No.16
God is Liefde
'n Bespreking van God se reddende liefde
Nico van der Walt
| God openbaar Homself aan ons as majestieus in transendente grootheid. Hy is groots, duiselingwekkend. Hy is oneindig, ewig, onveranderlik, almagtig.
Al hierdie dinge sou egter ook kon waar wees van 'n onpersoonlike energieveld. Of van 'n amorele, selfs immorele wese, wreed en wispelturig. Die heerlikste van die Godsopenbaring is dat Hy 'n Persóón is - met 'n behae daarin om liefde te gee en te ontvang. Hy is die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is die God van mense! God is nie net groot nie, Hy is ook goed; nie net lig nie, ook liefde.
Twee maal in 1Jhn 4 lees ons: "God is liefde" (v.8, 16). Dis die woorde op 'n duisend kanselklede - omdat dit so 'n basiese waarheid is. Maar wat beteken dit? Soos dikwels die geval met sulke bekende uitdrukkings, het mense sonder tal die skeefste idees daaroor. Die vraag is dus noodsaaklik: wat presies is God se liefde? By wyse van inleiding, enkele kwalifiserende opmerkings:
Op hierdie vraag het die Bybel 'n duisend antwoorde. Met onhanteerbaar baie data, is die beste benadering altyd om so ruim as moontlik te begin en om dan die gegewens 'af te kook' - totdat jy net die wesentlike en essensiële oorhou. Dit sal ons werkswyse wees. 'n Algemene omskrywing van God se liefde kan so lui: God se liefde is daardie wesensgeneigdheid in Hom wat Hom daartoe dring om welwillend teenoor Sy skepsele te wees - sowel fisies as geestelik. God het Sy hele skepping lief - selfs na die sondeval. Tog is die Bybel onmiskenbaar duidelik dat Hy nie almal op dieselfde manier liefhet nie - en ook nie tot dieselfde mate nie. Ons durf dus nie ongekwalifiseerd oor Sy liefde praat nie. Ten minste één fundamentele onderskeid is noodsaaklik:
Die Bybel se aksent val baie sterk op God se besondere liefde. En dit is duidelik ook wat Johannes in gedagte het as hy sê dat God liefde is (vgl. 1Jh 4:9-10). Dit beteken nie dat Sy algemene liefde - meestal algemene genade genoem - onbelangrik is nie. Dis 'n fassinerende en belangrike saak (sien AH 12), maar ons bly sonder twyfel by die Bybelse beklemtoning as ons ons van nou af bepaal by Sy besondere liefde. Dit is, trouens, die hart van die Skrifopenbaring.
God se besondere liefde is Sy liefde as Verlosser vir sondaars, soos dit tot uitdrukking kom in die onherroeplike skenking van die ewige lewe in volmaakte verbondsgemeenskap met Hom, in die gee van Sy Seun om alles te doen wat vir hierdie verlossing nodig is, en in die stuur van Sy Gees om hierdie verlossing in hulle lewens uit te werk. Selfs hierdie omskrywing is te veel vir ons doel. Maar ons kan dit verder afkook - totdat 'n gekonsentreerde ekstrak van net 3 woorde oorbly: God red sondaars!
Kom ons kyk nader na die 3 dele van hierdie evangelie-nukleus.
Omdat die Drie-enige God is wie Hy is, is Sy besondere liefde iets wonderliks. Dis uniek en volmaak. Hieronder volg 13 fassette of kenmerke daarvan: Dit is Christosentries. Geen sondaar word ooit anders gered as op grond van Christus se verdienste nie. Hieroor is die Woord van God vlymskerp duidelik (Jhn 14:6; Han 4:12; 1 Tim 2:5).
