DIE CHRISTO-SENTRIESE KARAKTER VAN PINKSTER
Maar Pinkster moet reg benader word, anders loop jy skeef.1 Sekerlik kan mens nie beter doen nie as om te vra hoe Petrus self, die prediker op daardie merkwaardige dag, die gebeure vertolk het. Sy rede is immers onder meer 'n antwoord op die skare se vraag: "Wat kan dit tog beteken?" (Han 2:12).
In die Pinksterhoofstuk word 23 verse aan sy preek gewy, wat ons in staat stel om agter die kap van sy geinspireerde byl te kom (Han 2:14-36).
-
Die Pinkstergebeure word gewis beheers deur die Here Jesus se belofte net voor Sy hemelvaart: "Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word" (Han 1:5. Vgl. ook Mat 3:11; Mrk 1:8; Luk 3:16; 24:49 en Jhn 1:33). Dit is die verheerlikte Here Jesus Christus persoonlik wat Sy dissipels op die Pinksterdag met die Gees oorspoel.
-
Petrus begin deur die Here se belofte in Jol 2:28-32a aan te haal, naamlik dat Hy in die laaste dae Sy Gees op "alle mense" sou uitstort. Petrus twyfel nie dat hulle ervaring op daardie oomblik die (aanvanklike?) vervulling van hierdie profesie is nie: "hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het" (2:16).
-
Die apostel gaan dan voort in die res van sy preek om aan te toon dat die uitstorting van die Gees 'n manifestasie is van Jesus Christus se soewereine Koningskap. Sy argumentasie kom tot 'n konkluderende klimaks in 2:36: "Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!".
-
Verse 24-32 word dan gewy aan die feit en betekenis van Jesus se opstanding uit die dood. Waarom het God Hom opgewek? "omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word" (OAV). En waarom was dit onmoontlik? "Want Dawid sê van Hom" - en dan haal Petrus aan uit Psm 16:8-11 (25-28). Hier het Dawid geprofeteer (30), beslis nie oor homself nie, aangesien hy gesterf en sy liggaam vergaan het (29), dat die Messias sou opstaan uit die dood (31). So het God dit immers aan Dawid met 'n eed belowe (30). Dit is dus duidelik dat Christus nie net gekruisig is volgens God se "bepaalde raad en voorkennis" (23, OAV) nie, maar inderdaad ook opgewek is daarvolgens. En presies dit is die rede waarom dit vir die dood onmoontlik was om Hom vas te hou.
Wat ons moet raaksien, is Petrus se beklemtoning dat Christus opgewek is met 'n doel: om as die Seun van Dawid op sy heerserstroon te sit (2:30).
-
In 2:34-35 werk Petrus met nog 'n Ou Testamentiese aanhaling, die keer uit Psm 110:1 "Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het." Ook in hierdie geval is dit duidelik dat dit nie op Dawid self betrekking het nie, aangesien hy nooit na die hemel opgevaar het nie (2:34a). Nee, dit het onteenseglik vooruit gewys na Christus.
-
Daar kan geen twyfel wees nie: die punt wat Petrus in Sy hoorders se gemoedere wil ingraveer, is dat Jesus Christus God se groot Messiaanse Koning is. En die uitstorting van die Heilige Gees - dit wat elkeen in hierdie groot skare met sy eie oë en ore kan waarneem - is nie net bewys daarvan nie, maar ook die eerste tree in Sy opmars na 'n nuwe mensheid, asook 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.
-
Vir Petrus is die primêre betekenis van Pinkster dus nie in die koms van die Heilige Gees op sigself nie, maar in die feit dat Jesus inderdaad verheerlik en verhoog is, en dat Sy onstuitbare heerskappy vanuit die hemel 'n historiese realiteit geword het.
Soos altyd, is ook hier die Heilige Gees nie voorop nie, maar verheerlik Hy Christus deur Hóm sentraal te plaas. Pinkster is 'n Christologiese gebeurtenis! Die koms van die Gees is bewys van Jesus Christus se troonsbestyging, net soveel as wat die opstanding bewys is van die effektiwiteit van Sy dood en versoeningswerk. Pinkster is op sigself net so min herhaalbaar as die kruis of die oop graf of die hemelvaart. Dit is trouens onlosmaaklik deel van daardie één pakket openbarings-historiese Christus-gebeure: kruis, opstanding, hemelvaart, Pinkster. Die boek Handelinge beskryf dus nie soseer die handelinge van die Heilige Gees nie, maar die voortgaande handelinge van Jesus Christus. Han 1:1-5 (OAV) is duidelik: die Here Jesus gaan voort om te doen en te leer, maar op 'n nuwe manier - deur Sy Heilige Gees.
