Die Boodskap van Amos - 17
Amos 9:11-15
Die vervalle hut sal opgebou word
Nico van der Walt
Ons het aan die einde gekom van hierdie reeks oor die boek Amos. Ons lees Amo 9:11-15, die laaste vyf verse van hierdie wonderlike Ou Testamentiese profesie, sekerlik van die troosrykste verse in die hele Ou Testament. (Lees uit die ou vertaling). Dis aangrypende verse waarin Amos, geïnspireer deur die Gees, oor duisende jare heen vooruitkyk en iets sien van die grootsheid en die heerlikheid van die laaste dag. Hy kyk nie net oor millennia heen nie, maar ook wêreldwyd en universeel. Die verse kom amper as 'n verrassing. Amos was tot dusver intens betrokke by die sonde en die worstelinge van die volk Israel, die noordelike tienstammeryk, en hy was intens gekant teen die sonde. Selfs in die voorafgaande 10 verse beskryf hy die verskriklike oordele wat van die Here af oor die volk sal kom. Dan skielik, amper abrup, gaan hy in vers 11 oor en skets hierdie wonderlike visie van die grootse en heerlike dade van God, sy verlossingsdade in die laaste dae. Dis asof 'n mens, as jy tot by 9:10 gekom het, met 'n moedeloosheid wil terugsit en sê: Wel, alles is verby. Maar dan sê Amos skielik: Nee, dis nie verby nie!
Ons kan hierdie vyf verse in twee dele verdeel: verse 11 en 12, waarin hy iets van die komende koning en sy regering skets, en verse 13-15 waarin hy praat oor die ervaring van die burgers van dié koninkryk. Dit sal miskien die beste wees om rustig, vers vir vers, deur hierdie gedeelte te werk. Soos wat ons vorder, sal die prentjie duideliker word. Eerstens, hy begin met: "In dié dag", of soos die nuwe vertaling sê, "Daardie dag" (vergelyk ook die NIV se "In that day@). Daardie dag. As die Ou Testament so praat, is dit altyd eskatologiese taal: Dis wanneer die profete eeue vooruit kyk en dinge sien wat in die verre toekoms gaan plaasvind. Wat hy hier beskryf, sal plaasvind wanneer die oordele waarvan in die voorafgaande hoofstukke geskryf is, besonderlik 9:1-10, iets van die verlede is. Die volk moet dus eers verseker déúr hierdie oordele of stroping, hierdie amperse vernietiging gaan, voordat dit gaan plaasvind. Ons weet nou in retrospek dat dit 'n goeie ses, sewehonderd jaar gevat het voordat hierdie profesieë in vervulling gegaan het. Baie, baie eeue sou dus verloop.
In Han 15 lees ons van die byeenkoms van die apostels. Ons praat daarvan as die apostel-konvent of die apostoliese sinode. Hulle was bymekaar omdat daar 'n kwelling was oor die baie sogenaamde heidene of nie-Jode, Romeine en Grieke, wat tot bekering gekom het en wat die kerk binne gestroom het. Daar was mense wat van Jerusalem af gekom en gepreek het dat hierdie mense hulle moes laat besny, ens. Paulus en van sy medewerkers gaan dan Jerusalem toe en gaan sê vir die apostels daar: Nou moet ons hierdie saak deurpraat. Na 'n uitvoerige bespreking staan Jakobus, die broer van ons Here Jesus wat op daardie stadium die voorganger van die gemeente in Jerusalem was, uiteindelik op en sê vir die mense: Broers en susters, (om dit in ons eie omgangstaal te stel) wat ons in ons dag beleef, is die vervulling van wat Amos geprofeteer het. Dan haal hy Amo 9:11-12 aan en hy sê: Onthou julle dat die Here God gesê het: "Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig".
