Die Boodskap van Amos - 2
Amos 1:3-2:3
Profesieë teen die Nasies
Nico van der Walt
In die vorige preek het ons na Amo 1:1&2 gekyk. Nou moet ons by Amo 1:3 begin. Ons lees die res van die hoofstuk en tot en met Amo 2:3. Let daarop dat Amos hier teen ses heidennasies profeteer. Die eerste profesie is teen Damaskus. (Lees 1:3 & 2:3) Die vraag is nou natuurlik watter woord van die Here ons uit so 'n gedeelte kry?
Mag ek net weer julle geheues verfris as ons na Amos kyk? Sy naam beteken die man met 'n las, die man op wie die Here God 'n las neergesit het. Amos was een van die vier profete van die agste eeu. Daar was in daardie tyd vier profete wat prominent in Israel opgetree het. Benewens Amos was daar Jesaja, Hosea en Miga. Al vier hierdie profete het sterk veroordelend teen die volk van hulle dag gepreek. Hulle het die volk gewaarsku dat dit net 'n kwessie van tyd is voordat hulle in ballingskap wegvoer sou word. Amos het in ongeveer die jaar 760, 750 v.C. opgetree, en die ballingskap was natuurlik in 722 v.C. Amos tree dus so 30, 40 jaar voor die ballingskap van die noordelike tienstammeryk (Israel) met Samaria as hoofstad, op. Dis die Assiriese ballingskap. Dus, in historiese terme was dit maar 'n oomblik voordat die ballingskap - die oordele van die Here - oor hierdie noordelike tien stamme gekom het. Amos is uit die suidelike tweestammeryk gestuur. Die plekkie waar hy vandaan gekom het, Tekoa, was so ongeveer 10 km suid van Betlehem. Hy was nie 'n professionele, opgeleide profeet nie. Hy was 'n gewone skaapboer en het ook met wildevye geboer. Hy gaan absoluut manmoedig onder die hand van die Here na die tienstammeryk en begin profeteer. Maar dit is baie interessant dat hy in die eerste plek teen ses omliggende heidennasies profeteer. Julle sal later ook sien dat hy teen Juda, waar hy vandaan kom, 'n kort gedeelte profeteer. Daarna begin hy met sy profesieë teen Israel.
OORSIG Kom ons kyk nou na hierdie gedeelte wat ons gelees het - hierdie profesieë teen ses heidennasies. Dit is baie opvallend dat hy nie een van hierdie heidennasies bestraf oor godsdienstige sondes, sondes direk teen God nie. Julle sal oplet as ons by Juda en Israel kom, dat hy hulle keer op keer oor godsdienstige sondes bestraf, maar nie die heidene nie. Daar's geen sprake daarvan nie. Hy bestraf hulle voor die voet oor sondes teen hulle naaste, teen hulle medemens, teen die volkere om hulle. Hoekom is dit so? Na alle waarskynlikheid het dit daarmee te doen dat die heidene nie God se besondere openbaring ontvang het nie. Jy vra hoe hulle dít moes geweet het? Kyk ons na die Nuwe Testament, sien ons in Rom 1 en 2 'n baie duidelike uiteensetting deur die apostel Paulus van die feit dat selfs die heidene presies weet dat daar 'n God is. Hulle weet dat Hy standaarde het en dat hierdie standaarde natuurlik ook besonderlik teenoor die naaste geld. Hy sê m.a.w. die heidene, die ongelowiges, het iets van die algemene openbaring ontvang. Hulle is dus in terme daarvan inderdaad skuldig voor God. Die besondere openbaring het as sentrale tema wie God is en hoe ons Hom moet dien en dat Hy ons verlos, ens. Die algemene openbaring het veral te doen met hoe ons met ons naaste moet omgaan. Dit is verder opvallend dat, elke keer