurlike in die Christelike geloof te ontkom. Volgens hulle het Hy nie persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan nie, maar bloot in die harte, herinneringe en toegewyde lewens van die vroeë kerk. Dit is, sê hulle, soos 'n Verdi wat steeds op die operaverhoë van die wêreld 'voortleef'. Hierdie standpunt neem ook onrusbarend in Suid-Afrika toe en word al hoe meer openlik verkondig, soos talle denominasies die begeerte en vermoë om leertug toe te pas, verloor. Tog is die 'man in die bank' beswaarlik daarvan bewus, omdat hierdie mense steeds Bybelse woorde gebruik en naïewe kerkgangers nie besef dat 'n ander inhoud daaraan gegee word nie. Op die oor af klink alles dus regsinnig, maar iemand wat weet waarna om te luister, kan die slang in die gras bespeur deur te let op wat nié gepreek word nie.
WAAROM SO BELANGRIK?
Daar is veral 3 redes waarom dit lewensbelangrik is dat Jesus Christus persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan het - en ons dit so preek en glo.
- Eerstens is dit die onomstootlike bevestiging van Jesus Christus se persoonlike aansprake.
- Tweedens is dit die onfeilbare waarborg dat Jesus Christus se middelaarswerk ter wille van sondaars, volkome deur die Vader aanvaar is.
- Derdens was dit Jesus Christus se toetrede tot 'n volgende, absoluut noodsaaklike fase van Sy verlossingswerk.
SONDER DIE OPSTANDING IS ALLES TEVERGEEFS
In 1Kor 15:12-19 werk Paulus die implikasies uit indien Christus nie sou opgestaan het nie (v. 14,17). In die lig van bg. is sy skokkende gevolgtrekkings waterdig. Alles draai hier om: het Christus régtig opgestaan?
Die apostels se prediking sou sonder inhoud en gevolglik tevergeefs gewees het (v.14). Hulle bekeerlinge het dan 'n leuen geglo, en 'n dooie verlosser vertrou - met alle prediking sedertdien, ewe misleidend en futiel.
Ons geloof sou tevergeefs gewees het (v.14). Die hand waarmee ek na Christus gegryp het, het dan net lug gegryp. Die anker wat ek in Hom beleef, was dan net 'n illusie; die wedergeboorte en regverdiging waarvan ek getuig, net bluf; die heerlikmaking waarop ek hoop, bloot 'n lugspieëling; my kruisdra en self-aflegging, totaal futiel!
Ons sou nog gevangenes van ons sondes gewees het (v.17). Al roem ek in Efe 2:4-10, het verse 1-3 steeds my toestand geskets - geestelik dood, in slawerny van my vlees, die wêreld en die duiwel, onder die toorn van God. Ek sou net sowel in Plato of Ghandi kon glo!
Die apostels sou vals getuies gewees het (v.15). Christus se opstanding was aan die hart van hulle verkondiging. Was hulle verkeerd, stort alles in duie - en is die Nuwe Testament die grootste bedrogspul van alle eeue.
Diegene van wie ons glo dat hulle in Christus gesterf het, sou verlore gewees het (v.18). Waarom? Omdat die Vader dan nooit Christus se middelaarswerk aanvaar het nie!
'Wag', sê iemand, 'ons het darem Sy inspirerende lering en voorbeeld. Hoeveel armer sou ons nie gewees het sonder die veredelende invloed van die bergpredikasie nie! Al sou Hy nie opgestaan het nie, leef Hy ten minste in ons harte, ons herinneringe, ons medemenslikheid voort.'
So 'n argument hou egter geen troos vir Paulus in nie, en sy respons is eenvoudig: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (v.19). Waarom? Vir hom (onthou, hy skryf onder inspirasie van die Gees) verdwerg die behoefte aan 'n beter wêreld voor sy allesoorheersende nood - verlossing van sondes, vrywaring van God se toorn, beërwing van die ewige saligheid!
Die apostel kan tot net een slotsom kom: "As die dooies nie opgewek word nie, 'laat ons eet en drink, want môre sterf ons!'" (v.32). Kennelik het sy Christenskap nie oor 'n beter wêreld gegaan nie, maar oor 'n salige hiernamaals!
DIE HISTORISITEIT VAN DIE OPSTANDING
Ons móét dus weet! Het Hy régtig opgestaan - persoonlik, liggaamlik, histories? Hoe kan ons vasstel, waar kan ons uitvind?
