Die Boodskap van Amos - 5

Amos 3:1-8

Die lotsbepalende moment

Nico van der Walt

Lees Amo 3:1-8 (ou vertaling). Ek gee net 'n vinnige oorsig. Die boek Amos, een van die sg. klein profete, is een van die mees aangrypende profetiese boeke in die Ou Testament. Amos was 'n skaapboer en het ook met wildevye geboer, in die suide van Judea. Die Here het hom na die noordelike tienstammeryk, Israel, toe gestuur. Hulle het eintlik al heeltemal van God afgedwaal. Hy't hier in die omgewing van 750, 760 v.C. geprofeteer en hy het 'n baie skerp woord gebring.

As hy in die noordelike tienstammeryk begin, dan profeteer hy eers teen die omliggende heidennasies. Waarskynlik het die mense van Israel (die tien stamme) gesê: wel dis goed, laat hulle dit hoor, ons hou daarvan. Daarna het hy teen Juda, die tweestammeryk in die suide geprofeteer. Op hierdie stadium was daar nie 'n watwonderse verhouding tussen Israel en Juda nie en waarskynlik was Israel heel tevrede met sy profesieë. Maar hier van 2:6 af sien ons dat hy teen Israel begin profeteer. Hy het baie sterk oordele teen Juda en Israel uitgespreek. Wat egter opvallend is, is dat hy die heidenvolkere nooit oor sonde wat hulle teen God gepleeg het, aanspreek nie. Dit was sonder uitsondering sonde teen hulle naaste, sonde in terme van God se algemene openbaring. Maar die oomblik toe hy teen Juda en Israel begin profeteer, toe spreek hy hulle primêr aan oor sonde wat hulle teen God gepleeg het .

Later spreek hy hulle dan wel ook aan oor sonde wat hulle teen hulle naaste gepleeg het. En dis baie interessant dat hulle presies dieselfde sondes as die heidene doen, maar net érger. Wat hulle sonde des te meer vererger, is die feit dat hulle dit doen ten spyte van God se besondere openbaring, sy Woord wat na hulle toe gekom het deur die profete en ten spyte van die feit dat hulle God geken het. Die ergste van alles is, hulle doen dit ten spyte van die feit dat hulle in 'n verbondsverhouding met God gestaan het. Daarom sê hy in 3:1 & 2: "Hoor hierdie woord wat die Here oor julle gespreek het" en die nuwe vertaling sê: "Luister na die Woord wat die Here teen julle rig, Israeliete, teen al die stamme wat Hy uit Egipte laat optrek het: 'Ek het net vir julle uitgekies uit al die volke van die aarde, daarom sal Ek julle straf oor al julle sondes'." Die ou vertaling sê: "Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen." God sê dus hier dat die feit dat Hy hulle gaan straf, hoegenaamd nie 'n aanduiding is dat Hy die verbond oorboord gegooi het nie. Hy gaan hulle juis in terme van die verbond met sy oordele besoek.

Sy veroordeling en Sy straf wat Hy oor hulle gaan bring is júis deel van sy verbondshandhawing. Omdat hulle die volk is wat Hy geken het uit al die nasies, die volk wat Hy liefgehad, geroep en uitverkies het, juis daarom gaan Hy hulle suiwer. Hy gaan nou al die dooie hout uitsnoei met sy oordele en dis presies wat die ballingskap wat daarop sou volg, gedoen het. Hy sê hier dat dit die oorblyfsel sal uitwys. Die bekende Engelse begrip die "remnant" gaan uitgewys word, dié wat die ware Israel binne Israel is. Julle sal onthou dat die apostel Paulus in Rom 9:6 skryf: "Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie".

Rom 9 sê vir ons baie duidelik dat God 'n dubbele verbondsverhouding met Israel gehad het. Daar was die breë verbond - hulle wat deel gehad het aan die tydelike beloftes en dan was daar die kern van die verbond - hulle wat in ewigheid gered is. Hulle was 'n klein groepie, sê die Nuwe Testament vir ons oor en oor. Die oorblyfsel is dus hulle wat werklik deur die Here gered is, hulle wie se harte verander, besny is.

Die Here God sê hier vir Israel, die feit dat Hy 'n Verbondsgod is, dat Hy die verbond handhaaf, noop Hom nou om te kom en die dooie hout uit te sny. Wat ons hier kry is 'n voorlopige uitsny van die dooie hout. Hierdie proses sou aangaan. Dit sou nie net in die ballingskap aangaan nie, maar daarna ook en dit sou uiteindelik in die Nuwe Testamentiese tyd voltrek word. Johannes die Doper het gesê: "Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi….. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met 'n onuitblusbare vuur verbrand." Uiteindelik het Jerusalem in 70 N.C. geval, die Jode is oor die wêreld versprei en net 'n klein, uitverkore minderheid - die oorblyfsel - is geréd.

