No.29
JESUS SE SKRIFBESKOUING
'n Bespreking van Jhn 5:39-40
Nico van der Walt
Jhn 5:39-40 : Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie. Daar is baie dinge wat die kerk in ons land tans tot in sy fondamente skud. Maar niks is belangriker, dieperliggender en meer fundamenteel as die stryd oor Skrifbeskouing nie. Want die vyand van ons siele en die vyande van die waarheid weet dat hulle die stryd wen tot die mate wat hulle die gesag en betroubaarheid van die Bybel in mense se gemoedere ondermyn. Tot die mate wat die kerk ongeloofsteologie akkommodeer, tot daardie mate sal dit verkrummel en uiteindelik in duie stort. Sonder 'n kinderlik-gelowige oortuiging dat die Bybel God se spreke tot ons is, kan daar geen sprake van gespierde Christenskap wees nie. Die stryd woed op talle fronte en die kompleksiteit daarvan is sodanig dat dit nie met die aanhaling van 'n paar tekste en een of twee preke besweer kan word nie. Tog bied Jhn 5:39-40 enkele perspektiewe wat van die allergrootste belang is in hierdie verband - waarhede wat stewig in plek moet wees in ons gemoedere. Natuurlik praat die Bybel op baie ander plekke oor homself, en vir 'n volledige prentjie moet mens sekerlik alles in ag neem. So iets is egter onmoontlik in 'n studiestuk van hierdie formaat. Hierdie twee verse (en hulle konteks) bring egter 'n paar kardinaal belangrike aangeleenthede skerp in fokus, en aangesien dit in volkome harmonie is met wat die Skrif elders leer, is dit sekerlik legitiem om vir die oomblik uitsluitlik op hierdie uitspraak van die Here Jesus te konsentreer. Hierdie twee verse spreek veral vier sake aan: die oorsprong, die gesag, die fokus, asook die regte en verkeerde gebruik van die Skrif - besonderlik van die Ou Testament. Let daarop: dit is 'n uitspraak van die Here Jesus Christus self - en verwoord kennelik Sy eie Skrifbeskouing. En let dan ook met die nodige erns daarop dat daar beswaarlik enige integriteit kan sit in iemand se aanspraak op Christenskap as hy Jesus nie ook in hierdie mees fundamentele en bepalende oortuiging navolg nie (1Jhn 2:6). DIE KONTEKS Hierdie uitspraak van ons Here Jesus kan slegs na behore verstaan word as ons dit saam met die voorafgaande verse lees. Jhn 5 het grootliks te doen met die gesag waarmee Jesus gepraat en gedoen het - en met die gronde vir Sy aansprake op die Goddelike oorsprong daarvan. Die hoofstuk begin met die Here se genesing van 'n siek man by die bad van Betesda (1-15). Dit was 'n Sabbatdag, wat die Jode laat aanstoot neem het - aan die man, omdat hy sy beddegoed opgetel en gedra het; en aan Jesus, omdat Hy die man genees het. In Jesus se reaksie maak Hy daarop aanspraak dat Hy en die Vader saamwerk (17). En die werk wat die Vader aan Hom toevertrou het, is tweeledig: Eerstens moet Hy lewe gee aan die dooies (21), sodat elkeen wat hoor en glo, die ewige lewe kan ontvang (24). Tweedens moet Hy God se oordele voltrek (22). Vanaf v.25 ontwikkel die Here Sy tema dan verder. Die proses van skeiding tussen hulle wat lewe ontvang en hulle wat geoordeel word, is reeds aan die gang. Hy, as Seun van die mens, beoefen al reeds die mandaat en gesag wat Hy van die Vader gekry het (26-27). Die geestelik dooies hoor immers reeds Sy stem en begin lewe (25). En dis alles net 'n voorspel vir wat op die laaste dag gaan gebeur. Dan sal die skeidingsproses onder die mensdom finaal voltrek word - wanneer almal die Seun se stem sal hoor en sal opstaan, óf tot die lewe, óf tot die oordeel (28-29). Jesus se twee aansprake - dat Hy kan lewe gee, en dat Hy mag oordeel - is dinge wat net by God berus. G'n wonder dat die ongelowige Jode Hom oor Godslastering wil teregstel nie (18). Noodwendig kom die begronding vir Sy aansprake nou ter sprake, en dis waaroor Hy verder praat (30-38). Omdat Hy wil seker maak dat daar geen misverstande is nie, word Sy drie positiewe stellings elkeen voorafgegaan deur 'n negatiewe een:
Hoe getuig die Vader oor Jesus? Op twee maniere: deur werke en deur woorde.