Dis wat nou aan die gebeur is. Die Nuwe Testament sê dus by monde van Jakobus vir ons: Die vervulling van hierdie woorde, of dan die begin van die vervulling, het plaasgevind met die koms van Jesus Christus na hierdie wêreld toe. Dit was dus Jesus Christus, die seun van Dawid, se taak om hierdie profesie te laat realiseer. Ons is nou midde in die realisering van hierdie profesie, die uitwerk daarvan.
As ons oë het om te sien, dan sien en beleef ons dit in ons en ons sien dit in mekaar. Dan kyk ons na die uiteindes van die wêreld en ons sien hoe hierdie profesie in ons dag in vervulling gaan. In 'n baie besondere sin in ons dag, want nooit ooit het die kerk so gegroei soos in die twintigste eeu wêreldwyd nie. Miskien is baie van die syfers en statistieke wat ons nou kry, opgeblase. Soveel mense wat vandag oor die wêreld Christene word, word nie werklik Christene nie, omdat daar dikwels so ' n goedkoop evangelie verkondig word. Maar die feit bly staan, nog nooit het die kerk, wat getalle betref, so 'n groei beleef soos in die twintigste eeu nie. Dink maar net aan China. Ek dink ons kan aanvaar dat die kerkgroei in China in groot mate eg is, vanweë die vervolging daar. Niemand weet hoeveel miljoen Christene daar is nie. Tien jaar terug is daar al gesê daar is vyftig miljoen. Vandag skat ander dit op 'n honderd miljoen. Ons praat dus van 5 tot 10 persent van China se bevolking. Dink jou net vir 'n oomblik in: Vyftig miljoen Christene wat tot nou toe onder felle vervolging gelewe het en werklik in getrouheid die Here dien en volg! Ons beleef dit dus in ons dag. As ons dan deur hierdie verse werk, kom ons beleef die opwinding en die avontuur, ek wil amper sê die romanse hiervan!
Hy sê in daardie dag sal Hy die hut van Dawid weer opbou. Die "hut van Dawid" dui op die huis, die dinastie van Dawid, soos ons in Engels praat van "the House of Windsor", dit wil sê die Engelse koningshuis of die huis van Habsburg. Dit is dus Dawid se dinastie waarvan hier gepraat word. Die profete in die Ou Testament het dikwels onder inspirasie van die Heilige Gees vooruit getuur in die lig van die glorierykste tydperke in die geskiedenis van Israel. Baie dikwels het hulle vooruit "gedroom", as 't ware, oor die herstel van die Dawidiese glorie. Die regerings van Dawid en Salomo was die glorierykste tydvak in die ganse geskiedenis van die Ou Testamentiese verbondsvolk. Uit die geskiedenis weet ons hoe wonderlik die tempeldiens was. Daar was kore en orkeste en die Here God is elke dag geloof, by die tabernakel in Dawid se tyd en later by die tempel. Tydens Salomo se bewind is die grense uitgestoot, verder as wat dit ooit tevore of ooit weer daarna was. Daar was welvaart in die land en dit het baie, baie goed gegaan. In die lig hiervan kyk die profete dan vooruit en sê: As dit tog maar weer só sal gaan, só sal wees.
Nou sê Amos hier: In daardie dag sal die hut of die huis van Dawid weer opgebou word. Van die ander profete, soos Jesaja en Esegiël, dink ook in terme van die herstel van die huis van Dawid (Jes 16:5, Ese 34:23,24, 37:24). Dit kom dus meermale in die Ou Testament na vore. Die dele waar daar so vooruit gekyk word na die herstel van die heerlikheid van die Dawidiese tyd, lewer dan ook van die mooiste en aangrypendste Messiaanse profesieë in die Ou Testament op. Maar let op, hy sê: "Ek sal die vervalle hut van Dawid weer opbou". Die NIV lees: "The fallen tent". As 'n mens 'n bietjie daaroor nadink, is dit aangrypend dat die verval van die Dawidiese hut begin het met Dawid se sonde. Dit het begin toe Dawid een middag op die dak van sy paleis rondgeloop en 'n mooi vrou gesien het. As jy nou na die openbaringsgeskiedenis kyk, dan sien jy dat die Here vir Dawid gesê het: Hierdie is die eerste kraak. In Dawid se lewe het hy dan ook 'n duur prys daarvoor betaal. Vier van sy kinders is dood, ensovoorts. Die eerste krake in die verbondsvolk, in hierdie koninkryk, het reeds na vore gekom.