In die vorige preek het ek na Ese 5 verwys. Voordat Juda, die suidelike twee stamme, in ballingskap weggevoer is, het God vir Esegiël gesê hy moet sy hare en baard afskeer. Hy moes dan die hare in drie dele verdeel. Die eerste deel moes hy verbrand, die tweede deel moes hy met sy swaard fynkap en die derde deel op die wind gooi. Daarmee wil God sê dat Israel só gestraf gaan word. Een derde gaan in die stad verbrand, een derde gaan onder die swaard val en nog 'n derde gaan onder die nasies verstrooi word. Maar dan sê Hy vir Esegiël: Vat 'n klein klossie hare en steek dit in die soom van jou jas weg. Daarmee sê die Here God dat 'n klein klossie hare van al hierdie wat hy afgeskeer het, bewaar gaan bly.

Dis dan ook presies hoe dit gewerk het. Dit is júis God se verbondstrou wat so werk en Hy werk deur al die eeue so. God snoei altyd terug, dis sy manier van doen. Ons moet verstaan dat 'n suiwer bruid vir Hom van die allergrootste belang is. Daar is geen sprake daarvan dat die Here God getalle ter wille van getalle soek om mense volgens die standaarde van hierdie wêreld te beïndruk nie. Hy soek 'n suiwer bruid, dis dwarsdeur die eeue sy werkswyse. Daarom sê Hy vir Israel: Die probleem met julle, Israel, is dat julle gedink het omdat julle my verbondsvolk is, kan julle met moord wegkom. Julle het gedink dat genade voortrekkery beteken, maar die feit dat Ek julle uitverkies het, beteken nie dat Ek julle gaan voortrek in vergelyking met ander volke nie. Ek het nie twee stelle standaarde nie. En ons moet verstaan, tot vandag toe beteken die uitverkiesingsleer wat vir ons so oneindig kosbaar is, nie dat God ons voortrek nie. Hy lê dieselfde standaarde op ons aan as wat Hy op die wêreld aanlê. Rom 2 is baie duidelik daaroor. Daarom moet ons verstaan dat die norme wat Hy op die heidene, die ongelowiges en onbekeerde sondaars, gaan aanlê presies dieselfde norme is wat Hy op jou en my gaan aanlê. Hy het ons uitverkies om heilig te lewe.

Hy't ons uitverkies tot 'n besondere genadewerk in ons harte en lewens sodat ons 'n suiwer en heilige bruid voor Hom sal wees. Israel het gedink God se verbondstrou beteken dat hulle nie gestraf gaan word nie, en dis net nie waar nie. Wat Amos hier sê is dat daar 'n verskriklike verantwoordelikheid aan uitverkiesing en bevoorregting verbonde is. Die oomblik as God jou uitverkies het, rus daar 'n skrikwekkende verantwoordelikheid op jou!
 

SES RETORIESE VRAE

Kom ons kyk nou nader na hierdie gedeelte van vers 3 af. Eers gaan ek na verse 4 - 6 kyk en dan kom ons terug na vers 3 toe. In verse 4 - 6 val dit 'n mens op dat Amos met 'n klomp retoriese vrae werk. 'n Retoriese vraag is 'n -vraag waarvan almal die antwoord ken. Dis maar 'n manier van praat om 'n punt tuis te bring. Die antwoord op al hierdie retoriese vrae is: Beslis nie. Kyk na die eerste een: "Sal 'n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie?" Natuurlik nie. "Sal 'n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie?" Natuurlik nie, ens. Dus, in al ses hierdie retoriese vrae is die veronderstelde antwoord: natuurlik nie. Maar let op dat hierdie ses vrae drie pare van twee elk is. In vers 4 praat hy van 'n leeu, in vers 5 van 'n wip wat 'n voël vang en in vers 6 van 'n stad wat bedreig word en waaroor daar onheil kom. Hier is 'n duidelike patroon sigbaar, maar mens moet goed konsentreer om dit raak te sien.

Julle sal onthou dat Simson op 'n stadium na die Filistyne onderweg was. Langs die pad het 'n leeu hom gestorm en hy't die leeu oorweldig. Daar staan egter dat die leeu hom al brullende gestorm het. Ek weet nie of 'n leeu nou nog brul as hy 'n bok storm nie, maar lyk vir my die leeus in Palestina het dit destyds gedoen. Waarskynlik is dit waarop Amos hier sinspeel. Hy vra dus of 'n leeu sal brul as daar nie 'n prooi is nie. Die tweede vraag is dan: "Sal 'n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie?" Kan julle sien dat die eerste deel van vers 4 te doen het met 'n leeu wat besig is om op sy prooi af te storm? Die tweede vraag het te doen met 'n leeu wat reeds sy prooi gevang het. Hy grom daardie genotlike grom terwyl hy die karkas in sy lêplek oopskeur.

Die patroon wat ek hier en in die volgende twee verse vir julle wil uitwys, is 'n patroon van dit wat vooraf gaan en dit wat volg. Dis 'n voor-na-patroon. Die eerste vraag het te doen met die oomblikke voor die ramp die bok tref en die tweede vraag het te doen met die oomblikke daarna. Dieselfde kry 'n mens hier in vers 5. "Sal 'n voël in 'n net op die grond val as daar vir hom geen strik gestel is nie?" Hier lê die klem op die feit dat daar 'n wip gestel word en dat daar nou-nou 'n voël in gaan wees. Dan vra die tweede vraag in vers 5: "Sal 'n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie?" Die wip het nou gevang. Weer 'n vooraf en 'n net daarna. Die eerste vraag impliseer die dreigement van 'n wip wat gestel is, die onheil wat as't ware oor die toneel hang. Die tweede deel sê dan die wip het van die grond af opgespring en hy hét die voël. Dieselfde patroon kry ons in vers 6: "Sal die basuin in die stad geblaas word, en die bevolking nie skrik nie?"

