Ons lees Amo 5:21-27. Dis nou die elfde keer dat ons na Amos kyk. Ons is al 'n week of twee, drie met Amos 5 besig, maar kom ons lees nou van Amo 5:21 tot aan die einde van die hoofstuk. Ek gaan vir ons die ou vertaling lees. Die Here God praat met Israel, die noordelike tienstammeryk, deur sy profeet, Amos, en Hy sê vir hulle: (Lees) Uit hierdie klompie verse moet ons nou vanaand die Woord van die Here haal. Dit is eintlik, as mens behoorlik daarna begin kyk, 'n aangrypende gedeelte.
Maar julle sal onthou dat die hele hoofstuk 5 eintlik vir ons die volk Israel skets wat oor en oor sê: ons behoort aan die Here! Baie godsdienstig! Dwarsdeur hierdie hoofstuk sien 'n mens dat die volk Israel baie godsdienstig was en 'n groot saak gemaak het van hulle godsdiensoefeninge. Dit het veral gegaan oor hulle drie besondere plekke van aanbidding, Bet-El, Berseba en Gilgal. Toe ons na verse 1-5 gekyk het, het ons moeite gedoen om bietjie in te gaan op die geskiedenis van hierdie drie plekke.
Ek het vir julle uitgewys dat Amos sy hele aanklag teen die volk in hoofstuk 5 op hierdie drie plekke baseer. Hy doen dit aan die hand van dit waarvoor die aanbiddingsplekke Bet-El, Berseba en Gilgal staan. Ons het al na Bet-El in verse 6-13 gekyk. In verse 14-20 bou hy sy aanklag rondom dit waarvoor Berseba staan. In verse 21 tot die einde van die hoofstuk sinspeel hy dan op dit waarvoor Gilgal staan.
Gilgal, net om julle geheues te verfris, was die plek waar Israel destyds met die uittog, direk na hulle deur die Jordaan getrek het om die beloofde land in besit te neem, laer opgeslaan het. Dis die plek waar hulle die monument gebou het. Julle sal onthou dat elkeen van die stamme 'n klip uit die rivier uitgehaal het en dat hulle 'n klipstapel as 'n monument by Gilgal gemaak het. Gilgal het dus gestaan vir die inbesitname van die land. Maar Gilgal was ook die basis vir Josua en sy troepe se inbesitname van Kanaän. Dus het Gilgal ook gestaan vir hulle segetogte C vir oorwinning en inbesitname.
Dit het dus 'n baie hoë profiel aanbiddingsplek geword in die geskiedenis van Israel en besonderlik natuurlik in die noordelike tienstammeryk. Die noordelike tienstammeryk het hulle eie aanbiddingsplekke daargestel en ontwikkel om die volk te verhoed om af te gaan Jerusalem toe. Dit was ná die skeuring in die verbondsvolk. Gilgal was dus baie prominent. Wat Amos in hierdie hoofstuk doen, is om vir die mense te wys dat al gaan hulle Bet-El, Berseba en Gilgal toe, is die beloftes en die heilswaarhede waarvoor hierdie plekke in hulle historiese verband staan, glad nie 'n realiteit in hulle lewens nie. Hulle sê: "Kyk net na hierdie plekke, dis ons erfenis," maar dit is 'n tevergeefse belydenis. Hy sê dus eintlik vir hulle hulle het geen grond om aanspraak te maak op die beloftes waarvoor hierdie plekke staan nie.
In hierdie gedeelte slinger die profeet as't ware 'n vraag teen Israel. Hy sê: Julle gaan aanbid by Gilgal en julle sê en julle róém daarin dat die Here God hierdie land vir julle gegee het en dat julle 'n oorwinnende volk onder sy seënende hand is. Die vraag wat ek aan julle stel, is: Is dit waar in julle lewens? En uiteindelik dan aan ons hierdie vraag: Ons wat sê dat ons aan die Here behoort, dat ons erfgename van 'n ewige erfenis is, dat die ewige Kanaän ons lewende hoop en ons sekere verwagting is - is dit inderdaad so? Want dit is moontlik om hierdie dinge te bely, dis moontlik om ongeneeslik godsdienstig te wees, terwyl jy jouself bluf en al jou godsdiensoefening futiel, tevergeefs is en jy uiteindelik alles mis. Jy mis jou ewige Kanaän, jou ewige erfenis.
