Ons lees Amo 5:14-2O. (Lees). Ons gaan hierdie sewe verse bestudeer. Maar voordat 'n mens hulle kan verstaan, moet ek julle net gou weer herinner aan wat ons gesien het toe ons na verse 1 tot 5 van hierdie hoofstuk gekyk het.
INLEIDING
Julle sal onthou dat ek gesê het dat hierdie hele hoofstuk 5 eintlik oor die godsdiens van Israel, die, noordelike tienstammeryk, handel. Die profeet spreek in hierdie hoofstuk hulle valse godsdiens, hulle leë, formalistiese godsdiens aan. Hy doen dit veral aan die hand van die drie aanbiddingsplekke wat hulle op daardie stadium in Israel gehad het: Bet-El, Gilgal en Berseba (vers 5). Ons het vantevore 'n bietjie gaan kyk na die wortels van hierdie begrippe. Waar dit vandaan kom en wat die geskiedenis van hierdie drie plekke is.
Julle sal onthou dat ons van Bet-El in Genesis lees, in besonder in die lewe van Jakob. Jakob was twee keer by Bet-El en beide kere het hy 'n baie besondere, lewensveranderende ontmoeting met die Here God gehad en is die verbond weer met hom bevestig. In Israel se latere geskiedenis het die plek en die begrip Bet-El dus vir die teenwoordigheid van die Here gestaan, in besonder vir sy lewegewende en lewensveranderende krag. Bet-El het gestaan vir dié God wat mense verander. Hy maak hulle nuut, soos Hy Jakob verander het.
Gilgal, die tweede plek, se historiese wortels lê by die deurtog deur die Jordaan voordat die volk Kanaän, die beloofde land, binnegetrek het nadat hulle veertig jaar in die woestyn was. By Gilgal het hulle 'n monument gebou en Gilgal was dan ook uiteindelik die basis vir hulle verowering van die land. So het Gilgal dan in die gemoed van die Jood van destyds gestaan vir hulle erfenis wat hulle van God ontvang het, in besonder die land Kanaän en ook vir die oorwinning wat die Here vir hulle gegee het. Dit het dus gestaan vir erfenis en verowering.
Van Berseba lees ons weer in Genesis C die lewe van Abraham, Isak en Jakob. Elkeen van hulle het by Berseba 'n ontmoeting met die Here gehad waarin hulle verseker is van sy teenwoordigheid by hulle. So het Berseba dus in die Joodse gemoed vir die teenwoordigheid van die Here gestaan, die gemeenskap met God. In verse 6-13 bou Amos sy profesie rondom die volk se persepsie van Bet-El. In die verse wat ons nou gelees het, bou hy hierdie stuk profesie rondom Berseba, dit waarvoor Berseba staan, nl. die teenwoordigheid van die Here. Julle sal ook sien dat dit die sentrale tema is wat soos 'n goue draad regdeur hierdie verse loop. Ons is dus nou by wyse van spreke by Berseba.
ISRAEL SE MISTASTING
Israel het aanvaar dat die Here God sonder meer in hulle midde was. Hulle het hierdie aanname gemaak: Die Here is in ons midde. Daarom lees ons in vers 14 dat Amos vir hulle sê: "Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê." Hy sê dus: As julle dan nou die goeie soek, sal die Here, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. En wat hulle vir mekaar gesê het, is: Die Here is in ons midde, niks kan ons oorkom nie, niks sal met ons fout gaan nie, geen vyand sal ons oorrompel nie. Hulle het dus hierdie aanname gemaak, daarom het hulle ook uitgesien na die dag van die Here. In vers 18 staan daar: 'Weë die wat na die dag van die Here verlang!"