Die mense het destyds binne die ommuurde stad gewerk. Die winkeliers, die tuiniers en die leerlooiers was almal besig. Hulle werk en gesels en die vrouens is in die kombuis. En skielik blaas die basuin! As 'n basuin destyds geblaas het, was dit 'n aanduiding van dreigende gevaar of dat die stad aangeval word. Dis soos 'n sirene wat afgaan. Julle sal onthou dat daar in die Tweede Wêreldoorlog in al die dorpe sulke sirenes was. As daar dreigemente was, dan het hierdie sirenes afgegaan. In Engeland, bv. was dit 'n wesenlike saak in die "Battle of Brittian." In Londen het almal hierdie skrikwekkende ervaring gehad dat, as die sirenes twee-uur in die oggend afgaan, dan weet hulle hier kom die Luftwaffe en die bomme. Hiér blaas die basuin ook, die onheil dreig…. Die tweede vraag is dan: "Sal daar 'n onheil in die stad voorval as die Here dit nie bewerk het nie?" Die nuwe vertaling sê: "Sal daar 'n ramp oor 'n stad kom as die Here dit nie gebring het nie?" Hier is die ramp nou, dit het plaasgevind. Deurgaans kry ons dus dit wat voorafgaan en dit wat daarop volg.
 

SINAI - VERBOND

In vers 3 is daar ook 'n retoriese vraag: "Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?" Die nuwe vertaling sê: Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek het nie?" Waarop hy hier sinspeel as hy sê "twee wat saamloop" is die verbondsluiting tussen God en die volk. Hy sê ons het tog afgespreek om saam te loop, om metgeselle te wees. Hy sinspeel hier op die verbondsluiting by Sinaï.

Kom ons lees net 'n paar verse om hierdie "afspreek" mooi uit te lig. Die eerste is Exo 19:3-6. Hier het hulle by Sinaï aangekom, pas nadat hulle uit Egipte gered is. Die Here stop hulle en sê: "Nou moet ons eers die verbond sluit." Dan staan daar in vers 3 van Exo 19: "Maar Moses het opgeklim na God toe, en die Here het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na my toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.

En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel." In hierdie verse het ons die ekstrak, die kern of hart van die verbond. In die verbond gaan dit vir God daaroor dat Hy vir Homself 'n volk uitgered het en Hy wil hulle hê om met hulle gemeenskap te hê. Dis hoekom ek die woordjie "my" so beklemtoon. Hy sê dan in vers 6 "En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees." 'n Priester is iemand wat die Here dien met sy reukoffers, gebede en liefde. Verder sal hulle 'n heilige nasie wees, hulle sal vir Hom afgesonder wees, syne wees, die appel van sy oog. Maar kyk nou wat die volk in Exo 19:8 antwoord: "Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen.

En Moses het die woorde van die volk aan die Here oorgebring." Ons kry die gedagte ook in hoofstuk 24. Julle sal onthou in hoofstuk 20 het ons die tien gebooie wat die hart van die genadeverbond is. Die tien gebooie sê nie: Doen dit ten einde te lewe nie, maar doen dit ómdat julle lewe. Doen dit ómdat julle my afgesonderde, geheiligde verbondsvolk is, lewe dan só. Dis my ordes vir julle, my voorskrifte. Ons kry in hoofstuk 24 weer dieselfde antwoord van die volk. Nadat die Here sy voorskrifte vir hulle gegee het, sê hulle in Exo 24:3: "Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die Here en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die Here gespreek het, sal ons doen." Ook verse 7 & 8: "En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen en daarna luister. Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: 'Dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde."

Dit is waarop Amos hier sinspeel. Eeue vantevore het die Here God Jahweh en sy volk saamgestem en ooreengekom om in terme van die genadeverbond saam te loop. God het vir hulle gesê: "Ek sal vir julle 'n God wees" en hulle verantwoordelikheid was: "Julle moet vir My 'n volk wees." En nou hierdie retoriese vraag: "Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?" Die implikasie daarvan is: Hierdie verbond is nou in 'n krisis - kan ons aanhou saamloop as julle julle nie meer aan ons ooreenkoms hou nie? Hoe kan ons bly saamloop? Julle breek weg uit die verbond, dis nou al hoeveel geslagte. Julle breek eenvoudig weg, veral natuurlik die noordelike tienstammeryk. Hulle het hulle losgeskeur van Jerusalem, van die tempel. Op hierdie stadium gaan dit haglik in Israel, ook in terme van hulle godsdiens. Ons het dit al in die vorige hoofstukke gesien en ons sal dit nog later weer sien. Die Here sê: Hoe op aarde verwag julle dat Ek nog saam met julle 'n pad moet loop as julle só loop? Julle loop heeltemal strydig met dit wat ons ooreengekom het!