GODSDIENSTIGHEID - AD NAUSEAM
Kom ons kyk nou nader na hierdie gedeelte. As 'n mens na verse 21-23 kyk, dan sal julle sien hier word 'n magdom godsdiens beskryf. Kyk nou maar net na vers 21, daar is sprake van feeste en feestye. Die feeste waarvan hier sprake is, is sekerlik die godsdienstige feeste van die verbondsvolk van destyds. Hulle loofhuttefees en hulle paasfees en noem maar op, al die feeste wat hulle gehad het. En die feestye, die feesbedelinge of weke van feeste. Of al die offers in vers 22. Hy praat van brandoffers en spysoffers en dankoffers.
Hier in vers 23 praat hy van hulle lofgesange. Hy verwys na hulle liedere wat met harpmusiek begelei is. Hierdie mense het verstaan wat dit beteken om godsdienstig te wees, wat 'n "celebration" is, om 'n moderne woord te gebruik. Hulle was aan die gang met hierdie dinge. Getrou, op die bepaalde tyd, is hulle na hulle aanbiddingsplekke toe. Ons het dus 'n baie godsdienstige prentjie hier. As jy dit lees, en jy dink jou in in wat daar gebeur het, kan jy amper die musiek hoor, is dit nie so nie? Jy hoor hulle lofsange. Dink nou maar aan die Jode vandag. Kyk, hulle is 'n vrolike klomp, nie waar nie? Jy kan jou indink hoe hulle gedans het op musiek en die Here geloof het.
Jy kan dit as't ware hoor. Maar die Here het dit nie gehoor nie. Vir Hom was dit 'n geraas. Kyk wat sê Hy in vers 23: "Verwyder van My die geraas van jou liedere!" Dit het vir Hom niks beteken nie. Trouens, dit het Hom gepla, geïrriteer.
As ons na dié drie verse kyk, dan wil ek sê daar is beswaarlik drie verse in die hele Bybel waar 'n mens soveel goddelike afsku as hier teëkom. Waarvan praat ek? Kyk maar in vers 21: "Ek haat, Ek versmaad …" sê die Here, "… geen welgevalle …" Of in vers 22: "Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer ... sien Ek nie met welgevalle aan nie." Vers 23: "Verwyder van my die geraas van jou liedere!" God wil nie luister nie, sien julle dit? Oor en oor en oor en oor kom die Here en Hy sê hierdie godsdiens van julle is wat My betref 'n godsdienstigheid ad nauseam! Dis die Latyn vir tot satwordens toe, tot naarmaak toe. Ek verafsku dit en Ek wil niks daarmee te doen hê nie. Verwyder dit van my, dis wat die Here vir hulle sê.
Israel se godsdiens was op die oog af pligsgetrou gewees. Dit was duur, al die offers wat hulle gebring het. Stel jou voor ons moes nou vandag soveel skape en beeste geoffer het. Wat kos 'n bees nie? En hulle het dit gedoen. Hulle was nie skaam om uit te haal en in te stoot in hulle godsdiens nie. Dit was 'n offereisende godsdiens gewees. Hulle het tyd afgestaan. Hulle het ver gereis na hierdie plekke toe. Destyds het jy nie gou in jou Monza gespring en vir 'n half-uur oorgery soontoe nie.
