Preek No 1.1 FILIPPENSE 1:1 : DIE GEMEENTE EN DIE BRIEF
Ontstaansgeskiedenis en geheeloorsig
Nico van der Walt
1. Paulus en Timótheüs, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filíppi is, saam met die opsieners en diakens ... (OAV). Lees ook Han 16:6-40 Waar sou die effekte van die heel eerste gemeenteplanting op Europese bodem nie uitkring nie! En hoe diepgaande sou die langtermyn-gevolge daarvan nie wees nie! Die belangrikste gebeurtenisse in ons lewens kom feitlik altyd onaangekondig. As Paulus die aand voor hy die gesig van die Masedoniese man sien - dalk gefrustreerd omdat dinge nie wil uitwerk soos beplan is nie - tussen sy komberse inkruip, het hy nie die vaagste benul dat hy op die drumpel van een van die geskiedenis se grootste gebeurtenisse staan nie. Die historiese waarde van hierdie brief aan die Filippense maak dit oor en oor die moeite werd om dit te bestudeer. Maar daar is 'n nog belangriker rede: die inhoud daarvan het sedertdien die lewens van dermiljoene mense verryk. Waarom? Daar is 'n drievoudige antwoord: 1. Dit openbaar die geheim van ware lewensgeluk. 2. As een van sy mees persoonlike briewe, openbaar dit heelwat van die man wat hierdie geheim leer ken het - Paulus, 'n reus in hierdie wêreld se geskiedenis. 3. Dit werp wonderlike lig op Jesus Christus - die sleutel en inhoud van hierdie geheim. Die gemeente van Filippi is ongeveer 20 jaar na Pinkster geplant, en die brief volg so 'n dekade later - in die vroeë 60's van die eerste eeu. As hy dit skryf, is Paulus 'n gevangene - waarskynlik in Rome - en dit word dus saam met Kolossense, Filemon en Efesiërs as die sg. gevangeneskap-briewe geklassifiseer. ONTSTAANSGESKIEDENIS □ Die gemeenteplanting in Filippi word in Han 16 beskryf. • Dis die tweede sendingreis. Maar dinge verloop totaal anders as wat die sendelinge beoog het (v.6-8). Uiteindelik kom hulle in Troas aan op die noord-westelike kus van Klein-Asië. Daar het Paulus dan een nag 'n gesig van 'n Masedoniese man wat smeek dat hulle soontoe moet kom (v.9). Die vier sendelinge - Paulus, Silas, Timoteus en Lukas - maak onmiddelik gereed om skuins oor die Egeïese See na Masedonië te vaar. Hulle land in Neapolis en stap vandaar sestien kilometer na Filippi toe, die belangrikste stad van daardie gebied (v.11-12). • Opmerking oor Lukas en sy "ons" van v.10. □ In die vroeë geskiedenis is die plek Krenides (plek van fonteine) genoem. Omtrent 4 eeue voor Paulus-hulle se aankoms is dit egter geannekseer deur Filippus, vader van Alesander die Grote. Hy vernoem dit dan na homself. In 42 vC verower die Romeine die stad en maak dit 'n kolonie waar oud-soldate en armes gevestig word. In die Nuwe Testamentiese tyd het Filippi gevolglik 'n sterk Romeinse karakter. Die amptelike taal is Latyn, maar op straat praat mense Grieks. □ Op die eerste Sabbat gaan Paulus-hulle na die aanbiddingsplek by die rivier buite die stad. Kennelik was daar nie 'n sinagoge nie. Waarskynlik is dit toe te skryf aan die feit dat daar minder as 10 Joodse mans in die stad was - die kworum vir die vorming van 'n sinagoge. En by die bidplek tref die sendelinge dan ook net vrouens aan. Die eerste bekeerling op Europese bodem is 'n vrou - Lidia, 'n materiaal-handelaar op besoek aan Filippi vanaf Tiatira in Klein-Asië. As Paulus die evangelie verkondig, open die Here haar hart (Gr.). En spoedig kom ook ander lede van haar huishouding 1 □ Die volgende persoon aan wie Lukas meerdere aandag gee, is ook 'n vrou, maar brandarm. Sy is 'n slavin - demonies beset en 'n fortuinvertelster. As Paulus die bose gees uitdryf, gee dit aanleiding tot 'n hele oproer, en Paulus en Silas beland in die tronk (Han 16:16-24). Ons weet