DIE GOGGA HET GEBYT
- Ons land is vasgevang in ‘n ongekende dobbel gier en spesifiek ‘n LOTTO koors. Soveel so dat dit ‘n invloed het op die ekonomie en mense se bestedingspatrone.
- As jy ‘n Christen is, vertrou ek dat jy geensins by dobbelary betrokke is nie, maar ek wil jou tog vra om verder te lees, want ons moet ons kan verantwoord teenoor die gees van die tyd.
- Aan die anderkant moet ons besef dat onsself ook in hierdie opsig versoek kan word en moet ons weet hoe om die waarheid van die Woord as wapen teen hierdie aanslag te gebruik. Hoe maklik kan mens in jou gedagtes begin rondspeel met die wens om vinnig ‘n miljoen of twee te maak en so ‘n slagoffer word van Satan se misleiding en jouself met baie smart deurboor!
WAAROM SO STIL?
- Die kerk oor die algemeen is baie stil oor die euwel van dobbel (insluitend die LOTTO), en praat maar huiwerig daaroor.
- Een rede hiervoor is moontlik dat daar nie ‘n spesifieke teks is wat sê : "Jy mag nie dobbel nie", maar onthou, daar is ook nie spesifieke tekste teen dagga rook, ecstacy of duisende ander euwels nie. God behandel ons as volwasse denkende kinders en gee in Sy Woord duidelike beginsels waarvolgens ons alle sake in hierdie lewe kan beoordeel, ook iets soos die LOTTO. Die Bybel is tog nie ‘n ensiklopedie waarin alle variasies van sondes gelys word nie.
- ‘n Ander rede vir die kerk se swye is die omvang van betrokkenheid van lidmate by die euwel van dobbel. Ongelukkig het die kerk in baie gevalle bang geword om profeties teen die sondes van die tyd op te tree uit vrees vir ongewildheid.
WAT IS DOBBEL?
- As ons hierdie vraag beantwoord, moet ons waak teen hare kloof. Dobbel is ‘n staatmaak op blote geluk, daar is geen beheer, bestuur, insig of rede betrokke by nie. Blote geluk. ‘n Lukrake besigheid. John MacArthur se definisie kan as riglyn dien : Dobbel is een of ander speletjie of aktiwiteit waarin ‘n persoon geld of iets waardevols waag op die kragte van toeval of kans buite sy beheer of enige rasionele verwagting, in die hoop om iets van groter waarde te wen.
REGTIG VERKEERD?
Kom ons kyk net na twee argumente wat gebruik word om die LOTTO goed te praat:
- Mense voer aan: "Dit gaan vir ‘n goeie saak, ‘n gedeelte van die geld gaan mos na welsynsorganisasies." Nou, dis ‘n baie oneerlike en onlogiese argument. Oneerlik, want as dit die hoordoel was waarom jy deelneem, waarom nie direk geld gee vir behoeftiges en verdienstelike organisasies nie? Onlogies, want deur dit via die LOTTO te doen, kom daar maar ‘n baie klein deeltjie van jou R2,50 by die goeie doel uit. Vir elke Christen behoort dit baie duidelik te wees dat dit ‘n onbybelse manier van gee is. Die Bybelse manier is juis om te gee sonder om iets terug te verwag.
- Sommige wil dobbel Bybels regverdig vanuit die gebruik om die lot te werp wat ons in die Skrif teëkom. Die Bybelse manier van die lot werp was ‘n manier waarop God Sy wil bekend gemaak het. Dit is in gewigtige gevalle aangewend en was ‘n erkenning van God se beslissingsmag. Die laaste keer in die Skrif waar ons van die praktyk lees, was in die aanwysing van Mattias in die plek van Judas as apostel (Han 1.26). Daar is dit ‘n aanduiding van Jesus se direkte betrokkenheid as Here van die kerk by hierdie uiters belangrike saak. Na die koms van die Heilige Gees lees ons nie weer van die lot werp nie, want dis nou ook nie meer nodig nie : die Heilige Gees lei nou die kerk deur die Woord (byvoorbeeld in die geval van die verkiesing van die sewe diakens in Han 6). Om die werp van die lot wat ‘n soeke na die heilige wil van God was, as ekskuus of regverdiging vir dobbel te gebruik waar dit oor die gierigheid van die mens gaan, maak tog duidelik nie sin nie. Dis ‘n tipiese voorbeeld van hoe die sondige mens selfs God se Woord wil verdraai om by sy eie sondige begeertes te pas.
