No.1
Wat Elke Christen Móét Weet
'n Bespreking van Romeine 8:28-30
Nico van der Walt
| FONDAMENTSTENE VAN DIE GELOOF
Dit is opvallend dat die apostel Paulus, as hy vir die gemeentes bid, soos klokslag vir Geesgewerkte begrip en geheiligde kennis bid (Efe 1:17-18; Fil 1:9-10; Kol 1:9-10). En as hy ná die fundamentele lering van die eerste elf hoofstukke, in Romeine 12 begin met sy praktiese oproepe, "op grond van die groot ontferming van God", beklemtoon hy onmiddellik die absolute noodsaaklikheid van waarheidsbegrip vir 'n lewe wat God behaag (Rom 12:2). 'Ware waarheid' is nie 'n randsaak nie, dit is lewensbelangrik vir 'n godvrugtige lewe en ware kerkwees. Dit is waarom die apostels, naas sonde, niks met meer felheid weerstaan het as dwaalleer nie. Die Skrifgedeelte onder ons vergrootglas begin dus uiters betekenisvol: "Ons weet ...". Hy aanvaar elke Christen weet en verstaan die dinge waarvan hy praat. En inderdaad is die waarhede wat in ekstrakvorm in hierdie drie verse saamgeknoop is, deel van die ABC van die Christelike geloof - nie omdat dit so maklik is nie, maar omdat dit so fundamenteel is. Hy in wie se hart dit gegraveer is, het greep op van die belangrikste hoekpenne van God se heilsopenbaring. Hy het 'n lopersleutel wat een na die ander Skrifgedeelte oopsluit. Hy het 'n kompas wat keer op keer koers gee deur die doolhof van hedendaagse leringe. Hy het 'n onuitputlike bron van innerlike sekuriteit, vrede en vreugde wat hom deur 'n duisend storms dra. Dr. Martyn Lloyd-Jones sê oor hierdie verse: "We are considering here one of the most remarkable statements that even this apostle ever made. It is also one of the most comforting statements in the whole range of Scripture. We are surely entitled to say that in respect of the statement of exalted doctrine there is really nothing higher than this. Here is ultimate doctrine." (The Final Perseverance of the Saints, p.159). Hy gaan dan voort en wy 208 bladsye aan die behandeling van verse 28-30 (17 van sy preke op skrif).
In hierdie hoofstuk wil die apostel diegene wat deur geloof geregverdig is, verseker van hulle uiteindelike redding. Al is daar dus nog baie worstelinge met sonde (7:7 e.vv.) en baie lyding (8:17 e.vv.), moet hulle weet dat die almagtige en ewig-soewereine God self onfeilbaar besig is om hulle verlossing in hulle uit te werk. Daar is dus hoegenaamd níks wat hulle tot in ewigheid van Sy liefde kan skei nie. Hierin, in die finale analise, lê hulle sekuriteit - en nie in hulle eie vermoëns nie.
Wat beteken dit om Hom lief te hê? Hoe kom dit tot uitdrukking? 1Jhn 5:3 gee die antwoord: liefde vir God is om Sy gebooie te bewaar. En om Jesus lief te hê, beteken ook presies dieselfde (Jhn 14:21, 23-24; 15:9-10).
Om te ken' dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gen 4:1: "die mens het sy vrou, Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Exo 2:25; Amo 3:2; Jer 1:5; Mat 7:22-23 (Jesus sê nie Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis 'te veel' van hulle geweet); 1Kor 8:3; 2Tim 2:19. Vgl. Jhn 17:3. Die bepaalde begrip, 'vooraf ken', word ook op vier ander plekke in die N.T. met God as subjek gebruik: Han 2:23 en 1Pet 1:20 (Jesus Christus as objek); Rom 11:2 (Jode as objek); 1Pet 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra - dit dui op liefhê, op verkiesing.
Hierdie eindbestemming word dan eksplisiet deur die apostel genoem: "om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun".
Ander Skrifgedeeltes waar 'roeping' so gebruik word, is o.a.: Rom 1:6-7; 1Kor 1:9,26; Gal 1:15; Efe 1:18; Fil 3:14; 2Tim 1:8-9; Heb 3:1; 2Pet 1:10. Hierdie lewendmakende werk van God geskied, wanneer en soos dit Hom behaag, deur die verkondiging van die Evangelie (Rom 1:16; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Tes 2:14). Die 'effektiewe roeping' werk dus deur die 'algemene roeping' - deur die lewende (1Pet 1:23) waarheidswoord (Jak 1:18).
Regverdiging (ook regverdigmaking genoem) moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor God het. 'n 'Dubbelkuur' is dus nodig om 'n sondaar te red. Enersyds moet die vloek van sy skuld voor God uitgedelg word; andersyds moet sy onvermoë om God te behaag, aangespreek word. Regverdiging is dus 'n dubbele juridiese uitspraak van God t.o.v. alle mense wat waarlik in Christus as Saligmaker glo. [As uitvloeisel van God se lewendmakende roeping, is selfs hierdie geloof 'n gawe van Hom (Efe 2:8-9; Fil 1:29; 2Pet 1:1)]. Agter hierdie uitspraak lê die beginsels van plaasvervanging en toerekening (Vgl. Rom 4 en 5). Die Seun van God, as Hoof van die nuwe mensheid, het in die plek van God se uitverkorenes kom staan. Negatief is hulle sondeskuld aan Hom toegereken, 'teen Sy rekening afgeskryf'. Hy is dus met hulle skuld 'gedebiteer'. Dit is egter nie al nie! Positief word Sy onuitputlike rykdom (Sy volmaakte geregtigheid, Sy gehoorsaamheid aan die Vader) aan hulle toegereken, 'na hulle rekening oorgeboek'. Hulle word dus met Sy gehoorsaamheid 'gekrediteer'. Regverdiging is iets wat 'in God se boeke' gebeur! As God hierdie opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun straf, sterf Hy daaronder - maar in die proses bewerkstellig Hy vryspraak vir sondaars, sodat hulle onskuldig voor God staan (Mat 20:28; Rom 3:25; 2Kor 5:21; Gal 3:13; Kol 2:13-15; 1Tim 2:5-6; 1Pet 2:24). Dis egter net die helfte van die wonder van regverdiging. Christus se toegerekende geregtigheid maak óók dat hulle in God se boeke die status het van mense wat Sy wet volkome gehoorsaam het (Rom 1:16-17; 3:21-28; 8:33-34; 10:3-4; Fil 3:9) - en wat, as sulks, kwalifiseer vir die ewige lewe! Jesus se passiewe gehoorsaamheid red sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid verwerf vir hulle die ewige saligheid.