Waarna verwys Jesus hier? Nie na 'n hoorbare stem nie, want wie van die Jode het Sy stem gehoor? Hy praat ook nie van 'n visioen nie, want niemand het Sy gestalte gesien nie (37b). Die Here verwys hier na die geskrifte van die Ou Testament. Hy gaan immers voort om dadelik oor die Skrif te begin praat (39). Helaas slaan die Jode nie ag op die Vader se getuienis oor Sy Seun nie. En die groot rede is dat die Woord nie in hulle lewe nie. Hoe kan Jesus dit sê? As die Woord in hulle geleef het, sou hulle geglo het in die Een wat die Vader gestuur het (38). Is dit nie te erg om skrifgeleerdes so te beledig nie? Wel, die Skrifte wat hulle so ywerig bestudeer, getuig oor die Here Jesus - en tog kom hulle nie na Hom toe om die ewige lewe te ontvang nie (39-40). HOE JESUS DIE OU TESTAMENT SIEN Bogenoemde onderstreep twee aspekte van die Here Jesus se Skrifbeskouing - wat nog altyd baie belangrik was, maar veral in ons dag. Eerstens beskou Hy die Ou Testament as van Goddelike oorsprong - as God se getuienislewering. Tweedens dring Hy daarop aan dat die Ou Testament oor Hom as die Christus getuig. Wat die Goddelike oorsprong van die Ou Testament betref, is die Here Jesus se standpundinname nie tot hierdie verse beperk nie, inteendeel. Hy het dit konsekwent geleer en daarvolgens geleef. Altyd het Hy 'n gesindheid van respek en onderwerping daaroor gehandhaaf - dwarsdeur Sy lewe tot na Sy opstanding.
In Sy twisgesprekke met die Joodse leiers was dit vir Hom 'n onbevraagtekenbare uitgangspunt dat die Skrif die finale seggenskap het. En Sy groot klagte teen die skrifgeleerdes was: "Het julle dan nie gelees nie?" En as die Emmausgangers nie die voorafgaande dae se gebeure in Jerusalem kan begryp nie, sê Hy vir hulle: "Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?" (Luk 24:25-26). Waarom het Jesus die Ou Testamentiese geskrifte so hoog aangeslaan? Hy het van harte geglo dat wat die Woord sê, is wat God sê.
Een van die belangrikste redes waarom ons as navolgers van Jesus die inspirasie, betroubaarheid en gesag van die Bybel aanvaar, is omdat Hý dit so aanvaar en geleer het. As ons praat oor die Here Jesus se oortuigings oor die Ou Testamentiese geskrifte, het Hy in die tweede instansie daarop aangedring dat die Ou Testament oor Hom as die Christus getuig. Hy sê dit uitdruklik in Jhn 5:39: "En dit is juis die Skrif wat oor My getuig."
Waarlik, die prediker wat Christus nie weer en weer verkondig nie, verkondig nie die Woord van God nie. Sy oë is nog geslote soos dié van die Joodse skrifgeleerdes. DIE REGTE EN VERKEERDE GEBRUIK VAN DIE BYBEL Selfs al het jy 'n baie hoë agting vir die Bybel, kan jy dit totaal verkeerd gebruik - met katastrofiese gevolge. Ons teks werp besondere lig op die regte en verkeerde gebruik van die Woord. Dis tewens waaroor dit uiteindelik in hierdie twisgesprek van die Here Jesus met die skrifgeleerdes gaan. Die Jode het óók gehuldig dat die Skrif van Goddelike oorsprong is. Maar hulle het die funksie daarvan verkeerd verstaan. Hulle sou die gesag daarvan met hulle lewens verdedig het, maar hulle het die doel daarvan verkeerd verstaan. En die gevolge is tot vandag toe een van die grootste tragedies van alle tye. Wat was die Jode se fout? Hulle het van die Skrif 'n doel op sigself gemaak, en nie 'n middel tot 'n groter doel nie - naamlik om God en besonderlik Sy Seun te ken. Daarom het hulle nie die Messias herken nie. En in die proses het hulle die ewige lewe gemis. Hierna moet ons nader kyk. Die Joodse mistasting "Julle ondersoek die Skrif", sê Jesus (39a). Die werkwoord dui op noukeurige en volhardende deursoeking. Dit word byvoorbeeld in 1 Kor 2:10 gebruik: "... die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God". En in Opg 2:23 sê die Here Jesus dat Hy die Een is "wat niere en harte deursoek" en dus aan elkeen volgens sy werke sal gee (OAV).
Dit het meegebring dat die skrifgeleerdes die inhoud daarvan met ongeëwenaarde en pynlike versigtigheid nagevors het. En om seker te maak dat hulle die Hebreeuse manuskripte - wat een vir een met die hand oorgeskryf moes word - akkuraat kopieer, het hulle selfs die letters in elke Bybelboek getel, die middelste woord daarvan bepaal en allerlei ander statistiese data daaroor versamel. Is so 'n benadering verkeerd? Is dit waaroor Jesus die Joodse leiers verwyt? Absoluut nie! Ons moet dit tewens respekteer dat hulle met soveel sorg wou verseker dat die Woord suiwer oorgelewer word. Tog was hulle agting vir die Skrif misplaas. Is so iets moontlik? Inderdaad. Dit word duidelik as mens na die tweede deel van Jesus se uitspraak kyk: "omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry" (39a). Jesus verwyt die Jode nie omdat hulle die Skrif ondersoek nie, maar omdat hulle meen dat hul puntenerige navorsing op sigself godsdienstige verdienste het. Hulle meen dat dit 'n beduidende bydrae tot hulle beërwing van die ewige lewe sal maak. Hulle gaan dus met God se Woord om as 'n doel op sigself, sonder om te verstaan dat dit 'n middel tot 'n groter doel is. Hulle het uit die oog verloor dat die Skrif gegee is om 'n wegwyser na Christus toe te wees. Die funksie van die Bybel Die Bybel het op sigself nie reddende kragte nie. Tog het die Nuwe Testament talle uitsprake wat mens onder dié indruk kan bring. Neem byvoorbeeld die volgende:
Hoe moet ons die kloutjie by die oor kry? Die Here verskaf die antwoord in ons teks. Al het die Skrif nie reddende krag in homself nie, speel dit tog 'n onmisbare rol in die proses van redding. Dit lewer getuienis oor Jesus Christus. Dit werp die kollig op Hom - sodat mense na Hóm toe sal gaan ten einde by Hóm die ewige lewe te ontvang (39b-40). Al het ons hoe 'n hoë agting vir die Woord - en dit móét - moet ons verstaan en kompromieloos bly verkondig dat hy of sy wat bloot by die Bybel vassteek, sonder om na Christus deur te steek, nog nie die lewe het nie.