WAT Sê DIE BYBEL?
‘n Paar Bybelse beginsels wat lig werp op die kwessie van dobbel :
- Dobbelary ontken die soewereiniteit van God deurdat dit ‘n bevestiging is van die sondige mense se geloof in kans, geluk, toeval, noodlot. Geluk of toeval in die sin van ‘luck’ is ‘n anti-Goddelike idee. Daar bestaan nie so iets nie. Begrippe soos ‘luck’ en toeval is versinsels van die sondige mens wat God se almagtige en soewereine bestuur en onderhouding can Sy skepping ontken. Daar is ‘n interessante vers in Jes 65.11,12 wat tog vir ons insig gee oor die kwessie van kans, toeval en geluk : ‘Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heiige berg vergeet, wat ‘n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskin vir die godin van die noodlot…’ Die NAV vertaal dit as eiename omdat dit waarskynlik letterlik Kanaänietiese god was (Gad, god van ‘geluk’ en Meni, god van ‘lotsbeslissing’). Die assosiasie van hierdie begrippe (geluk, kans, noodlot) met die afgode is duidelik. Om jou toekoms, jou bestaan, jou vreugde en sekuritiet, voorspoed in kans, toeval, enigiets anders as die lewende God te soek, is afgodery. As ek glo in God wat God is, kan en mag eknie my hoop op toeval of kans plaas nie. Dis presies wat die dobbelaar doen. Dit beteken nie ontkenning van God, dit kom neer op afgodery.
Dobbelary word gebou op die sonde van materialisme, gierigheid en onvergenoegdheid.
Dié wat sê die lotto gaan maar net oor 'n speletjie, lieg.
Dit gaan oor geldgierigheid.
Dit tokkel op die mens se materialistiese snaar. |
- Die appél van dobbel lê daarin dat jy gou en maklik ryk kan word. Die dobbelgier is niks anders as ‘n liefde vir geld nie – en dit is die wortel van alle kwaad (1Tim 6.10) Onthou Jesus self het mense gewaarsku teen gierigheid (Luk 12.15). Dobbel is dikwels ook ‘n simptoom van die mens se onvergenoegdheid; ek is ontevrede met dit wat God my gee. Dobbelary kom neer op die oortreding van die tiende gebod. Dis ‘n vorm van wêreldliefde, ‘die gesteldheid op besit’ (1Jhn 2.15-17).
- Dobbelary is ‘n kwessie van swak rentmeesterskap. Dit kom neer op ‘n onverantwoordelike omgang met die bestiitngs waaroor God ons aangestel het om tot Sy eer te bestuur. Die Christen mag nooit sê: "Dis my geld, ek kan mos maak daarmee wat ek wil nie." Alles wat ons het, het ons van God ontvang. Die R2,50 wat jy mors, is God se R2,50!
- Dobbelary is gebou op die uitbuiting van andere wat niks anders is as diefstal nie. Dit kom neer (as jy dalk ‘n wenner is) op die verkryging van eiendom ten koste van ander mense. Dis veral die ongedissiplineerdes, armes en liggelowiges wat uitgebuit word. ‘n Deel van jou prysgeld bestaan dalk uit die laaste broodgeld van iemand wat te dom was om verstandig te werk met sy inkomste. Deur die LOTTO te wen, steel jy van die verloorders.
- Die propagering van dobbelary is gebou op misleading. Die advertensies gee valse hoop aan mense. Al die focus is op die enkele wenners; daar word geswyg oor die miljoene verloorders wat hulleself week na week verder verarm. Die hele bedryf word gedryf deur die subtielel propagering van ‘n leuen. Dis ‘n wêreld van illusies en lugspieëlings. Dis alles fantasie. Dis ‘die najaag van nietighede’ (Spr 12.11). Om die LOTTO te speel is ‘n stuk dwaasheid!