Daar is onweerlegbare historiese bewyse. 'n Historiese feit word normaalweg deur enigeen van die volgende vier dinge bevestig: ooggetuies se getuienis, institusionele instellings wat daaruit spruit, gebruike en tradisies wat daarheen teruggevoer kan word, en fisiese oorblyfsels soos bouvalle en dies meer. Eersgenoemde drie staan vas m.b.t. die opstanding. En dis goed dat geen fisiese oorblyfsels bestaan nie, want afgodery sou beslis die gevolg gewees het (vgl. die koperslang, Num 21:9; 2Kon 18:4).
Daar was baie getuies. Presies dit is Paulus se punt in 1Kor 15:5-8. Die hart van die apostels se roeping was om van die opstanding te getuig. En talle ander het ook die opgestane Christus gesien - selfs meer as vyfhonderd tegelyk (1Kor 15:6). Enige regter sou sonder huiwering uitspraak gee op grond van mindere getuienis. Natuurlik leef die apostels nie meer nie, maar ons het hulle geskrifte - en 'n verskeidenheid onderling-bevestigende dokumente van verskillende skrywers maak 'n historiese feit vas.
As institusionele instelling bestaan die kerk (met die opstanding as sentrale element van geloof) al twintig eeue - groeiend, onvernietigbaar en florerend onder vervolging.
En die nagmaal, die doop en die Sondag was nog altyd 'gebruike' waar die kerk ook al is - en in elkeen word die opstanding onder meer herdenk.
PERSOONLIKE ONTMOETING
Bogemelde is alles goed en wel. Maar 'n mens soek meer as bloot intellektuele argumente, nie waar nie. Ons het behoefte aan 'n 'diepere wete'. 'n Tomas sit in elkeen van ons. Dis nog steeds so dat niemand régtig glo, tensy hy die opgestane Christus persoonlik ontmoet het nie!
In Sy goedheid maak die Here voorsiening vir ons probleem. Dis wat Jesus in Jhn 20:29 belowe as Hy sê dat mense sal glo, sóós Tomas, maar sonder dat hulle sien. En na die hemelvaart het mense dit presies so ervaar. Daarom kon Petrus in sy eerste brief skryf: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap" (1:8-9).
Op 'n geheimenisvolle wyse werk die Heilige Gees deur die Woord om die gawe van geloof en die innerlike wete te vestig dat Christus alles is wat die evangelie oor Hom getuig - ook dat Hy opgestaan het uit die dood. En wie kan ontken dat dermiljoene deur die eeue, uit alle lae van bykans elke samelewing, dit lewensveranderend só ervaar het? Daar is 'n duisend dinge in ons lewens wat ons nie kan sien of verduidelik nie, maar wat niemand as empiriese feite bevraagteken nie. Wie betwis, byvoorbeeld, die feit van swaartekrag?
WAT BETEKEN DIE OPSTANDING VIR MY LEWE HIER EN NOU?
- Modernistiese teoloë sê dat Jesus net in die herinneringe van die vroeë kerk opgestaan het.
- Die opstanding is egter nie net, sê maar, van emosioneel-inspirerende waarde nie. Dit gaan om veel, veel meer. In Fil 3:10 sê die apostel dat 'die krag van Christus se opstanding' een van die dinge is wat hy in sy lewe najaag. Die Skrif leer dat daar 'n onlosmaaklike band bestaan tussen die Here se opstanding (en gevolglik die opgestane Here) en my geestelike lewe hier en nou. Die opgestane Christus heers in hulle wat aan Hom behoort - met ingrypende, ervaarbare, waarneembare effekte!
WAT BETEKEN DIE OPSTANDING VIR MY IN DIE HIERNAMAALS?
- As Christus se opstanding sentraal is in my geloof en ek die krag daarvan in my lewe ervaar, het ek alle rede om seker te wees van ook mý toekomstige opstanding en onsterflikheid!
- As Christus se opstanding sentraal is in my geloof en ek die krag daarvan in my lewe ervaar, het ek alle rede om seker te wees dat die Vader my met dieselfde aanvaarding sal aanvaar as waarmee Hy Sy Seun aanvaar het.
Voetnotas
1. Hy het 'n verheerlikte liggaam gehad, maar 'n werklike liggaam. Die dissipels kon hulle hande in Sy wonde steek en Hy het geëet (Jhn. 20:27; Luk 24:41-43)




