Die Boodskap van Amos - 8
Amos 5:1 - 5
Tevergeefse Godsdiens
Nico van der Walt
Ek lees vir ons die Ou Vertaling, gewoon omdat ons taamlik diep na die teks gaan kyk en die OAV 'n bietjie nader aan die oorspronklike is. (Lees.) Israel se godsdiens, sal julle baie goed weet, was totaal verweefd met hulle geskiedenis, hulle bestaan as volk. Hulle politieke bestaan en hulle godsdiens was totaal geïntegreerd. In besonder het Israel se godsdiens in hierdie tyd toe Amos opgetree het, gewentel rondom die drie plekke Bet-El, Gilgal en Berseba waarvan ons lees in vers 5. Julle mag onthou dat Amos uit die suidelike tweestammeryk gekom het, maar as profeet opgetree het in die noordelike tienstammeryk. Dit was natuurlik ná die skeuring, ná Salomo se tyd. Die noordelike tienstammeryk, waar hierdie plekke Bet-El, Gilgal en Berseba so 'n belangrike rol gespeel het, was op hierdie stadium grootliks los van die Here God. Hulle het hulle eie ding gedoen en godsdienstig hulle eie pad geloop. Hulle het hulle soveel as moontlik afgeskei van die suidelike tweestammeryk en natuurlik van Jerusalem en die tempel daar. Wat Amos hier aan die noordelike tienstammeryk, oftewel Israel rig, is werklik 'n uitdrukking van die Here God se genade vir hierdie mense. Dit is nie meer te lank voordat hulle finaal in ballingskap weggevoer sou word nie, voordat hulle as't ware onder die nasies gestrooi sou word nie. Vir die meeste van hulle sou dit 'n permanente ballingskap wees. Die terugkeer uit die ballingskap waarvan ons lees onder Esra en Nehemia, is die terugkeer uit die ballingskap wat heelwat later, meer as 'n eeu later, plaasgevind het. Dit was die ballingskap van die suidelike tweestammeryk, die Babiloniese ballingskap, vanwaar daar wel 'n klomp mense teruggekom het en wat dus die verbondslyn voortgesit het na die tweede ballingskap. Maar die ballingskap wat hier ter sprake is, is die sg. Assiriese ballingskap van Israel, die noordelike tienstammeryk. Dit is egter nog voor die Assiriese ballingskap en hierdie mense beleef dus, ervaar dus deur o.a. 'n profeet soos Amos, die laaste waarskuwings van die Here, die oproepe van die Here om hulle te bekeer. Bet-El, Gilgal en Berseba was dus meer na die noorde geleë, die aanbiddingsplekke van die noordelike tienstammeryk. Hulle was sentraal in hulle aanbidding en feitlik elke Israeliet het ten minste een maal 'n jaar 'n gebedsbesoek of bedevaart aan hierdie plekke gebring. Daarom moes die verbod van vers 5 seker vir hulle 'n geweldige skok gewees het. “Maar soek Bet-El nie.” Die Nuwe Vertaling lees: “Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan, of verbygaan Berseba toe nie. Gilgal sal in ballingskap weggevoer word en Bet-El sal tot niet gaan.” As daar een persoon is wat dit nie vir hulle sal sê nie, dan is dit tog die Here. So sou húlle geredeneer het. As een persoon byvoorbeeld vir ons sou sê: Moenie kerk toe gaan nie (as ek in Nuwe Testamentiese taal kan praat) sou dit tog die Here moes wees. Dit moes dus 'n geweldige skok gewees het. Hoe op aarde kan 'n man wat so praat 'n profeet van die lewende God wees? Maar wat hulle moes raakgesien het, is die teenstelling tussen vers 4 en vers 5, want in die voorafgaande vers 4 staan daar: “Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek my, dan sal julle lewe.” En dan gaan hy aan: “Maar soek Bet-El nie”, m.a.w. moenie Bet-El soek nie, moenie Gilgal soek nie, moenie Berseba soek nie, soek My, soek My. Om dit te verstaan is dit nodig dat ons na die geskiedenis van hierdie drie plekke, Bet-El, Gilgal en Berseba sal kyk. BET-EL Bet-El het 'n baie belangrike rol gespeel in die vroeë geskiedenis van die Godsvolk en in besonder die aartsvaders. So het twee van die heel belangrikste gebeure in Jakob se lewe plaasgevind by Bet-El. Jakob, sal