Maar as 'n mens nou mooi dink oor die struktuur van hierdie gedeelte, val iets baie besonders jou op. Wat is dit? Anders as in verse 4 - 6, volg hier nie 'n tweede vraag nie. Hier is nie 'n tweede retoriese vraag wat die oordeel reeds 'n voldonge feit maak nie. Julle sal onthou, in verse 4 - 6 was daar elke keer die dreigement en die voldonge feit - die stormende leeu en die leeu wat sy prooi gevang het; die wip wat gestel word en die wip wat die voël gevang het; die basuin wat geblaas word om die mense te waarsku en dan uiteindelik die ramp wat oor die volk kom. Maar hier is daar net die dreigement, hoe op aarde kan ons aanhou saamloop as julle nie lewe volgens dit wat ons ooreengekom het nie? Dis asof hierdie eerste vraag asem ophou en wag op 'n antwoord. Vanuit die struktuur is dit asof vers 3 nog moet aanhou ….. Verse 4 - 6 het vir ons gewys dat die een ding tot die volgende lei, daar is 'n oorsaak en gevolg verband. Nou storm die leeu en omdat hy storm, grom hy netnou oor sy prooi. Die wip is gestel en dis net 'n kwessie van tyd, dan word die voël gevang. Die ramshoring blaas en voor jy jou oë uitvee, lê die stad in puin.
 

LOTSBEPALENDE OOMBLIK

Maar let op, tussen hierdie twee gebeure, die dreiging en die vervulling van die oordeel, is daar 'n lotsbepalende oomblik. Julle sal saamstem, 'n leeu vang nie élke keer sy prooi as hy storm nie. Nie elke keer wat jy 'n wip stel, vang jy 'n voël nie en nie elke keer wat die ramshoring blaas, gaan die stad in vIamme op nie. Dit hang alles af van wat tussen die eerste en tweede gebeurtenis gebeur. Dit hang tot 'n baie groot mate af van wat die potensiële prooi in daardie oomblikke doen. Die leeu storm op die bok af. As die bok eenkant toe spring, gaan die leeu hom vang, maar as hy anderkant toe spring, is hy weg. Dis 'n lotsbepalende oomblik. Die voël kan tot op die kant van die wip kom. Hy kan die saadjies wat langs die wip lê, oppik en as die wip toeslaan, dan is hy weg. Maar as hy een tree verder gaan, vang die wip hom. Dieselfde geld vir die stad. Die strateë en die owerhede van die stad kan besluit wat om te doen, en daardie beslissing maak al die verskil. Dis die verskil tussen oorlewing en ondergang. 'n Lotsbepalende oomblik . En wat die Here God vir Israel deur Amos hier sê, is dit: "Israel, daardie lotsbepalende oomblik is nóú. Trouens, die leeu brul reeds.

Julle sal onthou hoe Amos in hfst. 1:2 die profesie begin: "Die Here brul uit Sion en Hy verhef sy stem uit Jerusalem." Die beeld van God hier is 'n stormende leeu, dis 'n dreigende ondier wat op 'n prooi afstorm. Die leeu het reeds gebrul. Hy sluit ook hierdie gedeelte wat ons gelees het in vers 8 af met: "Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?" Hy sê dus hier vir Israel dat hulle op hierdie oomblik dat hy (Amos) profeteer, hierdie lotsbepalende oomblik beleef. Wat gaan julle doen? Vers 3 huiwer, hou asem op, wat gaan gebeur? Die onvoltooidheid van vers 3 hou die toekoms nog vir 'n enkele oomblik oop.
 

GOD IS GENADIG

Kom ons lees weer verse 7 & 8: "Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?" Hy sê hier dit is eie aan die aard van God. Ja, Hy is 'n stormende leeu, maar terselfdertyd is Hy 'n genadige Verbondsgod. Dis eie aan sy aard om nog in lotsbepalende oomblikke soos hierdie profete te stuur om die volk te waarsku, om die pad te wys om uit die nood te kom.

Hy sê dit beteken nie dat alle profete wat in sulke tye optree ware profete is nie. Dit is so dat daar baie in daardie tyd in Israel geprofeteer het. Hulle het hulle godsdienstige aanbiddingsplekke gehad, Bet-El, Gilgal en Berseba. En ons lees in Amos 7 van die priester Amasia. Amasia het net gesê wat die volk wou hoor. Hy het mooi dingetjies gesê en hy was baie ingenome met homself en die entoesiastiese godsdienstige beoefeninge van Israel op daardie stadium. Hy het net goeie dinge teenoor die volk gepraat. En hy was baie ontsteld omdat Amos so kru kom profeteer het en sulke dinge kom sê het wat die volk so verontrus en ontstel het.