Maar weens die Here se goedheid het dit nie in Dawid se lewe plaasgevind nie. Die Here het vir Dawid 'n seun, Salomo, gegee. Hy het aanvanklik op 'n baie uitmuntende manier regeer, maar hy het self op sy beurt in liederlike sonde verval omdat hy te veel vrouens en rykdom en mag gehad het. Hy begin dan uiteindelik afgode dien. (Ek is daarvan oortuig dat Salomo reg teen die einde van sy lewe tot bekering gekom en toe die boek Prediker geskryf het, maar dis nie nou ter sake nie.) Die Here het vir Salomo gesê: Omdat jy so gesondig het, sal die ryk skeur. Maar ter wille van my beloftes aan jou vader Dawid, sal dit nie in jou leeftyd gebeur nie, maar in die leeftyd van jou seun. Salomo is dan ook skaars dood, of die verbondsvolk skeur in twee, die suidelike tweestammeryk en die noordelike tienstammeryk, waar Amos jare later sou profeteer. Dit lei dan tot ballingskap, eers die Assiriese ballingskap vir die noordelike tienstammeryk en daarna die Babiloniese ballingskap vir die suidelike tweestammeryk. Uiteindelik word Israel, die huis van Dawid, verstrooi tussen die nasies en dit lyk asof daar niks van oorbly nie. Na sewentig jaar kom daar egter 'n oorblyfseltjie uit die Babiloniese ballingskap terug en hulle gaan dan voort.
Maar in die tyd van Jesus is die verbondsvolk nog steeds onder die hiel van die Romeine en gaan dit met hulle, polities gesproke, maar treurig. Die ergste was die geestelike verval. Amos het vir ons geskets hoe dit in die tienstammeryk gegaan het. In die suidelike tweestammeryk het dit darem beter gegaan, maar na die ballingskap is die oorgrote meerderheid van die volk ook maar opgesuig deur die valse godsdienste om hulle. In die tyd van Jesus is die verbondsvolk onder die heerskappy van die godsdienstige leiers, die Fariseërs, met hulle trots, hulle wettisisme en eiegeregtigheid aan die een kant en die Sadduseërs met hulle ongeloof en wêreldgelykvormigheid aan die ander. Dit gaan dus maar treurig. Dit is hoekom die Here hier van die vervalle hut praat. Die dinastie van Dawid het inderdaad verskriklik verbrokkel en gedisintegreer. Dit het gelyk asof daar uiteindelik niks van oor was nie. Hy gebruik vier werkwoorde in die Hebreeus om hierdie herstel of restourasie te beskryf. Ek gaan nou nie daarop in nie, maar dis almal werkwoorde wat dui op restourasie, herstel en oprigting. Die eerste een is "oprig"; verder sal Hy sy skeure "toebou", sy puinhope "herstel" en dit "opbou". Alles dui dus op herstel, en dit gaan in die laaste dae gebeur.
