Op die pinksterdag word die groot belofte van die Ou Testament 'n werklikheid. Die verhoogde Here Jesus Christus ontvang van Sy Hemelse Vader die mandaat om die Heilige Gees uit te stort op die patetiese gemeentetjie wat Hy op aarde agtergelaat het. Een van die wat die Gees ontvang, is die apostel Petrus. Hy neem leiding en begin preek vir die skare wat daar saamdrom na aanleiding van die vreemde gebeure.
Dis 'n besondere preek - vol oortuigende krag. Dit bring dan mee dat talle vir die apostels kom vra wat hulle te doen staan. Petrus se antwoord is boordevol gewigtige betekenis. En dis na hierdie antwoord wat ons nou gaan kyk (Han 2:37-41).1
DIE EFFEK VAN PETRUS SE PREDIKING OP SY LUISTERAARS (37)
-
Wat met die mense gebeur, is nie bloot iets oppervlakkigs nie. Dit vind in hulle harte plaas - in die sentrum van hulle persoonlikhede en oortuigings. Kennelik is dit 'n werk van die Heilige Gees, met ingrypende, egte en blywende effekte.
-
Dit het gepaard gegaan met diep belewinge. Die werkwoord (Gr. katanusso) is 'n samestelling van die woord "om te steek" plus 'n intensiferende voorvoegsel. Wat dus gebeur, is dat die Heilige Gees vir Petrus bekragtig om só te preek dat die waarheidsevangelie oor Christus dwarsdeur sy hoorders se harte steek. Dit deurpriem hulle harte - met hulle bekering tot gevolg.
-
Die Gees se innerlike oortuigingswerk laat die mense besef dat hulle skuldig staan voor God. Vandaar hulle vraag oor wat hulle moet doen. Dat dit oor versoening met die Here gaan, is nie eksplisiet in hulle vraag nie, maar volg duidelik uit Petrus se antwoord.
PETRUS SE ANTWOORD (38-39)
'n Tweeledige bevel
Petrus gee 'n dubbele opdrag:
-
Die begrip (Gr. metanouo) dui ten diepste op 'n verandering van oortuiging. Dit impliseer 'n radikale paradigma-verskuiwing, 'n kopswaai, 'n nuwe bril waardeur gekyk word. Vantevore het ook Johannes die Doper (Mat 3:2) en die Here Jesus self (Mat 4:17) 'n oproep tot bekering gepreek. Kennelik het die apostels ook ná Pinkster dit as 'n integrale deel van evangelieverkondiging beskou (Han 3:19; 8:22; 17:30; 20:21; 26:20).
Negatief sal iemand wat hom of haar bekeer altyd wegdraai van sonde af. Daar sal dus 'n rugkeer wees op die vlees se aandrange, die wêreld se suigkragte en die Duiwel se verleidinge.
Positief sal so 'n persoon altyd heendraai na Christus toe. En dit het ten minste drie komponente: hy (of sy) sal homself vanuit sy geestelike bankrotskap algeheel aan Christus en Sy volmaakte middelaarswerk toevertrou; hy sal die beloftes wat God belowe aan almal wat in Sy Seun in vlug vir homself persoonlik toe-eien; hy sal homself enkelhartig en ongekwalifiseerd aan Christus persoonlik as Koning toewy.
'n Tweeledige belofte
-
Hierdie twee beloftes is gekoppel aan beide opdragte: bekering en doop. Nêrens suggereer die Nuwe Testament dat die bloot uiterlike ondergaan van die doopsakrament op sigself sondevergiffenis en ontvangs van die Gees tot gevolg het nie. Maar net so min het ons die reg om aanspraak te maak op die beloftes as ons die doopopdrag geringskat. Die Bybel met Verklarende Aantekeninge4 stel dit so: "Die hoofverskil tussen die doop van Johannes, Han 18:25; 19:3, en dié van Pinkster was dat laasgenoemde verbonde was aan die Naam van Jesus en die gawe van die Gees, wat in onlosmaaklike verband daarmee gestaan het (my kursivering). Johannes se doop was tot vergiffenis van sonde, maar het eintlik vooruitgewys na Christus, en het buite werking getree ná Jesus se openbare optrede en die instelling van Sy doop. Die Christelike doop volg op die geloof in Christus, 16:31, was verbonde aan Sy Naam, 2:38; 8:16, wat aangeroep is deur die dopeling, 22:16. Die aanroeping van Sy Naam beteken die aanvaarding van Hom as Here en Meester."