Dit was dae se trek en dae daar gewees, en dae terug. Dit was inspanning gewees, daar was moeite aan verbonde, maar hulle het voluit gegaan daarvoor. Waarskynlik het hulle baie emosionele bevrediging daaruit gekry. Elke keer as hulle van Berseba af teruggekom het, of van Bet-El of van Gilgal af, dan het hulle seker gesê: Was dit nie 'n fees nie, was die "fellowship" nie fantasties nie; en die "worship," dit was wonderlik gewees! Maar al hulle godsdiens het God glad nie bereik nie. Dit het nie by God uitgekom nie. Is dit nie oneindig tragies as 'n mens só godsdienstig is en dis alles 'n oefening in futiliteit nie? Dit kom net eenvoudig nie by die Here uit nie. Oneindig tragies!
Dit laat mens dink aan die offers wat Kaïn gebring het, Onthou julle Kaïn? Hy en Abel het altwee geoffer. Die Here het Abel se offer aanvaar en Hy het Kaïn se offer weggewys. Kaïn het woedend geword. Weet julle hoekom God Kaïn se offer weggewys het? Dit staan duidelik daar, kom ek lees vir julle uit die nuwe vertaling uit Gen 4:5-7: "maar nie vir Kaïn en sy offer (aangeneem) nie. Kaïn het baie kwaad geword en hy was bedruk. Toe sê die Here vir Kaïn 'Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie?
As jy nie goed doen nie - die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.'" Die implikasie is dat Kaïn se offer deur God weggewys is omdat hy in sonde geleef het, sien jy dit? Dis baie duidelik. Want die Here sê: Hoekom is jy kwaad? Bekeer jou, doen goed, dan sal daar vir jou blydskap wees. Dan sal Ek jou offer aanvaar. En dit was presies die probleem van Israel in Amos se tyd. Hulle was vol sonde gewees.
ISRAEL SE MISLUKKING
Kom ons kyk 'n bietjie nader na Israel se mislukking. As julle na vers 24 kyk, dan sien julle dit begin met die woordjie "maar," of in die NIV "but." Hier skets die Here dan vir ons die vermiste faktor, dit wat afwesig was in Israel se godsdiens en in hulle lewens. Ek wil net 'n paar opmerkings oor vers 24 en volgende maak. Julle sal sien daar staan in die Ou Vertaling, dit is 'n letterlike weergawe van die Hebreeus: "Maar laat die reg aanrol soos watergolwe …" Let op die woord "rol." Die Hebreeuse woord is "ghalal" en dit is van dieselfde stam afgelei as die woord "Gilgal." Die profeet is hier besig met woordspeling. Hy sê ja, julle gaan Gilgal toe, maar daar is 'n ander "ghalal" waaraan julle moet dink.
Miskien kan ek julle net verwys na Jos 5:9 om dit te bevestig. Daar by Gilgal is die volk natuurlik ook weer besny, dit was verbondsvernuwing gewees. Maar in elk geval, daar staan in Jos 5:9: "Toe het die Here vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel." Die NIV sê: "Today I have rolled away the reproach of Egypt from you." Ek het dit van julle afgerol, afgewentel en dan sê die Bybel: "Daarom het hulle die plek Gilgal genoem ..." Gilgal is juis genoem na aanleiding van wat die Here vir hulle gesê het. Ek het die veragting en die skandes en die skades van Egipte van julle afgerol. En toe sê hulle: Kom ons noem die plek "rol," "Gilgal."
Presies daarop sinspeel Amos hier as hy sê: "Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom." Dis asof die Here God deur die profeet vir hulle sê: Ja, julle gaan getrou Gilgal toe, die plek wat julle herinner aan die tyd toe Ek die skandes van Egipte van julle afgerol het. Julle gaan gereeld na die plek toe wat beteken "om te rol," maar daar is 'n "rol" wat julle vergeet in julle lewens. Die aanrol van reg en geregtigheid.