Jy het dieselfde kans om die lotto te wen as om deur 'n haai op droë land gebyt te word.1 |
- Dobbelary ondermyn die Godgegewe opdrag dat die mens moet werk. Arbeid word positief in die Skrif beoordeel. Kyk na Efe 4.28 en 2Tes 3.10. God het aan ons die opdrag gegee om die aarde te bewoon en dit te bewerk. Hy het ons so gemaak dat ons ons rede en vermoëns daarvoor moet aanwend. Dis die hoof manier (dis natuurlik ook heeltemal in orde om iets te erf, as geskenk te ontvang, ens) wat Hy bepaal het waardeur Hy in ons behoeftes voorsien en ons die goedheid van die lewe wil laat geniet.
- Dobbelary is verslawend en daarom ongewens vir die Christen. Nou sal iemand sê : "Is ek nie as Christen vry om maar met my geld te maak wat ek wil nie?" Hierdie slagspreuk van ‘ek kan maak wat ek wil, alles is geoorloof’ was waarskynlik ook in die gemeente van Korinte aan die orde van die dag. Paulus eggo dit in sy brief (1Kor 6.12) en sluit daarby aan en gaan dan voort : ‘… nie alles is nuttig nie’ (daar is geen positiewe nut in die LOTTO vir ‘n Christen nie, waarom wil jy betrokke wees by so iets?), ‘… maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie’. Die verslawende mag van dobbel is alom bekend. Dit opsigself moet al die rooi ligte laat flicker. Dink jy jy is daarbo verhewe? Die wat staan moet pasop dat hulle nie val nie.
PLAASVERVANGERS
- In Jer 2.13 lees ons : ‘Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen : My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.’
- Natuurlik gaan dit nie hier oor dobbel as sodanig nie. Maar dieselfde beginsels is ter sprake. Omdat mense God verlaat het, soek hulle na plaasvervangers wat sekuriteit en vreugde moet verskaf. Een van hierdie plaasvervangers in ons dag is dobbelary. ‘n Plaasvervanger wat uiteindelik sal teleurstel!
Dobbelary is meer as 'n oppervlakkige sonde, dis heel dikwels 'n simptoom van die dieper probleem, naamlik 'n gebroke verhouding met God. |
Dobbelary is ‘n kenmerk van ‘n wêreld wat oorheers word deur postmoderne pessimisme wat redeneer : ‘Daar is geen orde, rede en sin nie, jy moet maar net blindelings hhop vir die beste.’ Dobbelary word geassosieer met die hopeloosheid van ‘n bestaan sonder God, die gevolg van ateïsme wat sê : ‘Daar is geen God nie, geen hoop nie, geen toekoms nie-alles is maar kans en noodlot, kyk maar wat kan die lewe jou bied.’ Dobbelary is maar net nog ‘n aksie van die materialistiese mens, wat net vir himself en net vir die hier en die nou leef.
- Geen vorm van dobbel pas dus by die burgers van God se koninkryk nie. Vir mense wat hulle vruegde vind in die soewereine bestuur en versorging van hulle Vader, is dit iets dwaas. Meer nog, dis ‘n sonde wat vermy moet word! Ook wat die dobbelgier betref, moet ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, maar soek wat God se volmaakte wil vir ons is (Rom 12.1-2).
- Ons grootste wapen teen die dobbel-versoeking is om ons positief te verlustig in ons geestelike en hemelse rykdom. As ons oë oopgaan vir die skate waarmee God ons in Jesus gesën het, soos verfiggenis, kinskap, Goddelike Vaderversorging, ‘n ewige erfenis sal die LOTTO se (skyn)miljoene maar vaal lyk en sleg afsteek. Anders gesê, die rede waarom jy dalk nog dobbel is miskien omdat jy nog nooit die rykdom in Jesus raakgesien het en daaraan deel gekry het nie.
- Is jy ‘n LOTTO speller? Ek veroordeel jou nie, maar nooi jou uit om jouself volledig aan Jesus Christus se heerskappy te onderwerp, Sy vergiffenis te ervaar en in Sy ware rykdom te deel. Jou LOTTO lus sal sommer vanself verdwyn.
Voetnotas
1. Aangehaal deur John MacArthur, wie se preke die hoofbron vir hierdie stuk is.
|