Hulle het dus dikwels vir mekaar gesê: Hoe verlang ons nie na die dag van die Here nie, en vir hulle was dit die koms van die Messias, 'n politieke volksgebeurtenis. Dit was die koms van die groot Koning van alle tye. Die een van wie daar geprofeteer is en van wie Dawid 'n voorafskaduwing was. Dit was vir hulle dus die dag van sy heerlike openbaring in hulle midde wanneer die Here, die Messias, by hulle kom bly. Dit was die dag van die Here. Die "dag van die Here" word in die Nuwe Testament natuurlik weer gebruik en dit dui inderdaad op die koms van die Messias, maar op sy tweede koms. Maar die Jode het in die Ou Testament, trouens tot vandag toe, die idee dat die Messias net een keer kom. Ons weet en verstaan dat Hy reeds gekom het, maar nie in heerlikheid nie, in vernedering. Maar Hy sal weer kom C in heerlikheid.
In 'n sekere sin is die dag van die Here vir die Ou Testamentiese gemoed aan die een kant en die Nuwe Testamentiese gemoed aan die ander kant dieselfde ding: Dis die koms van die Messias in al sy glansryke majesteit en heerlikheid. Hoe dit ook al sy, die Here God sê hier vir hulle: Wee diegene wat uitsien na die dag van die Here C julle wat so daarop roem! Hulle argument was dat, aangesien Hy nou in hulle midde was, Hy, wanneer Hy die dag sou kom, na hulle toe sou kom en weer in sy heerlikheid in hulle midde sou wees. Hulle sou vrede met Hom hê. Die teenwoordigheid van die Here dui tog op gemeenskap met Hom. As die Here in ons midde is, dan het ons gemeenskap met Hom en daarom spreek dit van vrede met die Here.
Daar is natuurlik geen belangriker vraag vir enige mens as hierdie een nie: Sal ek vrede met God hê as Hy in die dag van sy heerlikheid verskyn? As die Here God kom, as die Messias, Jesus Christus, op die wolke kom, die groot glansryke Koning, sat dit 'n dag van vrede met Hom wees, of sal ek van Hom af wegvlug? Soos Openbaring sê: Die mense sal in die skeure van die berge in vlug. Hulle sal berge bid om op hulle te val, maar niks sal gebeur nie. Hulle sal wens dat hulle kan sterf, maar hulle sal nie kan nie.
Die toorn van die Lam, staan daar in Openbaring, sal oor hulle spoel soos vuur en hulle sal net nie kan wegkom nie (Opg 6:16 en 17; 14:10). Dit is dus die belangrikste vraag: Enige een wat verantwoordelik is en wat hoegenaamd oor sy lewe en die hiernamaals en die koms van die Here dink, lewe onder die vraag van Mal 3:2. "Maar wie kan die dag van sy koms verdra?" Dis die groot vraag en enige een wat hoegenaamd verantwoordelik is, sal hierdie vraag voortdurend maar weer in sy lewe vra: Is ek gereed om die Here in sy heerlikheid te ontmoet?
Maar Israel was hieroor hoegenaamd nie gekwel nie: Die Here ìs in ons midde en op daardie dag, as Hy kom, sal dit 'n heerlike dag wees, ook vir ons. Kennelik was Amos nie so optimisties soos Israel nie. Hy het so geredeneer: Hoe op aarde kan mense sê dat hulle met God wandel, hoe op aarde kan hulle inderdaad met Hom wandel as hulle Hom nie in sy majesteit, sy almag en sy heiligheid ken nie? Want Israel ken Hom nie! En dis hoekom hy hier drie maal na mekaar in verse 14, 15 en 16, die Godsnaam opstapel op 'n bykans ongeëwenaarde wyse in die Bybel. Kyk wat sê hy in vers 14: "...en die HERE, die God van die leërskare..." Hy gebruik in vers 15 presies dieselfde woorde: "...die HERE, die God van die leërskare..." Stem julle saam, hy probeer 'n punt tuisbring?