Hy skets dus hier vir ons 'n godsdiens wat net nêrens kom nie, 'n godsdiens wat in 'n kring beweeg en niks bereik nie, wat by Gilgal agtergelaat word. Die volk gaan dus Gilgal toe, hulle raak baie godsdienstig daar, en as hulle terug gaan huis toe, dan los hulle hulle godsdiens daar en vergeet hulle weer om reg en geregtigheid te laat "aanrol," om die woord te gebruik. Dis die probleem daar. En daarom sê die Here dit stink vir Hom, hulle godsdiens stink. As daar in vers 21 staan: "… en het geen welgevalle aan julle feestye nie" beteken die Hebreeus vir "geen welgevalle" letterlik dit stink vir My, dit is vir My 'n afstootlike stank, julle godsdiens.
MORELE OPTREDE VANUIT GEHOORSAAMHEID AAN GOD SE STANDAARDE
Om terug te keer na vers 24 toe: Hy praat hier van reg en geregtigheid. Wat beteken reg en geregtigheid? Wat is hierdie vermiste faktor in die volk se lewe? Hier is twee verse in Amos wat nogal baie lig daarop werp. Kyk na 5:7. Ek bly maar by die Ou Vertaling omdat dit redelik direk vertaal is en dus vir ons 'n goeie weergawe van die Hebreeus gee. Daar staan: "Julle wat die reg in wilde-als verander en die geregtigheid teen die grond gooi." Die sinspeling hier is, julle maak van die reg wilde-als. Wilde-als is iets verskriklik bitters, dis soos alwyn.
Hy sê julle maak van die reg iets verskriklik bitters en die geregtigheid gooi julle teen die grond. Die sinspeling is in lyn met die Ou Testamentiese openbaring rondom hierdie twee begrippe. Die woord "reg" het te doen met hoe ek teenoor my naaste optree. En as hy dan sê: Julle maak daarvan wilde-als, dan bedoel hy in plaas daarvan dat julle reg - julle optrede teenoor julle naaste - 'n aangename smaak in hulle mond laat, kry hulle 'n bitter smaak, 'n afstootlike bitter smaak in hulle mond wanneer hulle met julle te doen het. Julle menseverhoudinge, julle sosiale gedrag laat 'n bitter smaak in mense se monde. Dis die probleem.
As hy sê "geregtigheid teen die grond gooi," is die implikasie ook weer in lyn met die Ou Testamentiese openbaring rondom hierdie begrip "geregtigheid." Geregtigheid dui op dit wat die Here opgerig het. Die Here se standaarde, sy norme. In Engels word ook gepraat van "an upright man," 'n man wat lewe in lyn, in harmonie met God se standaarde, dit wat God opgerig het. Hy sê: Maar julle vat die geregtigheid, julle gooi dit teen die grond, julle vertrap en minag dit. Geregtigheid het dus te doen met 'n lewe, 'n beginselvaste lewe in harmonie met God se standaarde C dís geregtigheid!
As Amos hulle dus verwyt, sê hy: Die afwesige faktor in julle godsdiens is dat julle nie die reg laat aanrol soos golwe nie, m.a.w. julle menseverhoudinge is nie in lyn met dit wat God wil nie. En verder is julle geregtigheid, julle lewe in terme van God se standaarde voor die aangesig van die Here, nie 'n aanhoudende stroom nie. Wat soek die Here dus in ons godsdiens? Dat ons godsdiensoefeninge bevestig sal word en gepaard sal gaan met 'n medemenslikheid wat my naaste seën en 'n lewe in harmonie met God se standaarde, God se beginsels. Ek dink dis baie duidelik.
Kyk ons nou verder na 6:12b, dan kry ons weer die tweelingbegrip reg en geregtigheid. Hy sê die probleem daar is dat julle die reg in gif verander. Dis dieselfde idee. Waar hulle die reg in hoofstuk 5 in wilde-als verander het, verander hulle dit hier in gif. En die vrug van geregtigheid in wilde-als. Hier het ons 'n parallelisme. Hy praat hier van reg en van die vrug van geregtigheid. Dis duidelik dieselfde saak want hy sê die reg word gif en die vrug van geregtigheid word wilde-als. Ons sou net sowel kon sê hulle verander die reg in gif en die reg in wilde-als. Maar die tweede keer as hy na die reg verwys, dan praat hy van die vrug van geregtigheid. Dis presies soos wat ons dit verstaan.
