Die Boodskap van Amos - 16
Amos 9:1-10
Koringkorrels val nie op die Grond nie
Nico van der Walt
Kom ons lees Amo 9:1-10. Die grootste gedeelte van dit wat ons gaan lees, is oordeelsprofesie, maar bevat wel 'n stukkie lig waarmee ons gaan werk. Ek lees die ou vertaling. (Lees). Reeds vanaf hoofstuk 7 handel die boek Amos oor gesigte wat die profeet sien C anders as die vorige hoofstukke. Hier in hoofstuk 9 sien hy 'n gesig van die Here wat by die altaar staan en die oordeel oor die volk uitspreek en beklemtoon: Nie een sal ontsnap nie, die hele volk gaan uitgedelg word. In vers 2 sê Hy sy oordele sal hulle bereik, selfs al soek hulle 'n bo-natuurlike skuilplek, al sak hulle af in die doderyk, die woonplek van die dood, of al klim hulle op na die hemel, die woonplek van God. Hulle sal nie kan ontvlug nie. Hulle sal ook geen natuurlike skuilplek kan kry nie want, sê die Here in vers 3, sy oordeel sal hulle bykom, al kruip hulle weg op die top van Karmel en al skuil hulle onder op die bodem van die see sal Hy 'n slang ontbied om hulle daar te byt. In vers 4 sê Hy daar is ook geen politieke ontvlugting nie, want al word hulle in ballingskap verstrooi onder die nasies, sal sy oordeel oor hulle kom. Ons het dus hier te doen met 'n oordeelsprofesie wat op die volledige uitwissing van Israel dui. Dit is ook geen ydele dreigement nie, want in vers 5 sê die Here dit is die Here HERE van die leërskare wat hierdie dinge sê. Hy sê daar letterlik: Adonai Jahweh Sebaot. Adonai is die Skeppergod, die soewereine, die een wat alles gemaak het en in sy hoedanigheid as die Skepper van alles ook die soewereine eienaar van alles is. En as Hy sê Hy is die Here HERE, dan sê Hy "Jahweh" C dit is sy verbondsnaam. Hy herinner hulle hier dat Hy nie net 'n Verbondsgod is wat omsien na sy verbondsvolk nie, hulle beskerm en oppas nie, maar dat daar ook so iets soos die wraak van die verbond is. In die hele boek Amos is dit baie prominent dat die wraak van die verbond hier intree en hierdie volk gaan vernietig soos wat God hulle al in die woestyn gewaarsku het. Die verbond is 'n tweesydige saak. As Hy sê: "Adonai Jahweh Sebaot," dan is Sebaot die Here van die leërskare, die almagtige Een, die Een wat alle mag tot sy beskikking het. Nou wil ek terugkeer na die gesig wat hy in hoofstuk 9:1 gesien het: Die Here wat by die altaar staan. Dit is nie heeltemal duidelik hoe ons dit moet verstaan nie. Hoekom sê die gesig die Here staan by die altaar? Heel moontlik sinspeel dit op 'n gebeurtenis in die godsdienstige geskiedenis van Israel. So 180 jaar vantevore, weet ons nou al uit ons bespreking van die eerste hoofstukke van Amos, het Jerobeam I die noordelike stamme afgeskeur en hulle sodoende losgemaak van die godsdiens in Jerusalem en die diens van Jahweh, die Verbondsgod. Die mense het tog nog steeds afgegaan na die suide, na Jerusalem toe, om daar te gaan aanbid. Jerobeam, as politikus, het geweet dit gaan fataal wees. Een of ander tyd gaan die mense as die emosies gesak het, weer begin sentimenteel raak oor Dawid, sy stad en sy godsdiens en hulle gaan begin terugsyfer na die suide toe. Dit sou natuurlik sy, Jerobeam, se einde wees. Hy het dus besef hy moet iets aan hierdie saak doen. Gevolglik C so lees ons in 1Kon 12 C het hy altare opgerig by Bet-el en Dan asook onder andere goue kalwers en gesê die volk kan van nou af daar aanbid. Hierdie handeling van Jerobeam I staan dan ook in latere Bybelse geskiedenis bekend as die sonde van Jerobeam, maar dit was meer as net dat hy hierdie plekke van aanbidding daargestel het en dat hy die godsdiens misbruik het vir politieke en eie, selfsugtige gewin. Ons lees in 1Kon 12 'n baie interessante stukkie geskiedenis oor hoe hy 'n spesiale fees ingestel het. Verse 32 en 33 lui: "En Jerobeam het 'n fees gehou in die agste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Juda