Daar was dus baie profete en daar was priesters wat gepreek het, daar was genoeg van hulle gewees. Maar hy sê hier, let op, die ware profeet is die een wat sy boodskap by God gekry het. Hy is 'n dienaar van die Here. Hy sê dit in vers 7: "Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie." Die ware profete is dus mense wat in die raad van die Here gestaan het. Dit is interessant dat die Hebreeus vir "Hy het sy raadsbesluit bekend gemaak", ook vertaal kan word met "Hy het sy gemeenskap oopgemaak". Waarop hy dus hier sinspeel is dat 'n ware profeet iemand is vir wie die Here sy gemeenskap oopgemaak het, iemand wat in die raad van God gestaan het, 'n dienskneg wat deur die Here gestuur is en sy Woord verkondig.

Kom ons lees na aanleiding hiervan Jer 23 wat nogal baie lig hierop laat val. Eintlik is die hele hoofstuk 23 hier ter sake, maar ek gaan net enkele verse vir julle uitlig. Jer 23:16 - 22 (nuwe vertaling): "So sê die Here die Almagtige: 'Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree nie. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulleself uitdink, nie oor wat die Here sê nie'." Hier praat hy nou oor die vals profete. "Hulle hou aan om vir dié wat My minag, te sê: 'Die Here sê daar sal vrede vir julle wees.' Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle: 'Daar sal nie 'n ramp oor julle kom nie.' Wie het in die raadskamer van die Here gestaan? Wie het alles gesien? Wie het gehoor wat Hy sê? Ja, wie het na sy woord geluister, wie het dit gehoor? Kyk, die gramskap van die Here laat 'n stormwind waai, 'n orkaan sal op die goddeloses afkom. Die toorn van die Here sal nie ophou voordat Hy sy planne uitgevoer het en gedoen het wat Hy besluit het nie. Daar kom 'n tyd dat julle dit alles goed sal verstaan."

Dan sê Hy in vers 21: "Ek het nie hierdie profete gestuur nie, tog het hulle met 'n boodskap rondgehardloop. Ek het nie met hulle gepraat nie, tog het hulle as profete opgetree. As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af." Kom ons lees vers 29: "My Woord is soos 'n vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word." Verse 35 en 36: "Julle vra vir mekaar, elkeen vir sy volksgenoot: 'Wat antwoord die Here?' of: 'Wat sê die Here?' Julle moenie meer verwys na die uitspraak van die Here nie, want elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die Lewende God." Dit is nou presies wat hier in Israel aan die gang was in Amos se tyd. Baie profete sê: "Nee, nee, die gramskap van die Here en sy toorn sal nie oor julle kom nie." Maar die Here sê: Dis nie mense wat in my raad gestaan het nie. As mense wat in my raad gestaan het profeteer, is my woord soos 'n vuur, soos 'n hamer wat klippe stukkend maak. Dis 'n woord wat mense daarop wys dat hulle hulle moet bekeer van hulle sonde.
 

GOD STUUR 'N PROFEET

Die positiewe wat ek ook vir julle wil haal uit verse 7 en 8, is dit: Die Here stuur in sy genade in sulke lotsbepalende oomblikke altyd sy profete. Hy stuur hulle om mense te waarsku en vir hulle die pad van bekering te wys, hoe om onder die toorn van God uit te kom. Dit is basies wat Amo 3:3 - 8 vir ons wil sê. Dis iets van 'n inleidende gedeelte, want van vers 9 af begin 'n groot nuwe gedeelte in Amos. Kom ons maak net 'n paar punte van praktiese toepassing vir die hier en nou. Nommer 1 moet ons verstaan dat die hele bedeling tussen die eerste koms en die wederkoms van Christus so 'n lotsbepalende moment is. Dit is in terme van God se raadsplan 'n genade moment, 'n tyd van genade. Daarom word hierdie bedeling gekenmerk deur die verkondiging van die evangelie. Die evangelie beteken egter nie net dit sal met ons nie goed gaan nie. God is nie net 'n God van liefde nie, dis 'n valse evangelie. Die ware evangelie begin só: "Die toorn van God word geopenbaar van die hemel af". Só begin die evangelie, die regverdiging deur die geloof alleen soos dit deur die apostel Paulus in Romeine uiteengesit word. Die evangelie werk altyd teen die duister agtergrond van God se toorn. Die evangelie sê dus vir mense: "Ja, God is 'n God van toorn, ja, die dag van afrekening sal gewis kom, maar" en hierin lê die goeie nuus, "daar is 'n pad uit, 'n pad van verlossing." Dis die pad van bekering, van geloof in Christus. Dis die pad van vasklou aan Christus, van skuil in Christus. Dis die goeie nuus, maar dis nooit goeie nuus opsigself nie, dis altyd goeie nuus teen die agtergrond van die dreigende oordeel wat kom. Maar wat belangrik is, is dat ons nou in so 'n genade moment leef.

Daarom het die Here God voortdurend deur die eeue tot 'n mindere of meerdere mate sy profete geroep om die evangelie te verkondig. Midde in die verskynsel van valse profesie, wat soms meer en soms minder mag voorkom, sal jy altyd maar weer die getroues hê wat in God se raad gestaan het en die waarheid verkondig. Ek het julle verlede week herinner aan wat gebeur het in die sg. donker eeue van ongeveer 500 n.C. tot 1500 n.C. toe, volgens die kerkgeskiedenis wat ons lees, daar totaal niks in die kerk aangegaan het nie. Dit was op die oog af 'n vervalle, dooie toestand waar die evangelie nóóit in waarheid verkondig is nie. Tog, as 'n mens gaan krap in die geskiedenisboeke en die argiewe, dan kry mens hier en daar 'n stukkie geskiedenis wat vir jou sê, dwarsdeur daardie duisend jaar was die ware profete tóg daar.