julle weet, is ook later Israel genoem. Hy was dus in 'n besondere sin die stamvader van nasionale Israel. Wat dus met hom gebeur het, het uiteraard groot gewig gedra in die godsdienstige tradisie van die eeue wat daarop gevolg het. Ons lees van die eerste gebeurtenis in Jakob se lewe by Bet-El in Gen 28:10-22. Bet-El beteken Huis van God. Ons sien in dié gedeelte dat Jakob by die plek Lus aankom as 'n koerslose swerweling, 'n vlugteling van sy broer wat hy bedrieg het. Die Here God sluit hier 'n verbond met hom, Hy maak 'n belofte aan hom, 'n verbondsbelofte. En nadat Jakob hy hierdie ervaring gehad het met die Here, noem hy die plek Bet-El, die huis van God, die plek waar God is. Dit word duidelik vir ons in verse 17, 19 en 22 beklemtoon. En Jakob vertrek van Bet-El af as 'n man met 'n roeping, 'n man met wie die Here God 'n verbond gesluit het, 'n man wat waarlik vorentoe 'n rol gaan hê, 'n man met 'n toekoms! Ons lees in Gen 35:1-15 van die tweede ervaring wat Jakob gehad het daar by Bet-El. Die Here God sluit weer daar met hom 'n verbond. Hy arriveer daar as Jakob en na sy ontmoeting met die Here vertrek hy daarvandaan as Israel, die nuwe mens. Dis as 't ware asof die Here vir hom sê, tot nou toe was jy die bedrieër Jakob gewees, maar van nou af sal jy Israel, die stamvader van die Godsvolk wees. Dis 'n nuwe lewe wat vir hom oopbreek en hy vertrek as 'n nuwe mens. Vir die Ou Testamentiese Godsvolk in die jare en eeue wat daarop gevolg het, het Bet-El dus 'n besondere betekenis gehad. Dit het vir hulle die plek beteken waar die Here God sy kinders en sy volk ontmoet in sy lewensgewende en lewensveranderende krag. Ons ken die mooi woord in Engels “to have an encounter” en dit was die gedagte daar. Hier het Jakob 'n encounter gehad, 'n ontmoeting met die Here God en hier het hy nuwe lewe gekry, hier het hy 'n nuwe koers gekry. Ons kan dus verstaan dat die plek Bet-El 'n baie sentrale posisie beklee het in die sentimente van die Ou Testamentiese Godsvolk en dat hulle daarom altyd soontoe gegaan het om te aanbid. GILGAL Dit bring ons by die tweede aanbiddingsplek waarvan Amos praat, nl. Gilgal, waarvan ons heelwat later in die geskiedenis vir die eerste keer lees. Toe die beloofde land betrek is deur die Israeliete, m.a.w. na die woestyntog of die Eksodus-gebeure, het die volk mos onder die leierskap van Josua die beloofde land ingeneem. Gilgal was langs die Jordaanrivier geleë en van hier af sou hulle dan die beloofde land binnetrek. Ons lees dit in Jos 4:19-24: “En die volk het op die tiende van die eerste maand uit die Jordaan uit opgetrek en laer opgeslaan by Gilgal, aan die oostelike grens van Jerigo.” (Jerigo lê naby aan die Jordaanrivier en die oostelike grens, dus weg van die Middelandse See af, meer na Indië of Messopotamië se kant toe.) “En daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua by Gilgal opgerig”. (Hier rig hulle dus weer 'n gedenkteken op met die twaalf groot klippe.) “En hy het met die kinders van Israel gespreek en gesê: Wanneer julle kinders later hulle vaders vra en sê: Wat beteken hierdie klippe? dan moet julle dit aan julle kinders bekend maak en sê: Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek deurdat die HERE julle God die water van die Jordaan voor julle uit laat opdroog het totdat julle deurgetrek het soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het; dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is sodat julle die Here julle God altyd mag vrees.” (M.a.w. as julle kinders vir julle vra: wat beteken hierdie klippe of hierdie gedenkteken, dan kan julle vir hulle 'n wonderlike getuienis lewer oor hoe die Here God vir julle 'n pad gemaak het, nie net deur die Jordaan nie, maar ook deur die Skelfsee om die beloofde land binne te gaan.) Weer