Soos ons gesien het, is die profesie in die Nuwe Testament vervul. Daarom moet ons verstaan dat die prediking van Johannes die Doper so geweldig betekenisvol was. Hier kom Johannes die Doper eeue na hierdie profesie, en hy roep die volk op: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom" En die Jode het verstaan dat Johannes die Doper onder andere van die vervulling van verse soos hierdie gepraat het. Daarom kan ons verstaan waarom daar geweldige opwinding in Israel was. Vandaar die Nuwe Testament se beskrywing dat mense van oor die hele Israel afgestroom het na die Jordaan toe om te hoor wat Johannes preek. Hulle was tot só 'n mate daar dat een van die verse in die Nuwe Testament sê die héle Israel was daar. Die mense het in hulle duisendtalle afgetrek soontoe. Hulle het dagreise ver geloop en uiteindelik is dié van hulle wat hulle bekeer en hulle sondes bely het, deur hom gedoop. Hulle het met opgewonde afwagting die koms van die koninkryk en die vervulling van hierdie beloftes begroet. Mens kan jou indink dat hulle baie dae seker verstom was en gesê het: Kan dit wees, dat ons na al die gewag, na al die eeue, die geslag is in wie se leeftyd dit gaan plaasvind? Want natuurlik, Johannes die Doper se bediening is ook in die Ou Testament geprofeteer. En as die Here Jesus begin preek, bring Hy volgens Mrk 1:15, presies dieselfde boodskap as Johannes die Doper: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. En die apostels gaan voort: Bekeer julle, kom tot die geloof, glo die evangelie.
So het die kerk begin uitbrei en hulle opvolgers het in die eeue daarna dieselfde boodskap gehad. Is dit nie merkwaardig dat ons, mense van die twintigste eeu wat met Pentium rekenaars werk, ruimtetuie opstuur en deur mikroskope diep in die mikrokosmos inkyk, nog steeds dieselfde boodskap het: Bekeer julle en glo die evangelie. En hierdie twintigste eeu, die eeu van geweldige tegnologiese en wetenskaplike ontploffing, is dan ook die eeu van miljoene en miljoene nuwe gelowiges.
As ons nou kyk na vers 12, dan skets hy vir ons 'n universele prentjie, soos hierbo genoem is. Dit is te verwagte, as 'n mens dink aan die belofte wat al aan Eva, die moeder van die mensheid, gemaak is. Die Here God sê vir haar: jou saad sal die kop van die slang verbrysel. Dis per implikasie 'n universele belofte en hierdie universele belofte word natuurlik mooi uitgespel as die Here God met Abraham, die vader van die gelowiges praat. Hy sê: Ek sal jou seën en jou tot 'n seën maak vir die nasies, vir baie. Daar sit dus al van vroeg af in die Ou Testament die universele komponent, maar hier kom dit pragtig na vore. Hy praat hier van Edom. Edom was 'n heidense nasie en was in die Ou Testament simbolies van die goddelose, wêreldse weerstand teen die koninkryk van God. Maar hier word gesê dat Edom in besit geneem sal word. Hier word ook 'n intense oorlog gesuggereer. Die uitdrukking "om in besit te neem" is militêre taal, jy neem 'n stad in besit. Verder is hier ook sprake van die oorblyfsel van Edom, wat impliseer dat 'n groot menigte uit Edom in hierdie oorlog gaan sneuwel. Daar sal bloot 'n oorblyfsel oorbly, maar daar sál 'n oorblyfsel wees. Dit gaan hier nie net oor Edom nie, maar Edom staan vir die weerstand van die heidennasies, die goddelose wêreldstelsel teen die heerskappy van Jahweh, van God. Daar sal dus 'n oorblyfsel uit al hierdie nasies kom.
Ons moet nou nie dink in terme van 'n bepaalde oorlog nie, dis 'n voortgaande oorlog, soos wat die koninkryk van God voortgaan, met sekerlik 'n finale oorlog. Maar na die oorlog is daar sprake van 'n erfenis en innige gemeenskap. Hy sê: "en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is". As die Here God hierdie uitdrukking "my Naam word uitgeroep oor" gebruik, dan dui dit bv. op die erfenis van 'n bruid. Jes 4:1 praat van die Here God wat sy Naam oor sy bruid uitroep. Die bruid kry sy Naam, sy word sy bruid, sy kry hierdie bruidsvoorregte. Hulle word een, daar is gemeenskap tussen hulle, wat Syne is word hare, ensovoorts. In Gen 48 word gesê dat die vader wat seuns aanneem, se naam oor hulle uitgeroep word. Hulle kry sy naam en word sy erfgename, met alles wat dit impliseer. Dit dui ook op die Here se identifisering. Daar staan bv. in 1Kon 8 dat die Here God sy Naam uitgeroep het oor die tempel en daarmee gesê het: Ek identifiseer My met hierdie tempel, dit is nou my huis hierdie.
