No.21
OM GOD TE KEN
Ons heel hoogste roeping
Nico van der Walt
Niks is belangriker vir die individuele gelowige, die kerk en die teologie as ware kennis van die Drie-enige God nie.
Niks gee dus dieper insig in 'n gemeente, 'n persoon of 'n prediker nie, as die hartsoortuiginge wat oor God gehuldig word. En, laat ons onthou, hierdie oortuiginge kom onfeilbaar tot uitdrukking - óf in woorde en dade, óf in swye en nalatings.
'N WESENSBELANGRIKE SAAK
Dis 'n alledaagsheid om te hoor dat Christene los en vas praat oor 'n persoonlike verhouding met God. Bestaan daar so iets? En wat beteken dit in praktiese terme?
Die Bybel praat nie in soveel woorde van 'n persoonlike verhouding met God nie. Maar die saak lê gewis aan die hart van Christen-wees en die nuwe lewe wat gelowiges van God ontvang. Die Bybel gebruik daarvoor die uitdrukking, om God te ken.
Keer op keer en konsekwent beklemtoon die Bybel die belangrikheid van die kennis van die Here:
In 2:17-19 belowe die Here: "Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond ... Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken". Dan treur die profeet omdat sy volk te gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis (4:6). Van watse kennis praat hy? Enkele verse vroeër verskaf hy die antwoord: "... die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie" (4:1). Uiteindelik rig Hosea 'n dringende oproep tot sy volksgenote in 6:3: "En laat ons ken - laat ons dit najaag om die Here te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei." En hy rugsteun die oproep met 'n versekering van die Here: "Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers" (6:6).
As mens na die Bybel se talle uitsprake oor die waarde en noodsaaklikheid van die kennis van die Here kyk, sien jy o.a. die volgende:
Die Bybelse begrip "om te ken" dui dikwels op 'n intieme verhouding en gemeenskap tussen persone. In Gen 4:1 word die woord gebruik:"En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword ..." (OAV).
Kennis van God het drie onderskeibare, maar onskeibare elemente. Tot die mate wat dit 'n werklikheid in my lewe is, tot daardie mate kén ek God.
Kennis van God is
begrip van wat God Drie-enig
oor Homself openbaar,
wat saamhang met
'n voortgaande, bewustelike
en persoonlike wandel met Hom,
wat meebring
insig in Sy wil en weë.
Die eerste element het te doen met begrip van dit wat God oor Homself in die Skrif geopenbaar het. Dit het daarom te doen met denke en studie.
In 1Jhn 5:20 skryf die apostel: "En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken ...".
Wie in 'n denkbeeldige god glo, sal met 'n denkbeeldige verlossing tevrede moet wees.
Die tweede element het te doen met gemeenskap met God. Henog van ouds "het met God gewandel" (Gen 5:22, 24, OAV).
Om God te ken is dus ook 'n persoonlike verhoudingservaring.
My wandel met God kom tweeërlei tot uitdrukking:
Maar dis ewe belangrik om te onthou - bogenoemde definisie maak dit duidelik - dat die rykdom en diepgang van my wandel met die Here afhanklik is van die begripsgreep wat ek op Sy selfopenbaring en beloftes het.
Enersyds is dit om gelowig deur die steeds beter gepoleerde bril van die Woord na my ganse lewe te kyk. So sien ek dan in my omstandighede en lewensvoortgang God se intieme betrokkenheid by my raak.
Andersyds is dit om gelowig al die praktiese implikasies uit te leef van dit wat die Here oor Homself geopenbaar het, en dit wat Hy uitdruklik in Sy Woord aan my beveel het. Dis met ander woorde my respons op Sy reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe.
Só word die hart van die genadeverbond - dat die Here vir my 'n Vader sal wees en dat ek vir Hom 'n kind moet wees - 'n daaglikse ervaringswerklikheid.
Die Naam van die Here word 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer.
Dus, in Dawid se diepste godsdiens-belewinge is daar eintlik net twee betrokkenes - hyself, en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".
Die derde element het te doen met 'n insig in God se wil en weë.
Volgens die NIV pleit Moses só in Exo 33:13 by die Here: "If you are pleased with me, teach me your ways so I may know you and continue to find favour with you."
Psm 103:7 (OAV) sê dan: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade."
Allereers moet ek aanvaar dat ek geen hoër roeping het nie as om die kennis van God - omvangryk verstaan soos hierbo - na te jaag.
Fil 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..."
Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel. Dit lê tewens aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34).
My gerigtheid moet God persóónlik wees - dus die Gewer, en nie bloot Sy gawes nie! Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?
God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word.
Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is!
Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees.
Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie. Dis immers wanneer ons gemeenskap met God op sy innigste beleef.
Is vordering in die kennis van die Here nie deur en deur genade nie? En kan daar sonder die Heilige Gees enige sprake van vordering wees?
Die kennis van God - in die besonder die wandel met Hom - lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op. Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar, die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.
God openbaar Homself net aan nederige, kinderlike en diep afhanklike geloof (Mat 11:25-30). Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.
Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie. Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV).
Die kennis van God is vir hulle wat die Here in toegewyde liefdesgehoorsaamheid dien.
Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Heb 12:4-12).
Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word.
|