Hy sê daar: "Jahweh Elohim Sebaot." Jahweh is die verbondsnaam, Elohim is die almagtige Skeppergod en Sebaot is die Here van die leërskare, die Here wat alles kan en alle vermoëns in Homself dra. In vers 16 gaan hy selfs 'n stap verder, hy praat daar van die HERE, Jahweh, Elohim, die God van die leërskare, Sebaot en dan sê hy weer, die Here. Dan gebruik hy die godsnaam Adonai. Kan julle sien hoe stapel hy dit op? Die godsnaam "Adonai" sou ons kon vertaal met "Here" of "Koning." Die idee is: Hy is die Een aan wie alles behoort en daarom is Hy soewerein. Amos stapel dus die godsname hier op en hy sê daarmee vir Israel: Hoe op aarde kan julle dink dat die Here in julle midde is as julle Hom nie ken nie, want só ken julle Hom nie. Julle ken Hom nie as Jahweh, as Elohim, die Skeppergod, die Almagtige nie. Julle ken Hom nie as die Een van die leërskare nie en julle ken Hom nie as Adonai nie. En julle sê Hy is in julle midde C dis 'n infame leuen!
Nee, sê Amos, julle maak die grootste fout van julle lewens. Dan gee Hy vir Israel die Here se boodskap. Daar staan in vers 16: "Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die Here" en dan gaan hy aan met 'n boodskap, 'n doemprofesie. Mag ek net in hakies sê, dis natuurlik tot vandag toe so dat iemand, of mense in wie se midde die Here is, die Here sal ken in sy almag en majesteit, in sy heiligheid en sy geregtigheid. Daarom sal die vrese van die Here ook in hulle midde wees. Mense wat God waarlik ken, in wie se midde Hy lewe en beweeg en Homself openbaar, sal sonder uitsondering mense wees wat die vrese van die Here en 'n diep ontsag vir Hom het.
AMOS SE DOEMPROFESIE
Kom ons kyk wat sê Amos se boodskap aan die volk. Hy sê in vers 18b en vers 20 hoe die dag van die Here vir hulle sal wees. Hy sê: "Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees?" Dan antwoord Hy dit, ook in vers 20: "Is die dag van die Here nie duisternis..." ens. nie? Die profesie wat hy vir hulle gee, skets die omstandighede in die dag van die Here, die dag waarna hulle dan nou so uitsien, of kastig uitsien. Hy sê: Dis die boodskap van die Here, die dag as Hy kom, sal dit met julle só gaan.
Eerstens sal dit 'n dag wees van weeklaag en wanhoop. Kom ons lees verse 16 en 17 net weer: "Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag, en op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing. Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die Here." Hierdie beeldspraak wat hy hier gebruik, wil daarop dui dat almal, sonder uitsondering, sal weeklaag. Hy sê basies hier vir hulle: Daar sal in die strate en op die pleine van die stede geweeklaag word.
Die boere van die platteland sal weeklaag, die treursangers, die van julle wat geleer het om professionele treursangers te wees, die professionele sondebelyers C hulle sal treur, dan sal hulle vir die eerste maal règtig treur. En wat meer is, diegene daar tussen die wingerde, waarskynlik sinspeel hy daar op die wyndrinkers, hulle sal treur. M.a.w. van die stede tot die platteland sal daar getreur word, van die oënskynlik vroomste tot die mees ligsinnige sal treur, almal sal wanhoop. Vir die eerste maal sal julle werklik besef wie God is en dit sal julle vul met 'n magtelose paniek. Dis die eerste ding wat hy vir hulle sê. Die dag van Here sal hierdeur gekenmerk word.
Tweedens sê Hy vir hulle, in vers 19, dat daar geen ontvlugting sal wees nie. Mens wil amper so 'n stukkie galgehumor in vers 19 sien. Hy sê daar, in die Nuwe Vertaling: "dit sal wees soos wanneer iemand vir 'n leeu vlug en 'n beer val hom aan, of soos wanneer iemand tuis kom en hy leun met sy hand teen die muur en 'n slang pik hom." Dis 'n manier om vir hulle te sê: Niemand gaan ontkom nie. Hy sê: Stel jou voor, daar's 'n man, hy loop in die bos. Skielik loop hy 'n leeu raak en dan gebeur die totaal onwaarskynlike: hy kry weggehardloop vir die leeu, maar nes hy dink hy is veilig, as hy om 'n boom hardloop, dan staan daar 'n beer voor hom.