Oor hierdie oorblyfsels wat uit die nasies uitkom, sal die Naam van die Here uitgeroep word. Dit dui dus op hulle heerlike erfenis en innige gemeenskap met Hom. Dit is presies waarom Jakobus hierdie verse aangehaal het om vir die mense van sy tyd te sê: Wat nou gebeur met hierdie klomp heidene wat tot bekering kom, is presies die vervulling hiervan. Die heidene is ook van nou af deel van die koninkryk van die hemele. Die sendinguitreiking van die kerk deur die eeue impliseer dit natuurlik ook.
Ons ken dit mos. Jy kan dit verpersoonlik. Hoeveel van ons kan nie onthou van die tyd van weerstand, toe die Heilige Gees met my gewerk het nie? Toe, as ek dit in respek so kan uitdruk, die bloedhond van God my agtervolg het nie? Hoe ek gevlug het, hoe ek benoud was, hoe ek nie my knieë en my stywe nek wou buig nie, maar hoe ek uiteindelik platgetrek is. En hoe Hy daarna my oë opgetel het en my Christus die gekruisigde gewys het. En van daardie dag af is my hart sag en gewillig om die Here te dien en leef ek in vrede en in gemeenskap met die Here. Dit is 'n tipiese ervaring deur die eeue. 'n Tyd van weerstand en felle stryd terwyl die Heilige Gees my oorrompel en dan uiteindelik die totale oorgawe, innige gemeenskap en liefdevolle toewyding. Elkeen van ons ervaar dit natuurlik verskillend, party meer en party minder dramaties. Waaroor dit uiteindelik gaan is dat ek kan sê die Here se Naam is oor my uitgeroep! Ek behoort aan Hom!
By vers 13 begin die tweede gedeelte van hierdie vyf verse. Ons kyk na die ervaring van die burgers van die koninkryk. Die nuwe vertaling sê: "Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat daar direk na die oes geploeg sal word en dat daar direk na die saaityd gepars sal word." Wat Hy hierop sinspeel, is dat daar so 'n oorvloedige oes is dat die mense wat die oes moet inbring nog besig is daarmee wanneer dit al weer tyd is om te ploeg. Dit dui dus op geweldige oorvloed, en dit dui ook op aanhoudende werk. Sommige boere in ons land wat met sekere gewasse boer, weet 'n sekere drie weke of maand of twee van die jaar is die "slaptyd". Dan kan hulle met vakansie gaan, want dan gebeur daar nie veel nie, dan lê die lande en wag, ensovoorts. Maar hier word 'n prentjie geskets waarin daar net eenvoudig aanhoudend gewerk word, want die Here se seën is so oorvloedig dat die oes nie betyds ingebring kan word nie, dat daar geen blaaskans is nie.
Een so 'n mens was 'n man met die naam Waldo wat in die elfde eeu geleef het. Hy was 'n ryk sakeman en toe hy tot bekering gekom het, wou hy die Woord lees. Hy het net 'n verskriklike honger vir die Woord gehad, maar kon nie Latyn lees nie en is toe na die priesters toe. Een van die priesters het toe eenvoudig met die Latynse Bybel, die Vulgaat, gesit en sommer so uit die vuis uit vertaal, terwyl die ander alles neerskryf! So het ou Waldo stukke van die evangelies in die hande gekry en hy kon net nie genoeg kry nie. Hy het hulle 'n lewe gely om vir hom nog te vertaal. En die oomblik toe hy genoeg bymekaar het, begin hy preek. Hy was 'n baie ryk sakeman. Sy vrou was onbekeerd en hy het toe na haar toe gegaan en gesê: Nou maar goed, jy kan kies, óf jy kry die paleis óf jy kry die besigheid. Hy het groot besigheidsbelange gehad in die noorde van Spanje. Sy het natuurlik die paleis verkies. Hy verkoop toe die besighede en deel al die geld uit onder die armes. En soos wat hy dit gehad het, het hy die evangelie verkondig. Mettertyd het hulle die Waldensiërs geword en is hulle natuurlik kwaai vervolg. Dus, selfs 'n man soos Waldo wat net swak vertaalde stukkies van die Nuwe Testament gehad het, het net een hartstog gehad toe hy tot bekering gekom het. Hy wou die evangelie uitdra.