was, en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het. En hy het geklim op die altaar wat hy in Bet-el gemaak het, op die vyftiende dag in die agste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir die kinders van Israel 'n fees ingestel en op die altaar geklim om offerrook te laat opgaan." Ons sien dus hier dat hy ook hierdie fees daargestel het, maar dit word drie keer beklemtoon dat hy wat Jerobeam is, self op die altaar geklim en self geoffer het. Nou mag dit op die oog af nie so erg klink nie, maar as 'n mens die geskiedenis ken, verstaan jy dat dit 'n verskriklike sonde was wat hy gedoen het. Miskien is 'n vinnige verduideliking hier van pas: Die volk het na die tyd van die rigters na Samuel toe gekom en vir hom gesê hulle wil 'n koning hê. Samuel was baie ontsteld en hy het gaan bid oor die saak. Die Here het vir hom gesê: Dis nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir My. Tog het die Here hom aangesê om voort te gaan en het vir Saul aangewys om as koning gesalf te word. Hoekom? Soos reeds gesê, het 'n teokrasie ingehou dat die Here God self regeer. Hy het egter destyds al middellik gewerk, net soos vandag, en daarom het Hy deur profete, priesters en konings gewerk. Die profete moes sy Woord aan die volk bemiddel, om dit so uit te druk, sy Woord aan die volk bedien. Die priesters moes namens die volk voor Hom gaan staan en die konings moes dan sy regering in die midde van die volk bemiddel. Daar was dus hierdie drie ampte, maar hulle moes hulleself net sien as die instrumente van die Here. Die Here het regeer, teokraties, maar Hy gebruik instrumente. Kyk ons na Dawid se geskiedenis, sien ons dat toe die ark in Jerusalem ingekom het, Dawid saam met die gewone mense gedans het (1Sam 6). Saam met die diensmeisies en die gewone, die nederigste van die mense, het hy gedans en hy het nie sy ampskleed aangehad nie. Die ou vertaling sê hy het nakend gedans, maar dit bedoel eintlik hy het maar met sy gewone klere gedans C ons sou vandag sê: Met sy T-hemp en sy voetbalbroek, soos 'n mens in jou huis sou rondloop as daar nie mense is nie. Maar sy vrou Migal het dit bo uit die venster uit gesien en hom daarvoor verag. En die Here het haar geoordeel deur haar moederskoot te sluit. Wat was haar werklike sonde? Die voor die hand liggende was natuurlik haar hoogmoed, maar wat het God behaag in Dawid se optrede? Die feit dat hy gedans het? Nee, nie op sigself nie. Die feit dat hy bly was? Ja, dit was goed, maar wat God eintlik behaag het, is dat Dawid so nederig was en hierdie teokratiese beginsel so verstaan het dat hy tussen die volk gedans en homself nie verhef het nie. As 'n mens sou teruggaan na Deut 17 toe, is Moses baie eksplisiet daaroor dat die koning hom nie bo die volk sal verhef nie. As die koning nederig tussen die volk is, dan verstaan hy die Here God regeer en nie hyself nie. Hy is gewoon net instrument in God se hand. Maar Jerobeam verhef homself en hy offer, en dit is die dieptepunt van sy sonde. Daarom staan dit drie keer in hierdie twee verse dat hy na die altaar opgeklim het. Maar by 'n geleentheid toe hy weer geoffer het, het daar 'n profeet van God uit Juda by hom aangekom (1Kon 13). Dis nou lank voor Amos en hierdie profeet spreek die altaar aan en sê God gaan dit oordeel. Vorentoe gaan die valse profete se beendere op hierdie altaar verbrand word en as 'n teken gaan hierdie altaar uitmekaarbreek en sy stof op die grond val. Jerobeam vererg hom toe vir hierdie man wat uit die suide uit kom en hy sê vir sy wagte: Vang hom! En toe hy dit sê, toe word sy arm styf en terwyl hy so staan, breek die altaar uitmekaar en die stof val op die grond. Ons ken nie die profeet se naam nie, maar Jerobeam het uiteraard baie groot geskrik en hom gevra om vir hom te bid. Hy het dit gedoen en die koning se arm het weer gesond geword. Dit was dus die sonde van Jerobeam en nou kom staan die Here God by die altaar in Israel en spreek hierdie oordele uit. Dit is baie onseker hoe ons dit moet vertolk, maar een manier is dat Hy sê: Tot hier toe met hierdie eiesinnige godsdiens vir eie gewin en vir politieke gewin, tot hiertoe en nie verder nie. Van nou af word dit uitgedelg. Skud die pilare dat die dakke inmekaartuimel, ens. Dis die einde. Wat Hy dus hier sê, is: Dis klaar met hierdie valse, eiesinnige godsdiens. Waarskynlik het die noordelike tienstammeryk hulleself gedurig wysgemaak dat hulle met ware godsdiens besig is. Ons kan dit begryp. 