as hy vir hulle sê watter oordeel hulle gaan tref, hy die beeld van vuur gebruik - en vuur is reg deur die Bybel 'n beeld van oordeel. Daar is seker niks wat so finaal en vernietigend as vuur verteer nie. Dis die hele gedagte. Die punt is hier: Uiterste skuld voor God vereis ook uiterste verdoemenis. Voordat ons net vinnig na elkeen van hierdie ses heidennasies kyk - dit het julle seker opgeval dat hy elke keer 'n formule gebruik. Hy sê: "As julle drie keer sonde gedoen het, sou Ek dit nie teruggehou het nie, maar nou't julle 'n vierde keer gesondig." Die ou vertaling sê dit meer letterlik: "So sê die Here: Oor drie oortredinge van Damaskus, ja oor vier, sal Ek dit nie afwend nie". Dit was maar 'n tipiese manier om in ou Hebreeus te sê dat die maat van hulle sonde vol, trouens, meer as vol geword het. Daardie vierde een sê, drie het hom volgemaak, die vierde laat hom oorloop. Dis asof die Here vir hulle sê: Ek het julle weer en weer gewaarsku, genadetyd is nou verby! Dis natuurlik ook betekenisvol dat ons sal verstaan dat heidense volkere genadetyd het. Dit geld sekerlik vandag nog en dit is ook hoekom 'n mens in die geskiedenis sien dat beskawings vir 'n tyd lank, soms vir eeue, bestaan en dan net onkeerbaar begin verbrokkel. En die verbrokkeling van 'n beskawing gaan altyd gepaard met veroordeling, met ellende en met verskriklike sonde. Dis asof die sonde self begin oorneem, ongebreideld toeneem en so 'n volk van binne af vreet. Enige student van die beskawings in die geskiedenis sal dit raaksien. Dis nie 'n ding wat oornag gebeur nie, dis 'n ding wat dikwels oor geslagte heen gebeur. Ek is baie oortuig dat dit presies is wat op die oomblik in die sg. Westerse beskawing gebeur. In elk geval, hierdie ses profesieë het 'n besondere struktuur. Die eerste twee stede, Damaskus en Gasa, word bestraf oor sonde teen mense in die algemeen. Tirus en Edom, die volgende twee, word bestraf oor sonde teen hulle broers. Wat destyds gebeur het, is die volgende: hierdie heidense stamme kon elkeen hulle geskiedenis terugvoer na 'n bepaalde man wat die ou aartsvader van daardie stam was. Dikwels was dit dan verskillende broers van dieselfde egpaar wat elkeen sy eie clan of volk ontwikkel het. Hulle het dit onthou, geweet. Tirus en Edom word dan bestraf omdat hulle teen broers, m.a.w. teen volkere wie se aartsvaders broers van hulle eie aartsvaders was, oortree het. Die laaste twee, Ammon en Moab, word bestraf omdat hulle teenoor hulpeloses in die algemeen oortree het.
DAMASKUS Kom ons kyk nou na Damaskus. Tyd laat ons nie toe om in detail hierna te kyk nie, maar ek wil net algemene beginsels uithaal. Damaskus, die hoofstad van Sirië, het 'n ander nasie, Gilead, met 'n ysterdorsslee gedors! Julle kan nou dink, 'n dorsslee, as jy dit oor 'n nasie sleep hoe vernietigend dit sal wees. Hulle het Gilead dus met absolute minagting vernietig! Daarmee wil die Here vir hulle sê: Julle moet verstaan dat mense nie maar net goed is nie, 'n mens is nie maar net 'n ding nie. Mense kan jy nie hanteer soos jy kluite hanteer nie, mense is na die beeld van God geskape - al is die beeld van God in hulle gebroke, gebuig. Jy kan nie maar net so met mense omgaan nie, maak nie saak wie dit is nie. Dít was hulle sonde.