En so was dit deur al die eeue heen. Die Heilige Gees sorg daarvoor. Die oes is so oorvloedig, daar is geen blaaskans nie. "Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle." In Jhn 4 word Jesus se gesprek met die vrou by die put beskryf. Sy dissipels sê Hy moet iets eet nadat Hy die vrou tot die geloof gelei het. Dan sê Hy: "Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie" en "My voedsel is om die wil te doen van Hom wat my gestuur het". Hy sê dus daar is iets in sy lewe wat baie belangriker is as kos en dit is die werk van sy Vader. Vanuit die konteks is dit die verkondiging van die evangelie. Dan praat Hy ook in terme van die oes en Hy sê die saaier en die maaier sal saam bly wees _ en is dit nie so nie? Ons het elkeen verskillende take en opdragte en funksies in die uitdra van die evangelie, maar almal van ons het groot blydskap as mense tot bekering kom.
Voorts sê hy in vers 13 dat die berge van mos sal drup. Die nuwe vertaling praat van druiwesap, die NIV van "new wine". Mos is die eerste fase van die ontwikkeling van wyn. Mos het al so 'n bietjie gegis, dit is so lekker dik, soos boontjiesop, en soet. Mos dui dus op oorvloed, dis die eerste tekens van die wyn, en die berge sal van die mos drup. Een kommentaar sê: "the mountains will ooze". Daar is dus oorvloed en die heuwels, sê die nuwe vertaling, sal deurnat wees. Dit dui op die Here se oorvloedige seën, maar meer is sekerlik ook hier ter sprake, want dit gaan ook oor die harmonie tussen die mens en sy omgewing en besonderlik dan die skepping.
In die bekende Rom 8 praat die Here oor die skepping wat geborstrok, gefrustreer is. Die skepping kan net nie by sy doel uitkom nie en daarom staan hy op sy tone in afwagting dat die seuns of kinders van God geopenbaar sal word. Hy weet wanneer dié tyd aanbreek, sal hy ook bevry word. Moontlik sinspeel hierdie profesie dan ook op daardie heerlike bevryding van ons woonplek, die skepping, die kosmos, wat eendag sal plaasvind. Want sien, die Here Jesus Christus was nie net die tweede Dawid nie, maar Hy was ook die laaste Adam. Wat dus miskien net hier vir ons geskets word, is die opheffing van die vloek wat gevolg het na die sondeval en die herstel van Eden. Vir my is dit 'n baie groot stuk troos en 'n verwagting en 'n verlange dat ons in 'n Eden sal lewe, 'n woonplek sal hê heerliker as die tuin van Eden destyds. Want die tuin van Eden was nog voorlopig, terwyl die proefgebod nog gegeld het.
In Openbaring word die heerlikhede van ons woonplek vir ons in simboliese taal geskets. Dit is waarheen ons op pad is. Ons gaan nie net engeltjies wees wat harpe op wolkies speel in liggaamlose toestand nie. Daar gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wees. Baie glo daar sal diere ook wees, veral honde. Dames wat honde verloor het, wys graag daarop dat die Here in Jna 4 gesê het dat Hy selfs begaan is oor die diere. Daar was diere in die tuin van Eden en miskien, as ons kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor die leeu en die lam en die baba wat by die adder speel - hoe letterlik dit is weet ons nie - gaan daar diere wees.
