Preek No 2 Luk 11:5-13 : DIE VRYGEWIGE VADER 'n Belofte sonder weergawe Nico van der Walt
JESUS DIE AANMOEDIGER Meeste Christene stoei soms met skuldgevoelens. En een van die algemeenste selfaanklagte is dat jy nie soveel en so ernstig bid soos jy moet nie. Om sake te vererger is die meeste preke en boeke oor gebed so appelerend dat mens al moedeloos is voordat jy begin bid. Dis egter nie die Here Jesus se benadering nie. Die gedeelte onder ons vergrootglas - wat direk op die Onse Vader in v.1-4 volg - is een van die mees positiewe stuk aanmoedigings in die Bybel. Hier word ons uitgenooi en aangespoor om weer en weer met die allergrootste vrymoedigheid voor die Vader se genadetroon te kom. Dis noodsaaklik om hierdie belangrike stuk lering behoorlik onder die knie te kry en om dit só ons eie te maak dat dit ons gebedslewe en ons wandel met die Here beheers. Baie van ons gebedsprobleme is te wyte aan die feit dat ons tot 'n mindere of meerdere mate vreemdelinge is vir dit waarvan hier gepraat word. 'N RETORIESE VRAAG EN SY SLOTSOM (5-8) Ongelukkig verwaarloos talle vertalings die feit dat v.5-7 een lang vraag is. Waarskynlik omdat dit so 'n lang en ingewikkelde sin is. Maar dis 'n retoriese vraag wat die antwoord veronderstel: gewis nie!
In 'n kultuur waarin gasvryheid en buurmanskap baie belangriker as in ons tyd was, was soiets ondenkbaar. In v.8 gee die Here Jesus dan die slotsom: Op grond van hulle vriendskap sal die man natuurlik opstaan - maar selfs al sou dit op sigself nie genoeg motivering wees nie (verspotte gedagte!), sal die broodsoeker se skaamtelose vrymoedigheid hom dwing om te help. Ongetwyfeld sal die man dus sy brood kry! DIE TOEPASSING (9-10) In v.9 gee die Here dan drie opdragte na mekaar: Vra! Soek! Klop! Eintlik is dit dieselfde bevel - op drie verskillende maniere gestel. Elke opdrag word gevolg deur 'n versekering dat gehoorsaamheid daaraan nie tevergeefs sal wees nie, inteendeel. Elkeen wat vra, sal ontvang; hy wat soek sal kry; en vir hom wat klop sal oopgemaak word.
Bogenoemde mag na harekloof klink, maar die vertolking van die opdragte maak 'n reuse verskil. Die eerste moontlikheid sou die boodskap oordra dat gebed nie 'n maklike saak is nie, maar dat aanhouer tog sal wen. Die tweede moontlikheid sou 'n hartlike uitnodiging wees om met die allergrootste vrymoedigheid weer en weer te vra. Wat is reg? Die volgende vers gee die antwoord. Vers 10 begin met die redegewende voegwoord, want (vgl. OAV; NIV). Daarmee sê Jesus dat Hy nou 'n verduideliking van die vorige vers gaan gee.
Die Here sê dus nie dat mens wel mettertyd sal kry nadat jy genoeg gebid het nie, maar dat jy kry terwyl jy bid. Vers 9 is gevolglik 'n hartlike uitnodiging en 'n bemoedigende versekering: laat gedurige gebed deel van jou lewenstyl wees, en gebedsverhoring sal 'n daaglikse belewing vir jou wees. Die Here verseker ons dus hier dat geen dissipel van Hom ooit onwelkom is voor die troon van genade nie. Nee, Hy wil ons van Sy Vader se welwillendheid en vrygewigheid verseker. Dis die gelykenis en sy toepassing se primêre punt. Die Here Jesus wil egter nie Sy luisteraars onder 'n vals indruk bring nie. Hy wil nie voorgee dat gebed 'n simplistiese saak is nie. Dis nie net 'n kwessie van links en regs se vra nie. Hy weet dat gebed soms 'n veeleisende stryd is en dat volharding inderdaad noodsaaklik is. Hy leer dit, trouens, uitdruklik in Luk 18:1-8. En hier in Luk 11 suggereer Sy versigtige woordkeuse dieselfde waarheid. Hy sê as 't ware vir ons: "Wanneer julle bid, sal julle soms die gevoel hê die Vader is weg. Maar soek Hom met mening; julle sal Hom wel vind. Ander kere sal julle die gevoel hê Hy ignoreer julle. Maar klop met mening; die deur sal wel oopgemaak word."
