'n Bespreking van Efésiërs 6:15 en Filippense 4:1-9
'n Bespreking van Efésiërs 6:15 en Filippense 4:1-9
Kom ons bekyk hierdie vers van naderby. Per slot van sake, wat is meer nikswerd as 'n kaalvoet soldaat?
EFE 6:15 VAN NADERBY 1
- Die Griekse werkwoord kan letterlik soos volg vertaal word: hebbende beskoen jouself. Uiteraard is behoorlike skoene vir 'n soldaat van lewensbelang. In die Romeinse kryger se geval was dit 'n soort sandaal met soolknoppe (amper soos 'n rugbystewel). Afgesien van skoene se ander funksies, het dit hom dus gehelp om vas te staan as hy handgemeen met die vyand was. Dis waarskynlik wat die apostel in die eerste instansie hier in gedagte het, want die hele gedeelte word beheers deur die noodsaak om staande te bly in die geestelike stryd (vv. 11,13,14).
- Die woord wat ons Afrikaanse Bybels met 'bereidheid' vertaal (Gr. 'hetoimasia'), kom net een maal in die Nuwe Testament voor.
- Die kwalifikasie, 'van vrede', wil sê dat die evangelie vrede as inhoud het. Dit dui op die goeie nuus van versoening in Christus tussen God en sondaars (2Kor 5:18-21).
- Die verband tussen 'gereedheid' en 'die evangelie van vrede' is in die Grieks dubbelsinnig. 2 Dit kan dus op twee maniere vertaal word: óf gereedheid vir die evangelie; óf gereedheid van die evangelie. Eg. praat dus van 'n gereedheid om die evangelie te verkondig. Lg. praat van 'n gereedheid, 'n paraatheid, wat die evangelie van vrede verleen om die aanslae van die vyand af te weer.
- Sekerlik is verkondiging van die evangelie die manier waarop die Here die koninkryk van Satan oorwin en mense uit die mag van die bose red (Han 26:18). Vraag is egter of dít is waarom dit hier gaan? In geval van so 'n onsekerheid, moet die konteks altyd dikteer. So bekyk, pas die tweede moontlikheid perfek in, terwyl die eerste net nie sy lê wil kry nie.
- As ons dan die tweede moontlikheid aanvaar, ontstaan die vraag: Hoe trek mens hierdie skoene aan? Hoe realiseer so 'n gereedheid in my lewe? Die evangelie vertel van 'n vrede wat bewerkstellig is. Maar dit het buite my gebeur (objektief). Om my toe te rus en gereed te kry vir die aanslae van die bose, vereis tog dat iets ook binne-in my moet gebeur (subjektief). Dit gebeur as ek die objektiewe feit van vrede met God in die geloof omhels en vashou. Die gevolg daarvan is dan dat die vrede van God binne-in my vestig. En dis hierdie innerlike vrede wat my in staat stel om vas te staan in die dag van onheil. Niks is beter om die aanslae van die vyand te 'kussing', as presies dit nie.
- Die evangelie, die boodskap van versoening met God, en besonderlik die innerlike vrede, sekuriteit en gevestigdheid wat dit vir gelowiges bring, gee die verankering wat mens voorberei om onwankelbaar vas te staan in die dag van onheil (v.13) - as die vyand met alle mag aanval. Om die skoene van die wapenrusting aan te hê, is om die boodskap van die evangelie, die boodskap van vrede mét God te ken, te omhels en dan in Christus te rus - en om die vrede ván God wat daaruit spruit as 'n kosbare kleinood te koester.
- Sonder twyfel dink Paulus aan die Christen-soldaat se skoene as hy Fil 4:1-9 skryf. Die verband tussen die twee Skrifgedeeltes is onmiskenbaar.
- In hierdie 9 verse gee die apostel 5 praktiese riglyne, wat almal in diens staan van belewing van die vrede van die Here. As sulks werp dit betekenisvolle lig op hoe die gelowige sy skoene dra. Kom ons bekyk elkeen van hierdie riglyne.
- Fil 4:1 begin met 'daarom', wat op 'n verband met hoofstuk 3 dui. Inderdaad beveel die apostel reeds in 3:1 dat gelowiges hulle in die Here moet verbly. Dit gee 'sekerheid' (Gr. 'asfales': struikel of kantel, met 'n negatiewe voorvoegsel). Verblyding in die Here bring dus stabiliteit, vastigheid, sekerheid. En dís waaroor dit gaan!
- Wat beteken dit om jou in die Here te verbly?
- Verlustiging in die Persoon en werk van Christus bring dus 'n vastigheid, 'n sekuriteit in my lewe. Só besorg die Evangelie van vrede die skoene waarmee die gelowige kan vas staan, sodat die vyand hom nie oorrompel of terugdryf nie. Om jou in die Here en Sy volmaakte versoeningswerk te verbly, is die heel eerste geheim van geestelike oorlogvoering! [Vergelyk ook in hierdie verband Opg 12:10-12].
WAAK OOR JOU MENSE-VERHOUDINGE (v. 2-3; 5)
- Let op hoe die apostel se gedagtes loop. In v.1 beveel hy sy lesers om vas te staan. Dan dink hy onmiddelik aan 'n situasie wat dit ondermyn - daar is onvrede in die gemeente van Filippi (v.2). Vrede is immers die skoene waarmee vas gestaan moet word. Ja, dit gaan primêr om die vrede met God, en die vrede van God wat dit bring. Maar daar is min dinge wat hierdie 'vertikale' vrede vinniger versteur as onvrede met my naaste, besonderlik my broers en susters in die Here.