Hoe dit ook al sy, daar sal harmonie en vreugde en volheid wees, onbeskryflik. Die Nuwe Testament sê geen oog het gesien, geen oor het gehoor en geen verstand het bedink wat die Here God vir sy geliefdes berei het nie. Daarheen is ons op pad en die feit bly net staan, ons het nie hier net te doen met 'n dronk profeet se drome nie. Ons sien die vervulling in ons dag. Na al die eeue sien ons dit en ons weet die evangelie is onstuitbaar.
Aan die een kant is ons bekommerd oor die verval, aan die anderkant weet ons niks, ja niks, niemand, ja niemand kan die voortgang van die koninkryk van die hemele stop nie - en ons het deel daaraan! En die omvang wat dit in ons dae aanneem, dui vir ons daarop dat dinge na 'n punt toe loop. Dit is nie te sê dit sal nou binne 'n jaar of twee gebeur nie, dit kan nog 'n honderd of twee honderd jaar of meer wees, maar alles dui daarop dat daar 'n definitiewe verintensivering van alles in hierdie eeu is. Dié teken van die tye, volgens Mat 24:14, is dat hierdie evangelie van die koninkryk verkondig sal word as 'n getuienis vir al die nasies en dán sal die einde kom. En ons weet dat byna al die nasies al gehoor het. Daar is nog baie uitstaande, maar daar is 'n geweldige, soos hulle in Engels sê, "thrust forward" en ons sien en beleef dit in ons dag. Die tegnologie, ironies genoeg, maak dit ook moontlik dat ons baie vinniger sal uitreik as in die verlede.
Hier word 'n prentjie geskets van harde, moeitevolle arbeid wat op niks uitloop nie. Dis frustrasie op frustrasie, dit kom tot niks nie. Die mense soek sekuriteit, hulle bou vir hulle huise, maar dit lei tot teleurstelling, hulle woon nooit daarin nie. Hulle soek bevrediging, want hulle plant vir hulle wingerde, maar wat gebeur? Frustrasie, op frustrasie! Frustrasie is om vir jouself 'n doel te stel en om 'n bepaalde roeping of ambisie te hê en jy kan net nie daarby kom nie. Maar, as ons nou teruggaan na Amo 9 toe, word die teenoorgestelde geskets. "Ek sal die lot van my volk Israel verander: hulle sal die verlate stede herbou en bewoon, hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink, hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet." Heerlike vervulling, dis wat hier geskets word. Die dae van frustrasie is dus verby, die dae van vervulling en vreugde en sekuriteit het aangebreek.
Vers 15 sê vir ons dat hierdie mense wat deel sal hê aan hierdie erfenis, hierdie oorblyfsel uit die nasies oor wie die Here se Naam uitgeroep is, hulle erfenis sal 'n onvervreembare erfenis wees. Dit sal 'n ewige toestand wees. Waarom? Volgens Amos, trouens die hele ou testament, verloor 'n mens sy erfenis sonder uitsondering vanweë sonde. Jy verbeur jou erfenis omdat jy sondig, maar die toestand wat hier geskets word, is 'n toestand waarin sonde nie meer sal bestaan nie. Ons sal nie meer in staat wees om te sondig nie. Voor die sondeval kon Adam nog sondig, maar na ons heerlikmaking sal ons nie meer in staat wees om te sondig nie. En daarom sal ons erfenis onvervreembaar wees, dit sal nie bedreig word nie. Ons erfenis sal eenvoudig vir alle ewigheid vasstaan. Dit is wat hier vir ons geskets word.
