‘n Bespreking van Heb 1:1-3
INLEIDING
Die skrywer se doel met hierdie brief is pastoraal van aard. Sy lesers is Joodse Christene wat besig is om moeg te word in die geloofswedloop en oorweeg om weg te draai van Christus af, terug na die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.
Wat hy met sy skrywe aan hulle wil toon, is dat so 'n ommekeer nie net onsinnig is nie, maar inderdaad fataal. Die Ou Testament is vervul in Christus — wat beteken dat hulle wil terugdraai na iets wat eintlik nie meer bestaan nie. Wat meer is, aangesien al die Ou Testamentiese seremonies vooruit gewys het na die komende Messias, sal so ‘n besluit neerkom op ‘n skreiende belediging vir Christus. Dit sal ‘n versaking wees van die Middelaar van die genadeverbond — en sonder Hom is daar geen verlossing nie. Hierdie waarskuwing word oor en oor in die res van die brief herhaal — en in taal wat mens laat sidder.