Dan gebeur die totaal onwaarskynlike en nes die beer hom wil bespring, is daar skielik 'n huis voor hom en hy spring deur die deur en maak dit in die beer se gesig toe! As hy dan teen die muur gaan staan om te rus en sy asem terug te kry en vir homself te sê hoe gelukkig hy is, pik 'n dodelike adder hom aan sy vinger. Julle sien, hier sit 'n stukkie humor in, maar dis die Here se manier om vir Israel te sê: Julle sal nie wegkom nie, niemand sal ontvlug nie. Daar is geen kans dat julle die toorn van die Here sal ontkom nie.
Derdens sê hy vir hulle, die weeklaag en die oordeel sal gevolg word deur duisternis. Hy sê dit in verse 18b en 20: 'Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie." Vers 20: "Is die dag van die Here nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder 'n ligstraal?" Israel het verwag dat, as die Here die dag kom, al hulle ellende verby sal wees C dat hulle tot in alle ewigheid in sy lig sal lewe. Nee, sê Amos vir hulle, daardie dag sal vir julle die deurgang tot die allerverskriklikste duisternis word, ewige duisternis. Dit sal ewig nag wees, wanneer die Here kom, en daar sal geen ligstraal van hoop wees nie, niks nie.
Die slotsom van hierdie oordeelsprofesie kry ons dus in vers 17. Die Here sê: "... wanneer Ek in jou midde deurtrek," of die Nuwe Vertaling sê: "... want Ek gaan tussen julle deur ..." C daardie dag kom Ek nie as julle bondgenoot nie, maar Ek kom as julle vyand. Daar sal 'n weeklaag wees en duisternis wat niemand sal ontkom nie. Dit is die profesie wat Amos vir hierdie volk gee wat die baie groot oordeelsfout maak dat die Here in hulle midde is, terwyl Hy nie daar is nie.
LIGSTRAAL
Tog, as 'n mens na hierdie verse gaan kyk, is daar iets van 'n ligstraaltjie van hoop wat ek graag nou vir julle wil uitlig. Miskien het julle in vers 15 gesien (Ou Vertaling): "Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort C miskien sal die Here, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef" C miskien. Hier is dus 'n ligstraaltjie van hoop. Ek dink dis vir ons baie duidelik: Israel het hulleself bedrieg, hulle dink hulle wandel met God, hulle ken Hom, maar hulle het nie die vaagste benul wie Hy is nie! Dan kom, soos ek vir julle uitgewys het, Amos, en hy stapel die Godsname op, maar hy gebruik die Godsname ook meer in hierdie sewe verse.
Ons kry trouens die Godsnaam elf keer, of as jy wil, veertien keer, dit hang af hoe jy dit tel. Maar hierin lê die sprankie hoop C dis baie subtiel, net die begenadigdes sal dit raaksien as Amos hier profeteer. Ek sê hy gebruik die Godsnaam elf of veertien keer, afhangende van hoe jy daarna kyk. Die Godsnaam Adonai, wat dui op die eienaar, die soewereine eienaar van almal, gebruik hy een keer. Die naam Elohim Sebaot, God van die leërskare, die almagtige Skepper, gebruik hy drie keer. Ons sou dit ook kon skei en sê drie keer en drie keer, dis hoekom ek elf en veertien het. Maar die Godsnaam Jahweh, wat die verbondsnaam is, gebruik hy sewe keer in hierdie gedeelte.
DIE VERBONDSNAAM
Ons moet nou bietjie stilstaan by die betekenis hiervan. Die naam Jahweh het die Here God self vir Israel gegee. Hy het hierdie naam van Hom as't ware uitgelig bo die ander en dit as die kosbaarste van alle geskenke vir sy nuwe verbondsvolk gegee toe Hy hulle uit Egipte uitgered het. Julle sal onthou dat hulle in Egipte in die allerellendigste toestande verkeer het. Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gehoor en een van die eerste dinge wat Hy vir hulle gegee het, is 'n naam: Jahweh. Let op, Hy gee dit vir hulle toe hulle in hulle allerellendigste omstandighede verkeer. Miskien moet ons gou na Ex. 2 en 3 toe blaai. Ek wil net 'n paar dinge vir julle uitlig. In hierdie gedeelte lees ons van hierdie wonderlike nuwe stuk openbaring wat God aan hierdie slawe-gespuis gee.