Hoekom is daar so min oor hulle geskryf in daardie duisend jaar? Omdat hulle net nie tyd gehad het om geskiedenis te skryf nie, hulle was gedurig op vlug. Hulle moes wegkruip. Ek het julle vertel van die Waldensiërs wat hier van die 11de eeu af hulle verskyning gemaak het en die waarheid begin preek het. Baie gou moes hulle eenvoudig vlug en gaan skuil het in die klowe en valleie van Switserland en die noorde van Italië. Daar was net nie tyd om so baie te skryf nie. In elk geval, as hulle gevang is, dan's hulle en al hulle dokumente verbrand. Maar die valse kerk en die valse profete het geskryf en dis in biblioteke opgeneem. Hulle is nooit bedreig nie, want hulle is nooit vervolg nie. Dit het net altyd met hulle goed gegaan. Hoekom is hulle nie vervolg nie? Hulle woorde was nie 'n aanstoot en 'n struikeling vir hulle hoorders nie. Dis hoekom ons baie oor die valse kerk lees. Maar selfs in daardie tyd was die getroue profete daar. Ons weet van 'n klomp van hulle, maar van die oorgrote meerderheid weet ons glad nie.
 

TOEPASSING

Ons leef in so 'n tyd in ons land op die oomblik. Alles dui daarop dat die leeu in ons land gebrul het. Ek sê nie noodwendig hier gaan burgeroorlog kom en hongersnood of wat ookal nie. Ek sê gewoon dat die skrif aan die muur is, al ons standaarde tuimel. Goed, dis vanuit óns perspektief, daar's ander mense vir wie die standaarde hopelik darem styg. Maar moreel, sedelik, kerklik, teologies, in terme van waarheid, is dinge besig om te verkrummel; ons lewe in so 'n tyd. Let verder op dat die beginsel van die genade moment nie net vir bedelinge, kulture en volkere geld nie, dit geld ook vir gemeentes en individue. Kyk maar na die sewe gemeentes in Opg 2 en 3, byvoorbeeld Efese en Laodicea. Hulle word skerp deur die Here Jesus gekritiseer is. Hy't vir Efese gesê, as jy jou nie bekeer nie, gaan Ek jou kandelaar verwyder. Jy sal net nie meer 'n gemeente wees nie. Vir Laodicea het Hy gesê dat hulle lou is, Hy gaan hulle uit sy mond uitspoeg as hulle hulle nie bekeer nie. Dit was so 'n lotsbepalende genade moment. Ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar as Efese en Laodicea hulle bekeer het, sou die Here hulle opgerig het. Maar as hulle hulle nie bekeer het nie, was dit hulle einde gewees. Gemeentes en individue het dus sulke lotsbepalende genade oomblikke.

Ons weet nie altyd wanneer dit is nie. Dit kan wees dat jy vanmôre hier sit, jonger of ouer, en dat die Gees nou al oor 'n tydperk oortuigend in jou werk. Maar jy bly Hom weerstaan en jy weet nóóit wanneer hierdie oomblik van genade verby sal gaan nie. Daar is niks wat enige een van ons waarborg dat ons volgende Sondag nog weer hier kan wees nie. Hou dit net in gedagte. Hier mag vanmôre iemand sit wat weet dat die Here al oor 'n tydperk met hom oor 'n saak praat, maar hy weerstaan Hom en hy's hakke in die grond, onwillig. Ek praat nie net van bekering nie, ek praat ook van gehoorsaamheid. Onthou net, jy beleef op die oomblik nog hierdie genade moment, maar dis baie moontlik 'n lotsbepalende genade moment.
 

GEEN LEE DREIGEMENTE NIE

'n Volgende punt van toepassing is dit: Amos wil ons hier in die eerste plek leer dat God se dreigemente nie leeg is nie. Nadat die leeu gebrul het, is dit net 'n kwessie van tyd voor die prooi in sy lêplek verorber word. Israel is binne drie of vier dekades hierna weggevoer en is, soos Esegiël geprofeteer het, verbrand in die stad of hulle het onder die swaard geval. Baie van die mense wat as jongmense vir Amos gehoor profeteer het, is dertig of veertig jaar later in die stad verbrand of het voor die swaard geval. Hulle is verstrooi onder die nasies om nooit terug te kom nie. Hulle het daar onder God se toorn gesterf. Dis die eerste saak wat ons moet verstaan. Die Nuwe Testament sê vir ons: Vlug vir die toorn wat aan die kom is.