is dit maklik vir ons om te verstaan dat Gilgal ook 'n baie, baie prominente en 'n kosbare plek gehad het in die sentimente en besonderlik die godsdienstige sentimente van die Ou Testamentiese Godsvolk. En as ons nou sou verder lees in Josua, dan lees ons in Jos 5:2-9 dat die Here hier opnuut weer die verbond bevestig het met die Godsvolk. Ons lees in Jos 5:12 dat hulle hier dan ook vir die eerste maal die vrug van die beloofde land geniet het. Ons kan so maklik daaroor lees, maar stel jou voor, die mense wat nou hier ingetrek het, is in die woestyn gebore en het daar groot geword. Die eerste geslag wat nie wou ingaan nie, veertig jaar gelede, hulle het mos almal gesterf in die woestyn. So hier het jy nou 'n klomp woestynbewoners wat hulle lewe lank op kwartels en manna geleef het en nou skielik die vrug van die beloofde land proe: Druiwe en heuning, noem maar op, hierdie wonderlike, wonderlike kosse. Dis nou soos 'n kind wat arm groot geword het in Pofadder se distrik en dan kom hy vir die eerste maal in 'n baie spoggerige vyfster hotel. Dit moes dus 'n geweldige gebeurtenis vir hulle gewees het by Gilgal. En in die tye wat gevolg het, het Gilgal die hoofkwartier geword vir Josua-hulle se aanslae op die beloofde land, hulle militêre aanslae. Vandaar het hulle dus Kanaän ingeneem. Ons lees dit in Jos 9:6, 10:6, 7, 9, 15, 43 en ook weer in hoofstuk 14:6. Gilgal was dus hulle basis, hulle brughoof vanwaar hulle hierdie land ingeneem het. Ek vat saam: Gilgal het dus in die eeue wat gevolg het, vir die Ou Testamentiese Godsvolk 'n baie spesifieke betekenis gehad. Dit het vir hulle gespreek van hulle erfenis, hulle besitname en hulle verowering van die beloofde land. Dit is nie moeilik om te verstaan dat Gilgal vir hulle 'n baie kosbare plek, trouens 'n heilige plek was nie. BERSEBA Dit bring ons by die derde plek waarvan Amos praat, Berseba. Daarvan lees ons ook weer in die tyd van die aartsvaders. Al drie die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob het daar lewensveranderende ontmoetings met God gehad. Ons lees bv. in Gen 21:22-34 van Abraham se ontmoeting met God. En wat hier betekenisvol is, is dat aan die hart van hierdie ontmoeting van die Here God met Abraham sy kneg, hierdie belofte staan (vers 22): God is met jou. Dit kom deur Abimeleg. God is met jou, hou hierdie belofte vas. Dan lees ons in Gen 26:23-24 van Isak se ontmoeting met die Here en in vers 24 kom die Here God en Hy gee vir Isak hierdie belofte: Ek is met jou. En in Gen 46:1-4 lees ons van Jakob se ontmoeting met die lewende God daar, met weereens die belofte in vers 4: Ek sal saam met jou aftrek na Egipte toe. Al drie die aartsvaders het dus by Berseba 'n lewensveranderende ontmoeting met die lewende God gehad en al drie van hulle kry die belofte: Ek is met jou, Ek sal saam met jou trek, Ek is by jou. En daarom kan ons verstaan dat Berseba ook deur die eeue wat gevolg het vir die Godsvolk 'n baie sterk betekenis gehad het. Berseba het gespreek van die teenwoordigheid en die gemeenskap met die lewende God: Ek is met jou, Ek is met julle. Opgesom: Bet-El het gepraat van God se lewegewende en lewensveranderende krag. Gilgal het gespreek van die erfenis, die besitname en die verowering van die beloofde land en Berseba het vir die ou Jode gespreek van die teenwoordigheid en die gemeenskap van die Here God. Nou kan ons terug gaan na Amos toe en met hierdie agtergrond, daardie eerste vyf verse van Amos 5 verstaan. DIE KLAAGLIED As ons kyk na Amo 5:1-3 sal ons sien dis 'n treurlied, volgens die Nuwe Vertaling of, soos die Ou Vertaling sê, 'n klaaglied: “Hoor hierdie woord wat ek oor julle as 'n klaaglied aanhef, o huis van Israel.” Wie praat hier? Die Here God praat deur sy profeet, nie waar nie? En die Here God sê dit is wat