Die Boodskap van Amos - 4
Amos 2:4 - 3:2
God trek niemand voor nie!
Nico van der Walt
In die vorige preek het ons na Amo 2:4-5 gekyk - Amos se profesie teen Juda. Ons het Amo 2:6-16 gelees en ek het dit as 'n eenheid begin behandel. Ek wil dus verder daarmee gaan. Kom ons lees Amo 2:6 - 3:2. (Lees) As 'n mens goed na hierdie gedeelte kyk, dan sien jy dat daar drie groot areas van sonde is waaraan Juda en Israel skuldig was. Die eerste een was dat hulle God se wet en sy voorskrifte verwerp het. Tweedens het hulle, net soos hulle voorgeslagte, hulle deur leuens laat verlei - die hele kwessie van tradisie en die leuen, ens. Ons het heelwat tyd aan albei afgestaan. TOTALE MORELE VERVAL Die derde sonde waarna ons nou gaan kyk, is dat hulle moreel en sedelik totaal verval het. Dit wat hier beskryf word is skrikwekkend in enige taal. Amos skets hier in verse 6b-8 'n verskriklike verdorwe samelewing in die noordelike tienstammeryk. Hy sê: "Maar nou het hy nóg sondes daarby gevoeg: hulle verkoop onskuldige mense vir geld, arm mense oor 'n paar sandale; hulle trap swakkes se koppe plat in die grond en veronreg dié wat hulleself nie kan verweer nie; pa en seun kuier by dieselfde meisie en doen my heilige Naam oneer aan; langs elke altaar strek die Israeliete hulle uit op klere wat as pand gevat is; in die huis van hulle God drink hulle die wyn van dié wat uitgebuit is." Verder lees ons van tragiese immoraliteit. Hy sê pa en seun kuier by dieselfde meisie en doen sy heilige Naam oneer aan. Ek dink nie dis nodig dat ons daarop hoef in te gaan nie. Ek dink ons sal almal saamstem, selfs vandag in óns samelewing is só iets skokkend! Maar dit het gebeur. Mag ek julle ook net daaraan herinner dat ons vantevore gesien het dat die mens se verval en sy morele verdorwenheid deur die eeue nie agteruitgegaan nie, maar ook definitief nie verbeter het nie. Dis maar dieselfde. Daarom sit daar in menslike pogings, menslike moraliteit geen hoop vir die mens nie. Hy kan homself eenvoudig nie aan sy eie skoenveters optel nie. Dis maar 'n manier van Amos om te sê: Min of meer elke man in Israel lewe onsedelik en, kan ek dit maar so uitdruk, slaap rond. Hy skets ook skrikwekkende godslastering wat aan die orde van die dag was. Ek moet dit miskien net so bietjie verduidelik. Wat hy hier in vers 7 skets as hy sê: "Pa en seun kuier by dieselfde meisie, en doen my heilige Naam oneer aan; langs elke altaar strek die Israeliete hulle uit op klere wat as pand gevat is; in die huis van hulle God drink hulle die wyn van dié wat uitgebuit is", staan bekend as tempelprostitusie. Tempelprostitusie was 'n algemene praktyk in die antieke wêreld. Mens het dit definitief in die Kanaänitiese godsdienste gekry, m.a.w. die omliggende volke het dit almal beoefen, en 'n mens het dit in die Nuwe Testamentiese tyd in Rome en in Griekeland ens. gekry. Maar waarom sê ons dit gaan hier oor tempelprostitusie en wat is dit? Die werkwoord wat hy hier in vers 8 gebruik vir "uitstrek", "langs elke altaar strek die Israeliete hulle uit", is in die Ou Testament altyd transitief, m.a.w. hy strek nie homself uit nie, maar iemand anders. In hierdie konteks kan dit niemand anders wees as die meisies by wie hulle kuier nie. Ek dink ons verstaan dit. En hulle doen dit by die altare. Dit dui dus duidelik op tempelprostitusie. Waaroor het tempelprostitusie in die antieke wêreld gegaan? Kom ek gee vir julle 'n illustrasie. Wat doen jy as jy 'n klein babatjie het wat nog nie kan praat