-
Die feit dat Jesus aan die regterkant van die Vader gaan sit, suggereer dit. Die mees verhewe en heilige engele geniet die voorreg om in God se teenwoordigheid te staan - soos Gabriël (Luk 1:19, OAV) - maar geeneen van hulle word ooit uitgenooi om op die plek van unieke eer aan God se regterkant te sit nie. So stel Heb 1:13 dit eksplisiet: "Van watter engel het Hy ooit gesê: 'Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het'?"
-
As Petrus die mense beveel om in die Naam van Jesus Christus gedoop te word, spoor hy hulle aan om die reddingspad te loop waarvan Joël gepraat het: "elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word" (2:21). Nogeens stel hy dus 'n gelykteken tussen die verheerlikte Jesus en die Here van Joël 2 (Rom 10:9-13).
Petrus vind dit in orde om Mat 28 se trinitariese doopformule te verkort tot 'n doop "in die Naam van Jesus Christus" (38). Dis as 't ware nog 'n gelykteken.
HAN 2:1-13 : DIE PINKSTERGEBEURE
Die Pinksterfees (2:1)
-
Meer as een keer verwys die Nuwe Testament na God se uitverkorenes wat vanuit die gevalle mensheid gered word as die oes. As Johannes die Doper vooruit kyk na die Here Jesus se verlossingswerk, sê hy onder meer dat Christus Sy oes in Sy skure sal versamel (Mat 3:12, ens.). In Mat 9:37-38 sê Jesus: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes." En as Hy wil beklemtoon dat die wêreldwye uitdra van die evangelie op hande is en dat die volkere daarvoor gereed is, sê Hy in Jhn 4:35 vir Sy dissipels: "Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes."
As die Here Jesus Sy dissipels beveel om die evangelie tot aan die uiterste van die aarde te gaan verkondig, belowe Hy telkens in dieselfde asem dat die Heilige Gees hulle daarvoor sal toerus. Hy stuur hulle uit - net soos die Vader Hom gestuur het - en blaas oor hulle (as 'n handelingsprofesie) met die woorde: "Ontvang die Heilige Gees!" (Jhn 20:21-23). In Han 1:8 belowe Hy net voor Sy hemelvaart: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wLreld." En volgens Lukas beveel Hy uitdruklik, onmiddellik na Sy groot sendingopdrag, dat hulle eers in Jerusalem op die koms van die Gees moet wag voordat hulle met hulle uitreiking begin: "En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is" (Luk 24:49).
Sonder die Heilige Gees se toerustende werk in die gemeente sou daar tot vandag toe hoegenaamd niks gekom het van die oes se insameling nie.
Oor en oor leer die Nuwe Testament dat die Heilige Gees se toerustende werk nie net gaan oor ons getuieniskrag nie, maar ook oor ons dienswerk in die gemeente. Voorts bewerkstellig Hy nie net die aanvang van redding nie, maar ook die voortgang en ontwikkeling daarvan. Sonder die Gees sou ons niks gegroei het in die kennis van die Here en gelykvormigheid aan Sy beeld nie.
Die Pinksterverskynsels (Han 2:2-13)
-
Han 2 beskryf nie net die feit van die Heilige Gees se koms nie, maar ook die implikasies daarvan. Sonder twyfel is dit die doel van die drie uitsonderlike tekens of verskynsels wat plaasvind. En die mense verstaan dit, want hulle vra: "Wat kan dit tog beteken?" (12).
-
Die drie tekens lyk na natuurlike verskynsels (wind, vuur en spraak), maar in sowel oorsprong as aard is hulle bonatuurlik. Wat hulle hoor is nie 'n wind nie, maar is soos 'n geweldige stormwind (2). Wat hulle sien is nie vuur nie, maar is soos vuur, wat in tonge verdeel (3). Wat hulle praat, is nie natuurlike spraak nie, maar ander tale soos die Gees dit aan hulle gee (4).