-
Die "belofte" (OAV)5 is nie net vir die groep mense op wie die Heilige Gees geval het nie (39). Petrus doen besondere moeite om te beklemtoon dat dit 'n historiese en universele trefwydte het. Dit is vir ál sy luisteraars (wat aan die voorwaardes voldoen), en vir hulle "kinders" (komende geslagte deur die geskiedenis), en "vir almal wat daar ver is" (nie net Jode nie, maar ook vir die heidene).6 Die belofte geld dus sonder onderskeid. Maar dit geld nie sonder uitsondering nie, want Petrus gaan onmiddellik voort met 'n uiters belangrike kwalifikasie: dit geld vir "almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep." En die roeping waarvan hy hier praat, is nie bloot die algemene roeping van die evangelie nie ("baie is geroep maar min is uitverkies"); dis die besondere, onweerstaanbare en lewendmakende roeping wat die wedergeboorte tot gevolg het. So gebruik die Nuwe Testament meestal die begrip.
DIE HERE SE NUWE GEMEENSKAP (40-41)
Hy pleit vir 'n emigrasie vanuit die ou mensheid in Adam. Hy dring aan op 'n losmaak van en 'n rugkeer op die gevalle mensheid wat erg verbuig is ná die sondeval. Dis dus 'n oproep om te vlug vanuit die mensheid onder God se toorn.
Dit impliseer noodwendig die immigrasie in 'n ander mensheid in. [En laat ons onthou, voor God is daar net twee menshede - die ou mensheid in Adam, en die nuwe mensheid in Christus.] Onderwerping aan Koning Jesus hou baie spesifiek ook in dat ek my toewy aan Sy volk - Sy ware bruidsgemeente.
-
Daar is 'n verstommende respons op Petrus se pleidooi (41). Drieduisend mense neem die evangelieboodskap aan. Hulle kom tot geloof, ondergaan 'n kopswaai, laat hulle doop, en voeg hulle by die Jerusalemse gemeente.
ENKELE GEVOLGTREKKINGS EN IMPLIKASIES
Sekerlik was daar herlewings in die kerkgeskiedenis waartydens evangeliedeurbrake plaasgevind het waarvan mens net kan droom. Maar nooit weer was daar iets vergelykbaar met Pinkster nie. Normaalweg het die voortgang van die evangelie moeisaam en met baie volharding en lyding gepaard gegaan. Veel eerder het dit ooreengestem met die wel en weë wat mens in die sewe briewe van Opg 2-3 aantref - waar die volheidsgetal, sewe, daarop sinspeel dat verskillende fasette van die universele kerk deur die eeue geskets word.
-
Die uniekheid van Pinkster beteken nie dat daar geen lesse vir ons in die Pinkstergebeure sit nie; inteendeel. Afgesien van uiters belangrike openbaringshistoriese perspektiewe7 , moet Petrus se verkondiging en aanslag op die Pinksterdag in vele opsigte vir ons as normatiewe evangeliseringsriglyn dien.
Die fundamentele beginsel wat ons in Petrus se aanslag vind, is sy Christus-gesentreerdheid. Hy begin sy preek só (na sy inleiding en teks-aankondiging): "Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus ..." (22). Mens kan per definisie nie die evangelie preek as jy nie Christus preek nie. Hóé doen mens dit? In Hd 2 vind ons 'n vierledige struktuur wat vir ons van die grootste waarde is.
Hy verwys na Jesus se lewe en bediening (22), asook na Sy verhoging (33). En meermale het die apostels dit in hulle prediking gedek, asook Sy terugkeer as Regter. Maar soos klokslag konsentreer hulle op kruis en opstanding (23-24) - op sowel die gebeure se detail, as die reddende implikasies daarvan.
Hy beroep hom op 'n dubbele getuienis dat hierdie twee gebeure inderdaad plaasgevind het en van enorme betekenis is. Twee getuies laat die waarheid immers vasstaan.
Ook óns moet die historiese feitelikheid en openbaringshistoriese sentraliteit van Christus se kruis en opstanding verkondig. Maar omdat ons nie oog- en oorgetuies is nie, is ons algeheel afhanklik van die apostels se getuienis - die Nuwe Testamentiese openbaring. Ons het eenvoudig geen vryheid om eie opinies te preek nie. Ons mag niks meer wees as net eggo's van die apostels nie. Prediking - alle prediking - is Woordverkondiging.