GASA Gasa was een van die stede van die Filistyne in Filistea. Hulle het 'n ganse ander bevolking in ballingskap weggevoer, gevoelloos, ten spyte van 'n broederverbond. Daar was 'n verbond tussen hierdie twee volke, maar hulle oorweldig die ander en voer hulle weg in ballingskap. Uiteindelik verkoop hulle hulle aan Edom. As 'n mens nou mooi na die bestraffing kyk, sien 'n mens dat die Here God vir hulle sê dat menslike welvaart voorrang het bo kommersiële wins. Hulle het waarskynlik groot wins gemaak deur hierdie mense te gaan roof en as slawe te verkoop. Dis die beginsel wat ons daar moet verstaan. Die belange en welsyn van mense het voorrang bo kommersiële wins. Julle sal verstaan dat dit vir ons ook baie belangrik is. Ek onthou nog toe ek 'n konstruksie-ingenieur was. Op 'n stadium het daar 1300 mense min of meer onder my gewerk. Ek is seker baie van julle sal hiermee kan identifiseer. Baie van julle wat miskien in bestuursposisies ens. is, worstel elke dag met die tipe van ding. Ek dink egter dat, as ons hierdie hele saak biddend aanpak, in werklike nederigheid en gebrokenheid voor die Here, Hy wel vir ons wysheid sal gee. Hy sál ons help, want daar is geen sprake dat 'n Christen nie in 'n bestuursposisie kan wees nie. Hy kan beslis daar wees, maar dit sal vir hom waarskynlik baie moeiliker wees as vir iemand wat nie 'n Christen is nie. Hy sal baie ganade by die Here moet afbid om dit te kan doen. Ek onthou baie goed toe ek, ongeveer 'n jaar nadat ek tot bekering gekom het, een keer 'n man moes afbetaal. Ek het hom definitief te veel gewaarsku, maar uiteindelik móés ek hom laat gaan. TIRUS Die volgende profesie is oor Tirus. Tirus was 'n hawestad van Fenicië, en ook hulle het 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer ten spyte van 'n broederverbond. Die Here sê hier vir hulle dat hulle moet onthou dat hulle 'n broederverbond met daardie mense gehad het. Hy herinner hulle daaraan dat beloftes en verbonde onverbreekbaar is. Selfs onder heidene en ongelowiges hou die Here dit teen hulle as hulle 'n ooreenkoms of 'n kontrak, selfs net 'n mondelinge ooreenkoms, verbreek. Selfs al het hulle nog nooit die Bybel gelees nie, selfs al het hulle nog nooit van God gehoor nie, sal dit teen hulle gehou word op die laaste dag. Ons moet dit nou ook sien in die lig van Paulus se argumentasie in Rom 1, 2 & 3, waarin hy aantoon dat alle mense voor God skuldig is. Daar is nie 'n enkele mens wat eendag sal kan sê: "Ek het nie geweet nie." Paulus toon dit natuurlik aan die hand van die algemene openbaring aan. Hier sien ons dan tipiese sondes waaraan heidense volkere, maar ook individuele mense, skuldig is. EDOM Kyk ons nou na Edom, sien ons dat hulle hulle broers met 'n verterende wraaksug agtervolg en vernietig het. Verder sien ons dat God wraaksug haat. In Mat 5:38-48 verwys Christus na die oog-vir-'n-oog- en tand-vir-'n-tand-filosofie van hierdie wêreld. Hy stel daarteenoor ons roeping as Christene om hierdie wet van wederkerigheid van die tafel af te vee en op 'n totaal ander manier in die koninkryk te lewe. Hier sien ons dat sulke vergelding selfs tussen volkere kan plaasvind. Een volk kry in 'n oorlogsituasie die oorhand oor 'n ander een en trap hom dan eenvoudig in die grond in en vernietig hom. Die klassieke voorbeeld daarvan in die twintigste eeu is miskien die uitmoor van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar daar is baie.
AMMON Die laaste twee volke het teenoor weerlose mense oortree. Ammon het swanger vroue oopgesny ten einde hulle grondgebied uit te brei. Ons weet nie presies waarom hulle dit gedoen het en wat die verband is nie. Die beginsel wat egter hier uitkom is dat persoonlike ambisie ondergeskik is aan die belange van die hulpeloses. Dit sluit ten nouste aan by wat ek vantevore gesê het. Ek en jy het gedurig met hulpeloses te doen en ons moet onthou dat ons persoonlike ambisie, ons standaarde en winste ondergeskik is aan hulle belange. 'n Mens kan weer die vraag vra wat ek moet doen as ek in 'n werksituasie is waar dit net eenvoudig nie so wil werk nie? Dit is so dat ons nou eenmaal in 'n goddelose wêreldsisteem leef.
MOAB Die laaste volk, Moab, het die beendere van die koning van Edom tot kalk, tot as verbrand. Daar was dus ook 'n onblusbare wraaksug en hier kom die hele saak deur: die Here God haat sulke onblusbare wraaksug. Hy haat alle wraaksug, maar hier het dit oorboord gegaan, dit is asof die mense nie genoeg kon kry nie.
