Amos is een van die sogenaamde klein profete. Hy was heel waarskynlik die eerste profeet in Ou Testamentiese Israel van wie die profesieë opgeteken is. Ek hoop dat julle in die reeks preke sal agterkom watter wonderlike rykdomme en seën in hierdie boek voorkom - veral as mens in ag neem dat Amos na alle waarskynlikheid heeltemal 'n ongeleerde man was. Ek sal poog om vir julle hier en daar 'n bietjie van die struktuur uit te wys. 'n Mens kan nie gló dat 'n ongeleerde man so-iets geskryf het nie. Die slotsom is in elk geval elke keer dat die Heilige Gees hom moes geïnspireer het.