Bybelse beginsels wat, as dit maar deur die eeue gerespekteer en gehoorsaam was, oneindig baie smarte sou verhoed het.
OOR ONS ONDERWERP is geen gedeelte in die Nuwe Testament belangriker as Rm 13:1-7 nie. Minstens 4 uiters belangrike beginsels hieroor kom daarin na vore.
Maar eers is 'n historiese inleiding nodig - juis omdat die verhouding tussen kerk en staat so 'n kardinaal belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. Daar was deur die eeue 'n intense stryd tussen die twee instansies om oppermag, en gewis was dit een van die invloedrykste faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken.
Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier by ons was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan talle kerke steeds deur 'n moeilike identiteitskrisis in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika.
'n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat klaar egter baie vrae op.