Die reg, m.a.w. 'n heilige wandel in terme van ons menseverhoudinge, ons horisontale verhoudinge, is 'n uitvloeisel, 'n vrug van geregtigheid. Dis 'n vrug van ons lewe in gehoorsaamheid aan God se standaarde, is dit nie so nie? Wat is dus die verhouding tussen reg en geregtigheid? Ek word opgeroep om primêr 'n lewe van geregtigheid te lewe, 'n lewe in harmonie met God se wet en God se standaarde en dit sal dan in my lewe die gevolg hê dat ek ook reg sal lewe, reg in my menseverhoudinge. Die afwesigheid hiervan was een van die probleme van Israel. Kom ons vat dit dus net saam: Wat was die vermiste faktor in Israel se godsdiens? Dit was morele optrede, horisontaal teenoor jou medemens vanuit gehoorsaamheid aan God se standaarde.
Dit laat 'n mens dink aan Jer 7:11 waar die Here God vir Israel deur die profeet Jeremia verwyt dat hulle van sy huis 'n rowerspelonk maak. Dis 'n bekende uitdrukking: 'n rowerspelonk. Waarop sinspeel die Here daar?. "My huis" is uiteraard sy tempel. Wat is 'n rowerspelonk? Dis 'n plek waar rowers, skelms, gaan wegkruip. 'n Spelonk is 'n grot, nê? En dis 'n plek waar hierdie skelms wat in die nag rondloop, in die dag gaan wegkruip sodat niemand hulle kan vang nie. Vannag as dit donker word, dan kom hulle weer uit.
Die Here sê daar hulle maak van sy huis, sy tempel, die plek waar hulle aanbid, so 'n rowerspelonk. Hulle gaan soontoe, hulle skuil daar, hulle gebruik dit, maar dit verander nie hulle lewens nie. In die nag kom hulle weer uit en is hulle net so sleg soos die vorige nag. Dit het geen effek in hulle lewens nie. En presies dit is die probleem van Israel wat Amos hier aanspreek. Hulle maak dus ook van Gilgal 'n rowerspelonk.
Die beelde wat hy verder in vers 24 gebruik, is beelde van oorvloed en van standhoudenheid. Hy sê per implikasie hulle moet die reg laat aanrol soos watergolwe. Die beeld wat hy daar gebruik, is die beeld van die see. Kan 'n mens nie ure lank by die see sit en jou verstom oor waar al die water vandaan kom nie? Tonne en tonne en tonne water wat aanrol, sonder ophou aanrol na die strand toe. Dis die beeld wat hy hier gebruik.
Hy sê dus: Julle reg, julle lewe teenoor julle naaste wat 'n lewe van, as ek Nuwe Testamentiese taal kan gebruik, diensbaarheid en liefde moet wees, moet eenvoudig oorvloedig wees. Dit moet aanhou en aanhou en aanhou, oorvloedig. As hy praat van 'n standhoudende stroom, dan sê hy dit moet nooit ophou nie. Oorvloed en standhoudendheid kom dus sterk hier na vore. En hiersonder, sê die Here, is godsdiens, dit maak nie saak hoe entoesiasties of uitbundig nie, totaal tevergeefs.
As ons verder na Israel se mislukking kyk, is dit opvallend dat daar in vers 22 brandoffers, spysoffers en dankoffers genoem word. Een van die baie belangrike offers word nie genoem nie en dis die sondoffers of die skuldoffers. Hulle is dus Gilgal toe, maar daar was bloedweinig sprake van enige sondebesef. Hulle het net "joy" en uitbundigheid gesoek. Hulle het hulleself gaan geniet daar, maar daar was geen verootmoediging of sondebesef, geen hartseer en gebrokenheid, geen diepe bewussyn van hulle mislukkings voor die Here nie.