nie en dis nodig dat hy sy neus blaas? Wel, jy blaas eers jou neus voor hom, is dit nie so nie? En dan hoop jy nou maar dat hy dit sal raaksien. Jy hoop hy sal jou na-aap. Dit was ook die filosofie agter hierdie tempelprostitusie. Die kommunikasie tussen die Baäl-aanbidders en hulle afgod was min of meer op hierdie vlak. Met hulle tempelprostitusie het hulle hulle god aan die verstand probeer bring dat hulle vir sy bevrugting van die land, van hulle landerye, hulle kuddes en die bevrugting van mense bid. Dit was hulle manier om te demonstreer hoe hulle na sy seën en bevrugting verlang. Vir ons klink dit absoluut absurd, maar dit wys jou net hoe bankrot iets soos die Baälgodsdienste was en hoe bankrot alle afgodediens is. As 'n mens vandag die moeite sou doen om na die Ooste toe te gaan en jy sien sekere van die Oosterse godsdienste wat hulle daar beoefen - hulle sal bv. by 'n Budha-beeld sit en gebedsversoeke op papiertjies skryf. Dan sal hulle dit kou en die koutjie teen die Budha-beeld probeer vasgooi, dat dit daar vassteek - en dan hoop hulle daardie beeld sal hulle beantwoord. Dis nou mense van die twintigste eeu wat ons in 'n sekere sin tegnologies ver voor is. Die punt is net: As 'n mens godsdienstig raak, dan kan jy naderhand verskriklike goed aanvang in jou nood en in jou behoefte dat die gode jou moet hoor. Dit dui op die totale bankrotskap van afgodery.
Let verder op dat hulle dit nie in heidentempels gedoen het nie, want daar staan dat hulle die wyn wat hulle gebuit het in die huis van hulle God drink. Na alle waarskynlikheid sinspeel Amos hier daarop dat hulle dit in Bet-El, Gilgal en Berseba gedoen het. Dit was die punte van aanbidding in die noordelike tienstammeryk. Julle sal onthou dat hulle hulle eie plekke van aanbidding daargestel het sodat die mense nie na Jerusalem toe sou wegdros om daar by die tempel te gaan aanbid nie. As hy in vers 7 sê hulle "kuier by dieselfde meisie en doen my heilige Naam oneer aan", dan sê die Hebreeus eintlik daar "met die doel om my heilige Naam oneer aan te doen". Daar sit dus iets van 'n doelgerigtheid daarin - ten einde my Naam oneer aan te doen. Hierdie mense sou waarskynlik verontwaardig gewees het oor die beskuldiging. Maar wanneer mense iets doen waarvan hulle wéét dat dit God aanstoot gee en beledig en hulle gaan nogtans voort om dit te doen, dring die Bybel daarop aan dat dit so goed is as dat hulle dit doen met die doel om Hom te onteer. Dis hoekom ek sê dis godslastering. Die ergste van alles is dat hulle nog 'n heildronk daarop gedrink het! Met gebed en wyn, daar langs die altare van die Here, of altare waarvan hulle sê dit altare vir Jahweh is. Julle sal uit die eerste Amos-preek onthou dat daar in daardie tyd baie sinkretisme in die noordelike tienstammeryk was. Daar was 'n vermenging met Baälgodsdienste en die Astartes, net soos wat 'n mens dit vandag in dele van die sg. christelike kerk in Suid-Amerika kry. Die Roomse Kerk in Suid-Amerika is só sinkretisties dat 'n mens nie weet of dit ókkultisties is en of dit verband hou met die Indiaanse godsdienste daar en of dit Rooms Katoliek is nie. Jy kry sinkretisme in Afrika; selfs die Sionistiese godsdienste in Suid-Afrika is baie, baie sinkretisties. Hierdie is dus nie 'n saak wat ons so moet skok asof dit nooit gebeur nie. Dit gebeur rondom ons, orals en heeldag. Hier in die Vaaldriehoek is daar vandag stukke en stukke sinkretisme. Maar die sinkretisme wat hier beskryf word, was baie skokkend gewees.