TOEPASSING Wat sê dit van die natuurlike mens? Kom ons probeer vanuit hierdie oorsig 'n paar beginsels by wyse van toepassing uithaal. Ons sou kon sê: Wat sê hierdie klompie verse vir ons oor die natuurlike mens, m.a.w. oor die mens wat nie gered is nie, enigeen wat nie in Christus is nie? In die eerste plek sê dit vir ons dat die erfsmet 'n realiteit is. Nou wat is die erfsmet? Julle sal weet dat, as gevolg van die sondeval in Adam, nie net hy nie maar sy hele nageslag en daarom die hele mensdom, deel gekry het aan die erfsonde. Die erfsonde het twee komponente, die erfskuld en die erfsmet. Die erfskuld bestaan daarin dat 'n mens, wanneer jy gebore word, selfs voordat jy nog kan sondig, in 'n mensheid in gebore word wat voor God skuldig is. Die oordele van God rus op die mensheid vanweë die skuld van die sonde, die skuld van vorige geslagte en besonderlik die skuld van Adam, wat die hoof van die mensheid was. Benewens die erfskuld is daar die erfsmet en dit dui op daardie innerlike sondegeneigdheid waarmee 'n mens gebore word en wat almal van ons ken. Niemand kan dit misken of ontken nie, dit is daar en dit is 'n universele verskynsel. Hier sien ons dit 700, 800 jaar v.C. al. Elke omliggende volk was skuldig daaraan en is dit nie interessant dat ons die sondes waaraan hulle skuldig was nog steeds in die 20ste eeu kan opspoor nie? Dit moet ons laat begryp dat daar geen kans is dat die natuurlike mens d.m.v. evolusie bo sy sondige geneigdheid kan uitstyg nie. Volgens die Bybel is daar geen kans nie! Dis 'n futiele oefening en 'n futiele hoop om te dink dat die 21ste eeu vir die mens die nodige volwassenheid en oorwinning en heil gaan bring waarop ons hoop. As mens opgaan in Afrika, sien jy hoe die infrastrukture tot 'n mindere of meerdere mate in sekere lande verbrokkel het. Daar is net niks meer nie. Dit hoef nie net in Afrika te wees nie, maar ons leef nou in Afrika. Mens sien hoe misdaad en korrupsie ens. net oorneem. Ek weet nie of een van julle al in Nigerië was nie, maar hulle sê vir my dis iets verskrikliks daar. Die Nigeriërs het blykbaar 'n kriminele verfyndheid soos wat 'n mens baie selde kry. Dit hang saam met die feit dat die algemene genade van God in 'n land soos Nigerië miskien meer teruggetrek is as hier by ons. Ons moet die Here daarvoor dank en dit help ons dus ook om meer positief te kyk na ons situasie. Ek is verder oortuig daarvan dat ons 'n tyd belewe waarin die algemene genade van God ook in ons land baie meer teruggetrek word. Ek praat nie net oor die regering nie, maar ek praat oor die morele toestande in ons land, die korrupsie, die geweld en alles. Ek bedoel, dinge wat 10 jaar gelede ondenkbaar sou gewees het in ons samelewing, nie net in die kerk nie, maar in ons samelewing, is vandag aan die orde van die dag. Ons raak eenvoudig gewoond daaraan, en ons akkommodeer dit en ons pas daarby aan, maar die feit bly staan, dit is besig om te gly. En weet julle, benewens die owerheid gebruik die Here ook die kerk in 'n samelewing om sy algemene genade daar te bedien. Die kerk is 'n soutende sout en 'n ligtende lig. Gewoonlik sal die verval in 'n samelewing soos wat die Here sy hand terugtrek, saamhang met die verbrokkeling van die kerk, die kerk se invloed en vitaliteit, sy krag, oortuiging en suiwerheid. En ek dink nie dit vra enigsins 'n profeet om raak te sien wat in die kerk in Suid Afrika aan die gang is nie. Let dus op hierdie parallelle. Dit help ons om ons samelewing en ons tyd beter te verstaan. Dit rig ons as ons ons besluite neem en ons koers vaslê en dinge vir ons kinders verduidelik. Dit help ons ook om perspektief in ons dag te behou. Ons kan twee merktekens van die terugtrek van die Here se algemene genade en die verbrokkeling van 'n samelewing uitlig. Die een is die toename van onnatuurlike seksuele verhoudinge of homoseksualisme. Moenie dink homoseksualisme is 'n nuwe ding nie. Ons gebruik die woord sodomie - waar kom dit vandaan? Van Sodom af. In die tyd van Abraham en Lot was dit daar - dit was op 'n kru wyse aan die orde van die dag in Sodom en Gomorra. 