Die Septuaginta (die voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik dit om te praat van die vol word van Juda se ballingskap van sewentig jaar (Jer 25:12).
Hierdie woord in Han 2:1 impliseer dus 'n reeks voorafgaande gebeure wat alles moes plaasvind voordat die Gees uitgestort kon word. Dit wys op die geprofeteerde klimaks na verloop van 'n tydsperiode. Afgesien daarvan dat dit die gewigtigheid van die gebeurtenis onderstreep, wil hierdie woord dit daarom onder ons aandag bring dat die voorafgaande geskiedenis - dus die Ou Testament - belangrike leidrade inhou as ons die gebeure wil verstaan.
-
Les bes is dit van die allergrootste belang om raak te sien, soos getoon sal word, dat elkeen van hierdie tekens sowel 'n positiewe as 'n negatiewe kant het - 'n heilsdimensie en 'n oordeelsdimensie. Christus se regering deur Sy Gees bring nie net verlossing nie, maar ook vernietiging.
Reeds in die profesie van Jol 2:28-32 - die teks wat Petrus volledig aanhaal op die Pinksterdag -kry beide dimensies ewe veel aandag. In God se verbondstrou word Sy Heilige Gees op Sy gemeente uitgestort (Jol 2:28-28, 32; Han 2:17-18, 21), maar in dieselfde asem word skrikwekkende beelde van oordeel oor die Here se vyande óók beskryf (Jol 2:30-31; Han 2:19-20).
Johannes die Doper profeteer oor die regering van die komende Koning, dat Hy sal doop met sowel die Heilige Gees as met vuur. En vanuit die konteks is dit duidelik oordeelsvuur (Mat 3:11 ens.).
-
Wat die "geweldige stormwind" betref, moet ons onthou dat sowel die Ou Testament in Hebreeus as die Nuwe Testament in Grieks die onderskeie woorde vir asem of wind (ruach en pneuma) gebruik om van die Heilige Gees te praat. En daar is goeie rede voor: die beweging van lug is 'n wonderlike beeld van sentrale aspekte van die Heilige Gees se werk (vgl. Jhn 3:8).
-
Palestina se mense was baie bewus van die effekte van die wind. Vanaf die weste en die Middellandse See het dit lewegewende reën gebring. Jesaja bring dit in verband met die Gees se werk: "Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge" (Jes 44:3).
-
Vanuit 'n ander hoek gesien, is ons net so afhanklik van die Heilige Gees vir ons geestelike lewe, as wat ons fisies afhanklik is van die asem in ons longe. Die mens het eers 'n lewende wese geword toe God die lewensasem in sy neus geblaas het (Gen 2:7). En in Ese 37 word die beendere eers lewend as die profeet tot die Gees roep en Hy Sy asem in die dooies inblaas (v.9-10). Na aanleiding daarvan belowe die Here dan: "Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe ..." (v.14).
-
In Palestina waai ook dorre oostewinde. Dit kom oor die droë en warm woestyn en verskroei die oeste. Ook hiermee werk Jesaja: "Iemand sê: 'Roep!' En ek vra: 'Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind (= Gees) daaroor laat waai.' Dit ís so, die volk is soos gras" (Jes 40:6-8). Die asem van die Here gee nie net lewe nie; dit verskroei ook.
-
Die feit dat die vuur verdeel en soos tonge op elke dissipel gaan rus, is baie betekenisvol. Dit individualiseer die betekenis van die vuur. Nie net sou Christus se gemeente korporatief deur Hom bewoon word nie; elke gelowige sou vir Sy Gees 'n tempel wees (1Kor 6:19). Miskien dink Petrus baie jare later aan die Pinkstergebeure as hy vir vervolgde gelowiges skryf: "Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly"(1Pet 4:14). Vervolging en swaarkry is nie noodwendig 'n teken dat die Here Hom aan ons onttrek het nie; dis dikwels juis 'n teken van Sy Gees se heerlike teenwoordigheid.
-
Talle kere is vuur simbool van God se toorn en straf in die Ou Testament (Deu 4:24; 32:22; Jer 4:4; Ese 22:21; Sef 1:18; Nah 1:6). Nêrens is dit duideliker as in die offerdiens nie. En God se oordele kom dikwels in die vorm van vuur (Gen 19:24; Num 16:35; Jos 7:25). As die Hebreërskrywer sê dat ons God 'n verterende vuur is (Heb 12:29), haal hy Deu 4:24 aan.