'n Mens kan baie maklik besig wees met uiterlike rituele wat nóg volgens die voorskrifte van die Here is, nóg uit jou hart kom, en jouself tog selfvoldaan wys maak dat dit goed en reg is. Die Here sal jou geen kwaad aandoen nie, dit sal met jou net goed gaan. En dit is waarskynlik wat hier gebeur het. Hier was dus 'n valse godsdienstige selfvoldaanheid en kyk ons na vers 7a, het hulle hulleself waarskynlik wysgemaak: Wel, ons is kinders van Israel. Deur oorerwing het ons deel aan die beloftes aan Jakob. Maar die Here sê vir hulle: Julle is niks beter as die kinders van Kus nie. Kus was maar 'n ander woord vir Ethiopië gewees en hulle het destyds deurgegaan as absolute heidene. Hulle was veragte mense. Benewens hierdie valse godsdiens het die tienstammeryk hulle tot op hierdie stadium beroep op die feit dat die Here hulle uit Egipte gebring het. Dis die implikasie van vers 7b. Maar dan sê Hy vir hulle: Julle probleem is dat julle lankal die doel waarom Ek julle uit Egipte gebring het, vergeet het. Trouens, julle vertrap dit onder julle voete, julle minag dit. Julle is eenvoudig nie meer my verbondsvolk nie en van nou af is julle soos enige ander nasie. Dan noem Hy die nasies in vers 7b. Hy sê: Ek het die Filistyne ook uit Kaftor uitgebring en die Arameërs uit Kir. Wat maak julle nou so besonders? Die feit dat julle uitgebring is uit Egipte, waarborg op sigself niks vir julle nie. Dit was dat julle geroep was as my verbondsvolk en dat Ek vir julle 'n taak gehad het. Dis waarom dit gedraai het, maar dit het julle lankal oorboord gegooi, net soos al die ander heidenvolkere. Julle het geen verbondsvoorregte om op aanspraak te maak nie. Soos dit blyk in vers 8, het hulle waarskynlik vir mekaar gesê: Geen onheil sal ons tref nie want die oë van die Here is op ons. Maar, is die implikasie, hulle vergeet dat Hy ook die sonde sien! Daar is verskeie uitsprake in die Ou Testament waar daar gepraat word van die oë van Here wat op sy volk is en daarmee bedoel word dat dit is om hulle op te pas, te bewaar, te lei en te seën, maar terselfdertyd ook om hulle sonde te straf. En dít het hulle vergeet! Volgens vers 10 spreek Hy oordele uit oor diegene wat sê dat die onheil hulle nie sal bereik of oorval nie. Dan sê hy verder in vers 10: Maar julle, die swaard sal julle uitdelg. Wat ons dus hier sien, is die verskriklike gevaar van godsdienstige selfvoldaanheid en selfbedrog. Ons is die volk van die Here, niks sal met ons verkeerd gaan nie. In die sewe briewe in Openbaring word Laodicea aangespreek omdat hulle gesê het: "Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie." 'n Onheilige selfvoldaanheid. Dan sê die Here: Maar Ek sal julle uit my mond uitspuug. As ons openbaringshistories daarna kyk, word die finale en volkome vernietiging van die verbondsvolk eintlik hier geprofeteer, in elk geval van die noordelike tien stamme. Hulle word nou volledig as verbondsvolk vernietig. Dis waaroor dit gaan, maar ek het in die begin gesê hier is tog 'n ligstraal van hoop en ons kry dit in die tweede gedeelte van verse 8 en 9. Daar staan in vers 8b en 9: “… maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die Here. Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in 'n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie.” Hy sê eers: “Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie,” en dan gebruik Hy die beeld van 'n sif. 