Dit is geestelik. Die Heilige Gees is as 't ware die Koerier wat God se liefde kom aflewer. En Hy hou dit in stand. Sonder Sy oortuigende (Jhn 16:7-11), wederbarende (Jhn 3:5-8; Tit 3:5) en verligtende werk (1Kor 2:10-16) kan niemand reddend met Christus verenig word of bly nie. Dit is ewig. Dit strek vanuit die ewige verlede, dwarsdeur die tyd, tot in die ewige toekoms in. Voor die skepping al het Hy Sy geliefdes uitgekies. En Hyself dra hulle deur tot en met die volmaaktheid (Jhn 6:35-40; Rom 8:28-30; Efe 1:4; 2Tim 1:9; 1Pet 1:20; Opg 13:8; 17:8). Dit is soewerein. As Skepper is Hy die onbetwisbare Eienaar van alles en almal. Wie kan Sy reg bevraagteken om Sy liefde uit te stort soos en op wie Hy wil? (Rom 9:6-29). Dit is onvoorwaardelik en onverdiend. Dit word geensins ontlok of bepaal deur enige verdienste in enige persoon wat dit ontvang nie (Han 13:48; Rom 9:11-13, 16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Efe 2:8; Fil 2:12-13; 2Tim 1:9). Dit is onfeilbaar effektief. Omdat God werk soos Hy werk, is dit onmoontlik om Sy liefde enduit te weerstaan. Hoe werk Hy? Hy verander jou hart - die sentrum van jou persoonlikheid! En omdat jou hartsgesteldheid jou lewe bepaal, móét 'n geestelike hartoorplanting dramatiese effekte hê. As God Sy wette op die tafels van jou hart skryf, word jy 'n slaaf van jou eie begeertes - en jy dien Hom met 'n hartstog! (Jer 31:33; Ese 36:26-27; 37:1-14; Jhn 5:21; Han 16:14; Efe 2:1, 5). Dit is onherroeplik. As die ewige, onveranderlike, alwetende en almagtige God op 'n lewe beslag lê, dra Hy hom dwarsdeur tot en met die heerlikmaking - al 'sterf so 'n man of vrou ook 'n duisend dode' in die proses (Jes 54:10; Jhn 3:36; 5:24; 6:35-40; 10:27-30; 17:11, 12, 15; Rom 8:1, 28-30, 35-39; 1Kor 1:7-9; 10:13; Efe 1:13-14; 4:30; 1Tes 5:23-24; Heb 9:12, 15; 10:14; 1Pet 1:3-5; 1Jhn 5:11-13, 18). Dit is persoonlik. Dit is op spesifieke mense gerig (Jhn 6:39; 10:27-30; 17: 2, 6, 9, 24; Han 13:48; 18:9-10; Opg 13:8; 17:8). Dit is korporatief. Die ware kerk is gesamentlik, as 'n organiese geheel, die bruid van Christus (2Kor 11:2; Efe 5:25-27; Opg 19:7-9; 21:2). Dit is volledig. Die uitwerking van Sy reddende liefde is in elke mens wat dit ontvang 'n geïntegreerde geheel. En elkeen wat gered word, ervaar dieselfde essensiële elemente van redding. (Rom 8:28-30). Dit is universeel. Die Here se geliefdes kom vanuit elke nasie, stam, volk en taal (Efe 2:13-22; Opg 5:9; 7:9). Dit is histories. Hierdie bemindes kom vanuit al die eeue. Elke geslag sal verteenwoordig wees tydens die bruilofsmaal van die Lam. Dit is onbegryplik. God se besondere liefde styg bo ons begrip uit - dit laat ons denke duisel (Efe 3:18-19).
As God dan nie alle mense reddend liefhet nie, ontstaan die vraag: wie is die bevoorregtes dan? Op wie lê God se besondere liefde beslag? Watter soort mense word deur Hom oorrompel? Die Bybel antwoord klokhelder: God red sóndaars - ás sondaars - ten spyte van wie en wat hulle is of nie is nie! Hy het lewende dooies lief - mislukkings in terme van Sy volmaakte standaarde, rebelle teen Sy Wet, mense wat algeheel magteloos is om hulle ewige lot te verander. Dis 'n moeilike les, maar ons móét dit leer.