-
Hoe duidelik profeteer Maleagi nie oor hierdie dubbele reiniging van die komende Koning nie! As die Here - die Engel van die Verbond - na Sy tempel kom, sal Hy soos die vuur van die smelters wees en Sy Leviete suiwer "sodat hulle aan die Here 'n offer kan bring wat bestaan uit regdoen" (Mal 3:1-5). Maar dis nie al nie. Maleagi gaan voort: "Die dag kom en hy brand soos 'n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie 'n wortel, nie 'n tak oorbly nie" (4:1).
Dit was nie 'n hoor-wonder nie, maar 'n praat-wonder (4). Dit word voorts duidelik gesê dat die Heilige Gees hulle daartoe in staat gestel het (4). Ons kan dus aanvaar dat die dissipels hierdie tale nie vantevore kon praat nie. Of hulle dit verstaan het terwyl hulle dit gepraat het, kan ons nie met sekerheid sL nie. En of hulle dit daarna steeds kon praat, weet ons ewemin.
Dit was ook nie ekstatiese spraak of sogenaamde engeletaal nie. Dieselfde woord wat in v.4 gebruik word (Gr. glossa), word ook in v.11 gebruik waar die mense dit gebruik om van hulle moedertale te praat. Nee, dit was gewone tale wat in die wêreld van toentertyd gepraat is (Gr. dialektoi; 6, 8). Mense van amper 'n dosyn en 'n half streke (9-11) hoor hoe God se groot dade (11) verkondig word in die tale wat hulle aan moedersknie geleer het.
Weereens gee die Ou Testament belangrike perspektiewe op die betekenis van hierdie glossolalie (n.a.v. die Griekse woord, glossa). En nogeens is daar 'n positiewe en 'n negatiewe implikasie.
-
By Babel het die Here die mens se trots en rebellie gestraf deur verwarring te bring in hulle taal (Septuaginta: glossa), sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie en gevolglik oor die aarde verstrooi is (Gen 11:1-9). Die Pinkstertale is egter 'n vooruitwysing dat hierdie straf - verwarring, verstrooiing en onderlinge vyandskap tussen nasies as gevolg van misverstande - omgekeer gaan word. Dit wil sL dat die Here Jesus die verbrokkeling, gebrokenheid, frustrasie en konflik wat die volkeresee kenmerk, gaan regstel.
-
Die Efesiërbrief maak baie hiervan (2:11-22). Christus versamel Sy nuwe mensheid vanuit alle nasies - nie om 'n monument van eie trots soos by Babel op te rig nie, maar om die Here te loof vir Sy groot verlossingsdade. Hy het die skeidingsmuur tussen die Jode en die nasies gesloop, "sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep" (2:15, OAV).
Soos altyd gaan die Here deur die gesproke woord werk. Sy instrument sal die verkondiging van die "groot dade van God" (11, OAV) wees (Rom 10:11-17). Die evangeliewoord gaan die krag wees tot redding vir elkeen wat glo (Rom 1:16). Hy gaan sondaars wat geestelik dood is tot die lewe bring deur "die woord van die waarheid" (Jak 1:18). Hy gaan hulle wederbaar "uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pet 1:23). Die geloof kom "deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus" (Rom 10:17). Vergelyk ook Jhn 17:17, 20; 1Kor 1:21; 2Tes 2:14 - en natuurlik Ese 37:1-14.
-
En hoe gaan die Here die "groot dade van God" onder die nasies verkondig kry? Dit word nie vanuit die hemele rondom die aarde gebasuin nie. God gebruik nie legioene engele om dit te proklameer nie. Nee, dis Sy dissipels wat in vreemde tale praat! Sekerlik sou Hyself in 'n oogwink die evangelie rondom die aarde kon laat weerklink. Sekerlik sou Sy engele nie so gesukkel het soos ons nie. Maar in Sy soewereine wysheid het Hy besluit om óns Sy medewerkers te maak!