'n Sif is natuurlik 'n instrument waarmee mens skeiding bring. Jy skei die koring en die kaf. Ek is nie heeltemal seker hoe ons hierdie beeld in detail moet vertolk nie, maar as Hy sê daar gaan nie 'n koringkorrel op die grond val nie, dan bedoel Hy waarskynlik daarmee dat dit wat eg, wat nog waardevol en reg is, nie verlore sal gaan nie. As Hy sê Hy sal hulle tussen die nasies skud, dan sinspeel Hy op die ballingskap van die noordelike tienstammeryk wat op hande is en dié van die suidelike tweestammeryk wat 'n klompie dekades later sou plaasvind. Die hele geskiedenis is dus 'n suiweringsproses, 'n siftingsproses. Dit begin eintlik al aan die begin, by die kinders van Adam en Eva. Een offer was aanvaarbaar vir die Here, die ander is verwerp. Dan kry jy Noag, en Noag se seuns. Party loop die pad van die Here, ander word die voorsate van die heidenvolkere en uiteindelik dan kom daar weer verval. Later kry jy Abraham, net een man wat geroep word uit 'n heidenwêreld, en die Here gaan met hom aan, soos wat Hy met Noag aangegaan het. So kry ons dit nou weer hier, tien van die twaalf stamme val weg, daar bly twee oor. Maar, in die jaar 586 v.C., so 'n klompie dekades later, word ook Juda en Benjamin in ballingskap, die Babiloniese ballingskap onder Nebukadnesar, weggevoer. Na sewentig jaar het daarvan af 'n oorblyfsel teruggekom, 'n klein groepie mense wat dan voortgaan as verbondsvolk, as draers van die saad van die Messias. Dis dus 'n siftingsproses. Die profete het hierdie ding gesien, die Here het dit vir hulle gewys. Dit kom pragtig na vore in die bekende Jer 31 waar die Here deur die profeet vooruitkyk en sê daar gaan dae kom dat hierdie voortdurende vermenging en 'n oorblyfsel binne 'n groter geheel wat nie aan Hom behoort nie, verby sal wees. Dit staan in vers 33 (OAV): "Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees" C kyk na die verbondstaal C en in vers 34: "En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie." Jeremia kyk dus vooruit hier, en so ook Esegiël. Hulle kyk vooruit na 'n tyd dat hierdie vermenging van kaf en koring iets van die verlede sal wees. Daar is ook die verinniging van God se raadsplan. Hy sê: Ek gee my wet in hulle binneste. Hulle gaan My nie meer dien volgens uiterlike rituele nie, maar hulle gaan My vanuit hulle harte uit dien. Die hele saak gaan 'n hartsgodsdiens word. Dit gaan uit hulle binneste kom. Die ware godsdiens, as ons kyk na die ontwikkeling van God se raadsplan, skuif al hoe meer van 'n volksgodsdiens af na 'n gemeentelike en 'n individuele godsdiens toe. Die aksent skuif dus van die volk as volk van die Here na die gemeente as versameling van heiliges in wie se lewens hierdie dinge waar is wat Jeremia hier sê. Dit is die geleidelike ontwikkeling. Ons weet, as die Nuwe Testament aanbreek, dan kom Johannes die Doper en hy sê vir die mense: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom." En die mense het gekom en met belydenis van hulle sondes hulle laat doop. Dan kom die Fariseërs en die Skrifgeleerdes om hulle te laat doop, maar Hy sê nee, julle kan julle nie laat doop nie, want julle is nie bekeerde mense nie. Julle dink omdat julle kinders van Abraham is, kwalifiseer julle hiervoor, maar daardie dae is verby. Julle moet julle bekeer en julle sondes bely, dan kan julle gedoop word. Na aanleiding daarvan sê hy dan: "Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome," dus kom die Koning binnekort. Wanneer Hy kom, gaan Hy sy vrugteboord skoonmaak. Hy sê tot nou toe was Israel soos 'n vrugteboord waarin sekere bome vrug dra en ander nie, maar van nou af sal Hy die bome uitkap wat nie vrug dra nie. In sy vrugteboord sal van nou af net die bome oorbly wat vrug dra. Ons sien dit natuurlik ook in Handelinge. Met Johannes die Doper is daar nog iets van 'n vooruitkyk, maar in Han 2, op die