No.11
Heiligmaking: Watermerk van Christelike Egtheid
Deel 2: Enkele Basiese Beginsels
Nico van der Walt
| As die Nuwe Testament oor Christene se heiligmaking praat, word op twee maniere daarna verwys. Eerstens praat dit van 'n afgehandelde saak (sien AH 10). Tweedens praat dit van 'n voortgaande, progressiewe proses. Hierop fokus ons nou.
Voortgaande heiligmaking is die proses waarin 'n gelowige, tussen wedergeboorte en afsterwe, as 'n regverdigverklaarde sondaar toenemend van sondeverdorwenheid verlos word en steeds meer vernuwe word in hart, denke, wil en gedrag na die beeld van God en gelykvormigheid aan die natuur van Christus. Eintlik moet ons van 'voortgaande of progressiewe heiligmaking' bly praat - om dit van die afgehandelde komponent daarvan te onderskei. Maar gerieflikheidshalwe sal ons van nou af net van 'heiligmaking' praat.
God self is die enigste bron van alle heiligheid. 'n Skepsel kan net so min heiligheid voortbring as lewe - en hoeveel te minder 'n gevalle skepsel. Beswaarlik kan 'n groter misleiding van 'n mens besit neem, beswaarlik kan hy 'n meer afstootlike voorbarigheid voor sy Skepper openbaar, as die gesindheid dat hy homself só kan veredel dat dit hom laat kwalifiseer om vir ewig in volmaakte gemeenskap met die Driemaal-heilige te leef. Dís die rede waarom God alle mensgemaakte godsdiens so verafsku. Soos afgehandelde heiligmaking, is ook voortgaande heiligmaking van A tot Z 'n geval van God se vrye genade.
Terwyl God, en Hy alleen, die Outeur van heiligmaking is, is dit ewe waar dat gelowiges volledig daarin meewerk. Dit beteken nie dat die mens onafhanklik betrokke is, sodat heiligmaking deels God se werk en deels mensewerk is nie. Dit beteken wel dat God só in die mens werk dat hy as rasionele wese bewustelik en inspannend by die proses betrokke is. Wat my heiligmaking betref, is ek dus volledig en onontkombaar verantwoordelik en aanspreeklik!
Deel van Ese 36 se beloftes oor die Nuwe Verbond, is God se belofte: "Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom." (27). Daar is dus nie 'n fraksie heiligmaking in my lewe waarvoor ek enige krediet kan neem nie.
Soos in die geval van heiligmaking, is dit hier nie 'n geval van 'n vyftig-vyftig-vennootskap nie. Dis eenhonderd persent betrokkenheid aan weerskante.
Die genademiddele kan in twee groepe verdeel word.
Hierdie 'gebalanseerde' benadering van heiligmaking help ons om twee slaggate oor heiligmaking te vermy. Die een mistasting sê, eenvoudig gestel, jy moet dit alles doen, en die ander, jy moet niks doen nie.
Hierdie dwaling masel uit in radikalistiese prediking wat selde die groot dade van God in Christus verkondig, maar klokslag die indruk laat dat net die mees toegewydes dit sal maak.
Hierdie beskouing is 'n naïewe miskenning van die mens se verantwoordelikheid, asook van die feit dat die Skrif honderde opdragte gee - ook aan Christene. Heiligmaking kom vir die wedergeborene natuurlik, ja, maar nie outomaties nie. Sekere groepe (ironies genoeg baie heiligmakingsbewus) verval in dieselfde eensydigheid, maar op 'n ander manier. Die groot probleem, sê hulle, waarom mense nie oorwinnend oor sonde leef nie, is dat hulle te hard probeer. Hulle pogings is vleeslik en wetties - en hulle kom as 't ware net daarmee in die pad van die Heilige Gees. Nee, word gesê, verlaat jou, in jou volslae onvermoë, geheel-en-al op die werk van die Gees. Maak 'n 'totale oorgawe', 'let go and let God' - en heerskappy oor die vlees sal volg. Ook hierdie halwe waarheid loop, helaas, op ontnugtering uit. Wie die sondige natuur nie doelgerig 'doodmaak' nie (Rom 8:12-13 en Kol 3:5, OAV), sal nie oor die vlees heers nie. Laat ons nooit vergeet nie: die Christelike lewe is enduit 'n oorlog - met oorblywende sonde.
Dit het Hy inderdaad gedoen - in Sy morele wet, oftewel die Tien Gebooie.
Die perfekte openbaring van God se beeld en Sy wil vir die mens, en van hoe die Tien Gebooie se uitlewing dus lyk, is in die persoon, lering en lewe van die Here Jesus Christus te vind (Jhn 1:18; 14:9; Heb 1:3). In 'n lewe hier op aarde, in 'n liggaam soos ons s'n, is die heiligheid van God volmaak gedemonstreer. Duideliker kon God Sy wil vir die mens nie maak nie.