Die sondoffers skitter in hulle afwesigheid, en dit was hulle hele probleem. Hulle het nie getreur oor hulle sonde nie, want hulle het dit nie verstaan nie. Hoekom nie? Hulle het God nie geken nie, hulle het God nie in sy heiligheid en in sy geregtigheid geken nie. Hulle het God se wet nie geken nie, hulle het nie erns gemaak met sy standaarde nie. Hoekom nie? Hulle het dit vertrap, hulle het sy geregtigheid omgeruk soos 'n mens 'n paal sou omruk of 'n pilaar en hom op die grond gooi. As jy nie met God se heilige standaarde in jou blikveld lewe nie, as jy nie onthou dat jy te doen het met 'n heilige God nie, dan het jy nie sondebesef nie.
Jy het nie die vrese van die Here nie. En jy ken jouself nie, want jy spieël jouself nie in sy standaarde nie. Dis net 'n kwessie van tyd en jy klop jouself op die skouer. Kan julle sien hoe relevant Amos vir ons dag is? Kan julle sien hoe relevant Amos vir die kerk van ons dag is? Daar is so tragies min gebrokenheid in die kerk, in groot dele van die kerk. Al waaroor dit gaan is: Ons moet "joy" hê en ons moet onsself geniet en dan dreun dit van die mense! Maar sondebesef en dat ons sal treur oor ons sonde, dis nie 'n gewilde saak in ons dag nie. Dit was nog nooit 'n gewilde saak nie. En dit is die simptoom daarvan dat ons God nie ken nie, sy wet en sy standaarde nie ken nie en onsself dus nie as sondaars ken nie. Dis ons tragedie.
Wat meer is, die offers wat wel hier genoem word, onderstreep die verskriklike huigelagtigheid van Israel. Want die brandoffers het eintlik gestaan vir totale oorgawe. Die offerdier is volledig verbrand en daarmee het die offeraar gesê: Here, ek offer my hele lewe ongekwalifiseerd en totaal aan U. Die spysoffers se diepste betekenis het gedui op gemeenskap met God. Ons sit saam met Hom, ons eet saam met Hom, want 'n gedeelte van die offer is deur die offeraar self geëet.
Hierdie mense bely aanmekaar: Ons gee ons hele lewe aan U in totale oorgawe. Ons het gemeenskap met U, is dit nie wonderlik nie? - en hulle het geen sondebesef nie! Daar's geen reg en geregtigheid nie! Dit herinner 'n mens maar net weer aan die Fariseërs, die Skrifgeleerdes van Jesus se tyd. Nogal interessant as jy kyk na die liedere wat vandag gewild is in die kerk. As jy sou rond gaan en 'n algemene opname maak van hoeveel liedere wat gesing word, praat van sondebesef? Hoeveel liedere praat van die kruis, van gebrokenheid en verootmoediging? Dis nie gewild nie.
Maar stem julle saam dat as jy sou kyk na die liedere wat in ons dag gewild is, dan is dit liedere wat praat van oorwinning en van ons erfenis in Christus? Dit praat van ons gemeenskap met die Here. Dis dikwels ook liedere van oorgawe, "worship", maar die hele kwessie van sondebesef en gebrokenheid is dikwels tragies afwesig. Nie altyd nie, nie in elke gemeente nie, maar dikwels is dit tragies afwesig.
SINKRETISME
Afgesien daarvan dat hierdie mense se lewens nie bevestig wat hulle bely het nie, het hulle ook nog gehuigel. Hulle het 'n eensydige tipe godsdiens beoefen, net wat hulle gepas het. Die ergste probleem kry ons in verse 25 en 26. Ek wil dadelik sê die Hebreeus van hierdie twee verse, veral vers 26, is baie moeilik en kommentatore verskil oor wat dit presies beteken. Ek dink tog die Ou Vertaling is nogal baie naby aan die kol. "Het julle aan My slagoffers en spysoffer gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel, en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het?" Hy dink hier terug aan die tyd tydens die uittog.