Die evangelie is goeie nuus, nie net oor wat Jesus gedoen het nie, maar ook oor wat Hy op grond daarvan bly doen en wat Hy uiteindelik nog gaan doen. Die Here belowe hier deur Petrus aan diegene wat in geloof na Hom toe kom vergewing van sondes (negatief, uitwissing van die sondaar se mislukkings en rebellie), asook die gawe van die Heilige Gees (positief, bekragtiging om godvrugtig te lewe). Saam stel hierdie twee gawes van Christus ons in staat om alles te doen en te wees wat nodig is.
Prakties is dit belangrik dat ons nie van die belofte van die Heilige Gees vergeet wanneer ons evangeliseer nie. Baie mense besef hulle nood aan vergiffenis, maar is bang om 'n oorgawe aan Christus se koningskap te maak, aangesien hulle hulself nie vertrou nie. "Ja", sal hulle sê, "ek kan nou so 'n oorgawe maak, maar binne dae sal ek weer pateties misluk. Nie alleen sal dit 'n bespotting van alles maak nie; dit sal my met soveel ontnugtering laat dat dit vir my nóg moeiliker in die toekoms sal wees om 'n Christen te word." Wat sulke mense egter moet weet, is dat die Here hulle nie aan hulself oorlaat as hulle na Hom toe vlug nie - Hy gee vir hulle die Heilige Gees as bekragtiging om in toewyding te volhard!
Die Here verwerklik nie Sy gawes sonder ons betrokkenheid nie. Aan ons kant is 'n wilsbesluit en 'n handelingsrespons noodsaaklik. Innerlik dring Hy aan op verootmoediging en bekering. En uiterlik is daar die vereiste van die doop. En sáám is die twee dinge die uitdrukking van ons geloof - die geloof wat ons vanuit die ou mensheid onder God se toorn verplaas na die nuwe heilsgemeenskap van die Here Jesus Christus.
-
Bekering en doop het enorme implikasies. Dis die aanneem van 'n nuwe Koning, 'n nuwe volk, 'n nuwe burgerskap, 'n nuwe kultuur. Dis 'n besliste en ingrypende verplasing van lojaliteit, trou en toewyding. Dis om jou openlik te skaar by Jesus se dissipels. Dit is om vanuit dit wat oud en korrup is (NIV), oor te gaan na dit wat nuut en in die proses van redding is (vgl. 2:47).
Die dopeling moet dus weet dat hy of sy van daardie oomblik af 'n vreemdeling en 'n bywoner in hierdie wêreld is. Dis waarom dit 'n algemene en tipiese ervaring van gelowiges deur die eeue is: solank jy ongedoop is, word jy op 'n manier geduld, maar die oomblik as jy volgens Jesus se voorskrif formeel en publiek jou trou aan Hom bely en jou lojaliteit na Sy gemeente verplaas, bars verwerping en selfs vervolging in felheid los. Dis asof mense aanvoel dat jy voor die tyd nog op twee gedagtes hunker, nog nie die omdraaipunt verbygesteek het nie. Maar die oomblik as jy jou laat doop, weet hulle jy het die stuk niemandsland na die ander kant van die linies finaal oorgesteek.
-
Op die Pinksterdag preek Petrus 'n viervoudige boodskap. Dit behels twee gebeurtenisse (Christus se dood en opstanding), soos bekragtig deur twee getuies (die profete en die apostels), op grond waarvan die Here twee beloftes maak (sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees), op voorwaarde dat ons twee opdragte gehoorsaam (bekering en doop).
Voetnotas
1. Vir die skryf van hierdie Herout is baie hulp verkry van John R.W. Stott, The Message of Acts, Inter-Varsity Press, 1990.
2. Naham in die Nifal-vorm.
3. Robert Hanna, A Grammatical Aid to the Greek New Testament, Baker Book House, 1983, p.191.
4. 1959, Deel 3, p.326
5. Met sy enkelvoud wil Petrus dalk beklemtoon dat hy sondevergiffenis en ontvangs van die Gees as 'n geïntegreerde eenheid beskou. Die een kom nie sonder die ander nie. Dis egter ook so dat daar meermale na die gawe van die Gees as "die belofte" verwys word (1:4; 2:33). Wanneer die Ou Testament vooruit gekyk het, het dit hierdie gawe van die Gees as die hart van die Messiaanse seëninge beskou. En so bevestig die Nuwe Testament dit dan ook.
6. Daar is soms na die heidene verwys as "diegene wat daar ver is" (Jes 49:1, 12; 57:19; Efe 2:13, 17).
7.Verwys na die vorige Herout wat deeglik hieraan aandag gee.
|