Julle sal onthou dat Carl Henry met dr. Martyn Lloyd-Jones, voordat hy gesterf het, 'n onderhoud gevoer het. Carl Henry is 'n baie bekende Amerikaanse teoloog en nou al 'n bejaarde man. Die onderhoud is toe in "Christianity Today" gepubliseer. Dis 'n tydskrif wat oor die hele wêreld gelees word. Vir die van julle wat nie weet nie, dr. Martyn Lloyd-Jones was moontlik die grootste prediker van die twintigse eeu gewees. Lloyd-Jones het kanker gehad, dit was net voor sy dood, op twee-en-tagtig jaar. Carl Henry vra hom toe aan die einde van die onderhoud wat sy laaste woord vir die wêreld en die kerk in die wêreld sou wees? Lloyd-Jones het sonder aarseling gesê: "Flee from the wrath to come", vlug vir die toorn wat aan die kom is. Dit was ook sy laaste woord wat hy publiek geuiter het en dit was 'n profetiese woord. Nie omdat Lloyd-Jones nou hierdie figuur was nie, maar omdat dit waarheid was: Vlug vir die toorn wat aan die kom is!
 

GEEN OORDEEL IS ONVERDIEND NIE

Amos wil ons nog iets hier leer. Geen oordeel wat van die Here se kant af oor 'n persoon kom, is onverdiend nie. Dit is immers die voël se eie dwaasheid dat hy in die wip geloop het. As jy 'n wip stel, gooi jy mos 'n klompie saadjies onder die wip, maar julle sal met my saamstem, die wêreld is vol kos vir voëls. Hy stap onder die wip in omdat hy lui en gulsig is. Dit is dus sy eie skuld as hy gevang word. Hy kan niemand anders beskuldig nie en presies dieselfde geld vir Israel. Hulle is oor en oor, male sonder tal deur die profete gewaarsku. Toe die oordele van die Here ten slotte gekom het, kon hulle nie sê dat hulle dit nie verdien het nie. Dieselfde geld vandag vir ons. Nie een van ons, kinders, grootmense of oumense, sal eendag voor die regterstoel kan sê ons verdien nie hierdie straf nie. Almal van ons het die evangelie gehoor, almal van ons weet. Selfs die mense wat nie die evangelie gehoor het nie het, volgens Rom 1 & 2, die getuienis van die natuur daarbuite en die getuienis van hulle gewetens in hulle . Hulle weet dat hulle weet. Gaan lees maar Rom 1 & 2.
 

GOD BEHEERS DIE GESKIEDENIS

Hy wil ons 'n derde saak leer. God beheers die geskiedenis. Kyk wat staan in vers 6b: "Sal daar 'n ramp oor 'n stad kom as die Here dit nie gebring het nie?" Hy sê hier dat die Here rampe en onheile bring, dit kom van die Here God af. Jes 45:7 stel dit ook baie duidelik. Eintlik moet mens die hele konteks van verse 1 - 8 lees, maar kom ons lees maar net vers 7. Die Here sê hier: "Ek maak die lig en skep die donkerte; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge." Hy skep voorspoed, Hy skep rampspoed. Baie Christene wil dit nie hoor of sê nie. Dis 'n baie ongewilde waarheid in ons dag. Dik boeke word geskryf en baie ouens wy hulle hele lewe daaraan om te preek dat al die onheile wat ons daarbuite sien en die gebrokenheid van die duiwel af kom, nie van die Here af nie. Dis egter nie wat die Skrif leer nie. Die Skrif sê selfs vir die Nuwe Testamentiese gemeente van Korinte dat die oordele van die Here hulle sal tref as hulle aanhou om die nagmaal op 'n onwaardige wyse te gebruik. Trouens, sommige het siek geword en sommige is al dood onder God se tugtigende hand. Dit staan daar, swart op wit.

Maar jy sien, dis nie 'n gewilde boodskap nie. Hoekom nie? Omdat ons dag so gekenmerk word deur valse profesie, as ek nou maar 'n Ou Testamentiese uitdrukking kan gebruik. Valse profesie sê vir mense: vrede, vrede. En dit kom op baie maniere uit, bv. in die "faith prosperity gospel". Dit word vandag oor die hele kerklike spektrum, van links na regs, verkondig. Luister maar na die prediking in die algemeen. Lees maar die boeke wat in ons dag verskyn, luister na die radio en televisie. Vrede, vrede, bedoelende God is net 'n God van liefde, Hy sal niemand ooit skade aandoen nie. En dis omdat ons in ons dag soveel valse profesie hoor, dat die waarheid so skokkend ongewild is. Maar die Bybel sê vir ons dat selfs rampe van God afkom. Jy sê, maar wat is die rol van die duiwel? Die duiwel is nie God se opponent in die skaakspel nie, hy's een van die pionne in die skaakspel. Gaan lees Job. God het vir die duiwel perke daar gestel. Hy"t gesê: Ja, jy kan dít alles doen, maar jy gaan nie verder as dít nie. Daar trek Ek die streep. Die duiwel kon nie aan Job se lewe raak nie, maar alles duskant die dood kon hy oor Job laat kom. Satan is dus God se pion, hy's nie God se opponent nie. Dit maak 'n totale verskil.