In hierdie verband moet 'n lewensbelangrike waarheid beklemtoon word - soveel te meer omdat dit so dikwels verwaarloos word: God red nie net sondaars as sondaars nie; Hy red slegs sondaars wat weet dat hulle sondaars is en dit bely sonder om doekies om te draai. Dit is wat die Here bedoel as Hy sê dat Hy net vir sondaars gekom het (Luk 18:9-14; 19:10; Mrk 2:17, OAV). Een van die Jode se grootste probleme was hulle godsdienstige selfvoldaanheid. Dit het hulle doof gemaak vir die evangelie.
Nog belangriker: God red sondaars ten einde Homself te verheerlik. En dis tog duidelik dat Sy eer gedien word as ek werklik verstaan hoe afhanklik ek van Sy genade is - iets wat sonder sondebesef net nie moontlik is nie. Na bekering duur sondebesef en genadebegrip voort. En soos mens daarin groei, neem jou dankbaarheid en gehoorsaamheid toe - wat die Here nie net behaag nie, maar ook verheerlik.
In die redding van sondaars werk die Vader, die Seun en die Heilige Gees saam in soewereine wysheid. Hulle het sáám lief. En hulle werk in volmaakte harmonie om hierdie liefde tot uitdrukking te bring. Hoewel elkeen van die Goddelike Drie-eenheid se drie Persone volledig betrokke is by élke aspek van 'n sondaar se redding, plaas die Woord tog tot 'n mate dan dié Persoon voorop, dan dáárdie Een. Mens wil nie oorvereenvoudig nie, maar 'n onderskeid is tog nuttig: die Vader beplan die redding; die Seun bewerk dit; en die Heilige Gees bedien dit.
Hulle vertrou Hy dan aan die Seun toe (Jhn 6:37, 39; 10:29; 17: 2, 6, 9, 24).
Wat gebeur met 'n sondaar as God se besondere liefde op hom of haar beslag lê? In sy eerste brief gee Johannes 'n aantal merktekens van egte Christenskap (vgl. 5:13 en dan 2:29; 3:9, 14; 4:7; 5:1, 4, 18).
Eintlik kan jy net een van twee antwoorde op hierdie brandende vraag gee: 'Ja!' of 'Onseker!'. Sommige sal protesteer:
In elk geval, is daar nie talle Bybelse uitnodigings aan sondaars om in die Here se liefdevolle arms in te hardloop nie. Waarom huiwer jy? Wie se skuld is dit dat jy nog sonder God is? Al struikelblok is jou eie ongehoorsaamheid, onwilligheid en ongeloof. Jy en jy alleen dra die skuld vir jou toestand, nie waar nie?
Wat sê die Woord vir die onsekeres? Dis onnodig om onseker te bly! Die uitnodiging van die Bybel se vyfde laaste vers staan steeds so vas soos die berge: "Die Gees en die bruid sê: 'Kom!' En elkeen wat dit hoor, moet sê: 'Kom!' En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" (Opg 22:17). Hierdie is nie net 'n uitnodiging om eenmaal te drink nie; dis 'n bevel om weer en weer te drink. Elkeen wat in opregtheid kom, het die Here se belofte in Jhn 6:37: "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit verwerp nie." (Gr. letterlik). Aan die onsekeres sê hierdie uitnodiging en belofte dus: Al het jy hoeveel keer in die verlede gedrink, kom nou weer. Jy bly onseker omdat jy nog altyd halfhartig en kleingelowig was. Kom nou, beslis en gelowig! Kom, maak die transaksie vas - eens en vir altyd! Spoedig sal die Gees in jou begin roep: 'Vader, my Vader!' (Rom 8:15-16; Gal 4:6). Dan sal jy weet: ja ek, ook ek, is 'n voorwerp van God se besondere liefde. Net 'n laaste woord aan diegene wat 'Ja!' sê - diegene wat reeds weet dat God Sy besondere liefde op hulle fokus: maak elke dag jou roeping en verkiesing vas - dan sal jy nie struikel nie. En jy sal uiteindelik 'n vrye en feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verkry (2Pet 1:10-11, OAV). Dien die Here dus met 'n onverdeelde hart! En laat die sentrale hartstog van jou lewe wees om Hom te behaag en te verheerlik! |