Hom betref 'n klaaglied oor die huis van Israel. Die inhoud van die klaaglied kry ons in verse 2 en 3. In vers 2a sê die Ou Vertaling: “Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie”; die nuwe vertaling sê: “Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie.” Met ander woorde, Israel het gesterf, gesterf! As iemand val om nooit weer op te staan nie, dan het hy gesterf. Wat ons dus nou hier moet raaksien, is dat dit wat Bet-El belowe het, naamlik lewe en hoop, nou nie meer werklikheid gemaak kan word deur hulle gereelde besoeke aan hierdie plek wat hulle so ywerig besoek nie, Bet-El, wat spreek van lewe en hoop. Die Here sê, Israel het geval, en sal nie weer opstaan nie. Israel is dood. So julle kan nou maar Bet-El toe gaan tot julle blou is in die gesig, julle is dood. Lewe en hoop sal julle by Bet-El nie kry nie. In vers 2b, die tweede gedeelte van hierdie klaaglied, staan “neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie.” Ons het almal al gehoor van bejaarde mense wat miskien alleen bly en dan sleg val, sodat hulle 'n heup of iets dergeliks breek en dan hulpeloos bly lê omdat hulle nie self kan opkom nie. So 'n persoon kan soms lank daar lê en selfs sterf as hulp nie betyds opdaag nie. Dis die beeld wat hier gebruik word. En wat die Here hier wil sê, is dat dit wat Berseba belowe, naamlik gemeenskap met God. Iemand wat jou help, Iemand wat onder jou inkom. Iemand wat jou optel as jy geval het. Dit wat Berseba belowe, kan hulle ywerige godsdienstige besoeke nie 'n werklikheid laat word nie. Dan gaan ons aan met die klaaglied, vers 3: “Want so sê die Here HERE: die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel.” Vers 3 praat dus van 'n vernederende, vernietigende militêre nederlaag. Nege uit elke tien soldate wat 'n stad uitstuur, sneuwel. Dit beteken dat alles wat Gilgal belowe het, naamlik inbesitname, erfenis, oorwinning, kon hulle gereelde besoeke aan Gilgal nie in hulle volkslewe en hulle godsdienstige lewe realiseer nie. Dis wat hy vir hulle sê. Waarom is dit so? Hoekom is dit so tevergeefs, so futiel om Bet-El en Gilgal en Berseba te gaan besoek, hoekom is hulle godsdienstige oefeninge so tevergeefs? Vers 4 gee vir ons die antwoord. Vers 4 in die Ou Vertaling begin met die woordjie “want.” Ongelukkig het die Nuwe Vertaling die neiging om hierdie voegwoorde sommer net so sito-sito oorboord te gooi. Dis vir my nogal hartseer om te sien die NIV het dit ook gedoen. Hierdie voegwoorde is kardinaal belangrik in die Bybel want dit gee vir ons die argument se ontwikkelingsgang. Hierdie woordjie “want” is 'n redegewende voegwoord, m.a.w. die vers verduidelik en motiveer vir ons waarom die Here God hierdie klaaglied sing en waarom Hy sing wat Hy sing oor die volk: “Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe.” Soek My, dan sal julle lewe! Vers 5: “Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berseba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie.” Die volk het baie duidelik hierdie plekke begin vertrou. Daar was 'n stuk bygelowigheid in om by Berseba te wees, om by Gilgal of Bet-El te wees, asof dit op sigself die ding vir hulle gaan doen. Tradisie het hulle vertrou, rituele het hulle vertrou, liturgie het hulle vertrou; sakramente, kerkgang, om net die regte ding op die regte plek te doen, dit het hulle vertrou. Maar die Here sê, moenie Gilgal en Berseba of Bet-El soek nie, julle gaan nie daar kry wat julle moet kry nie. Soek My, soek My! Vir hierdie mense het dit dus gegaan om die uiterlike, die formele van hulle godsdiens. Daar was nie meer inhoud in nie, daar was nie meer lewe in nie. Hulle was nie meer op God persoonlik ingestel nie. Die Here spreek dit aan in 'n enkele begrip C dooie formalisme. Dit dreun van die mense voortdurend by