Wat eintlik baie erg is, is dat hulle ál dieselfde sondes as die heidene om hulle gedoen het. Julle sal die bestraffinge van die ses heidennasies om hulle in Amos 1 onthou. Maar hulle het verder gegaan as al die heidene om hulle. Hulle het by al hierdie sondes ook nog die sonde van godslastering gevoeg - moedswillige, uitdagende godslastering. Om die beskrywing van hulle sonde nou nog te intensiveer, gaan Amos in die Naam van die Here in verse 9-11 voort en herinner hulle aan alles wat God in sy verbondstrou vir hulle gedoen het. En ten spyte van wat die Here vir hulle gedoen het, leef hulle so in sonde. In hierdie gedeelte word die eerste persoon baie sterk beklemtoon. Daar word vyf keer 'n werkwoord in die eerste persoon gebruik, m.a.w. die Here sê telkens: "Ek doen dit." Dan beklemtoon Hy nog twee keer daardie werkwoorde deur die eerste persoon voornaamwoord te gebruik en te sê: Ek, ja Ek het dit gedoen. Hy sê daarmee: "Ek het julle gered uit Egipte uit. Ek het julle versorg en julle veertig jaar in die woestyn gelei." Deur "veertig jaar" te sê, onderstreep Hy eintlik vir hulle die rede hoekom dit veertig jaar was. Hy het hierdie hele land vir hulle gegee, en wat meer is, sê Hy dan in vers 11: "Ek het van julle seuns as profete laat optree en van julle jong manne as nasireërs. Is dit nie so nie, Israeliete? vra die Here." Hy sê dus: "By al hierdie wonderlike gawes wat Ek vir julle gegee het, my versorging, ondersteuning, bewaring en leiding deur al die jare, het Ek julle ook nog my openbaring gegee. Ek het vir julle profete gegee om my Woord vir julle deur te gee en nasireërs om my Waarheid en my Wil te kom demonstreer." Julle sal onthou wat 'n nasireër was. Dis iemand wat deur die Here geroep is. Hy is nie toegelaat om sy hare of sy baard te sny nie, of om sy lippe aan alkoholiese drank te sit nie. Hy was totaal afgesonder vir die Here. As een van sy dierbares gesterf het, is hy nie eers toegelaat om aan die lyk te vat en homself te verontreinig nie.1 Die hele gedagte was dat dit mense was wat die Here geroep het en hulle absoluut totaal net vir Homself afgesonder het. Mens het die indruk dat die nie eers nodig was dat hulle gewerk het nie, hulle moes net dáár wees vir die Here. Hulle was amper simbole van wat God wou hê sy volk moet wees, afgesonder vir Hom. Hy sê: "My profete het al my waarhede aan julle verduidelik en die nasireërs het dit gedemonstreer. Is dit nie so nie, Israeliete?" Hy gaan aan in vers 12 en sê: "Maar julle het die nasireërs laat wyn drink en die profete belet om as profete op te tree." Dis 'n skrikwekkende sonde. Die openbaring wat Hy vir hulle in sy goedheid gegee het, het hulle verag. Hulle wou dit nie gehad het nie, en het die profete verbied om te profeteer. Hulle wou nie sy Woord hoor nie en het vir die profete gesê: "Bly stil, ons wil nie hoor nie." En wat meer is, hulle het die nasireërs gedwing om drank te gebruik. Mens kan jou indink met watse gelaggery en gespottery hierdie nasireërs gedwing is om drank te gebruik. Hulle is waarskynlik eenvoudig gevat en deur 'n massa mense gedwing. Hulle koppe is agteroor geruk aan hulle lang hare, hulle monde is opgeruk en die wyn is seker net ingegooi en almal het gelag by hierdie dronkneste! God sê: Dit het julle gedoen, júlle het my openbaring verag. Hierdie sonde is natuurlik ekwivalent aan die onvergeeflike sonde in die Nuwe Testament waarvan ons in 'n vorige preek kennis geneem het. Dis presies dieselfde sonde hierdie. Dit is wanneer iemand deur genadewerkinge van die Gees diep ingesien het in die Here se raadsplan, in sy evangelie. Vir 'n tyd lank het hy in die verbondskring van die gemeente beweeg en gesien hoe die Here God se Gees in mense se lewens werk. Miskien het hy self ervaar dat die Gees deur hom gewerk het. En dan draai hy om en sê: "Ek soek dit nie". Hy verag en verloën dit. Dit is presies wat hierdie mense gedoen het. Daarom sê hy in verse 13 tot 16 dat die straf onafwendbaar is. Dit is baie interessant as jy mooi gaan kyk na die teks wat hy hier in vers 13 beklemtoon. Kom ons lees dit: "Daarom laat ek julle vasval net waar julle is soos 'n wa vasval wat te vol gerwe is." 