'n Mens sien dit weer in die geval van die Romeinse ryk. Enige een wat oor die toestande destyds gaan oplees, sal sien dat homoseksualisme aan die orde van die dag was. 'n Ander ding wat mens sien is dat God se gesagsordes omgekeer word. Ons sal bv. sien dat vrouens al hoe sterker na vore begin kom en mans al hoe swakker raak. Kinders begin eenvoudig die toon aangee in die gesin en ouers kan hulle nie meer hanteer nie. Ek dink almal van ons sal weereens saamstem dat dit 'n tipiese neiging van ons dag is. Kyk maar na die swart bevolking. Wat hou die swart bevolking, wat so totaal ontwrig en buite die ordes van God se algemene genade geruk is deur trekarbeid, wat hou hulle aan die gang? Julle weet waarna ek verwys as ek van trekarbeid praat. Die vrou en die kinders bly in die sg. tuisland - dis nou woorde wat ons nie meer in die nuwe Suid Afrika ken nie - maar hulle bly daar waar hulle grootgeword het en die man kom werk op die myne en al die verskiklike dinge wat daarmee gepaardgaan. Hulle is totaal uit hulle stamverband geruk. Die van julle wat 'n bietjie insig in die volkekunde het, sal weet hoe die algemene genade van God ook in hulle stamverband gewerk het.
Wat sê hierdie gedeelte vir ons van God? Kom ons kyk eers wat dit negatief vir ons van God sê. Eerstens sê dit dat God onmenslikheid haat met 'n verterende haat. Hy haat uitbuiting en vertrapping, soveel te meer as dit ten koste van hulpeloses geskied. Daarom, broers en susters, sonder om politiek te praat, as 'n mens terugkyk en jy hoor wat se dinge nou na die oppervlak kom in ons howe en in die WVK, dan besef 'n mens dat wat in ons land gebeur het, 'n onvermydelikheid was. Let op, ek praat nie primêr van die filosofie van afsonderlike ontwikkeling nie. Dit was 'n ideaal en 'n droom - as dit tog net kon werk sou dit dalk die beste gewees het. Ek dink selfs swart mense sou dit erken. Maar dit kon nie werk nie en dit het aanleiding gegee tot allerhande onderdrukkende maatreëls om hierdie ding te probeer dwing in vorme in soos die filosowe dit bedink het, in vorme in wat dit nie kón nie. Let verder ook op dat die oordele wat Hy uitspreek, geneig is om teen die paleise van die volkere gerig te word, m.a.w. die koningshuise. Daarmee wil Hy vir ons sê dat Hy in die eerste instansie diegene wat in posisies van gesag is, aanspreeklik hou. Die gesagsfigure kan hulle aanspreeklikheid nie ontkom nie, die Here God onthou dit en Hy werk daarvolgens. 'n Verdere ding wat 'n mens hier sien, is dat die Here God ander volkere gebruik wanneer Hy oordele oor volkere laat kom. Is dit nie so nie? Hy werk dus ook in sy oordeel middellik. Sien dit dus raak dat die Here God middele, instrumente gebruik, ook in sy negatiewe werksaamheid. Hy gebruik sondaar teen sondaar. Is dit nie dalk ook 'n verduideliking, of iets van 'n verduideliking vir die geweld en misdaad wat ons vandag ervaar nie? Ek vra die vraag. Ek vermoed dit is so. Die van julle wat die "Banner of Truth Magazine" kry, weet dat daar onlangs 'n baie interessante ding in Australië gebeur het. Julle onthou mos dat 'n man wat 'n dosyn of 'n dosyn en 'n half mense doodgeskiet het, lewenslank gevonnis is. Wat leer ons positief van God? Ons leer dat die Here God bewoë is oor die lot van elke mens, al is hulle heidene, ongelowiges. Ons sien dit by