hierdie plekke. Hulle het priesters wat offer. Daar is nooit 'n dag wat daar nie offerrook opgaan nie. Iemand wat nie onderskeidingsvermoë het nie, sal sê: “Hoe godsdienstig! As daar 'n volk moet wees op die ronding van hierdie aardbol wat God behaag dan moet dit hierdie Israeliete wees. Kan jy glo dat mense so getrou lewe voor hulle Maker?” En dit alles is 'n ronde nul werd, niks! Trouens, die Here sê vir hulle: Moenie Bet-El soek nie. As ons nou verder sou gaan, in verse 21 tot 23 sê God vir hulle: “Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle in julle feestye nie. Want al bring julle vir my brandoffers saam met spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere!” TOEPASSING Hier is vir ons 'n baie, baie belangrike les, 'n lewensbelangrike les. Kyk, dit waarvoor Bet-El en Gilgal en Berseba staan, lê aan die hart van ons Nuwe Testamentiese erfenis. Bet-El staan vir nuwe lewe, vir verandering, vir nuwe prioriteite. Paulus sê in 2Kor 5:17 (OAV): “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Berseba staan vir gemeenskap met God en sy liefdesbetrokkenheid en ons as Nuwe Testamentiese gelowiges belewe dit veel intenser as die Ou Testamentiese gelowiges. “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Jhn 17:3, OAV). Gilgal, Gilgal, erfenis en oorwinning! Waarin verheug ons ons meer in die Nuwe Testament as juis ons erfenis in Christus! Maar, wat ons moet verstaan en wat hierdie eerste vyf verse van Amo 5 vir ons sê, is: Dis een ding om hierdie goed te weet, dis 'n ander saak om hulle te ervaar. Dis een ding om hierdie dinge te bely, dis 'n ander saak om hulle te beleef en uit te leef. Verstaan u dit? En wat ons hier moet raaksien is, die Here God sê vir Israel nie net dat 'n bloot formalistiese uiterlike godsdiens kragteloos is nie, Hy sê vir hulle dit gee Hom aanstoot, dis vir Hom afstootlik. En daarom sê Hy vir hulle in vers 21: “Ek versmaad julle feeste” en in vers 23: “Verwyder van My die geraas van jou liedere!” Ek wonder hoeveel gemeentesang, hier in ons gemeente, ander gemeentes, hoeveel gospelmusiek, hoeveel gospelkonserte, hoeveel celebrations is veel eerder vir die Here God 'n geraas in sy ore as wat dit Hom behaag in ons dag. En daarom herhaal Hy dit ook 5 keer hier in vers 5 van Amo 5 om dit baie sterk tuis te bring. Ek lees dit weer vir julle uit die Nuwe Vertaling: “Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie. Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan.” Dit laat 'n mens dink aan die koperslang wat op 'n stadium volgens God se opdrag op 'n paal neergesit is. Die koperslang wat profeties vooruit gewys het na ons Here Jesus se kruisiging. Daardie koperslang het ook mettertyd 'n stuk heilige afgodery veroorsaak, want die mense het die koperslang begin aanbid, sodat God eksplisiet die opdrag gegee het: Vernietig daardie slang. En hier sê Hy ook: Gilgal en Bet-El en Berseba sal in ballingskap gaan en vernietig word. Dis asof die Here sê: “Ek kan nie wag vir die dag dat Ek daardie plekke kan vernietig nie.” Dis 'n aanstoot vir Hom. Dis nie net futiel nie. Mense kan sê: wel, dis darem lekker, al werk dit nie te juis nie. Dis darem lekker om te bula. Hierdie gospelkonserte kan baie lekker wees. Ek het jare gelede in een gesit. Ek moes soontoe gaan, ek is in 'n sak gestop, in 'n blik gedruk, en ek moes gaan. Ek het so ver agter gesit as ek kon, maar ek het darem mooi gekyk. Dit was skreiend wat daar gebeur het, hoe die jong mense daar gedans het en naderhand het die jong seuns die meisies op hulle skouers gehad en gedans op die maat van gospelmusiek. Dit was uiteindelik een stuk sinlike genot wat daar voor my afgespeel het. Ek kon nie anders as om te dink aan die goue kalf nie. In elk geval, dan sou die mense kon sê: Al beteken dit nou nie soveel