1. Om 'n Bybel te hê, is op sigself nie genoeg nie - dit moet bestudeer word. Dis verstommend hoe bygelowig mense oor die Bybel kan wees. Mense gryp dit vas as hulle bang is. Soldate dra dit saam op die slagveld, in die vertroue dat dit hulle sal beskerm. Ampsdraers - selfs totaal ongelowiges - lê hulle hande daarop as hulle hul ede van getrouheid aflê. Om verse in die Bybel met pen of potlood te merk word as oneerbiedig beskou. Dit alles is basies dieselfde afgodery as dié van Israel toe hulle die verbondsark laat haal het om hulle teen die Filistyne te help (1Sam 4). Vir talle het die Skrif nie veel meer as simboliese waarde nie. Indien jy die Bybel op jou bedtafel of kantoorlessenaar lees en uitleef, is dit totaal in orde. Maar as dit bloot 'n vertoonstuk is, is jy waarskynlik 'n huigelaar van dieselfde stoffasie as die Fariseërs. Ons moet Bybelse aanbidders wees, nie Bybelaanbidders nie. Nee, die Bybel het 'n inhoud wat van die grootste intellekte in die geskiedenis lewenslank besig gehou het. Dit is God se besondere selfopenbaring wat net soveel gekonsentreerde aandag verg om na behore te begryp, as God se algemene openbaring. Dit moet bestudeer word! 2. Om die Bybel te bestudeer, is op sigself nie genoeg nie - dit moet oor Jesus Christus gaan. Daar is tienduisende Bybelstudente wat die lewensbelangrike les van ons teks vergeet.
Laat ons nie vergeet nie: bestudering van die Skrif met enige ander doel as om God in Christus beter te ken, te dien en te verheerlik, is ernstig onder verdenking is - en bes moontlik ook futiel.
Ons teks gee uiters belangrike perspektiewe op die Bybelopvoeding van ons kinders.
Nee, ons moet ons kinders van kleins af inlei in die Skrifopenbaring oor wie God is - nie net Sy liefde nie, maar ook Sy geregtigheid. Hulle moet van kleins af die erfsonde verstaan en die verskriklike realiteit daarvan in hulle eie lewens herken. Hulle moet van kindsbeen af weet dat hulle net so min soos Kornelius deur goeie werke gered kan word (Han 10:2; 11:14). Saam met hulle moedersmelk moet hulle die waarheid inkry dat daar maar één oplossing vir sondaars se verskriklike verlorenheid is - redding in Jesus Christus alleen.
3. Om die Bybel Christosentries te verstaan, is op sigself nie genoeg nie - dit moet gehoorsaam word. Die geloof sonder die werke is dood. En die eerste "werk" van 'n ware geloof is om in Christus in te vlug en in Hom te bly skuil vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Die Jode het 'n dubbele fout gemaak: In hulle ongeloof het hulle Jesus Christus in die Skrifte misgekyk. In hulle blindheid het hulle gedink (39a) - maar helaas verkeerd gedink. In hulle halsstarrigheid het hulle geweier om na Hom toe te gaan ten einde die lewe te kry. Hulle wou nie (40). Hierdie woorde van die Here is baie insiggewend. Dit toon dat daar twee dinge is wat ons gedrag beheers: ons rede en ons wil. Presies hier sien ons waarom soveel mense die evangelie hoor - die evangelie wat so logies, so aantreklik, so gratis is - sonder om dit aan te neem. Hulle dink verkeerd daaroor. Of as hulle dit na behore verstaan, is dit rebellie wat hulle weerhou om na Christus en Sy lewe toe te gaan - hulle wil eenvoudig nie. SLOT Die Bybel is soos die foto van sy verloofde wat 'n soldaat op sy bors dra. Die foto is vir hom baie kosbaar - maar slegs omdat dit hom aan sy geliefde herinner. Dis soos 'n verkyker - jy kyk daardeur, nie daarna nie. Dis soos 'n doktersvoorskrif - nie 'n doel op sigself nie, maar 'n middel tot 'n groter doel. |