dag van Pinkster, is dit nou finaal 'n realiteit. Wat Petrus dus in sy preek sê en wat die gebeure daar vir ons sê, is dat die Godsvolk nou uiteindelik tussen die nasies versprei is. Dit is hoegenaamd nie meer geïdentifiseer met 'n individuele politieke of nasionale grootheid nie, dit is nou versprei tussen die nasies. Dis hoekom hulle in tale praat C daar word 'n stuk of vyftien tale genoem. Van nou af sal die groot dade van God verkondig word in alle tale en deur alle nasies, volkere en stamme. Dit gaan nou hoegenaamd nie meer oor 'n nasionale koppeling of wat ook al nie. Kom ons kyk net vinnig terug na een van die klein profete, na Miga. Daar staan in Mig 2:12,13 (OAV): "Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die Here heeltemal vooraan." Hier is dus 'n belofte wat vooruitsien dat die oorblyfsel van Israel vergader sal word, hulle sal bymekaar gebring word soos skape in 'n kraal en dit sal dreun van die mense en voor hierdie kudde uit sal die deurbreker optrek. Vers 13 in die NIV stel dit pragtig: "One who breaks open the way will go up before them; they will break through the gate and go out. Their King will pass through before them, the LORD at their head." Die beeld wat hier gebruik word, is van skape wat gevange, ingehok was in 'n kraal. Waarskynlik dui dit op die kraal van sonde en van hulle slawerny.
Kom ons kyk dan ten slotte na 'n paar verse in Jhn 10 C van die goeie Herder en sy kudde. Maar let net weer hier op die persoonlike gemeenskap, die individuele verhouding met die Here. Ek beklemtoon die individuele. By gemeenskap bedoel ek hierdie innerlike opregtheid wat hier ook na vore kom, waaraan ons nou in die laaste gedeelte aandag gegee het. Hy sê byvoorbeeld in vers 14: "Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken." As 'n mens die hele gedeelte lees, is hier baie duidelik sprake van 'n baie definitiewe gedefinieerde groep mense, individue wat deur die Vader aan Hom gegee is. Hy sê Hy ken hulle. Maar meer nog, hulle ken Hom. Dan sê Hy: "Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie" (Hy bedoel aan die Joodse stal). "Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder." Kyk verder na verse 27-29. Hy sê: "My skape luister na my stem" C let op die persoonlike intieme verhouding C "en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie." Wat vanuit Amo 9 vir ons duidelik moet wees, is hoe die Here deur die eeue sy raadsplan laat ontwikkel het. Hoe daar 'n suiwering, 'n sifting plaasgevind het. Hy het begin met 'n klomp slawegespuis, om nou maar by die uittog uit Egipte te begin, 'n slawegespuis waarvan die meeste Hom glad nie geken het nie, nie die vaagste benul gehad het waaroor dit gaan nie. Die Nuwe Testament sê ook Hy het in die meeste van hulle geen welbehae gehad nie en hulle neergeslaan in die woestyn. So was daar 'n siftingsproses en het die oorblyfsel al hoe meer na die oppervlak gekom. Naderhand was dit net Juda en Benjamin. Hulle is weggevoer, en toe is dit net die klompie wat na sewentig jaar teruggekom het. En intussen kyk die profete vooruit en hulle sien daar gaan 'n tyd kom wanneer die oorblyfsel die enigste sal wees. Dit is dus die hele ontwikkelingsgang van die geskiedenis en ons moet dit respekteer, ook in gemeente-wees. Want dit is alleen teen hierdie agtergrond wat iets soos gemeentelike tug saak maak. Dit is belangrik dat die gemeente waarlik gemeente sal wees. Dis belangrik dat die gemeente nie allerhande wêreldgelykvormigheid en sondaars in sy midde sal akkommodeer nie. Hierdie hele ontwikkelingsgang van God se raadsplan moet ons respekteer, want ons leef in daardie tyd. En dit is hoekom ons so sterk staan op die hele beginsel van, om dit in Engels uit te druk, 'n "believers church." Daar is geen twyfel daaraan nie dat as die kerk in ons dag hierdie ding beter verstaan het, die Here se naam baie minder in oneer sou gekom het. |