nie, dis darem lekker. Maar die punt is: die Here sê vir ons Hy het 'n weersin daarin, 'n totale weersin daarin. En daarom, kom ons vergeet maar wat elders gebeur, ons moet onsself afvra: Is ons lofprysing, is ons gebede, is ons godsdiens, is ons eredienste, is dit aanvaarbaar vir die Here? Soek ons Hom, of gaan ons maar net deur die motions? Is ons werklik op Hom ingestel, of kom ons omdat ons moet kom? As jy kom omdat jy moet kom, sê die Here, bly liewers weg, bly liewers weg. Soek My, dan sal julle lewe. Die afgelope week het 'n gedeelte my weer in besonder getref. Miskien kan ek net vinnig vir julle verwys daarna, dis 'n bekende gedeelte. Onthou julle, die sewe briewe in Opg 2 en 3? Die eerste brief aan die gemeente van Efese, begin so, waar die Here vir hulle sê: “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid.” En dan gaan Hy aan en Hy noem die wonderlike dinge wat waar is in die gemeente van Efese. Hierdie mense het onderskeidingsvermoë, hulle het ywer, hulle is regsinnig in hulle teologie, maar, sê Hy in vers 4: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.” Ons ken hierdie gedeelte baie goed, dat jy jou eerste liefde verlaat het. En dan sê Hy verder in vers 5: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” ('n Beter vertaling daar is ‘jou lampstaander’.) Die lampstaander sal Ek van sy plek verwyder. Dit is 'n indrukwekkende gemeente hierdie, kom ons maak geen fout daaroor nie. As 'n mens lees wat die Here hier by hulle aanprys, dis vir seker 'n baie indrukwekkende gemeente, aan die gang, lewend, hulle doen hulle ding, speel nie rond met die Here nie. As 'n mens na vers 2 kyk: “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid ...” en jy kyk na vers 4: “... Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het ...” dan vra mens jouself af: Wat op aarde is dan 'n mens se eerste liefde? As dít nie liefde is nie: Werke, arbeid, volharding, want dis wat lydsaamheid beteken, wat is dan liefde vir die Here? Wat is hierdie liefde wat hierdie mense verlaat het? Die antwoord kry ons in 1Tes 1:2-3 (OAV). Paulus skryf daar aan die gemeente in Tessalonika en hy sê: “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus voor onse God en Vader.” As 'n mens mooi kyk na hierdie vers 3 en jy vergelyk dit met Opg 2:2, dan kom jy agter daar is drie begrippe wat in beide die verse voorkom: Die “werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid (of die volharding) van julle hoop” in vers 3, teenoor Opg 2:2 se: “... en jou werke, jou arbeid, jou lydsaamheid”. Maar daar is drie begrippe of drie kwalifikasies wat ons in 1 Tessalonisense kry wat ons nie kry in Opg 2 nie. Paulus skryf aan die Tessalonisense en hy praat van die werk van hulle geloof, die arbeid van hulle liefde, die lydsaamheid of die volharding van hulle hoop op ons Here Jesus. Wat het Tessalonika gehad wat Efese nie gehad het nie? Geloof, hoop en liefde. En as ons praat van geloof, hoop en liefde, praat ons van 'n innerlike belewing van ons godsdiens, of ons wandel met die Here. Daar's 'n innerlike realiteit. Wat meer is, as ons na die brief aan Efese kyk, dan sien ons dat die Here vir hulle sê: “Julle het julle eerste liefde verlaat, as julle julle nie bekeer nie gaan Ek die lampstaander verwyder”, m.a.w. op hierdie stadium het hulle nog die lampstaander. En hier is 'n baie belangrike beginsel. 