Ek lees weer uit die Ou Vertaling omdat dit meer letterlik is. Exo 2:23: "En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny." Dis nogal interessant nê, dat hulle hier sug en weeklaag vanweë slawerny, hier gaan dit met hulle vrot. As Amos profeteer, gaan dit met hulle baie goed. En op grond daarvan maak hulle nou die aanname dat die Here in hulle midde is. Maar hierdie mense in Egipte weet die Here is ver: "En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.
En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met lsak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien en God het hulle geken." Julle weet dat die woord "om te ken" in die Bybel beteken om lief te kry, om te ontferm oor, om af te sonder vir, om uit te verkies. Hy gaan onmiddellik aan: "En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro." Moses is nou al veertig jaar 'n skaapwagter in die woestyn. "En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb. Daarop verskyn die Engel van die Here ... (Lees Exo 3:1 - 17). Hierdie gedeelte bevat geweldige ryk stof van openbaringshistoriese betekenis. Ek wil net een of twee dinge hier uitlig sodat ons Amos des te beter verstaan.
In vers 15 staan dat Moses vir die kinders van Israel moet sê: "Die HERE, die God van julle vaders, Abraham, Isak en Jakob, het my na julle gestuur," of in vers 16: "Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn." Daardie woord "die HERE" wat hy gebruik, beteken "Hy is," dis die derde persoon. Die van julle wat nou nie julle grammatika so goed onthou nie, die eerste persoon is "ek," die tweede persoon is "jy" en die derde persoon is "hy, sy of dit." En natuurlik kry jy dieselfde in die meervoud, eerste persoon meervoud, tweede persoon, derde persoon meervoud. Die woord wat God hier gebruik in verse 15 en 16 is die derde persoon: "Hy is."
In vers 12 is dit natuurlik die eerste persoon: "Ek sal. " Hy sê vir Moses: Jy gaan nou na die Israeliete toe en sê: "Hy is", derde persoon, Hy’t my na julle gestuur. Maar as die Here God vir Moses sê wat sy naam is, dan sê Hy: "Ek is," dis my naam. Wat Hy dus hier sê, is: Ek is wat Ek is. Ek is in myself die algenoegsame, Ek het niks of niemand buite my nodig nie, maar Ek wil vir julle 'n gedenknaam gee. Hierdie gedenknaam wat julle van geslag tot geslag moet bewaar, my verbondsnaam, is: "Hy is," of "Hy sal wees." As God dus oor Homself praat, dan praat Hy in die eerste persoon, Ek is, en as sy volk oor Hom praat, dan praat hulle in die derde persoon, Hy is.
En hierdie "Hy is" is die woord "Jahweh," en deur al die eeue was dit vir Israel 'n oneindig kosbare naam vir die Here God. Dit was sy verbondsnaam. Dit was die naam waarmee Hy Hom op 'n baie besondere manier aan hulle geopenbaar het toe Hy hulle uit Egipte verlos het, toe hulle in hierdie verskriklike ellende was wat ook in hierdie gedeelte wat ons so pas gelees het, beklemtoon word.
Ek wil nou 'n stap verder gaan: Dikwels, in die Ou Testament, word aan die verskillende godsname sekere byvoegsels gevoeg, sekere karaktertrekke geheg. Hier in Amos 5 byvoorbeeld, praat hy drie keer, soos ook al vantevore, van die God van die leërskare: Elohim Sebaot. Elohim is die godsnaam en dan word daar aangeheg: Sebaot, wat beteken: van die leërskare. So doen die Ou Testament dit dikwels om die godsnaam te kwalifiseer met 'n bepaalde karaktertrek.
Maar as dit Elohim Sebaot is soos hier in Amos, dan is dit 'n naam van bedreiging: Onthou met wie julle te doen het! Julle het te doen met die Allerhoogste God, die Een wat alles kan, die almagtige, die God van die leërskare. Dit is 'n naam van bedreiging en dit behoort Israel te laat bewe. Maar, wat interessant en baie betekenisvol is, die Ou Testament is meer as enige iets anders lief om kwalifikasies aan die godsnaam Jahweh, die Verbondsgod, te heg. So kry 'n mens dan verskillende name.