Die 'profetiese verlede tyd' word, soos hier, gebruik om te beklemtoon dat iets, hoewel dit nog nie plaasgevind het nie, in God se ewige raadsplan vasgelê is en daarom verseker sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as reeds gebeur het.
Paulus se sinsbou maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing soos die skakels van 'n onbreekbare ketting is: diegene vir wie God vantevore geken het, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word vantevore verordineer; en hulle wat vantevore verordineer is, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word geroep, ens. Hieruit volg 'n paar waarhede van onberekenbare teologiese belang - waarhede wat orals in die Skrif geleer word.
Seer seker beleef ons die realiteite van ons eie geloofslewe en van wat om ons aangaan meestal anders. Ware gelowiges is pynlik bewus van die gebrokenheid van hulle lewens en van die stryd om op die pad te volhard. En as ons om ons kyk, hoe mense links en regs 'tot bekering kom', net om na verloop van tyd weer terug te val in wêreldgelykvormigheid - dan maak die gelykenis van die saaier veel meer sin as die verse waarna ons kyk. Dit is uiters belangrik om te begryp dat Skrifwaarheid op twee vlakke aan ons gegee word. Enersyds is daar 'belewingswaarheid' - soos ons dit beleef. Andersyds is daar 'wesenswaarheid' - dit wat regtig 'agter God se skerms gebeur'. En hoewel lg. dikwels strydig met die gelowige se belewing is, aanvaar hy dit in die geloof, wetende dat die twee vlakke van waarheid mekaar nie uitsluit nie - omdat beide deur die Heilige Gees geopenbaar is. 'n Alledaagse voorbeeld mag help. As ons sê, 'die son gaan onder', is dit 'n belewingswaarheid. Tog weet ons 'die storie agter die storie', die wesenswaarheid, is eintlik dat die aardbol roteer en die horison tussen my en die son inskuif. Die gelykenis van die saaier is belewingswaarheid; Rom 8:28-30 is wesenswaarheid. Trouens, die eerste elf hoofstukke van Romeine (soos ook die eerste gedeeltes van die meeste van sy ander briewe) is grootliks wesenswaarheid. Dis die wonderlike geheimenisse van God se raadsplan en heil wat Hy met Sy kinders deel om hulle tot oorstelpte aanbidding te dring en tot dankbare gehoorsaamheid te bemoedig. Waarom sukkel Christene tog so om God se openbaring oor Sy uitverkiesingsliefde te glo? Ander wesenswaarhede, dikwels op dieselfde bladsy geskryf en wat eweneens net in geloof aangeneem kan word (soos dat God hulle regverdig verklaar op grond van Sy Seun se Middelaarswerk), aanvaar hulle dan sonder meer!
Sodra 'n gelowige die geïntegreerdheid van God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir homself toe-eien, bring dit 'n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie. Hy (of sy) weet dat die voortgang en ontwikkeling van sy lewe veilig verpak is in God se ewige en onfrustreerbare raadsplan. Rom 8:31-39 word dan vir hom nie net objektiewe waarheid nie, maar inderdaad belewingswerklikheid. Níks, dit weet hy, kan hom van God se liefde skei nie! Hierdie vertroostende waarheid maak mens vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag - in dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil, soos duidelik in die Bybel beskryf. Soveel Christene is gedurig krampagtig op soek na 'die Here se wil' (gewoonlik buite die Skrif om), omdat hulle bang is hulle sal 'God se wil vir hul lewens' mis en teëspoed kry as hulle nie in die 'sentrum van God se wil', die 'veiligste plek', bly nie. Watter vrymaking hou gelowige omhelsing van Rom 8:28-30 nie vir hulle in nie! Maar, mag sommige nou wonder, sal dit nie 'n traak-my-nie-agtigheid oor gehoorsaamheid en volharding veroorsaak nie? Sal mense nie dan maar terugsit in die waan dat God alles moet doen nie? Die ervaring van derduisende deur die eeue is presies die teenoorgestelde. Waarhede soos dié van ons verse sus nie wáre gelowiges nie, dit lanseer hulle! Dis immers waarom die Heilige Gees dit geopenbaar het. Baseer die apostel sy oproep tot heilige toewyding aan die Here nie júís op "die groot ontferming van God" nie? Is 'vernuwing van denke' nie júís die sleutel tot 'n lewe volgens God se wil nie? (Rom 12:1-2) Leser, het jy die Here waarlik lief? Bevestig jou lewe van daaglikse, intelligente, bewustelike en verantwoordelike gehoorsaamheid dit? Werk jy jou eie heil uit - "met vrees en bewing"? Weet dan, dis omdat God in jou "werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae" (Fil 2:12-13). En Hy doen dit, omdat Hy jou van ewigheid af liefhet en sal toesien dat jy in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun tot in ewigheid deel van Sy huisgesin sal wees! Dien dan die Here met 'n onverdeelde hart! |