Vers 15 sê egter: Maar julle sal nou wel sê die belofte is een ding, maar wat van die vervulling daarvan? Waar is die waarborg dat ons dit sal beleef? Die verwerkliking is iets anders. Is verse 11-14 nie te idealisties nie? Dan sê vers 15 vir ons: Nee, nee, want hierdie is die belofte van die Here God. Hy sê: "die land wat Ek hulle gegee het, sê die Here jou God." Ons kry dit al in vers 12: Dis die Here wat dit doen. Let op, hy sê ook: Dis die Here jóú God. Hoekom is Hy hierdie begenadigde mense se God? Omdat hulle Hom aangeneem het? Ja, vir seker, hulle het Hom aangeneem, hulle het Hom omhels en daarom kan hulle sê: Hy is ons God. En ek en jy, omdat ons Christus aangeneem het, kan sê: Hy is ons Verlosser. Maar ons weet vanuit die hele Bybelse perspektief dat hier iets baie dieper agter lê. Ek het Hom aangeneem en Hy is dus die Here my God omdat Hy my in die eerste instansie aangeneem het. En soos wat ons as individue en as gemeente hierdie waarhede toenemend leer ken en ontdek het die afgelope jare al, sal julle onthou tot watter mate dit bygedra het tot ons sekuriteit, is dit nie? Ja, ek het die Here aangeneem, maar wonder bo wonder, ek het Hom aangeneem omdat Hy my aangeneem het en daarin sit ons sekuriteit. En dis wat Hy hier wil sê. Hy is die Here ons God omdat Hy inisiatief geneem het, omdat Hy sy Naam oor ons uitgeroep het!
In Num 23:19 lees ons: "God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?" Dit is wat hierdie laaste vers van Amos ons op die hart wil druk. Die Here ons God het dit belowe en Hy self sal dit waar maak! Niks sal ons uit sy hand uitruk nie, niks kan verander nie. Dis ons toekoms en dis die waarborg. Maar, kan ek weet dit is my waarborg? Ja, ek kan weet. Die Nuwe Testament noem die Heilige Gees God se waarborg, God se eerstelinggawe, God se pand. As ek dus vanaand die Heilige Gees het, as Hy in my lewe woon en werksaam is, kan ek weet ek het die belofte van God, die pand, ontvang. Dié wis en sekere sekuriteit het ek.
Hoe weet ek of die Heilige Gees in my werk? Wel, Jesus het gesê die Gees sou kom om Hom te verheerlik. Die Heilige Gees se teenwoordigheid en werk in 'n Christen se lewe word in die eerste instansie hierin geken: Deur 'n Christus-gesentreerdheid, want die Heilige Gees verheerlik Christus daarin dat ek my eie bankrotskap besef, maar dat ek dan ook in Christus my Verlosser sien. As dit dus nou die werklikheid in jou lewe is, dat jy weet dat Christus die Een en die Al van jou lewe is, kan jy weet jy het die belofte, die pand ontvang. Dan kan jy weet dat hierdie belofte van Amo 9 ook jou belofte is en dat die Here sy Naam oor jou uitgeroep het; dat dít jou heerlike toekoms is, saam met al jou broers en susters.
Amos wil dus hier vir ons 'n ewigheidsperspektief en 'n universele perspektief gee, sodat ons sal verstaan dat die Here God, die afstammeling van Dawid, die groot Koning, 'n magtige Koning is wat oor al die eeue heers en vir Hom 'n oorblyfsel uit elke nasie, stam, volk en taal sal uittel. Is dit nie wonderlik dat jy mense uit ander lande kan ontmoet en onmiddellik is julle harte bymekaar, want die Here het dáár dieselfde werk gedoen as hier. En dis nou nie vir ons moontlik om met mense te gesels uit 'n vorige eeu nie, maar ek vermoed dit sou ook so wees. As George Whitefield of Jonathan Edwards vanaand hier sou opdaag, sou ons oneindig lank met hulle kon kuier en dieselfde goed ervaar. Is dit spekulasie? Wel, gaan lees hulle boeke. Die Here het dieselfde dinge in hulle lewens gedoen en ja, ons het 'n ewige Here en 'n universele Koning!
Dit is dan die laaste woorde van Amos aan ons om ons te bemoedig. |