niks meer van die slavin nie, en Lukas sê nie uitdruklik of sy tot bekering kom nie. Dit kan egter aanvaar word, aangesien sy 'n kragtige en bevrydende aanraking van die Here beleef. Voorts is Lukas kennelik daarop uit om die wonderlike geskakeerdheid van die Here se reddingswerk onder ons aandag te bring - soos ons aanstons sal sien as ons die "drie stigterslede" van Filippi se gemeente nader bekyk. □ Die derde hoofkarakter van Hd 16 - die tronkbewaarder - kom dramaties tot bekering as 'n aardbewing die sendelinge uit hulle sel ontset (v.25-34). Ook hier kom méér mense tot bekering, maar die skrywer se kollig val op die sipier. DIE RYKE GESKAKEERDHEID VAN CHRISTUS SE GEMEENTE□ Die universele karakter van Nuwe Testamentiese Christenskap is ‛n ononderhandelbare beginsel. Die middelmuur van skeiding is afgebreek, en die Here verenig Jode en nie-Jode tot een nuwe mensheid (Efe 2:13-18). Hier lê een van die heel groot verskille tussen Ou en Nuwe Verbond. Een van die wonderlike maniere waarop die Here Homself verheerlik, is om te doen wat die wêreld nie kan namaak nie - nl. om ‛n klomp uiteenlopende mense tot ‛n liefdeseenheid saam te snoer. ‛n Behoorlik ontwikkelde gemeente sal dus as ‛n reël ‛n ryke geskakeerdheid van mense vertoon. En saam met die apostel sal hulle van harte sê: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is ons almal één! (Gal 3:28). As die Here die heel eerste fondamente van die gemeente in Filippi in plek plaas, is hierdie beginsel van verskeidenheid onmiddelik aan die orde. En mens kan beswaarlik die indruk ontkom dat Lukas in sy beskrywing van die "stigterslede" dit onder ons aandag wil bring. • Nasionale en kulturele verskeidenheid Filippi was baie kosmopolitaans - eers Grieks, toe Romeins. Op die waterskeiding tussen Oos en Wes Lidia uit Klein-Asië; slawemeisie na alle waarskynlikheid ‛n inheemse Griek (maar sy kon ook van baie verder gekom het); tronkbewaarder amper sonder twyfel ‛n Romein (afgetrede soldaat?). • Sosiale verskeidenheid Lidia waarskynlik ryk (sakevrou, groot huis en huishouding); wie kan armer wees as slavin; tronkbewaarder middelklas staatsamptenaar. Was gebruik hoof Joodse huishouding om elke oggend te bid: Dankie, nie heiden, vrou, slaaf! Presies hierdie 3 kategorieë stigterslede nuwe gemeente. Kans? • Uiteenlopende behoeftes en bekeringe Lidia: Waarskynlik Joodse proseliet (Griek) wat worstel om dinge te verstaan. Han 16:14: Sy het aanhou luister na Paulus (Gr.) - en stil-stil, rustig, maar Here haar oë oop ("hart" dui op begrip, insig). [Luk 24:45: "Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan"] Slavin: Geestelike en emosionele nood. Bevryding en aanvaarding! Bonatuurlik en dramaties! Tronkbewaarder: Eksistensiële en morele nood. Staar doodstraf in gesig, wil selfmoord. En roep uit: Wat doen gered te word! (Bewus verlorenheid). Dramatiese bekering. ‛n Joodse proseliet, ‛n Griekse slavin, ‛n Romeinse sipier! Hebreeus, Grieks en Latyn! Waarlik: Ware evangelie verdeel - party omhels, ander verwerp. Maar die wat aanneem word op wonderlike wyse saamgevoeg. Harte verenig en lewens vervleg. Kyk na Han 16:40: broeders (lett) gaan groet - wat uiteraard susters insluit. Ja, lees in Fil van spanning tussen 2 vrouens (Euodia en Sintige, 4:2-3), maar dit behoort uitsondering te wees in gemeente - bloot omdat nog onderweg. Die gemeente se verhouding met PaulusBrief reg van begin af deurtrek van Paulus se verknogtheid aan gemeente (v.3-4). Sy verhouding met hulle nooit onder spanning. En deurgaans duidelik dat ook gemeente baie lief vir P was en toegewyd betrokke by sy bediening. V.5: hulle het v/d eerste dag af saamgewerk aan die verkondiging v/d evangelie. |