-
Dit is belangrik om daarop te let dat bogenoemde nie net die Here se manier is om sondaars tot die geloof te bring nie, maar ook om hulle in die geloof te hou. Dit gaan dus nie net oor die daarstelling van die nuwe mensheid nie, maar ook oor die instandhouding daarvan. As Paulus in Han 20 die ouderlinge van Efese vir die laaste keer groet, vertrou hy hulle en die gemeente toe aan God en "aan die woord van sy genade". Hy gaan dan voort deur te sê: "Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het" (Han 20:32).
Eerstens, dat Hy hierdie nuwe mensheid vanuit alle nasies gaan versamel.
Tweedens, dat Hy die evangelie as instrument daarvoor gaan gebruik.
Derdens, dat Hy Sy dissipels - gebroke soos hulle ook al mag wees - as medewerkers gaan gebruik om hierdie evangelie tot aan die uiteindes van die aarde te verkondig.
-
Die ander tale van die Pinksterdag het ook 'n negatiewe funksie. Dit wys na die Here se oordele wat op hande is - veral vir die Joodse volk en hulle godsdienstige sisteem. Koning Jesus heers in die hemel nie net om te seën nie, maar ook om te oordeel. Hy sal Sy vyande onderwerp; Hy gaan ook doop met vuur!
-
Hierdie perspektief word deur die apostel Paulus in 1Kor 14:21-22 onder ons aandag gebring (let op dat hy in hierdie hoofstuk juis oor glossolalie praat): "In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê: 'Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.' So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie."
Paulus haal hier aan uit Jes 28:11. Wat Jesaja daar in die agste eeu voor Christus vir die verbondsvolk sê, is dat hulle moet besef God se oordele is op hulle wanneer hulle die onverstaanbare taal van die Babiloniërs hoor. Die vreemde taal sal dus vir hulle 'n teken wees dat hulle straf op hande is.
-
Moses profeteer al in die vyftiende eeu voor Christus dat die vloek van die verbond só sal kom indien die volk in sonde sou volhard: "Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie, 'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade" (Deu 28:49-50).
En Jeremia, wat 'n ballingskapsprofeet in die sesde eeue voor Christus is, en die vervulling van hierdie oordeelsdreigement voor sy oë (en ore!) sou sien afspeel, verwys weer daarna as hy die volk tot hulle sinne probeer bring: "Kyk, mense van Israel, Ek laat 'n nasie uit 'n ver land teen julle optrek, sê die Here, 'n nasie wat lankal bestaan, van die ou tyd af, 'n nasie wie se taal julle nie ken nie, wie se woorde julle nie verstaan nie" (Jer 5:15).
Inderdaad sou die Here se oordele in die jaar 70 n.C. oor Jerusalem en die Jode voltrek word. Hulle godsdienstige infrastuktuur sou vernietig word en hulleself - die oorlewendes - sou onder die nasies verstrooi word.
-
Reg vertolk, was al drie Pinksterverskynsels boordevol perspektiewe op die soewereine en onweerstaanbare regering van die verheerlikte en verhoogde Jesus Christus deur Sy Heilige Gees. Meer nog, elkeen van hierdie verskynsels het sowel positief gespreek van wonderlike verlossingsheil, as negatief van die skrikwekkende oordele wat Hy sou bring.
Voorts, as hierdie tekens met die nodige Bybelse verantwoordelikheid in hulle openbarings-historiese konteks vertolk word, bring dit gans ander beklemtonings as die simplistiese en mensgesentreerde hantering daarvan deur mense vir wie dit bloot oor opwinding, belewinge en sensasie gaan.
SLOT
-
Laat ons begryp dat Jesus Christus méér is as die redder van ons siele - onuitspreeklik wonderlik soos dit is. Laat ons ook Sy kosmiese en universele regering raaksien wat alle nasies en eeue oorspan.
-
Laat ons begryp dat Jesus Christus méér is as die liefdevolle en sagmoedige Verlosser van hopelose sondaars - onuitspreeklik wonderlik soos dit is. Laat ons ook Sy verskriklike toorn raaksien wat een en elkeen van Sy vyande sal verdelg.
-
En laat ons altyd die nodige dankbaarheid en ontsag handhaaf met betrekking tot die groot gawe van die eindtyd - die Gees, die Heilige Gees. Les bes, laat ons altyd onthou: Hy het gekom om Christus te verheerlik. En as Hy in en deur ons werk, dan is dit sodat ons Koning Jesus sal dien en verheerlik.
|