Dis 'n tyd waarin hulle getrou geoffer het. Mag ek sê, dis baie jare vantevore nê, geslagte vantevore. Maar hy sê: Dink terug aan daardie tyd, ná die berg Sinaï. Daar is getrou geoffer rondom die altaar, die Leviete en Aäron-hulle. Maar dan vra hy: Het daardie offers van julle in die woestyn hand aan hand geloop met afgodery? Hierdie Sakkut en Kewan, of Sikkut en Kijun, soos die Nuwe Vertaling dit vertaal, was Assiriese afgode. Wat die Here deur sy profeet vir hulle sê, is: Dink terug aan destyds. Julle het geoffer, dis reg, maar het julle offers destyds ook afgodery geakkommodeer? Die antwoord is: Nee, hoegenaamd nie. Hoekom doen julle dit dan nou? Die implikasie is dus, net soveel soos wat hulle vir Jahweh offer, is hulle doenig met Sakkut an Kewan, hierdie sterregode. Die Assiriërs het o.a. die sterre aanbid.
Hierdie Sakkut was een van die planete, ek het nou vergeet watter een dit is. Hy sê: Maar julle probleem is, julle offer aan My, julle aanbid My en dan het julle nog hierdie afgode ook. Dis mos ondenkbaar! Hy verwyt hulle dus hier vir sinkretisme, vir vermenging in hulle godsdiens. Dis die kroon van hulle sonde. En die tragedie is dat kort hierna, omtrent dertig, veertig jaar hierna, sou hierdie einste Assiriërs, wie se afgode hierdie is, Israel in ballingskap wegvoer.
Wat ons dus hier sien, en ek vind dit 'n aangrypende gedagte, is dat lank voordat die Assiriese soldate in hulle strate gestap het, het die Assiriese afgode reeds in hulle harte geleef. Dink 'n bietjie daaraan, dit gaan tot vandag toe so in die kerk. As hier vanaand 'n huigelaar sit, kan jy jouself herken. Jy sal vind dat lank voordat jy sak en pak terug gaan wees in die wêreld, die wêreld en die waardes van hierdie wêreld reeds in jou hart sal lewe.
Jy sal in jou hart wêreldgelykvormig wees terwyl jy nog vir jare aangaan met al die godsdienstige rituele, selfs in 'n Nuwe Testamentiese gemeente soos hierdie. Maar dis net 'n kwessie van tyd voor daardie Godvyandiggesinde wêreld daarbuite se soldate jou in ballingskap wegvoer. Die implikasie is dat ek en jy ons harte moet ondersoek. Wat gaan in ons harte aan? Dis een ding om hier te wees, om liedere te sing en te bid, om deur die rituele te gaan, maar watter waardestelsel leef in ons harte? Wat gaan hier binne-in waar net die Here en ek van weet, aan? Watter prioriteite leef daar? Dís die "issue."
SLOTSOM
Die slotsom, in vers 27, is heel eenvoudig. "Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die Here wie se Naam God van die leërskare is." Elohim Sebaot, ons het so 'n week of twee gelede na die naam gekyk. Daarmee sê Hy: Ek is die soewereine God, die almagtige. Ek sê vir julle julle sal in ballingskap weggevoer word, ver verby Damaskus. Die skrif is aan die muur. Dis net 'n kwessie van tyd, dis onomkeerbaar, onontkombaar, hierdie oordeel oor julle. Die toepassing vir ons vanaand is dus die vraag tot ons as individue en tot ons as gemeente gesamentlik: Ons lewens môre en oormôre, sal dit gekenmerk word deur geregtigheid, m.a.w. 'n lewe in pas, in harmonie met God se standaarde, God se wet?