Kom ek lees vir julle 'n paar wat ek sommer hier in my Bybel se kantruimte geskryf het. In Gen 22 lees ons van Jahweh Jihreh, Jahweh is voorsiening. Of in Exo 15, Jahweh Rafah, God is genesing. In Exo 17, Jahweh Nisi, God is my banier, of in Lev 20, Jahweh Nkadesh, God is heiligheid. Rig 6, Jahweh Shalom, dit weet julle almal: God is Vrede, Jahweh is Vrede. Ons Verbondsgod is vir ons vrede. Of in Psm 23: Jahweh Rehu: Jahweh is ons Herder.
Of in Jer 23, Jahweh Chikenim, Jahweh is ons geregtigheid. Of in Ese 48: Jahweh Shama, Jahweh is daar, Hy is teenwoordig. En natuurlik, baie dikwels. Jahweh Sebaot, ons God, ons Verbondsgod, Jahweh, is die Here van die leërskare. Maar kan julle sien, as hierdie kwalifikasies geheg word aan die verbondsnaam Jahweh, dan is dit nie meer 'n naam van bedreiging nie, maar dan is dit 'n naam van belofte en 'n naam van vertroosting, kan julle sien? Dus, as die profeet vir hulle sê en hulle herinner: Julle het te doen met Elohim Sebaot, die Skeppergod van die leërskare, dan stel hy Hom teenoor hulle as volk, en is dit 'n naam van bedreiging.
En die ander plekke in die Ou Testament, as daar gepraat word van Jahweh Sebaot, dan is dit die Here, ons Here, ons Verbondsgod. Hy is die God van die leërskare. Hy is met ons, wie kan aan ons vat? Hy beskerm ons, dis die troos en dis die belofte. En dit is die sprankie hoop hier, want omtrent twee keer meer as al die ander godsname wat in hierdie gedeelte in Amos gebruik word, word die naam Jahweh gebruik. Jahweh, die verbondsnaam.
Ek het gesê dis subtiel, net die begenadigdes sal dit raaksien, en dis presies hoekom hy in Amo 5:15 sê: "... miskien sal die Here, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef ." Nou sal julle onthou, die afgelope preek of twee het ons meermale na die begrip "die oorblyfsel" in die Ou Testament gekyk, veral in Amos. Amos sê op 'n stadium: die oorblyfsel sal wees soos 'n oorlappie of 'n pootjie wanneer 'n leeu of 'n roofdier 'n lammetjie gevang het.
Daar lê net iewers 'n velletjie en as jy mooi daarna kyk, dan sien jy dis 'n stukkie van sy oor. So min sal die oorblyfsel wees. Of julle sal onthou, Esegiël wat sy hare en sy baard afskeer en dit met die swaard stukkend kap (Ese 5). Een derde moes verbrand word, een derde op die wind gestrooi, een derde is stukkend gekap. En 'n klein klossie word iewers in die soom van sy jas vasgewerk, vir die dag wanneer die Here reddend gaan kom en hulle gaan uithaal. Die oorblyfsel-begrip in die Bybel is dus 'n klein groepie mense. Maar nou praat hy hier van die oorblyfsel van Josef. Amos, het ons nou al agtergekom, is gedurig besig om terug te verwys na die stamvaders, Abraham, lsak en Jakob, en nou praat hy van Josef.
Hoekom Josef? Wel, as daar een van die stamvaders was wat oënskynlik meer dikwels as al die ander saam van die Here verlate was, was dit Josef, sal julle met my saamstem? Toe hy in die put gegooi is, toe hy in slawerny verkoop is, toe hy in die tronk was, toe hy vergeet is in die tronk, ens. Hy was dus kort-kort in 'n stel omstandighede wat die indruk laat: Dis verby, nooit ooit weer sal die Here naby Hom kom nie, hy is van God verlate. En tog, van Josef word meer as van al die ander gesê dat die Here met hom was. Ons lees in Gen 39, in 'n enkele hoofstuk, dat daar drie keer gesê word dat die Here met Josef was. In 39:2: "Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom."