Broers en susters, dis nie nodig dat ons die Here verdedig nie, ons het nie nodig om Hom, as ek dit plat kan uitdruk, van die "hot seat" af te kry nie. Ons is so skaam vir al die goed wat God van Homself in die Bybel sê. As ek met mense, ongelowiges of mense wat nie van die ou Testamentiese God hou nie praat, dan het ek allerhande verskoninkies en ek probeer dinge wegredeneer. Nee, God is die God van toorn. En mag ek julle net weer herinner, ons hoef nie net die Ou Testament te lees om dit te sien nie. Die ergste beskrywinge van God se toorn lees ons in die Nuwe Testament, in Openbaring. Openbaring sê in die laaste dae, wanneer die Here in sy toorn na hierdie wêreld toe kom, sal mense in die gate en skeure van die berge invlug. Hulle sal wens die aarde wil hulle insluk. Maar hulle sal Hom nie kan ontvlug nie. Hulle sal wens hulle kan tog net sterf, maar hulle sal nie kan nie. Dis nie nodig dat ons God verdedig of skaam kry vir ons God nie. Hy is wat Hy is.


GOD HET NOG SY PROFETE

Ook in hierdie tyd wat ons leef het die Here God sy profete. Dit beteken nie dat hulle vandag nuwe profesieë by die Here kry nie. God se openbaring aan die mens is afgesluit met die laaste vers van Openbaring. God se profete vandag is post-apostoliese profete. Dis profete wat die Woord van die Here verkondig, nie meer omdat hulle nuwe dinge by die Here hoor nie, maar omdat God met hulle uit sy Woord praat en omdat hulle sonder huiwering die volle raad van God, soos neergeskryf in die Woord, verkondig. Hulle is dus predikers van die Woord, die volle raad van God. Hulle is predikers wat niks terughou nie, wat alles sê wat die Woord sê, skaamteloos, openlik, ongeag hoe dit ontvang word. En hulle is orals in ons land. Ons sal hulle in bykans elke denominasie kry, loof die Here daarvoor. Daar is seker denominasies waar hulle omtrent nie meer is nie, daar is sekeres waar daar nog 'n paar is en daar is ander waar daar talle is. Laat ons die Here vir hulle loof. Dis mense wat 'n brandende vlam in hulle binneste het om te sê: So spreek die Here.


PROFEET: WAAR OF VALS?

Maar hoe sal ons die onderskeid tussen 'n ware en 'n valse profeet ken? 'n Ware profeet is nie noodwendig iemand wat net altyd die oordele van God verkondig nie. Hy verkondig natuurlik ook die liefde van die Here. Hy verkondig die vólle raad van God en dit is dus nie so maklik om altyd die onderskeid raak te sien nie. Wel, ons sou kon sê 'n ware profeet sal óók die oordele van God verkondig en 'n valse profeet bykans nooit, indien hoegenaamd. Maar kom ek gee vir julle 'n ander perspektief op die saak. As iemand die Woord van God en die evangelie verkondig, sal daardie evangelie wat hy verkondig, slegs betekenis hê in die lig van die ewigheid. Die woord wat hy verkondig sal altyd duidelik word en sy betekenis kry wanneer die lig van die ewigheid daarop skyn. 'n Ware profeet se prediking het dus net betekenis in die lig van die toekoms.

Hoekom is dit so? 'n Ware profeet spreek die historiese nou, die situasie hier en nou aan, maar hierdie "nou" kry sy gewig, sy erns, sy lotsbepalende karakter vanuit die aanstormende toekoms. Omdat die toekoms die oordele van God inhou, juis daarom is hierdie oomblik so belangrik. As daar geen oordele van die Here God in die toekoms was nie, wat maak dan van hierdie oomblik 'n gewigtige oomblik? Wat maak van die evangelie waarlik evangelie as daar geen oordele was nie? Hoekom sal ons ons bekeer, hoekom sal ons bekering preek? Hoekom sal ons dink dis so wonderlik dat Christus vir ons gesterf het? Dit is omdat God se toekoms op ons afstorm, dat hierdie oomblik sy gewig en sy erns kry. En dit is kenmerkend van ware profesieë, van prediking dus. As daar nie 'n toekoms van God se oordele, van sy toorn van geregtigheid of 'n oordeelsdag is nie, dan is enige prediking wat nou sê: Bekeer julle, vlug vir die toorn wat moet kom, niks anders as 'n wolf-wolf-skreeuery nie.

Daar gaan dan nooit 'n wolf kom nie! Dit was soos Johannes die Doper gepreek het. Hy't nie vir die mense gesê, bekeer julle sódat die koninkryk kan kom nie. Hy't vir die mense gesê: "Bekeer julle wánt die koninkryk kom." Sien julle die verskil? En presies hier lê die subtiele verskil tussen waarheid en leuen. 'n Mensgesentreerde prediker sal sê, bekeer julle sodat ons 'n beter lewe kan hê, sodat daar vrede kan wees, ens. Die waarheid sê: Bekeer julle ómdat God in sy toorn kom. Die leeu het gebrul, dáárom, bekeer julle. Dis 'n subtiele verskil, maar dis 'n totale, 'n wesensverskil. Mag die Here ons help om in hierdie dae te onderskei en getrou te wees.