- Teenoor die negatiewe stel Paulus dan die positiewe in v.5: hy beveel sy lesers om 'inskiklik' te wees teenoor 'alle mense'. Hierdie is 'n ryk begrip wat dui op vriendelikheid, welwillend-heid, soepelheid, sagtheid. Dis om nie 'n moeilike mens te wees wat altyd op sy regte staan nie. Dis die gesindheid van Christus, soos in Fil 2:1-8 beskryf.
BID GEDURIG OOR ALLE NOOD EN BEHOEFTES (v. 6)
- Daar is dosyne beloftes in die Woord dat die Vader in alle opsigte na Sy kinders omsien. En daar is talle uitnodigings, selfs bevele, dat hulle tot Hom moet nader - met 'alles' (v.6). Dit is goed en reg, nodig, 'n moet dat hulle dit doen. Die Bybel laat geen twyfel dat die Vader 'n behae daarin het nie.
- Kleingeloof en wantroue is egter ons probleem. 'n Wonderlike kuur hiervoor is om die Bybel se beloftes oor die Vader se versorging van Sy kinders weer en weer te bepeins en te omhels - en daarvolgens te lewe. Vergelyk byvoorbeeld hierdie twee heerlike beloftes in verband met ons materiële versorging: 2Kor 9:8 (met sy 5 positiewe beklemtonings - 5 maal 'alle') en Heb 13:5 (met sy 5 negatiewe versekerings in die Grieks). Lg. vers is só oorweldigend dat meeste vertalings nie eers probeer om reg daaraan te laat geskied nie (die Amplified Bible probeer, maar oordryf darem 'n bietjie). Die vyf negatiewe sou só weergegee kon word: Ek sal jou nie loslaat nie! Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie!
- Ek moet die Vader ook vir Sy getroue voorsiening dank (6). Afgesien daarvan dat ek dit aan Hom verskuldig is, herinner dit aan Sy goedheid, en bou sodoende my geloof en vrymoedigheid voor Sy genadetroon.
- Hierdie is 'n saak wat Paulus goed onder die knie gehad het. Die verse wat onmiddelik volg, Fil 4:10-14, is insiggewend. Die gedeelte word beheers deur v.10, waarin hy sy lesers bedank vir materiële gawes. Hy getuig egter dat hy in elk geval vergenoegdheid (OAV) in alle omstandighede ervaar. Wat is vergenoegdheid? Dis die afwesigheid van innerlike onrus. Dis niks anders nie as innerlike vrede.
BEPEINS VOORTDUREND DIE DINGE VAN DIE HERE (v. 8)
- Die vyand rig sy voortdurende aanslae onder andere op ons gedagtes. Die Christen moet dit herken en weerstaan. Hoe vinnig verdryf sondige en negatiewe gedagtes nie ons vrede nie! Wat steel ons skoene vinniger as kritiese, siniese, suspisieuse, pessi-mistiese, hebsugtige, wellustige, naywerige, wraakgierige gedagtes?
- Nee, beveel die apostel, bedink dit wat Bybels-positief is. Dissiplineer jouself, en vul jou denke met die dinge van die Here en die Here van die dinge.
- Geseënd is die gelowige wat die kuns van v.8 bemeester. Die geur van Christus hang soos 'n wolk om hom, hy beleef die vrede van die Here wat alle verstand te bowe gaan, en hy is 'n rots in 'n wêreld so onstabiel soos water.
LEWE GETROU AAN DIE APOSTOLIESE LEER EN VOORBEELD (v. 9)
- Paulus verwys hier na dit wat die Filippense by die apostels geleer, en gevolglik as opdragte van die Here aanvaar het. Eintlik het hy dit in gedagte wat hulle by hóm gehoor en gesien het. Veral in die beginstadium was die apostels grootliks verant-woordelik vir die herderlike funksie in die vroeë kerk. As sulks was hulle lering en lewensvoorbeeld van die allergrootste belang (vgl. 1Kor 11:1).
- Hoewel hulle 'n veel mindere rol as die apostels vervul, het gemeentelike voorgangers steeds hierdie funksie. Hulle moet die volle raad van God aan die gemeente bedien, dit met godvrugtige lewens demonstreer en die gemeente daarin lei (Heb 13:7,17; Han 20:25-32; 1Pet 5:2-4). Geseënd is die kudde met sulke ouderling-herders. Dit bring vergenoegdheid, onderlinge vrede, sekuriteit en standvastigheid vir sowel individu as gemeente.
- Dit verduidelik ook 2Tes 3:6 se opdrag dat gelowiges hulle moet onttrek aan elkeen in die gemeente wat leeglê en hom nie hou aan die apostels se opdragte nie. Sulke mense is 'vrot appels in die kis', wat die onderlinge vrede kort voor lank met los tonge versteur. Hulle is die vyand se 'vyfde kolonne' binne die stadsmure en maak die poorte skelm vir hom oop.
- Bogenoemde vyf riglyne bied eintlik alles wat nodig is om te verseker dat die Christensoldaat as individu, en die gemeente gesamentlik, die skoene van vrede dra en sodoende onwankelbaar vas staan teen die aanslae van die bose.
voetnotas
1. Hierdie studiestuk behoort langs'n oop Bybel gelees te word. Hoe meer vertalings geraadpleeg word, hoe beter. Die O.A.V. word dikwels aangehaal, omdat dit'n meer letterlike vertaling is.
2. Die genitief is of objektief, of subjektief.