uitnemendheid in die bewoënheid van ons Here Jesus oor bv. die armes in die algemeen. Gaan lees besonderlik die evangelie van Lukas. Dit sê dat die Here God 'n empatie het met mense ómdat hulle nood het, besonderlik met armes ómdat hulle arm is. Dit sê nie dat hulle gered sal word nie, daar's net een manier om gered te word en dit is deur geloof in Christus, maar hier, wat die tydelike betref, het Hy 'n bepaalde empatie met hulle. Ek dink bv. aan die gelykenis van die groot feesmaal. Die gasheer stuur die slawe uit, en onthou julle wie hulle uiteindelik moes gaan roep het? Wat sê dit vir ons? Wat sê hierdie verse vir ons? Ek wil net drie dinge uitlig. Eerstens, as God sonde teen die medemens nie eens van die heidene kan duld nie, hoeveel te minder sal hy dit van sy eie kinders duld, van ons wat die volle openbaring ontvang het? Dit geld in ons volkslewe. Ek het vroeër na die Afrikaners verwys en die meerderheid van ons is Afrikaners. Dink maar oor ons volksverlede en die feit dat ons daarin geroem het dat ons 'n christelike volk is. Ongeag of ons gered was of nie, het ons, by wyse van spreke, met die Bybel in die wakis die binneland ingetrek. Ons het die Woord gehad. Daarom, in terme van die lig en die geleenthede wat ons gehad het, is ons skuldiger voor die Here God as selfs Ammon en Damaskus en Tirus en Gasa - noem hulle maar op. Dit is die eerste saak, maar dit geld natuurlik ook op persoonlike vlak. Tot die mate wat ek en jy lig het, tot daardie mate sal die Here geen oortreding teen ons medemens van ons duld nie. Die tweede ding wat ek wil uitlig is dat, as God selfs oor die lot van heidene bewoë is, hoeveel te meer is Hy nie oor die lot van sy eie kinders bewoë nie? Elkeen van ons of meeste van ons het nood, of dit nou rugpyn, bekommernis oor kinders of finansiële bekommernis is, uitsigloosheid, psigologiese worstelinge, geestelike worstelinge, wat ookal. Laat ons verstaan dat die Here God wat soveel bewoënheid teenoor mense het wat glad nie aan Hom behoort nie, mense wat eintlik onder sy oordeel is, wat soveel bewoënheid het teenoor mense net omdat hulle nood het S hoeveel te meer sal Hy wat vir ons 'n Vader geword het, nie na ons omsien en ons stryd en worstelinge hier ken nie? Laat ons dit net vashou en onthou, Hy vat ons deur. Hy sál ons deurvat. Derdens wil ek sê: as God oor die wêreld sonder God en sonder hoop so bewoë is, dan moet ons ook mos sy bewoënheid teenoor hierdie wêreld openbaar deur die bediening van sy algemene en die besondere genade. Die algemene genade kom daarin tot uitdrukking dat ons vir armes klere gee, dat ons vir ons werknemers sorg en 'n behoorlike loon betaal, dat ons na hulle omsien. Dit is die algemene genade van God. Maar nou is ons hoër roeping uiteraard om die besondere genade van God te bedien. Hoe uitnemend bevoorreg is ons nie, broers en susters, om die evangelie te kan uitdra nie? Wat 'n heerlike grootse voorreg is dit nie! Laat ons getrou wees daaraan. As ons Vader in die hemel soveel bewoënheid het met mense wat Hom nie ken nie, maar sonder God en sonder hoop is, dan moet ons ook mos hierdie bewoënheid hê. Laat ons dit by Hom afbid! SLOT Ek wil afsluit deur net vir julle 'n paar verse te lees. Dit gaan oor ons roeping hier in hierdie wêreld. Ek lees uit Jhn 12:23-26. "Die tyd het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word. Dit verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in." Hy praat hier in die eerste instansie van Homself, maar dan maak Hy die beginsel onmiddellik van toepassing op sy dissipels. Hy sê verder: "Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees." Hy bedoel, laat ons Hom in hierdie lewe van selfaflegging volg. Amen. |