As jy die konteks lees, sien jy dat Josef as slaaf verkoop is, maar ten spyte van sy slawerny was die Here met Hom en daarom was hy, selfs in sy slawerny, 'n voorspoedige man. Hoekom? Die Here was met hom. In 39:21: "was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het." Hier is Josef in die tronk, maar die Here se seën rus op hom. Hoekom? Want die Here is met hom. Ook in die laaste vers, 39:21: "en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag." Op 'n stadium word Josef uit die tronk gehaal en dan praat Farao met hom.
Hulle is dan in die nood en Farao sê: "Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?" en ons sou dit kon vertolk soos die NIV dit vertaal: In wie die Heilige Gees, God se Gees is? Die teenwoordigheid van die Here het dus voortdurend op Josef gerus, by uitnemendheid, meer as op enige van die ander aartsvaders. En onthou julle, dit is die tema van hierdie gedeelte C Berseba staan vir die teenwoordigheid van die Here. Dis hoekom hy hier van die oorblyfsel van Josef praat.
SLOT
Wie sal dus hierdie belofte in Amo 5 hoor, wie sal dit in geloof vasgryp en gered word? Die oorblyfsel van Josef, sê hy. En wie is hulle? Dis hulle met wie die Here ten spyte van die verskriklike vervalle toestand van Israel nog steeds is. Maar dis 'n oorblyfsel, dis 'n oorlappie. Daar is dus nog mense in Israel met wie die Here is, en hulle gaan hierdie belofte hoor. Hulle gaan onthou: Ja, hier in hierdie gedeelte word daar meer gepraat van Jahweh, ons Verbondsgod, as van die God wat ons bedreig. Maar let dus net hier op: Wie gaan uiteindelik gered word? Hulle met wie die Here is.
Let op die orde hier. Die orde is nie, met wie sal die Here wees nie? En die antwoord is nie, hulle wat hoor nie. Die orde is andersom. Wie gaan hoor, wie gaan die belofte vasgryp, wie gaan gered word? Die oorblyfsel van Josef, hulle by wie die Here is. So is dit vandag nog steeds. Die Here God maak Hom steeds aan ons as "Jahweh" bekend. En Hy maak Homself nie net as Jahweh, ons Verbondsgod bekend nie, maar Hy voeg ook allerlei byvoegsels by hierdie verbondsnaam, ook in die Nuwe Testament.
Hoe doen Hy dit? Die antwoord is: Hy doen dit in Christus. Christus is God met ons, God by ons. Daarvoor moet 'n mens nou vinnig na die evangelie van Johannes toe blaai. Kyk hoe dikwels het die Here Jesus na Homself verwys as: "Ek is." Ons lees byvoorbeeld in Jhn 8:58: "Jesus sê vir hulle: 'Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.'" In Afrikaans klink dit nou heeltemal snaaks, maar in Grieks staan daar: Voordat Abraham was, Ego ami. Dit beteken: "Ego" is "Ek," "ami" is "om te wees," dus "Ek is." " Voordat Abraham was, was Ek al die 'Ek is.'"
Dis wat Hy vir hulle sê, dis hoekom hulle klippe optel om Hom te stenig, want hulle het verstaan. Hulle was Jode, nie sulke dom heidene soos ons nie. Hulle het hierdie dinge verstaan. Jy kry dit ook in hoofstuk 4:26. Jesus praat met die vrou by die put: "Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!" As mens nou na die Grieks gaan kyk, dan staan daar: "Ego ami" praat met jou. Hierdie vrou was 'n Samaritaan, maar sy het ook genoeg geweet. Selfs sy het meer as ons geweet! Die oomblik toe Hy sê: "Ego ami," toe weet sy: Hierdie is 'n aanspraak van Hom dat Hy die Messias is, dat Hy die Verbondsgod is wat aarde toe gekom en onder mense kom bly het. Ons kry die hele gedagte ook in hoofstuk 6:20: "Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie. " Dis toe Jesus op die see geloop het. Hulle het gedink dis 'n spook en bang geword. Dan sê Hy vir hulle: "Ego ami," moenie bang wees nie. Dis julle Verbondsgod, dis Jahweh, moenie bang wees nie.