Die natuurlike mens se neiging is selfhandhawing, selfbevrediging, selfbevoordeling. Dis die 'opwaartse' pad wat God na die kroon wil steek, die sondige ambisie wat soos God wil wees. Daarenteen is daar egter die 'afwaartse' pad van selfverloëning - wat in 'n ander sin soos God wil wees. Dís die wil van God vir ons; dís uitlewing van Sy morele wet (Gal 6:2).
Dis egter baie belangrik om raak te sien dat die Woord van God geen ruimte laat vir willekeur nie. Ek besluit dus nie maar self hoe, waar en wanneer my liefde tot uitdrukking sal kom nie. Nee, God se uitdruklike voorskrif is dat my liefde vir sowel Hom as my naaste te alle tye in 'tien kanale' sal vloei. Aangesien die morele wet dan uitdrukking van God se karakter is, lê dit voor die hand dat dit 'n ewige en onveranderlike reël van geregtigheid is. Niks kan dus verder van die waarheid wees nie as die standpunt dat die Nuwe Testament die betekenis en relevansie van die Tien Gebooie opgehef het. Natuurlik is die gelowige nie 'onder die wet' nie - bedoelende dat hy nie God se guns deur gehoorsaamheid daaraan moet of kan verdien nie. Maar as reël van dankbaarheid en norm van heiligmaking, is die Tien Gebooie vir hom van die allergrootste belang.
Wat kan duideliker wees as v.18: "Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is."
'n Heilige lewe het in die heel eerste instansie nie te doen met morele standaarde en uitnemende karaktertrekke nie. Waaroor dit ten diepste gaan, is afgesonderdheid vir en toewyding aan die Drie-enige God. Dit gaan dus in die eerste instansie oor liefde vir Hom, oor enkelhartigheid, ywer, diensbaarheid, oorgawe en getrouheid. Dit gaan oor Hóm - Sý eer, Sý Koninkryk, Sý waarheidsevangelie, Sý gemeente! 'n Heilige man (of vrou), is dus 'n man van één saak. Hy lewe voor die aangesig van God en in die lig van die ewigheid - want hy moet aan die Here self gaan verantwoording doen oor die rentmeesterskap van sy lewe. Sy een ambisie is verwoord in Mat 25:21 en 23: "Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!" Daarom is sy voortdurende gebed: 'Here, leer en verruim my steeds meer, sodat ek U so goed kan ken as wat dit vir 'n mens moontlik is; maak my al hoe meer aan die beeld van Christus gelyk; rus my toe om meer en meer vrug te dra tot U eer.' Die ganse wese en lewe word deur heiligmaking geraak. Al die fakulteite van die innerlike mens word verander: die verstand en oortuigings (Jer 31:33; Jhn 6:45; Rom 12:1-2; Efe 1:18; 3:18; Fil 1:9-11; Kol 1:9-10; 1Pet 1:13); die wil (Ese 36:25-27; Fil 2:13); die emosies (Gal 5:24); die gewete (Tit 1:15; Heb 9:14). Onvermydelik kan die liggaam nie onaangeraak bly nie (Rom 6:12-13; 1Kor 6:15, 20; 1Tes 5:23). Dit is die instrument waardeur die innerlike mens homself in hierdie wêreld uitdruk. Daarbenewens is die mens 'n psigo-somatiese wese en sy innerlike gesteldheid moet mettertyd 'n fisieke invloed hê - hetsy direk of indirek. Heiligmaking het 'n progressiewe karakter. Dit word deur die Skrif geleer (Rom 12:2; 2Kor 3:18; Efe 4: 11-16; Fil 1:9; 1Pet 2:2; 2Pet 3:18) en is algaande in ware gelowiges waarneembaar. Heiligmaking sal nooit volmaaktheid in hierdie lewe bereik nie. Die Skrif en ervaring leer dat selfs die mees begenadigdes onder ons ver tekort skiet aan God se volmaakte standaarde (1Kon 8:46; Spr 20:9; Pre 7:20; Rom 7:13-26; Jak 3:2; 1Jhn 1:8). Dis waarom daar na selfs 'n leeftyd van heiligmaking steeds 'n verdere dramatiese ingryping van God nodig is - die heerlikmaking - om my gereed te maak vir volmaakte gemeenskap met Hom, die Driemaal-heilige. Toenemende sondebesef is een van die sekerste tekens van groei in heiligmaking. Dis hoe die Gees ons nederiger maak - en dring om dieper in Christus te skuil. En dís geloof - wat God meer as enigiets behaag.
Jonathan Edwards: "When I look into my heart and take a view of its wickedness, it looks like an abyss infinitely deeper than Hell ... It is affecting to think how ignorant I was when a young Christian, of the bottomless depths of wickedness, pride, hypocrisy, and filth left in my heart." John Newton, oor sy verwagtinge aan die begin van sy Christelike lewe: "But alas! these my golden expectations have been like South Sea dreams. I have lived hitherto a poor sinner, and I believe I shall die one ... I was ashamed of myself when I began to serve Him, I am more ashamed of myself now, and I expect to be most ashamed of myself when He comes to receive me to Himself. But oh! I rejoice in Him, that He is not ashamed of me!" |