'n Wa wat so vasgeval het, kan nêrens heen nie. Hy kan nie vorentoe en hy kan nie agtertoe nie, hy's magteloos vasgevang. Hy skets daar dat mense ten spyte van besondere vaardighede, liggaamlike en tegniese vermoëns, nie één sal wegkom nie. Hy beklemtoon ook: "Daarom laat ek julle vasval". M.a.w. Hy sê: let daarop, die God wat julle uit Egipte uitgelei het, wat julle 40 jaar lank in die woestyn versorg het, wat vir julle die land as erfenis gegee het en al julle vyande voor julle uitgedelg het, die God wat vir julle profete en nasireërs gestuur het, dis presies dieselfde God. Dis belangrik dat ons dit raaksien. Dis presies dieselfde God wat hierdie verskrikllike oordele oor hulle gaan stuur. Hy gebruik in vers 13 dié vorm van die werkwoord om te beklemtoon dat dit Hy is. Hy voeg verder die persoonlike voornaamwoord ook daarby . Mens sou dit so kon vertaal: "Ek, ja Ek, gaan julle straf." Skielik word die God van genade, van trou en oorwinning, hulle vyand. Dis glad nie 'n vreemde gedagte in die Bybel nie. Mens lees bv. ook in Jes 63 dat God die verbondsvolk se vyand geword het. Waarmee ons hier te doen het, is natuurlik die wraak van die verbond. Ons kry hierdie uitdrukking in Lev 26:25, maar kom ons blaai net na Deu 26 toe. As ons Deuteronomium lees, moet julle onthou dat ons hier te doen het met 'n herbevestiging van die Sinaïtiese verbond. Dit is bykans veertig jaar na Sinaï. Dis Moses se laaste preek, waarskynlik sy laaste openbare optrede, en hy lei die verbondsvolk in 'n herbevestiging van die verbond. Dan sê hy daar in Deu 26:16: "Die Here jou God beveel jou vandag om volgens hierdie voorskrifte en bepalings te leef en om hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel. Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister. Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is". Sien jy die twee kante van die verbond hier? Jy het verklaar dat jy gehoorsaam sal wees en die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het. Hy het gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam en dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel. Hy sal aan jou meer lof en roem en eer as aan hulle gee en jy sal 'n volk wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos Hy jou beloof het. Dis die samevatting of opsomming van die verbond. Let nou op na hoofstuk 27:9: "Moses en die Levitiese preisters het vir die hele Israel gesê: 'Bly stil en luister, Israel! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword.'" Hy bedoel nie dis nou vir die eerste maal nie, maar by hernuwing het hulle dit bevestig en is hierdie verbond vasgemaak. Omdat Moses geweet het hy sal nie by wees as die volk deur die Jordaan trek nie, sê hy in vers 10 vir hulle: "Jy moet na die Here jou God luister en jy moet lewe volgens die gebooie en die voorskrifte wat ek jou vandag beveel. Op dieselfde dag het Moses vir die volk gesê: 'Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet die volgende stamme op die Geresimberg gaan staan: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. Hulle moet die volk seën. Die volgende stamme moet op die Ebalberg gaan staan: Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali. Hulle moet die straf aankondig. Die Leviete moet hardop vir die hele Israel sê: Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n afgodsbeeld uitsny of giet en dit in die geheim êrens neersit om te vereer. Dis tog baie interessant dat daar in die geval van Juda, wat heelwat later in ballingskap weggevoer is, tog 'n oorblyfsel was. In die geval van Israel het ons die indruk dat daar vir alle praktiese doeleindes geen oorblyfsel was nie. Selfs van Juda was daar maar 'n uiters geringe oorblyfsel. Esegiël beskryf dit op 'n aangrypende wyse in Esel 5. Al is Esegiël vroeër in die Bybel, is dit chronologies veel later, want Esegiël was saam met Juda in die Babiloniese ballingskap. Die noordelike tien stamme is in die Assiriese ballingskap weggevoer, maar Juda is eers heelwat later deur Babel weggevoer. Die Here God gee vir Esegiël 'n handelingsprofesie in Ese 5:1: "Mens, vat 'n skerp swaard en gebruik dit vir 'n skeermes en skeer af jou hare en jou baard. Vat dan 'n skaal en deel die hare in drie. 'n Derde moet jy binne-in die stad verbrand sodra die beleg verby is, 'n derde moet jy met die swaard rondom die stad fynkap, en 'n derde moet jy deur die wind laat weg waai."