DIE SPYKER WORD DIEPER INGESLAAN (11-13) Die Here wil kennelik nie hê ons moet hierdie gebedsuitnodiging mis nie. Weereens gebruik Hy twee retoriese vrae om die punt nóg dieper tuis te bring. Gee 'n pa vir sy seun 'n slang as díé hom 'n vis vra? Natuurlik nie! Sal hy hom 'n skerpioen gee in plaas van 'n eier? Ondenkbaar! Dus: Bid, dit behaag julle Vader! Bid, julle sal verhoor word! Bid, dis nie tevergeefs nie! 'n Finale retoriese vraag word gebruik om die slotsom tuis te bring. Nogeens is die antwoord glashelder: as sondige ouers dan weet om die beste vir hulle kinders te gee, hoeveel te meer nie ons Vader in die hemel nie? DIE VADER SE GROOT GAWE In v.13 neem die Here se lering 'n verrassende wending. Anders as te wagte, belowe Hy nie gebedsverhoring in die algemeen nie, maar spesifiek die gawe van die Heilige Gees as God se gebedsantwoord.
As mens bogenoemde nou saam verreken, lei dit tot drie uiters belangrike waarhede:
DRIE PRAKTIESE IMPLIKASIES 1. God se Woord moedig ons aan tot vrymoedigheid in gebed, nie tot aanmatigende voorbarigheid nie. Dis twee gesindhede wat soos dag en nag verskil.
2. Ons hemelse Vader wil nie net hê ons moet bid nie, Hy wil hê ons moet vrymoedig bid. Hoewel voorbarigheid voor die Here 'n wesentlike gevaar is, is die afwesigheid van gebedsvrymoedigheid 'n nog groter en meer algemene probleem. Miskien is dit waarom daar meer aanmoedigings in die Bybel is tot vrymoedigheid, as waarskuwings teen voorbarigheid.
3. Ware kennis van God en Sy beloftes is die sleutel tot gebedsvrymoedigheid en -volharding. Hoewel die primêre aksent in Luk 11 nie op die noodsaak van gebedsvolharding val nie, kan en sal ons juis aanhou bid ómdat ons oortuig is van ons Vader se vrygewigheid. Per slot van sake bly jy om middernag aan jou buurman se deur hamer totdat hy wakker is - juis omdat jy weet hoe goedgesind hy is. Aan 'n onvriendelike buurman se deur klop jy slegs met huiwering, en dan net een of twee keer voor jy omdraai. Ons moet dus in gebed volhard, nie omdat ons Vader onwillig is om ons te verhoor nie, maar juis omdat Sy Woord ons oor en oor verseker van Sy welwillendheid. Niks is belangriker vir ons gebedslewe as 'n suiwer kennis van wie en wat God is nie. En in die besonder geld dit vir Sy goedheid, liefde, genade en verbondstrou teenoor diegene in Christus. Presies omdat ons God in waarheid ken, bid ons soos ons moet - in vrymoedigheid.
"Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?" (Psm 44:24-25). "Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?" (Psm 89:50).
Sekerlik is gebede soos hierdie Godslasterlik as dit nie ontspring uit harte wat witwarm gloei vir God se eer nie. Wat meer is, mens kan net in opregtheid so bid as jy weet wie God is - heilig, almagtig en regverdig. Waarom? Van 'n mindere figuur sou mens kon verstaan as hy niks in 'n Godonterende situasie sou doen nie, maar van God nooit nie - omdat Hy is wie Hy is! |