Is ons dus in ons harte beginselvaste mense, in opregtheid en diepe oortuiging? Is ons mense van integriteit en kom hierdie geregtigheid in ons lewens tot uitdrukking in die wyse waarop ons met ons medemens omgaan? Weereens, in integriteit in ons verhoudinge, in eerlikheid, in liefde en in diensbaarheid? Dis die vraag. As dit nie so is nie, sê die Woord van God vir ons, nie net hier in Amos nie, maar keer op keer op keer: Ons godsdiens is tevergeefs, tevergeefs! En ons belydenis dat ons erfgename van 'n ewige Kanaän is, is leeg en hol, futiel.
Die tweede vraag waarvoor ons ons moet ondersoek is: Is ons nie dalk ook besig met Sukkot en Ewan, die Assiriese gode in ons harte nie? Wat is die moderne, Nuwe Testamentiese ekwivalent? Wêreldgelykvormigheid. Is ons dus nie ook maar in ons harte, lewens en denke saam met ons totale toewyding aan die Here - soos ons beweer - besig met die waardestelsels en die prioriteite van hierdie wêreld nie?
Dra ons nie altwee saam nie, sit ons nie op twee stoele nie, is ons nie manteldraaiers nie? Die een oomblik praat ek saam met die Christene, die volgende oomblik is ek tuis tussen die wêreldlinge. Dink en leef ek soos hulle, jaag ek na wat hulle najaag? As dit waar is, is ons skuldig aan presies die dinge waaraan Israel skuldig was en is ballingskap ons voorland, sal ons die ewige Kanaän nooit ingaan nie!
Maar kom ons sluit op 'n positiewe noot af. Kom ons keer terug na Kaïn se sonde toe. Die Here het vir hom gesê: Hoekom is jy nou ontevrede? Jy kan ook bly wees. Lewe net in geregtigheid, lewe in gehoorsaamheid, doen goed. Broers en susters, die van ons wat gereeld, ja gereeld maar weer moet sondeoffers offer omdat ons diep bewus is van ons gebrokenheid, maar wat terselfdertyd ook weet dat die Here 'n werk in ons harte gedoen het, ons kan vanaand die beloftes van Gilgal vir onsself toe-eien.
Die van ons wat weet dat daar in ons lewens ten minste iets van reg en geregtigheid tot uitdrukking kom, iets wat nie daar was voordat ons die Here ontmoet het nie en iets wat nie daar sou gewees het as die Here se genade nie in ons gewerk het nie. Gilgal is ook vir ons. Gilgal wat spreek van oorwinning, van erfenis, van Kanaän. Ek is oortuig daarvan, soos ons hier is, is baie van ons inderdaad geregtig daarop om te sê: Ja, dis waar in my lewe. Ons loop nie daarmee te koop nie, maar ek wil dit in my hárt weet. Dis 'n geheimenisvolle saamleef in my lewe van sonde en van gebrokenheid aan die een kant en van die sekere wete: Die Here het my herskep! Beleef julle dit ook soms soos ek dat ek diep en innig bewus is van sonde en gebrokenheid in my lewe, maar dis asof dit nie ek is nie?
Ek haat dit in my lewe, ek soek dit nie in my lewe nie, maar dis so deel van my lewe, ek kan nie ontslae raak daarvan nie. Maar dis nie die diepste èk nie. Die diepste èk begeer opreg om die Here te ken, Hom te dien en te behaag en volgens sy wet te lewe. Dis hoekom ek die sonde in my lewe haat. Ek verlang ook na die dag dat ek finaal sal klaar wees met hierdie oorblywende sonde in my. Nou ja, so ken ons dit en dis Nuwe Testamenties, hierdie worstelinge in ons lewens.
Maar ons wéét dat ons wéét dat die Here 'n egte werk in ons gedoen het en dat ons dag na dag in absolute onkreukbare opregtheid voor die Here begeer om in reg en geregtigheid te lewe. Gilgal, dis ons erfenis. Laat ons onsself ondersoek aan die hand van hierdie gedeelte. |