'n Gemeente verloor eerste sy innerlike belewing, of sy emosionele belewing van sy wandel met die Here, voordat Hy sy lampstaander verloor. En die lampstaander, ons het al in diepte hierna gekyk, staan vir die feit dat hierdie gemeente optree as die lampstaander wat die lig vir die wêreld regop hou, hoog hou sodat hy ver en wyd skyn. Dit staan dus hier vir die uitlewing van hulle roeping om 'n waarheidsevangelie te verkondig, ver en wyd buite hulle eie grense. Wat die interessante is, 'n gemeente verloor eers sy innerlike, emosionele belewing van sy wandel met die Here en eers later, na 'n tyd van genade wat hy hom kan bekeer, eers later raak so 'n gemeente ontrou aan sy roeping om die evangelie uit te dra; raak so 'n gemeente m.a.w. heterodoks, as ek die woord kan gebruik; begin hy allerhande gemors verkondig; preek hy nie meer Christus nie, is hy nie meer Godgesentreerd nie, verkondig hy nie meer die evangelie nie. Hy hou hom nou besig met hierdie wêreld, om hierdie wêreld 'n beter plek te maak. Hy verkondig 'n social gospel, 'n sosiale evangelie. Dit gaan vir hom oor die ekumene en al hierdie tipe van goed, soos ons vandag tot sat wordens toe van moet hoor. Dit is eenvoudig 'n kerk wat sy lampstaander verloor het, wat besig raak met al die dinge van hierdie wêreld. Maar wat ons moet raaksien C en hier lê die waarskuwing vir ons as gemeente C 'n gemeente verloor eerste sy innerlike belewing van sy wandel met die Here voordat hy hierdie ander goed verloor. Hierdie ander goed kan dus nog wonderlik in plek wees in 'n gemeente terwyl die innerlike, emosionele belewing van sy wandel met God, geleidelik geërodeer word, opdroog, verdwyn. Dis 'n skrikwekkende waarskuwing, want as daar nou 'n versoeking vir ons as gemeente is, dan is dit om vir onsself te sê: Kyk net, ons 'n klein Gideonsbendetjie, kyk net ons uitreiking raak die verste uithoeke van die aarde. Is ons nie in die versoeking om soms dit vir onsself te sê nie? Broers en susters, hier lê 'n waarskuwing vir ons. Kyk maar na die kerkgeskiedenis. Gemeentes wat getrou was, klein of groot, maak nie saak nie, of denominasies wat getrou was, klein of groot, maak nie saak nie, as jy in historiese terugskouing na hulle kyk, sien jy dit het begin waar hulle hulle emosionele belewing, hulle liefde vir die Here, hulle geloof en hoop en hulle liefde verloor het. Laat ons tog ons prioriteite reghou wat dit betref. Voorkoming is beter as genesing. Vers 5 van Opg 2 sê daar is nog behandeling voor: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.” Daarin sit implisiet die belofte dat die Here weer in hulle midde sal kom staan. Daar is dus behandeling vir hierdie siekte, daar is bekering moontlik, maar julle sal met my saamstem, voorkoming is beter as genesing. AFSLUITING Maar om terug te keer, en daarmee sluit ek dus af, ons het in hierdie Amo 5 'n wonderlike belofte, sonder enige twyfel, dat vir hulle wat die Here soek omdat Hy die Here is, vir hulle wat God wil behaag omdat Hy God is en Hom volhardend soek in geloof, hoop en liefde, vir hulle sal Hy 'n Bet-El wees, lewe en hoop. Vir hulle sal Hy 'n Berseba wees, gemeenskap met God. Vir hulle sal Hy 'n Gilgal wees, erfenis en besitname. Dit behaag die Here God as ons geloof, hoop en liefde het en as ons werke, ons arbeid en ons volharding daardeur gekenmerk word. Geloof in hierdie formule het veral te doen met ons lewensgeloof hier en nou. Geloof beoefen 'n mens per definisie op die water, nie as jy op 'n klip staan nie. Dit behaag die Here as ons werke werke van geloof sal wees. En om op die water te wees is om bang te wees, om nie die sekuriteite van die boot te hê nie. Hoop het in hierdie formule veral te doen met ons vooruit-gerigtheid en ons verlange na die ewige heerlikheid wat sal kom. Hoop het dus te doen met lewe in die lig van die ewigheid, m.a.w. ons werke wat ons hier in die geloof doen, doen ons omdat ons moet gaan verantwoording doen in die Here. Volharding het te doen daarmee dat ons weet daar is 'n pad wat ons moet aflê om daar uit te kom. Mag die Here ons waarlik help om nie soos Efese te word nie en om sekerlik nie soos Israel te word nie, maar om soos Tessalonika te wees en soos Tessalonika te bly. Amen. |