Let egter op hoe Johannes sekere verdere omskrywings aan hierdie godsnaam "Ek is" heg. Hoofstuk 6:35: "Ek is" (Ego ami) C wat? "Die brood van die lewe" Of in vers 48: "Ek is," (weereens Ego ami) C wat? "Die brood van die lewe." Hy herhaal dit. Of in hoofstuk 8:12: "Ek is (Ego ami), wat? "Die lig van die wêreld." Of hoofstuk 10:7: "Ek is die deur van die skape." Hoofstuk 10:11 en 10:14: "Ek is die goeie herder." En weer in vers 9: "Ek is die deur." Of in hoofstuk 11:25: "Ek is (Ego ami) die opstanding en die lewe." Of in hoofstuk 14:6: "Ek is (Ego ami) die weg en die waarheid en die lewe." Of in hoofstuk 15:1, dit weet julle seker nou al: "Ek is die ware wynstok." Vers 5: "Ek is die wynstok." Julle kan dus sien dat die Here God dwarsdeur die Bybel sy verbondsnaam gebruik en dan kom Hy en Hy voeg hierdie kwalifikasies by. Hierdie kwalifikasies is sonder uitsondering vir ons as gelowiges tot troos.
Ons kan nou die vraag vra: Wie is dan vandag die oorblyfsel van Josef, die wat gered word, die wat hierdie dinge verstaan, die wat dit omhels? Wie is hulle? Die antwoord daarop is heel eenvoudig: Die wat dit hoor. Die wat hierdie dinge lees en dit hoor. Stem julle saam dat miljoene mense dit sal lees en dit selfs sal hoor as dit verduidelik word, sonder om dit te verstaan, sonder om dit regtig te hoor. Sonder dat hulle ore het wat dit hoor, sonder dat hulle harte geraak word daardeur? Wie is dus die oorblyfsel van Josef? Dis die wat hierdie dinge hoor, God se openbaring in Christus raaksien, raaksien dat daar in Hom en Hom alleen verlossing is.
"Ek is die weg, die waarheid en die lewe." Dis hulle wat hierdie beloftes vasgryp en daarom die een oor wie hierdie beloftes praat, Jesus Christus, vasgryp. En dit is hulle met wie God is. Dis omdat God by hulle is, dat hulle dit hoor en dit sien, dat dit hulle harte roer en hulle dit omhels en dus gered word. Wie is die oorblyfsel van Josef in ons dag? Dis die begenadigdes, wat hierdie dinge sien en liefhet.
En hulle weet op die dag van die Here, as daar weeklaag sal wees en duisternis en niemand ontkom nie, sal hulle die oordele van die Here net soveel verdien as enige een anders. Hulle weet dit, maar omdat God met hulle was in hierdie lewe, omdat God hulle geken het, met hulle kom wandel het, is God vir hulle op daardie dag nie Elohim Sebaot, die Godsnaam van verskrikking nie, maar Jahweh Sebaot, die God van die leërskare, wat vir ons is en wat ons bewaar in die dag van sy toorn. Want op daardie dag, as sy toorn uitgegiet word oor hierdie wêreld, sal daar vir elkeen van die oorblyfsel van Josef 'n engel of meer wees wat hom sal uitlei deur die doolhowe, deur die paadjies, om te ontvlug. 'n Engel van die Here om hom te bewaar, wat vir hom sal sê: Nie soontoe nie, daar's leeus en daar's bere en daar's adders.
Nee, kom hiernatoe en nou hier langs, want die Here van die leërskare, die Verbondsgod van die leërskare het hulle aangeneem, hulle sonde op Jesus Christus gelaai. Hy het hulle in die tyd, toe dit nog die tyd van genade was, begenadig om Sy verbondsbeloftes, wat subtiel orals in die Skrif is en al hoe duideliker na die oppervlak kom, raak te sien, lief te kry en te verstaan, dit te omhels en daaruit te leef. Mag die Here ons genadig wees, dat ons op die dag van die Here vir Jahweh Sebaot as ons God sal hê! |