As God deur die profeet Amos sê: "Israeliete", dan herinner Hy hulle dat hulle sy verbondsvolk is. In vers 2 sê Hy uitdruklik: "Ek het net vir julle uitgekies uit al die volke van die aarde". Daar is soveel nasies, maar hulle alleen het Hy liefgehad. Let verder op, Hy sê ómdat Hy hulle liefgehad het, ómdat Hy hulle uitgekies het en hulle sy verbondsvolk is, daarom sal Hy hulle straf oor al hulle sondes. Dis 'n geweldige waarheid hierdie wat ons moet raaksien. Ons ken nie die Here soos ons Hom moet ken as ons nie hierdie waarheid raaksien nie. Die probleem met Israel was dat hulle die verbond verkeerd verstaan het. Hulle het gedog genade beteken voortrekkery. Hulle het gedog verbondstrou beteken daar sal geen straf wees nie. Maar hier sien ons dat straf in die verbond inbegrepe is. God se oordele is deel van sy verbondstrou. Die feit dat Hy hulle hier kom straf, is júis 'n uitdrukking van die feit dat Hy nie verbondsbreuk pleeg nie. Hy los hulle nie maar nie. Hy kom en Hy gryp in. Wat ons hier sien is dus verbondshandhawing. Mag ek julle net weer aan sekere antieke gebruike by 'n verbondsluiting herinner? Julle sal die geleentheid onthou toe God met Abraham die verbond gesluit het. Abraham moes 'n klomp diere slag, en hy moes die helftes teenoor mekaar pak. En toe het daar 'n diep slaap oor hom gekom. God het toe soos 'n brandende vuur tussen hierdie diere deurgeloop. Wat beteken dit? Wat is die agtergrond daarvan? Dit was algemene gebruik destyds as twee konings bv. met mekaar 'n verbond gesluit het, dat hulle 'n klomp diere geslag en die helftes teenoor mekaar gepak het. Hulle het dan saam tussen hierdie halwe karkasse deurgeloop. Daarmee het hulle gesê, mag die een wat hierdie verbond verbreek, so vernietig en geslag word, hy en sy volk. Maar wat betekenisvol is in die geval van Abraham is dat die Here hom nie toelaat om tussen die karkasse deur te stap nie. Hoekom nie? Hy het geweet Abraham kon nie die verbond hou nie. Onthou julle wat Johannes die Doper gepreek het? Hy't gesê, bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Kyk, die Koning se byl lê al teen die wortel van die bome, elke boom wat nie vrug dra nie, gaan Hy uitkap en verbrand. Sy skop is in sy hand, dit gaan nou gebeur. Hy gaan sy dorsvloer deur en deur skoon maak. Hy gaan die kaf verbrand en sy koring bymekaar maak. Bekeer julle dus, want die Koning kom.2 Hy gaan suiwering teweegbring. Die hele idee van die oorblyfsel wat ons in beide Amos en Esegiël sien, wys vooruit op dit wat die Here God in die Nuwe Testament deur sy Heilige Gees kom doen. Maar dit beteken nie dat ons nie ook hierdie scenario in die kerk van ons dag kry nie. Die feit bly net staan dat mense wat wedergebore is, bekeerde mense, dikwels nie kan verstaan hoekom die volk so bly sondig het nie. Maar wat ons moet begryp is dat dié van ons wat in Christus is, die Gees het wat in ons woon. Ons het nuwe harte ontvang. Ons is deel van die oorblyfsel. Ons is deel van die mense wat Esegiël soos 'n klossie hare moes wegsteek. Julle sê, maar ons leef nie in sy tyd nie! Maar ons moet dit uit God se hoek sien. God leef in die ewige Nou en Hy't na die ganse mensheid gekyk - van die eerste tot die laaste. Hy't gesê, uit hulle is daar 'n oorblyfsel, is daar een klossie hare wat Ek sal red. Broeders en susters, ons is deel daarvan! Maar ons moenie die verbond verkeerd verstaan nie. Nommer een moet ons nie die verbond veroutestamentiseer nie. Ons moet nie teruggaan na 'n situasie soos hierdie en net eenvoudig aanvaar dat die kerk maar so lyk nie. Ons moet Nuwe Testamentiese perspektief op die verbondsvolk kry. Tog moet 'n mens verstaan dat ons tot vandag toe nog iets hiervan in die Nuwe Testamentiese kerk sien. Een van die groot probleme is mense wat die verbond as voortrekkery sien. Hulle sien God se verbondstrou asof daar geen straf sal wees nie, maar Petrus het ook in sy eerste brief gesê dat die oordeel by God se volk moet begin.3 Daarom, as ons met hierdie perspektief in die kerkgeskiedenis terugkyk, dan sien ons hoe die Here voortdurend maar weer sy kerk gesuiwer het. Soms het Hy dwaalleer gestuur, soms vervolging. Ja, in 'n sin is dit Hy wat dit gestuur het. Jy sê dis die duiwel. Ja, dit mag die duiwel wees wat dit gebring het, maar die duiwel is slegs 'n pion op God se skaakbord. Die feit bly net staan, hierdie dinge het suiwering in die kerk gebring. Daarom is bloedige vervolging een van die wonderlikste dinge wat met die kerk kan gebeur. Niemand van ons het moed om daarvoor te bid nie en ek dink ook nie ons behoort daarvoor te bid nie. Maar as dit kom, moet ons weet dat die Here besig is met loutering. Hy's besig met verbondsuiwering om vir Homself lof te berei. Kyk na die kerkgeskiedenis dan sien jy dit. Op die oog af is die kerkgeskiedenis een stuk skandvlek op die naam van die Here. Kyk jy egter met hierdie perspektief daarna, dan sien jy die klossie hare orals, die goue draad wat deurloop. In die vorige preek het ek na die Waldensiërs verwys. Hulle het al in die 11de eeu na Christus, vier eeue voor die reformasie, belydenisskrifte gehad wat deur en deur Godgesentreerd was. Ek het vir julle vertel van die mense wat vir eeue die waarheid wat hulle in die Woord gekry het van vader na seun aangegee het. Dít terwyl hulle in die klowe en valleie van Switserland en Italië geskuil het. Die Here God het nog altyd 'n oorblyfsel gehad! Hierin sit groot troos, ook vir ons. Ek dink ons wonder baie dae wat in die 21ste eeu gaan gebeur - as die Here solank sou talm om te kom? Wat gaan van ons kinders en hulle kinders, ons nageslag word? Hoe gaan die wêreld lyk waarin hulle grootword? God sal tot op die dag dat Jesus Christus op die wolke kom, altyd 'n oorblyfsel hê! Ons wil vertrou dat Hy dit ook hier in Suid-Afrika sal hê. Ja, in die geskiedenis is dit so dat die kerk in sekere landstreke soms heeltemal uitgewis is. In Noord-Afrika en die Midde-Ooste, argumentshalwe, is die kerk omtrent heeltemal uitgewis. Maar dit is die uitsondering. Die reël is dat daar altyd 'n oorblyfsel is wat die Here in getrouheid dien. Daarom sal die van ons wat dan nog lewe ook in die 21ste eeu sien hoe mense tot bekering kom. Al is hulle tegnologies hoe gesofistikeerd. Al lag hulle vir ons. Kan julle dink hoe ons kleinkinders hulle sal kraak soos hulle lag as ons hulle van die Internet vertel? Net 'n laaste gedagte: Het julle al gewonder hoekom dit nodig is dat ons wat in Christus geregverdig is se sondes dan weer op die rol moet verskyn? Hoekom moet al ons sondes as't ware deur die hofordonans van die dakke af uitgeroep word? Omdat God Homself, besonderlik sy Seun, daarin wil verheerlik. Ons sê hierdie dinge met huiwering. Ons moet as't ware ons skoene uittrek as ons hieroor praat, maar dit lyk vir my dat die Skrif vir ons sê dat ál my sondes ter sprake sal wees op die dag voor die regterstoel. Die rede moet ons só verstaan: As sonde A uitgeroep word, sal dit die Here God geleentheid gee om te sê: Hierdie sonde is reeds gestraf, is reeds betaal. My seun het dit betaal. En die volgende sonde - Christus het dit betaal! En die volgende sonde - Christus het dit betaal! En die volgende sonde - Christus het dit betaal! En die volgende sonde - op Godgota is dit betaal! So sal die regterstoel een magtige triomf wees vir die eer van die Here God en die lof van ons Here Jesus Christus. Soos 'n refrein, tien miljoene kere, sal daar gehoor word: Christus het dit betaal! Christus het dit betaal! |